Voortdurende informele verandering van die nie-oppermagtige Grondwet

transformasie-grondwethof-prof-koos-malan-02

Prof. Koos Malan. Foto: Reint Dykema.

In die vorige bydrae is onderneem om te verduidelik dat ook die Suid-Afrikaanse Grondwet, ongeag sy aansprake op oppergesag en stabiliteit voortdurend aan die verander is. Die bewyse hiervoor word elke dag meer oorweldigend. Daarom lig ons slegs enkele belangrike gevalle toe.

Transformatisme

Hoewel die konsep van transformatisme totaal aan die Grondwet onbekend is, funksioneer die ANC-leierskap en die konstitusionele hof, die staatsdiens en die hele openbare sektor getrou aan die hand van die ideologie van transformatisme. Vir hulle is die Grondwet wesenlik transformatief; dit staan in diens van transformatisme en alles word ten slotte daaraan gemeet.

Transformatisme behels ʼn ideologie van kulturele (en taal-) homogenisering en ekonomiese gelykmaking, onder die gesentraliseerde voorskrif van die ANC-leiding. Transformatisme het so dominant geword dat dit die leidende en deurslaggewende grondwetlike waarde en doelwit geword het.

Waarmee ons hier te doen het, is ʼn fundamentele verandering van die werklike konstitusie sonder dat die formulering van ʼn enkele bepaling van die Grondwet aangeraak is. Dit behels vervangende reg, soos in die vorige bydrae verduidelik. Gevolglik is die Grondwet bloot deur praktyk verander: die regering, die konstitusionele hof en die openbare sektor tree bloot konsekwent ingevolge ʼn ideologie op waarvolgens hulle die waardebasis van die Grondwet, soos wat dit in artikel 1 vervat is, kragteloos gemaak en met ʼn nuwe waardebasis – die ideologie van transformatisme – vervang het.

Daar was nooit ʼn parlementêre debat oor so verandering nie. Daar is geen sprake daarvan dat die vereiste twee derde-meerderheid van lede van die Nasionale Vergadering hiervoor verkry is nie. Nogtans het dit gebeur – sito-sito, met verloop van tyd deur gebruik en praktyk.

Sodoende het ʼn ingrypende konstitusionele verandering ingetree sonder dat die meeste mense dit besef het. Dit het bloot gebeur vanweë ʼn kragtige politieke faktor, naamlik die ANC-geleide politieke elite wat hul ideologiese program in werking gestel het, en vanweë die gepaardgaande feit dat daar geen teenmag was, wat dit kon verhoed nie.

Verteenwoordigendheid (Representivity)

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto.

Die Grondwet vereis op enkele plekke dat wanneer aanstellings byvoorbeeld op die regbank, in hoofstuk 9-instellings en in die staatsdiens gemaak word, die nasionale bevolkingsprofiel wat betref ras en geslag neerslag moet vind. Dit is egter slegs een van verskeie maatstawwe en is dus nie ʼn beslissende beginsel nie.

Vanweë die ideologie van transformatisme sien sake egter geheel anders daaruit, want rasseverteenwoordigendheid het ʼn absolute vereiste geword. Daarvolgens moet die nasionale rassesamestelling in alle instellings en werksplekke en op elke posvlak neerslag vind.

Die uitwerking van rasseverteenwoordigendheid is dat alle instellings grotendeels swart en onder swart beheer moet wees en dat daar gevolglik geen instellings vir en onder beheer van enige minderheidsgemeenskap mag wees nie.

Om te kan funksioneer, sal alle instellings ook noodwendig Engelstalig moet wees, aangesien dit die enigste beskikbare algemene taal is waarin nagenoeg almal min of meer kan kommunikeer. Die beginsel van verteenwoordigendheid is derhalwe ʼn belangrike strategie van transformatisme se doelwit van ʼn enkele homogene samelewing.

