Voorlopers in Superreeks begin kleure wys

Die halfpadmerk is bereik en so stadigaan begin die kompetisie se voorlopers hulle kleure wys. Daar sal nog baie water in die see loop en ʼn paar verrassings is ook nie uitgesluit nie.

Die Crusaders, wat maar onderaan die lys, is gaan verseker in die uitspeelrondtes daar wees . Hulle oorwinning oor die Stormers het dit vir ons bewys. Ter verdediging van die Stormers moet ek toegee dat die verlies van jou twee slotte vroeg in die wedstryd ʼn bepalende rol gespeel het. Twee ysters wat so vroeg verloor is, moes beslis ʼn negatiewe uitwerking op die vaste fasette en die wedstrydplan gehad het. Hopelik is die twee manne nie te ernstig beseer nie want die Stormers lyk na wenners vanjaar.

Die Lions sal egter ʼn groot haas uit die hoed  moet haal. John Mitchell en sy bestuurspan moet besef dat diepte deel is van die kompetisie. Almal weet dat die Lions gebuk gaan onder baie beserings, maar jou plaasvervangers moet darem die basiese beginsels van die spel onder die knie hê. Na ʼn warrelwindbegin teen die Bulls het die een fout na die ander in die Lions se spel begin insluip. Wat veral opmerklik was, is die afstaan van die balbesit; en as jy ook net een opsie in die lynstaan het, is dit nie wenslik om die bal uit te skop nie.

Geluk aan die Bulls wat reeds met die omdraaislag die bonuspunt vir 4 drieë behaal het. Net ʼn vraag wat by my opkom: Die Bulls sowel as die Stormers het albei 29 punte op die punteleer, maar die Bulls se punteverskil is baie groter as die van die Stormers. Behoort die Bulls dan nie eerste op die log geplaas te word nie, of het vir die organiseerders die feit dat die Bulls nou twee wedstryde teenoor die Stormers se een verloor het, die deurslag gegee?

Die Cheetahs het ʼn dapper stryd gestry in Bloemfonteinen het met ʼn pak wat swaar gelewe het tog daarin geslaag om van die wedstryd ʼn riller te maak. Dit sê baie van die deursettingsvermoë en die wil-nie-gaan-lê-benadering van die spelers. Hulle verdediging het ook gekeer dat die Chiefs met die oorheersing van die vaste fasette nie baie meer punte kon opstapel nie.

Die Sharks het met ʼn bietjie meer oortuiging gespeel, maar die twee onderskepdrieë het dit ook baie makliker gemaak. Dit bly egter ʼn welverdiende bonuspunt oorwinning en die terugvlug huis toe was seker een groot vreugde.

Die Lions moet op hierdie stadium benoud oor die skouer loer vir die relegasie-spook. Soos ek SARVU verstaan moet die Kings in volgende jaar se Super 16 speel . As dit egter ʼn Super 15-kompetisie bly sal die onderste span op die punteleer beslis uit die kompetisie wees. Gelukkig behoort die Lions darem die Vodacom-beker loshande te wen en so hulle vertroue op te bou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.