Voorgestelde wysigings van Gautengse skole se toe­latingsregulasies skep wantroue

pen-penne-skryfbehoeftes-skool

Foto: Pixabay/Pexels.com

Deur Christine Botha: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Ná die uitspraak van die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria in die Hoërskool Overvaal-saak (Overvaal) in Januarie 2018 en die gewelddadige betogings wat daarna gevolg het, is daar verstaanbaar min vertroue tussen die beheerliggame van openbare skole in Gauteng en die Gautengse onderwysdepartement.

Die hooggeregshof het bevind dat die Gautengs onderwysdepartement op ’n arbitrêre wyse Overvaal, ’n enkelmedium Afrikaanse skool, gedwing het om 55 Engelse leerders in te skryf. Dis gedoen sonder om vooraf Overvaal se Engelse buurskole se beskikbare kapasiteit, soos hulle statutêr verplig was om te doen, in ag te neem. Die konstitusionele hof het om dieselfde rede die Gautengse onderwysdepartement se verlof tot appèl teen die hooggeregshof se uitspraak in die Overvaal-saak met koste van die hand gewys.

Beheerliggame se wantroue het onlangs weer opgevlam met die publisering van voorgestelde wysigings aan die toelatingsregulasies tot openbare skole in Gauteng. Die voorgestelde wysigingsregulasies gaan, onder meer, oor drie belangrike wysigings. Die eerste wysiging hou verband met die toelatingsbeleid van ’n openbare skool deur die beheerliggaam, die tweede wysiging behels die bepaling van skole se voedingsones deur die hoof van die Gautengs onderwysdepartement (HOD) en die laaste wysiging gaan oor die bepaling van ’n skool se kapasiteit deur die HOD.

Die voorgestelde wysigingsregulasies moet gesien word teen die agtergrond van die bestaande samewerkingsmodel in die Suid Afrikaanse skoolstelsel, soos statutêr uiteengesit in die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996. Die samewerkingsmodel se doel is om die grondwetlike reg tot basiese onderwys deur samewerking te verwesenlik. Die doel is net moontlik as al drie vlakke (nasionaal, provinsiaal en die skoolbeheerliggame) hul onderskeie funksies uitoefen en daar ooreenstemming is in die toepassing van bepalende kriteria.

Op nasionale vlak moet die minister van basiese onderwys ingevolge die Skolewet eenvormige norme en standaarde vir alle openbare skole daarstel. Dié uniforme norme en standaarde verskaf leiding aan provinsiale onderwysdepartemente in die uitvoering van hul funksies en is sodoende ’n maatstaf waarmee hierdie departemente gemeet kan word. Dit bied ook leiding aan beheerliggame oor verpligtinge van skole en die toepassing van standaarde.

Op provinsiale vlak moet die provinsiale onderwysdepartement, in samewerking met die HOD, skole oprig en seker maak dat elke leerder in die provinsie by ’n skool geplaas word.

Die laaste vlak is skole se beheerliggame, wat uit ouers en gemeenskapslede bestaan. Skoolbeheerliggame is persoonlik betrokke by ’n spesifieke skool en is daarom verantwoordelik vir die bestuur van ’n skool, insluitend die bepaling van ’n skool se toelatings- en taalbeleid. Dit is juis met inskrywingsgeskille dat baie regsdispute ontstaan het. Die konstitusionele hof het egter al bevestig (in die saak van MEC for Education in Gauteng Province and Others v Governing Body of Rivonia Primary School and Others) dat die HOD nie streng gebonde is aan ’n skool se toelatingsbeleid in so geskil nie en wel ’n leerder kan toelaat tot die skool. Maar die kruks is dat die HOD ’n redelike en billike proses moet volg. Op dieselfde trant moet die beheerliggame in ag neem dat skole nie in ’n vakuum funksioneer nie.