Verteenwoordigendheid het ook op grond van algemene praktyk neerslag gevind. Die Wet op Gelyke Indiensneming en die Wet op Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging is die twee algemene wetgewende instrumente wat op rasseverteenwoordigendheid geskoei is. In tientalle wette vind die beginsel ook neerslag.

Die beginsel strek egter wyer as wetgewing en het stewig in die openbare diskoers ingeburger geraak. Reeds meer as ʼn dekade gelede het oudregter Johann Kriegler tereg gekla dat verteenwoordigendheid die be all, end all-beginsel geword het.

Net soos met transformatisme het die daadwerklike konstitusie inderdaad weer verander sonder dat die bepalings van die teks gewysig is. Dis weer ʼn geval van nuwe – vervangende – reg wat vanweë praktyk, aangevuur deur ANC-geleide politiek gevestig geraak het.

Kaderontplooiing en die patronaatstaat

Die Grondwet laat nie die ontplooiing van onbekwame partykaders in die staatsdiens of patronaatskap toe nie. Dit is duidelik uit artikel 195 wat die algemene beginsels van die openbare administrasie neerlê.

Die werklike konstitusie sien egter heel anders daaruit. Kort ná sy bewindsoorname het die ANC begin om sy eie partylojaliste – kaders – oral in die staatsdiens en die res van die openbare sektor (polisie, weermag, ensovoorts) aan te stel. Bekwaamheid het hierin nouliks enige rol gespeel. Vanweë derduisende ontoepaslike aanstellings het die openbare sektor spoedig ernstig begin agteruitgaan en het ʼn onbekwame staatsdiens sedertdien ʼn basiese kenmerke van Suid-Afrika se grondwetlike orde geword.

Bowendien het die regering oor die jare sy verbintenis tot kaderontplooiing bevestig.  Gwede Mantashe, voormalige sekretaris-generaal en tans voorsitter van die ANC het herhaaldelik bevestig dat die ANC onverbiddelik by kaderontplooiing staan.

Mantashe se standpunt strook perfek met die standpunt wat die ANC oor jare ingeneem het, naamlik dat hy beheer oor alle hefbome van gesag wil verkry – die staatsdiens, weermag, polisie, regbank, die georganiseerde ekonomie – eintlik alles. Kaderontplooiing is die hoofstrategie om dit te bewerkstellig.

Daar is geen vooruitsig dat die ANC gaan afwyk van sy totalitêre doelwit om beheer oor alle sektore van die samelewing te vestig nie. Inteendeel, nuwe wetgewing oor die regsberoep vestig juis ʼn sterker greep oor die eens grootliks outonoom gereguleerde regsberoep. Die grandiose nasionale gesondheidsversekering het, onder meer, ten doel om die mediese beroep volledig ’n staatsbeheerde (ANC-beheerde) entiteit te maak.

Van die Grondwet se verbintenis tot ʼn professionele openbare sektor, wat gevoelig is vir die behoeftes van die publiek, het daar dus nouliks iets gerealiseer. Dit is ten slotte beswaarlik meer as doodgebore grondwetlike reg. Dit bestaan in formulerings, maar op sy beste vind dit bloot geringe neerslag in die praktyk. In die praktyk is daar ʼn ander konstitusie, die konstitusie van kaderontplooiing en ANC-beheer oor ʼn opgeblase, bate-verspillende staatsdiens wat lank nie meer die mooiklinkende grondwetlike bepalings oor die staatsdiens weerspieël nie. Die konstitusie – die daadwerklike konstitusie – behels gevolglik weer eens iets heel anders as wat die Grondwet voorgee om te verskans.

Openbare veiligheid

Die Grondwet bepaal dat die polisiediens vir openbare veiligheid moet instaan en misdaad moet bekamp. Die uitgangspunt is dat die staat wesenlik ʼn vreedsame openbare orde behels. Wanneer misdaad wel dreig of daadwerklik gepleeg word, rus die plig op die polisie om die vrede te waarborg (en doeltreffend te herstel). Dit, ten minste, is wat die Grondwet beoog.

