Voorspel tot ʼn rewolusie?

Wetstoepassers wat ontplooi is in die Johannesburgse sakesentrum waar geweld opnuut opgevlam het. (Foto: Twittere via @AsktheChiefJMPD)

Deur Daniel du Plessis

Dit is altyd effens onvanpas om te praat oor die moontlikheid van rewolusie. Maar, terselfdertyd, wanneer dit uiteindelik tyd is om te praat daaroor, is dit nie wys om die gesprek onnodig uit te stel nie.

Die gebeure van die afgelope paar weke – onluste, openbare geweld en stede wat brand – noop ons, ongelukkig, om nou daardie gesprek te hê.

Dit is vir baie duidelik dat Suid-Afrika se bestaande omstandighede alles behalwe volhoubaar is. Uit talle oorde is daar iets van ʼn versugting na die een of ander radikale verandering. So is sommige ten gunste van ʼn IMF-lening – en die streng voorwaardes wat daarmee gepaardgaan. Ander, daarenteen, bepleit dat meer geld gedruk word, ʼn swakker rand en meer toegeeflike monetêre beleid.

Dit is nie onnatuurlik in hierdie omstandighede om te wonder oor die radikale verandering wat, histories gesproke, die mees algemene reaksie op politieke onstabiliteit en ekonomiese onsekerheid was nie. Dit is, natuurlik, die rewolusie.

Hoewel partye soos die EFF – natuurlik – hulself hier aan gruwelike wensdenkery skuldig maak, is dit nie te sê dat ons té gerus behoort te wees nie. Suid-Afrika is, natuurlik, nie juis ʼn bastion van stabiliteit en sosiale harmonie nie.

Daarenteen is dit nie duidelik dat rewolusie die noodwendige gevolg is van die talle protesoptogte, openbare geweld en onstabiliteit wat ons tans beleef nie.

Hoewel ontsenuend is hierdie onsekerheid eintlik baie tipies. Talle rewolusies, soos dié wat deel uitgemaak het van die sogenaamde Arabiese lente, was nie vooraf voorspel nie.

Wat, dan, is die algemene oorsake van rewolusies? En kan ons poog om Suid-Afrika se risiko te probeer skat?

Aristoteles, een van die eerste denkers wat ernstige aandag geskenk het aan die “rewolusie” as politieke fenomeen, was van mening dat armoede, ongelykheid en ongeregtigheid die omstandighede geskep het waarin rewolusies kon plaasvind.

Hierdie faktore is natuurlik in oorvloed in Suid-Afrika beskikbaar – en, daarmee saam, meer as genoeg politieke retoriek wat daarop teer.

Hoe lyk die situasie dan in Suid-Afrika – as’t ware op toi-toi-vlak?

Openbare geweld en onstabiliteit is, sonder enige twyfel, besig om toe te neem. So, byvoorbeeld, is daar in die afgelope paar jaar ‘n stelselmatige toename in die aantal en hoeveelheid eise ingestel by Sasria, ‘n staatsbeheerde versekeraar wat dekking bied vir skade aangerig tydens protesoptogte en terrorisme.

Hierdie tendens word ook bevestig deur empiriese data – die algemene tendens is dat Suid-Afrikaanse protesoptogte meer gereeld word en langer duur. Wat veral kommerwekkend is, is dat verskeie ontleders bevind het dat geweldpleging skerp aan die toeneem is in hierdie protesoptogte.

Dus, selfs al sou ons geen ag slaan op die afgelope paar weke se geweld en protes nie, sou ons steeds rede tot kommer gehad het.

Is Suid-Afrika dan op die drempel van ʼn rewolusie?

Alles in ag genome – waarskynlik nie. Maar dit behoort vir ons ʼn rede tot groot kommer te wees dat ons nie die moontlikheid met absolute sekerheid kan uitsluit nie.

Dit was ook Aristoteles wat gesê het dat rewolusies – in die “regte” atmosfeer – deur beuselagtighede veroorsaak word.

Wat staan ons te doen te midde van hierdie toenemende onsekerheid? Klein insidente kan die sade word van rewolusies wat verder en verder uitkring, mits dit in vrugbare grond daarvoor val.

Dalk, as hierdie vrugbare grond die probleem is, behoort politici soos Julius Malema en Ace Magashule op te hou om nog kompos by te gooi?

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Duppie

Uiteindelik iemand wat wakker word. Ek sê al lankal dat hier iets aan die kom is en dat ons te slap is om dit te erken of dalk te “wil” erken. Maak nie saak hoe nie, ons sal dit moet erken en sorg dat ons daarop voorbereid is. Mense dink seker dat dit nooit in Suid Afrika sal gebeur wat in ander Afrika state gebeur nie. Hallooooo, skrik wakker en ruik bietjie die koffie

Jerry

Die ANC en die eff het absoluut niks om te verloor met n rewolusie nie, inteendeel sal dit hulle bloedspoor van korrupsie permanent uitwis, waarna geen haan sal kraai nie, maar daar is n maar in die verhaal. In SA woed n redelike hoe vlak rewolusie wat deur die ANC en eff kaderstrukture binne gemeenskappe bestuur word reeds n geruime tyd en dit sal voortduur totdat die ANC hulle sin gekry het met nasionalisering van grond, privaatmaatskappye, fondse en pensioenfondse. n Volskaalse rewolusie wat deur politieke en ekonomiese onstabiliteit, werkloosheid en armoede veroorsaak word is buite die kwessie in SA… Lees meer »

Attie.

As ek my moes steur aan w app berigte dan moes hier al maande terug ‘n rewolusie gewees het. Hoe minder ons ons steur aan nuus op ons selfone hoe gouer gaan almal rustig raak en besef watse lekker land on het om in te werk en te leef.

kla-kous

Daar word gewag gemaak in die artikel van mense wat meen dat ons aansoek moet doen om ‘n IMF-lening. Dawie Roodt het ‘n ruk gelede daarop gewys, in ‘n artikel in Politicsweb, dat ons nie daarvoor kwalifiseer nie (“Why we won’t need an IMF loan”)

Andreas

Slavoj Zizek het gese dat rewolusies begin ALTYD wanneer die armes ‘n periode van verbetering ervaar maar die verbetering is nie tot op die vlak en skaal wat verwag word nie. Ek sal se net hieroor is ons ryp vir rewolusie.