Voor wie sal ons die knie buig?

Deur ds. Schalk Strauss

Argieffoto: Pixabay

Dit klink dalk na ’n voor die hand liggende vraag vir Christene, maar wanneer ons na die praktyk in Suid-Afrika kyk, getuig die werklikheid teen ons.

In staatkundige terme is Suid-Afrika ’n regstaat. Dit beteken dat ons land, ook die regering van ons land, deur die oppergesag van die reg regeer word. In die lig hiervan, klou baie mense sedert 1994 vas aan die halmpie dat “die Grondwet en die reg ons sal beskerm” teen uitbuiting en ’n misdadige owerheid. Die vraag is egter of ons dit nie maar net in naam is nie? In ’n onlangse artikel in Beeld worstel Anton van Niekerk juis met hierdie vraag as hy vra: “SA ’n regstaat of ’n oerwoud?”

Hoewel die ANC-regering met die mond ’n regstaat bely, getuig hul dade eerder van ’n totalitêre benadering waarvolgens die owerheid geen beperkinge vir sy mag erken nie en daarna strewe om elke aspek van publieke en private lewe te reguleer. Die jongste geluide oor onteiening sonder vergoeding waarvolgens die ANC wil hê dat die minister – en nie die howe nie – die finale sê oor onteiening sonder vergoeding moet hê, is maar een van die bewyse hiervan. In dié verband kan ons ook na vele hofuitsprake verwys wat teen die staat gemaak is, maar wat blatant of met minagting deur die regering geïgnoreer of verontagsaam word.

Die hele debakel oor die ANC se onlangse verjaardagvieringe in Kimberley toe hulle wou hê dat die drankwinkels 24 uur oop moes wees, bevestig die waarneming dat die basiese vertrekpunt by die ANC-regering is: Ons is bo die Wet verhewe. Dan praat ons nie eens van die staat se onblusbare honger om alles en almal te reguleer nie: Godsdiens moet gereguleer word, die onderwys moet gereguleer word, alle gesondheidsorg moet onder die staat se beheer kom, en so kan ons voortgaan.

Die basiese voorveronderstelling van hierdie benadering is dat die hoogste gesag in die regering gesetel is. Nie eens die reg kan meer gesag as die staat hê nie, want die staat word beskou as die messias van die massas. In hom is nie net die hoogste gesag gesetel nie, maar die staat word ook beskou as die morele termostaat wat alle wysheid in pag het en die morele hoë grond beklee.

Na aanleiding van hierdie totalitêre benadering, matig die staat homself die reg aan om privaat eienaars se mineraleregte, waterregte of eiendomsregte wederregtelik weg te neem, want hulle beskou hulself as beskermheer wat die beste geposisioneer is om alle mense se “belange” op die hart te dra. Hulle duld nie teenkanting oor beleidskwessies soos byvoorbeeld die nuwe kurrikulum vir lewensoriëntering nie, want wie weet dan nou beter as die staat? In die lig hiervan kan ons verstaan dat dit nie so eenvoudig is om ons hoop op iets soos die Grondwet te stel nie, want uiteindelik gaan dit, soos prof. Koos Malan al dikwels aangetoon het, nie noodwendig oor wat in die Grondwet geskryf staan nie, maar oor die een wat die Grondwet interpreteer.

Tog is dit verstommend hoe Suid-Afrikaners maar net hierdie benadering van die ANC-regering gelate aanvaar. Ons glo steeds die staat weet die beste en sal die beste oplossings vir ons probleme hê. Ons dink ons moet die regering se planne maar net gelate aanvaar en hul opdragte slaafs uitvoer. Dit is verstommend hoedat selfs ’n kind soms kan sien dat sekere planne en beleide van die regering uit die staanspoor vir mislukking bestem is. Maar in plaas daarvan om aktief daarteen op te staan, sal ons eerder help om daardie swak planne te verfyn sodat dit darem net bietjie meer verteerbaar is.