In Suid-Afrika sien die situasie egter heel anders daaruit. Die publiek word deur volgehoue misdaad, meer bepaald geweldsmisdaad, geteister. In weerwil van opeenvolgende planne vir misdaadbekamping voer geweldsmisdaad onverpoos hoogty.

Die dwase beleid sedert die Mbeki-tydvak om die land se grense onbewaak te laat, en onwettige immigrasie sienderoë toe te laat, het tot ʼn toestroming van buitelanders gelei. Vandag pluk ons die wrange vrugte hiervan met spanning en geweld tussen plaaslike mense en buitelanders wat tot die reeds bestaande misdaadtoestand toegevoeg is.

Die induiestorting van openbare dienste, veral op munisipale vlak, het gelei tot voortslepende sogenaamde diensleweringsproteste, wat die polisie se vermoë in so ʼn mate uitput dat die vereiste aandag nie meer aan “gewone” misdaad gegee kan word nie. ʼn Vorige nasionale polisiekommissaris het verklaar dat die polisie nie meer in staat is om sy grondwetlike plig na te kom nie.

Die leemte wat die ondoeltreffende en erg korrupte polisie laat, word toenemend deur ʼn tafereel van private en burgerlike inisiatiewe gevul. Daar is 9 000 private sekuriteitsfirmas in die land en drie maal soveel sekuriteitsbeamptes as lede van die polisiediens. Daar bestaan talle buurtwaginisiatiewe en lede daarvan word al beter opgelei. In die algemeen het die verantwoordelikheid vir die handhawing van openbare veiligheid dus weggewentel van die polisie. Private en burgerlike instellings en inisiatiewe, neem toenemend hierdie oënskynlik outentieke staatsfunksie oor.

Stil-stil het die Grondwet se bepalings oor openbare veiligheid dus in beduidende mate plek begin maak vir ʼn eintlik daadwerklike konstitusie, waarvolgens openbare veiligheid in plaas van ʼn staatsverantwoordelikheid ten dele verskuif het na goed georganiseerde sektore van die publiek. Die Grondwet se bepalings reflekteer nie hierdie ontwikkeling nie. As jy jou dus op die grondwetlike bepalings verlaat om te bepaal hoe die eintlike konstitusie daar uitsien, is jy bestem om jouself lelik te mislei.

Nierassigheid

Nierassigheid is volgens artikel 1 van die Grondwet een van die grondwetlike orde se fundamentele waardes. Vir sover nierassigheid nog nie ʼn realiteit is nie, moet ten minste daarna gestreef word.

Nierassigheid verskil van veelrassigheid. Veelrassigheid erken dat daar iets soos rasse bestaan. By nierassigheid word ras egter as ʼn fiksie en valse ideologiese konstruk beskou. Volgens die nierassigheid-sienswyse is daar dus geen rasse(groepe) of rasse-onderskeidings nie. Daar is alleen individuele mense. Vir sover daar wel met die begrip ras in die konstitusionele orde gewerk word (soos by regstellende aksie), is die argument dat dit nie beskou word as ʼn erkenning dat daar rasse bestaan nie. Dit is bloot ʼn tydelike maatreël, wat daarop gemik is om die (eintlik primordiale) werklikheid van individueel-gebaseerde nierassigheid te herstel.

Wat het egter intussen gebeur?

Beginnende by die Wet op Gelyke Indiensneming waarna hierbo verwys is, is ʼn reeks rasgebaseerde wette aangeneem. Daar is geen aanduiding dat dit bloot tussentydse maatreëls behels nie. Hierdie wette het die rasfaktor dus opnuut as ʼn sentrale deel van die grondwetlike orde gevestig.

Verteenwoordigendheid is juis ook konsekwent gebou op rasse-onderskeidings en rassedefinisies. As sodanig bevestig dit die huidige orde se rassegrondslag.

