Voorspelling van ekonomiese aanwysers vir 2020

Deur prof Danie Meyer 

Prof Danie Meyer. Foto: Verskaf

Daar word verwag dat 2020 ’n jaar vol ekonomiese en geopolitieke onstabiliteit en ongestadigheid sal wees.

Hierdie jaar het ons alreeds onkant betrap, met Eskom wat reeds in die eerste week van die jaar beurtkrag ingestel het. Dit is ’n kommerwekkende situasie, aangesien die meeste myne en groot fabrieke nog nie eers hul werksaamhede hervat het nie!

Die regering skep nie tans ’n bemagtigende omgewing vir landsburgers en sakeondernemings om te floreer nie. Die Suid-Afrikaanse ekonomie kan met ’n resiesmotor vergelyk word, met talle ondernemings wat gereed is om te groei, maar sodra die versneller ingetrap word, word dit deur ’n spoedbeperker geblokkeer. Daardie beperker is Eskom.

Daar word voorspel dat Eskom deur die hele 2020 gaan sukkel om betroubare krag aan die ekonomie te lewer. Daarom, selfs al het ons ’n goeie ekonomiese beleid – en ons het nie eers ’n beleid nie – sal die ekonomie steeds nie groei nie. Daarbenewens toon nie een van die ekonomiese basis-sektore, soos mynbou, vervaardiging en landbou, enige tekens van groei nie.

’n Verdere angswekkende statistiek is dat 76% van alle besighede wat in 2019 belastingopgawes ingedien het, ’n verlies aangedui het, en dus geen belasting betaal het nie. Die jaar 2020 is ook die jaar waarin die graderingsagentskap Moody’s – die laaste agentskap wat die land se kredietgradering bokant rommelstatus gehou het – geen ander keuse sal hê nie as om ook die afgraderingspaadjie te volg. Die kettingreaksie van só ’n besluit sal geweldig wees, insluitende ’n geldeenheid wat vinnig depresieer, stygende inflasie, toenemende regeringskuld, en ’n uitvloei van beleggings.

  1. BBP

Die verwagte bruto binnelandse produk (BBP)-groei vir 2019 gaan waarskynlik droewig wees met tussen 0,4 en 0,6%, wat heeltemal te laag is om ’n beduidende getal nuwe poste vir die miljoene werklose mense te skep. Met ’n aantal beperkings wat steeds die ekonomie beïnvloed, soos Eskom en wêreldwye vrese vir ’n afname in ekonomiese groei, is die voorspellings vir 2020 nie baie positief nie. Die Wêreldbank verwag ’n 0,9%-groei vir Suid-Afrika, terwyl die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se voorspelling net bokant 1% is. Dit is my voorspelling dat die ekonomie in 2020 gaan sukkel om te groei, en ’n BBP-groei van minder as 0,7% word voorspel.

  1. Inflasie

Die inflasiekoers was gedurende 2019 goed onder beheer en gemaklik binne die SARB se teikenstrek van 3 tot 6%. Die jaar het met ’n inflasiekoers van 3,6% in November 2019 geëindig. Die SARB voorspel ’n gemiddelde inflasiekoers van minder as 4,5% vir 2019.

Daar word egter verwag dat die druk op inflasie in 2020 sal toeneem as stygings in brandstof- en elektrisiteitspryse byvoorbeeld in ag geneem word. Dit sal dus nie verrassend wees indien die inflasiekoers in 2020 na aan die boonste grens van 6% kom nie. Bewegings in inflasie word steeds hoofsaaklik deur koste-inflasie eerder as deur vraaginflasie veroorsaak. ’n Ernstige woord van waarskuwing is dat indien Moody’s die land se kredietgradering na rommelstatus afgradeer, ons (as gevolg van vinnige prysstygings), deur “hiperinflasie” in die gesig gestaar kan word. Só ’n situasie sal ’n vernietigende uitwerking op die ekonomie hê.

  1. Rentekoerse

Die repokoers word tans deur die SARB stewig op 6,5% gehou, met die doel om die inflasieteiken te handhaaf (op 3 tot 6%). Aangesien daar groot kommer is oor ’n moontlike afgradering en prysstygings in 2020, word daar nie verwag dat die SARB die repokoers in 2020 gaan verander nie. Indien daar gedurende die jaar veranderings plaasvind, is die verwagting dat dit as gevolg van die ekonomiese onsekerheid opwaarts eerder as afwaarts sal wees.

  1. Wisselkoers (R/US$)

Die waarde van die rand teen die Amerikaanse dollar (US$) was oor die afgelope dekade uiters wisselvallig, en hierdie tendens gaan voortduur. Die vernaamste aspekte wat die wisselkoers negatief gaan beïnvloed, is interne politieke binnegevegte deur die regerende party, swak instellings soos die ondernemings in staatsbesit (SBI), en ’n moontlike afgradering deur die graderingsagentskap Moody’s.