Die voorgestelde wysigingsregulasies gooi die konstitusionele samewerkingsmodel omver, omdat daar regsonsekerheid ontstaan, wat kan lei tot arbitrêre besluite. Dit word veral gesien met die voorstel dat elke openbare skool se toelatingsbeleid, soos opgestel deur die beheerliggaam, eers deur die HOD goedgekeur moet word. Tans moet die HOD sertifiseer dat ’n skool se toelatingsbeleid wel aan die Skolewet, die Gauteng-skole Onderwyswet van 1995 en die toelatingsregulasies voldoen. Bowendien is daar ook die Nasionale Toelatinsgbeleid vir Gewone Publieke skole, opgestel deur die minister, waaraan elke skool se toelatingsbeleid moet voldoen. Die wysiging stel nou voor dat die HOD tevrede moet wees dat die toelatingsbeleid aan sekere addisionele vereistes voldoen. Dit sluit, onder meer, die inagneming van die “behoeftes van die breër gemeenskap waarin die skool geleë is” in, asook dat dit nie ’n leerder “onredelik uitsluit” op grond van kultuur, taal of geloof nie.

Dit is onduidelik hoe die HOD die “behoeftes van die breër gemeenskap” van elke skool gaan toepas, veral waar die Skolewet en die nasionale toelatingsbeleid geen verwysing na dié maatstaf maak nie. Dus bestaan daar geen uniforme duidelikheid vir ’n beheerliggaam oor hoe die maatstaf toegepas gaan word nie. Die nasionale toelatingsbeleid, in ooreenstemming met die Grondwet, verbied bowendien enige “onbillike diskriminasie” in ’n skool se toelatingsbeleid. Die verwysing na “onredelik uitsluit” is nie gelykstaande aan “onbillike diskriminasie” nie. Laasgenoemde kan deur die howe aan die hand van wetgewing en die Grondwet getoets word en nie “onredelik uitsluit” nie. Hierdie maatstaf skep dus regsonduidelikheid en onsekerheid, terwyl die Grondwet vereis dat wetgewing duidelik geformuleer moet word om juis arbitrêre toepassing te vermy. Dit is ook opmerklik dat geen interaksie tussen die taalbeleid van ’n skool en ’n skool se toelatingsbeleid in ag geneem word nie.

Regsonsekerheid word ook geskep met die voorgestelde bepaling van die voedingsone en kapasiteitsbepaling van ’n skool deur die HOD. In ’n neutedop moet die HOD, by die vasstelling van ’n skool se voedingsone, onder meer, ’n skool se kapasiteit, sowel as bevolkingsdigtheid en taalkeuses van ’n skool in ag neem. Dit veronderstel dat daar logies geen dispuut is rakende ’n skool se kapasiteitvasstelling nie. Om die minimum en maksimum kapasiteit van ’n skool te bepaal, moet elke skoolhoof voor 30 Junie van elke jaar, ingevolge die wysiging, sekere inligting aan die HOD verskaf. Die inligting sluit, onder meer, die grootte van klaskamers, aantal onderwysers en die kurrikulum in. Volgens die wysiging is dit om te verseker dat die HOD voldoen aan artikel 58C(6) van die Skolewet. Hierdie artikel veronderstel egter dat die minister nasionale minimum norme en standaarde vir kapasiteit vasgestel het (kragtens artikel 5A(1)(b) van die Skolewet) wat die HOD moet gebruik. Sulke norme en standaarde kragtens artikel 5A(1)(b) bestaan nie. Die enigste riglyn in die bepaling van kapasiteit, kan indirek gevind word in die minister se Minimum Norme en Standaarde vir die Basiese Infrastruktuur van Publieke Skole. Artikel 5A(1)(b) van die Skolewet maak egter spesifiek voorsiening dat die minister se nasionale minimum kapasiteit norme en standaarde gelyste kriteria soos kurrikulum en kwaliteit van onderrig by ’n skool in ag moet neem. Daar is dus geen duidelikheid oor die toepassing van die kriteria nie en geen voorsiening vir voorafgaande samewerking met beheerliggame nie – wat weer eens kan lei tot arbitrêre toepassing van die regulasies.