Dis egter bloot die begin. Oor die afgelope twee dekades het ʼn nydige rassediskoers opgelaai, waarin veral minderhede geteiken word. Wit mense (dikwels spesifiek Afrikaners), bruin mense, Indiërs en buitelanders is voortdurend in die visier. Dit is belangwekkend dat die aanstigters van vyandige rasseretoriek juis die mees senior leiers van die EFF en ANC insluit. President Ramaphosa het hierby ingeval. Hy beskuldig wit mense van die oersonde van grondroof en het pas weer in Desember 2019, nogal op Versoeningsdag, die Voortrekkers as indringers verdoem. Die parlementêre debat van 27 Februarie 2018 waartydens besluit is dat wit mense se eiendom sonder vergoeding gekonfiskeer behoort te kan word, was ʼn soort hoogtepunt van haatdraende galbraak teen wit mense in die land se primêre openbare forum.

Politieke kommentator, Ferial Haffajee skryf enkele jare gelede dat die vrolike retoriek van nierassigheid plek gemaak het vir wat sy ʼn rasseoorlog noem. Dit word veral gevoer, sê sy, deur ʼn nuwe generasie van swart mense, wat meen dat die nuwe orde nie die werklikhede lewer wat dit moes nie, en dat wit mense die skuld daarvoor dra.

Die getuienis van die verdwyning van nierassigheid en die vervanging daarvan met ʼn kwetsende veelrassigheid is oorweldigend. Daar is geen gronde om te glo dat nierassigheid ʼn bestaande grondwetlike waarde is of dat daar steeds daarna gestreef word nie. Wat meer is, is dat te oordeel aan die optrede van grondwetlike instellings soos die Menseregtekommissie betuigings van uiterste weersin in en aanstigting van haat teen wit mense skynbaar in orde is, vanweë die feit dat wit mense histories (en steeds) na bewering bevoorreg is.

Die waarde van nierassigheid, ondanks sy oënskynlike swaar grondwetlike verskansing, het deur praktyk verval. Ja, artikel 1 van die Grondwet bevat steeds dieselfde formulering oor nierassigheid as twee dekades gelede. Dis egter niks meer as dit nie: ʼn blote formulering. Dit is egter nie meer ʼn daadwerklik deel van die konstitusionele reg nie.

Grondwetlike veeltaligheid

grondwet-argieffoto-02

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die Grondwet gee hoog op oor amptelike veeltaligheid: elf amptelike tale wat gelyke aansien geniet en almal billik behandel moet word. Etlike ander bepalings blyk ook die Grondwet se verbintenis tot die amptelike tale te verstewig. So sluit die diskriminasieverbod ook ʼn verbod op taaldiskriminasie in en verleen artikel 35(3)(k) die reg aan ʼn beskuldigde om by voorkeur sy / haar eie taal in die strafhof te gebruik.

Dog, uiteindelik was dit niks meer as formulerings nie, want vanuit die staanspoor was dit duidelik dat die werklike praktyke die teenoorgestelde behels: die staat se dokumentasietaal is bykans uitsluitlik Engels; die staatsdiens is wesenlik Engels; die howe het bykans heeltemal verengels en onderwys het op alle vlakke dramaties verengels. Vandag is die daadwerklike situasie dat Suid-Afrika ʼn land met slegs Engels as enigste amptelike taal is.

As die Grondwet vandag die eintlike situasie moet weerspieël, behoort dit te bepaal dat Engels die Suid-Afrikaanse staat se enigste amptelike taal is. Die grondwetlike taalbepalings het egter onveranderd gebly. Dit wek ʼn wanindruk, want met betrekking tot die amptelike tale is die Grondwet se bepalings lank gelede reeds met ʼn nuwe konstitusionele praktyk – nuwe grondwetlike reg – naamlik dié van Engelse eentaligheid vervang.