Daar word verwag dat die geldeenheid gedurende 2020 sal depresieer – en tussen R14,30 en R17,50 tot die US$ sal beweeg – indien daar relatiewe stabiliteit op die ekonomiese en politieke front is. Indien die land egter ’n kredietafgradering ervaar, word daar verwag dat die rand teen jaareinde tot R19,50 per US$ sal depresieer.

  1. Olie- en petrolprys

Twee faktore beïnvloed die petrolprys in Suid-Afrika: eerstens die prys van Brent-ruolie in die internasionale mark, en tweedens die rand/US$-wisselkoers.

Die prys van Brent-ruolie het in 2019 in ’n nou band tussen $56 en $75 per vat verhandel, met ’n huidige vlak van $65. Geopolitieke konflik beïnvloed die wêreldwye olieprys en die VS-versus-Iran-konflik kan steeds ’n baie groot impak op olieprys hê, maar op die oomblik lyk dit stabiel.

Daar word verwag dat die olieprys gedurende 2020 tussen $60 en $80 per vat sal beweeg. ’n Bykomende brandstofheffing gaan op 1 April 2020 by die brandstofprys gevoeg word, en daar word verwag dat dit ongeveer R0,50 per liter sal wees.

Indien stabiliteit voortduur en die land se kredietgradering nie deur Moody’s afgradeer word nie, word geen groot stygings gedurende 2020 verwag nie. Indien ’n afgradering gedurende die jaar plaasvind, kan die brandstofprys rekordhoë pryse bereik.

Ten slotte, om die Suid-Afrikaanse ekonomie te red, word dringende strukturele verandering met duidelike beleidsekerheid vereis. Strukturele veranderings ten opsigte van staatsbesteding en ‑skuld, SBI, arbeidswetgewing, ondersteuning aan klein ondernemings en onderwys is noodsaaklik.

  • Prof Danie Meyer is die direkteur van die TRADE-navorsingsentiteit by die Noordwes-Universiteit.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Julius ·

Die voorspellings klink vir my redelik akkuraat. Laat hy val waar hy wil!

Johan Venter ·

As gevolg van die fiasko met Eskom se kragvoorsiening en die agteruitgaan van die ekonomie het van die groot kragverbruikers, soos mynhuise en andere, gister 14 Januarie op die ekonomiese beraad, Cyril aangespreek oor onder andere die stadige pas wat hulle volg en eers met almal in gesprek tree om konsensus te bereik, belangrike besluite wat geveto word, hom aangespreek dat daar minder gepraat en meer gedoen moet word en die onwilligheid van die regering om verbruikers (soos mynhuise) toe te laat om hul eie krag op te wek.

En wat was Cyril se reaksie? “Dit sal binnekort geskied, ‘n nuwe era het aangebreek en hulle (die regering) kan nie in die pad van vooruitgang en tegnologiese ontwikkeling staan nie.” So raap hy breëbors die krediet op vir die besluit wat hulle gedwing word om te neem, so asof hulle vooruitgang en tegnologie uitgevind het. (Mens kan dit dalk ook lees dat vooruitgang sal net plaasvind as die ANC-regering en alliansievennote daartoe instem.)

Dankie Cyril vir jou Damaskus-oomblik, ons sal dit egter eers glo die dag, binnekort, soos jy sê, wanneer aan bogemelde uitvoering gegee is.

Mens weet nooit, dalk is die private sektor tog besig om die ekonomiese geveg te wen.

John ·

Dit was dalk Cyril se famous last words in die hoop dat die rich brats in die top orde van die ANC die afgelope vakansie breinoorplantings of hartvervangings gehad het. Die dokters in Kuba staan gereed om ons presidente se kwale en skete en skokke te behandel. Onthou net dit is teen na-kommunisme pryse…

Noupraatjy ·

Dis die toppunt van teleustelling as mens ‘n land met soveel potensiaal soos die RSA sien, wat so verniel en gebreek is! My mening is dat die eintlike swaar tye nog vorentoe vir ons wag.

Altus ·

So graag as wat ek wil hoop of verbetering in ons land, kan ek nie anders as om slegte tye vorentoe te verwag nie. Oor die afgelope 25 jaar het die regering keer op keer BEWYS dat hul NIE die skippie kan omdraai en welvaart skep nie – die rympie is elke keer dieselfde: “Ons werk daaraan en dit sal binnekort geskied”. Baie word gepraat, en NIKS kom daarvan.

Dit gaan, myns insiens, niks minder as n algehele regime-verandering kos om ons van totale sosio-ekonomiese ondergang te red, wat byna onmoontlik is aangesien die massas die narre se leuens vir soetkoek opvreet en hul aan bewind hou deur hul stemme te gee.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.