Om vertroue in die samewerkingsmodel te herstel, is dit van uiterse belang dat elke rolspeler, as ’n beginpunt, aan hul statutêre verpligtinge moet voldoen en aanspreeklik gehou kan word. Die voorgestelde wysigingsbeleid skep regsonsekerheid en kan net lei tot verdere verbrokkeling van ’n reeds kwesbare verhouding, ten koste van die toegang tot basiese onderwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andrea van Vuren ·

Hoekom moet net Gauteng deurloop? Iets wat werk moenie deurmekaargekrap word om punte te ‘score’ nie. Weg met Lesufi.

koos1 ·

Hierdie is ‘n algemene simtoom van die ANC gedrewe regering. Daar is wette in plek (Skole wet, en dink maar ook aan die grondwet Onteiening sonder vergoeding) wat nou (sonder enige gronde), in die media aangeval word. Daar word gesê “Dis hoe dit gaan werk”, maar geen ag word op die wet geslaan nie. Dan probeer hulle dit afdwing (lees, afdreig) en dan gaan dit hof toe en die hof beslis teen hulle.
Ek wil graag sien dat alle besluite wat deur mense gemaak word en teen bestaande wetgewing is, se kostes deur die betrokke mens gedra moet word.
Mnr. Lufisi, laat die wet eers verander, en dwing dan jou ras gedrewe agenda af. MAAR voor dit, kom eers jou mandaat as LUK na (skole bou, gehalte onderwys ens.) en dan kan jy maar voortgaan. Jou swak bestuur en ras gedrewe agenda het Gauteng se onderwys reguit in die grond in bestuur, en nou wil jy dit nog as ‘n politieke speelbal gebruik. Skaam jou!

Nita ·

Ek het net een probleem met Mnr Lesufi. Dis met sy Wiskunde Geletterdheid. Daar word jaarliks amper 100000 babas gebore. Jare lankal. Die bevolking bars uit sy nate. So as Mnr Lesufi elke Afrikaanse skool volprop met Engelse leerders. Gaan hy nog n klomp skole te min he. So eerder dat hy dadelik ekstra skole begin bou, as dat hy soek waar hy nog n paar Engelse kinders kan inprop.

Bekommerde ·

Ek moet net sê die hoeveelheid kinders wat soms in ‘n klas ingeprop word is baie erg – niemand wen as daar te veel leerders is nie.
EK wonder soms of dit nie op die ou end beter gaan wees dat al die klasse op video’s opgeneem word & dat elke leerder veral die bogemiddeldes dan vorder op hulle eie pas. Hulle moet dan net ingaan om hulle toetse te skryf sodra hulle ‘n sekere hoeveelheid werk bemeester het.
Voordele
Moedertaal onderrig
Veilig
Geen skool uniforms
Geen vervoer onkoste
Geen boelies
Geen voortrekkery

Lynette Schultz ·

Koos1, Ek stem 100% saam met jou. Mense is nog so naïef om te glo dat ‘ons ‘n onafhanklike regbank het’. Ja, ons het dit nou, maar wat hou die toekoms in? Voorheen was daar met hande gevou oor die bors gesê: Ons het ‘n grondwet. En nou? Wat gaan gebeur as die grondwet verander word? Die toekoms sal wys of mense soos ek verniet bekommerd is.

Lizl ·

In 1976 het hulle skole afgebrand, in 2018 word dit nogsteeds gedoen. Enige iets wat werk moet weg of afgebrand word. Die mentaliteit van sommiges darem !!!

Martin ·

Elke keer as hy n bloutjie loop dan gaan hy die wette aanpas of nuwe wette neerle om hom en die ANC te pas. Als in hul poging om Afr tot niet te maak.

Paul ·

Die enigste manier om van hom ontslae te raak is om hom te bevorder na ‘n pos wat hy nie kan weier nie. (Cyril jy beter lig loop.)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.