Voltyds ma, voltyds werker, voltyds vrou

werkende-mamma-baba

Foto: TheLittleShopper/Colouritbright.com

Ek was vanjaar bevoorreg genoeg om Internasionale Vrouedag saam met 21 mense uit 16 ander lande, in die hartjie van Tokio te vier. Die gesindheid wat ek daar ervaar het, het my laat dink oor ons gesindheid in Suid-Afrika wanneer dit kom by vroueregte en menseregte.

As deel van die Japannese regering se departement van arbeid en gesondheid is ʼn entiteit gestig wat vennootskappe met verskeie ontwikkelende lande het waarvolgens kandidate opleidingsprogramme kosteloos in Japan kan meemaak, mits daar aan die uiters streng keuringsvereistes voldoen word. Die vereistes sluit werkservaring, akademiese agtergrond en baie goeie kennis van Engels in, wat as die voertaal in die omgewing gebruik word.

Ek was vanjaar deel van die “Employee Relations and Human Resources Management”-kursus, en kon die skone land en sy mense vir twee weke kon leer ken. Bo en behalwe die Japannese invloed, kon ek ook tyd spandeer saam met die ander kursusgangers, uit lande soos Pakistan, Indië, Mianmar, Mongolië en baie ander. Lande waarvan ek as klein dogtertjie net gelees en gedroom het, is trots deur hul landsburgers aan my verduidelik in elke fyn detail. Slaap was min, maar leer en ervaar was baie!

Ons het elke dag ongeveer ses ure lank klas geloop in verskeie menslikehulpbronbestuur-vakke, wat uit ʼn Japannese oogpunt voorgedra is. Ons is ook na ʼn paar Japannese maatskappye geneem om eerstehands die praktyk in aksie te sien.

Interessant genoeg sukkel Japan om vroue in die werkplek te hou, weens ʼn baie manlik-gesentreerde stelsel wat moeilik buigsaam is om werkende ma’s te akkommodeer. Dit word deur die Japannese regering as ʼn groot kopseer beskou, en ons is gevra om insette te lewer om te help om die probleem op te los. Diversiteit is vir Japan van kardinale belang.

Op 8 Maart het ons soos gewoonlik aangemeld vir ons klas, maar ons kollega van Indië, ʼn man in sy vroeë veertigs, het toestemming gevra om die klas toe te spreek. Hy het die sewe manlike kursusgangers vorentoe geroep, en sommer net so sy dank aan elke vroulike bywoner uitgespreek wat ons gesinstyd opgeoffer het om vir twee weke weg te gaan. Hy het genoem dat Internasionale Vrouedag ʼn openbare vakansiedag in sy land is (interessant genoeg in bykans al die suid-oos Asiatiese lande ook), en dat dit die geleentheid is vir elke man om die rol van die vrou in die samelewing te bedink. Hy het gevra dat die manne ons applous gee.

Uiteraard het ons almal ʼn knop in die keel gehad, die verlange na ons huise en kinders was ná vyf dae alreeds fel, maar nog meer moet ek bieg dat dit my altyd emosioneel maak as daar waardering uitgespreek word vir wat regtig ʼn moeilike balans is: Om ʼn werkende ma te wees, is nie ʼn maklike paadjie nie. ʼn Werkende ma deel nie haar tyd en energie in deeltjies op nie, sy gee 100% aan elke rol wat sy vervul. Sy is voltyds ma, voltyds werker, voltyds vrou.

In ons land vier ons nie Internasionale Vrouedag op dieselfde vlak as talle oorsese lande nie, en ek dink ons mis ʼn geleentheid. Ons vier wel Vrouedag uit ons eie, geskiedkundige oogpunt, maar integrasie in ʼn internasionale inisiatief van hierdie aard, is so saambindend. Om ietsie daarvan in ʼn internasionale instelling te ervaar, was iets wat my vir ewig sal bybly.

Kom ons vier in 2019 Internasionale Vrouedag, en kom ons bedink elke dag die rol van elke spesiale vrou in ons lewens.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jahni de Villiers

Jahni de Villiers is ʼn arbeidsreg- en arbeidsverhoudingespesialis. Sy werk vir Agri SA as hoof van Arbeid en Ontwikkeling. Sy is tans besig met ʼn LLM-graad en haar proefskrif handel oor seksuele teistering in die werkplek. Sy is passievol oor die rol van die vrou in die werkplek.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ania ·

Ek stem ongelukkig nie saam nie. Een mens kan tog onmoontlik 300% wees. Iewers gaan iemand te kort skiet. Na my mening is die kopseer nie om die vrou binne die werkplek te hou nie, maar eerder om die kind uit die dagsorgsentrum en naskool te hou. Die moeder is die hart van die gesin. Hoe moet die gesin (en uiteindelik samelewing) gesond funksioneer as die moeder nie DAAR is nie?

Haan ·

Ania ek kan nie vir jou sê hoe baie ek met jou saamstem nie! Ons is n gesin van 4 kinders. Ek onthou hoe ek as kind skaam gekry het as my ma sê sy is n ‘huisvrou’ en al my maats se Ma’s was argitekte/prokureurs/tandartse ens.
MAAR: in retrospek is ek so trots op haar. Sy het ons gesin met n ystervuis bymekaar gehou. Sy en my Pa is nog gelukkig getroud.
Ek neem niks weg van werkende vrouens af nie. Maar herbesin of die ekstra inkomste nie dalk ten koste van die kind is nie.

Sarel Strydom ·

Hoeveel keer moes ek nou al hoor dat “sommige” van die sg. Profesionele werkende dames neer kyk op die “tuisouer” amper asof daar ‘n stigma heers een die term “Huisvrou” Ek sien dit as een van die beste & edelste beroepe wat daar is. Toegegee in baie gevalle is dit, weens ekonomiese druk nie moontlik vir een ouer om tuis te bly nie.

Lysa ·

Ek beny elke “huisvrou” wat haar kinders self kan groot maak! Ek beny julle! Ek sal nooit neersien op ‘n huisvrou nie, veral die wat sonder ‘n huishulp klaar kom. Ek het ongelukkig nie ‘n keuse nie, ek is beroepsvrou, ma, pa, huisvrou, huishulp, onderwyser, sielkundige, dokter, vriendin, en die lys gaan aan…. Eendag as ek groot is, maar ongelukkig sal my kinders nooit die voorreg van ‘n tuisbly-mamma ken nie…

Voltyds ma? ·

Verduidelik asb hoe julle by hierdie som kom…
100% werkende vrou
100% ma
100% vrou
Neeeeee, stem gladnie saam.
Ek weet van baie 100% werkende vroue wat met 100% NANNIES SIT. kinders is liewer vir die Nannie. Nannie maak kos. Nannie doen huiswerk. Nannie ry rond. Nannie moet bad. Nannie lees slaaptyd storie. Nannie sit kinders in die bed. Môre oggend 6uur moet Nannie inklok om ontbyt te maak, want 100% werkende vrou is alweer oppad na die belangrikste ding in haar lewe…
Kom naweek, dan word kinders by Ouma afgelaai, want 100% werkende vrou is SO MOEG sy moet rus!
Kinders het nie maniere nie, want daar is nie ouers om dit vir hulle te leer nie OF hulle soek aandag deur ongemanierd te wees…

Joe Hall ·

So van die “voltydse vrou” gepraat…
Wonder of die skryfster besef/waardeer dat die manlike gemeenskap van hierdie droewe planeet eweneens ‘voltyds pa’, ‘voltyds werker’ en ‘voltyds man’ is.
Is maar hoe dit is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.