Die rede hiervoor is dat ons as Christene hier in Suid-Afrika nie altyd besef hoe dualisties ons lewens is nie. Ons bely in beginsel dat God oor ons lewe regeer en dat alle mag aan Hom behoort, maar in die praktyk leef ons in twee koninkryke. Ja, God regeer, maar Hy regeer op Sondae of in my privaat lewe. In die week regeer die staat of die ANC-regering. Kerk en staat word in baie van ons se koppe só geskei dat ons soms voel die kerk of Christene in die algemeen, mag nie eens op sake van die dag of die politiek kommentaar lewer nie. Die kerk moet hom by politiek uithou en Christene moet hulself slegs met geestelike dinge besig hou. Hierdie siening getuig nie net van dualisme nie, maar is wesenlik Gnosties.

So ’n benadering is egter strydig met wat die Woord ons leer. Ons Here Jesus het juis mens geword en in ons wêreld ingekom omdat God daardeur wou aantoon dat die werklikheid van ons alledaagse bestaan en die uitdagings waarmee ons daagliks gekonfronteer word, vir Hom belangrik is. Hy regeer nie net in die hemel nie, maar ook op die aarde. Daarom verklaar Christus kort voor sy hemelvaart dat alle mag in die hemel en op die aarde aan Hom behoort (Matt. 28:18). Hy regeer en is in beheer. Sy woord en sy wil is die morele kompas waaraan selfs die staat homself moet onderwerp, want, sê die Here Jesus aan Pilatus tydens sy verhoor: “U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie” (Joh. 19:11).

Dit is tyd dat gelowiges hierdie belydenis uitleef. Nie net op Sondae nie, maar ook in die week, sodat God sy regmatige eer kan kry. Daarom behoort ons nie die regering klakkeloos na te praat nie. Ons behoort ons sê te sê, aangesien ook die staat aan God verantwoordbaar is. Die kerk is geroep om sy profetiese stem te laat hoor – ook oor sake van die dag aangesien God oor elke duimbreedte en elke aspek van ons lewe regeer.

Deuteronomium 6 bevestig dit wanneer God ons die opdrag gee dat sy wet eerstens in ons harte moet wees. Dit beteken dat Hy in ons persoonlike lewe regeer. Tweedens moet sy wet as ’n teken op jou hand gebind wees. Dit beteken dat Hy in ons professionele lewe regeer. Derdens moet dit ’n voorhoofsband tussen jou oë wees. Dit beteken dat God, deur sy woord, ook ons denke en dus die filosofiese onderbou van ’n samelewing beheers. Uiteindelik moet dit ook op die deurposte van ons huise en op ons poorte geskryf wees. Dit beteken dat God se heerskappy uitgestrek is oor en tot uiting moet kom in elke samelewingsverband waarin Christene hul bevind.

Laat ons dus elkeen vra: Voor wie buig ons werklik?

Hierdie artikel is met die vergunning van die AP Kerk geplaas.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wielspore ·

“So seker as Ek lewe,” verklaar die Here, “elke knie sal voor My buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.”

Sandra ·

Hy regeer nie net in die hemel nie, maar ook op die aarde. Daarom verklaar Christus kort voor sy hemelvaart dat alle mag in die hemel en op die aarde aan Hom behoort (Matt. 28:18). Hy regeer en is in beheer. Sy woord en sy wil is die morele kompas waaraan selfs die staat homself moet onderwerp, want, sê die Here Jesus aan Pilatus tydens sy verhoor: “U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie” (Joh. 19:11).

Soos die engelse se “need I say more”?

OW ·

Goeie skrywe van ds Straus.Dat ons huidige bedeling aan die gnostiek grens is gewis.Ek dink ons beleef ‘n geestelike leierskap krisis in SA.Wat het geword van die hoofstroom kerke se leiers.Jy hoor nooit van hulle in die media nie.Ek sal graag by ds Straus wil verneem in die lig van die artikel,hoe moet mens dan Romeine 13:1-7 interpreteer?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.