Die migrasie en versplintering van owerheidsgesag

Die Grondwet sit noukeurig uiteen in welke instellings owerheidsgesag setel en hoe dit uitgeoefen moet word. Owerheidsgesag (wetgewend, uitvoerend, regsprekend, administratief, strafregtelik vervolgend, ensovoorts) mag deur geen ander liggame as die toegewese liggame kragtens die Grondwet uitgeoefen word nie.

Tog vind ons dat dit inderdaad nie die geval is nie. Talle aspekte is ter sake, maar vanweë lengtebeperking lig ek slegs twee uit.

Eerstens migreer gesag weg van die Grondwet-omskrewe staatsorgane na ʼn tafereel van skaduagtige nie-staatsinstellings. Dit is wat veral gedurende die laaste jare van die Zuma-tydvak plaasgevind het. ʼn Mengsel van kombuiskabinette, bestaande uit faksies van die ANC – dikwels in samewerking met duister “sakebelange” soos die Gupta-sakeryk – het die tersaaklike staatsorgane as deurslaggewende politieke besluitnemers vervang. Hulle het beleid bepaal, besluit oor wie etlike senior poste in die staat moes vul en besluit met wie, hoe en vir hoeveel daar met die staat gekontrakteer sou word. Ons ken nou die verskynsel aan die hand van die paslik beskrywende woord, “staatskaping”. Staatsfunksies is deur niestaatsinstellings bedryf.

Hiermee het, wat politieke wetenskaplikes dikwels as ʼn hibriede regime beskryf, homself gevestig. Dit is ʼn situasie waar politieke gesag deur grondwetlike en niegrondwetlike instellings gedeel word, in plaas van uitsluitlik deur betrokke staatsorgane soos wat die formulerings van die Grondwet lui.

Staatskaping en die gevolglike hibriede regeringsbestel het vir ʼn tyd lank die Grondwet se bestel rakende die toedeling van gesag vervang. Dit was nie die gevolg van wysiging van die teks van die Grondwet deur die parlement nie, maar van grootskaalse onderhandse politieke geknoeiery dat hierdie grondwetlike verandering voltrek het. Ná Cyril Ramaphosa se oorname van die ANC-leierskap is daar pogings om hierdie hibriede opset om te keer. In welke mate die hibriede orde vervang word, eerder as bloot van aard verander, bly ʼn onbeantwoorde vraag.

Tweedens – en eweneens ʼn drastiese afwyking van wat die Grondwet beoog – is daar ʼn versplintering van gesag. Grondwetlike instellings verloor toenemende regeringsgesag ten gunste van ʼn verskeidenheid van plaaslike en korporatiewe private, burgerlike en sake-instellings. Vanweë staatsverval (nasionaal, provinsiaal en plaaslik) het die staatsgesag en -administrasie op baie plekke verval of onttrek. Die vakuums wat hierdeur gelaat word, word gevul deur ʼn tafereel van lofwaardige en minder lofwaardige instellings en inisiatiewe, wat in die plek van die onttrekkende staat die eertydse staatsfunksies toenemend uitoefen. Hierby inbegrepe is begrensde private veiligheidsbuurtes met eie sekuriteit en ʼn verskeidenheid van ander outonome geriewe, sowel as grootliks outonome private dorpe en dikwels minder lofwaardige vigilante-organisasies.

Toenemende alternatiewe kragvoorsiening ten einde in te staan vir die leemte wat deur die tanende Eskom gelaat word, raak ook ʼn belangriker faktor.

In die finale instansie het hierdie groeiende outonomie ingrypende politieke, meer bepaald konstitusionele implikasies. Dit bring mee dat openbare gesag, wat andersins uitsluitlik in Grondwet-gedefinieerde staatsinstellings moes setel, stil-stil aan diverse private, burgerlike en besigheidsinstellings oorgedra word. Dit behels natuurlik ʼn konstitusionele verandering van die hoogste orde, juis omdat dit op die uitoefening van openbare funksies betrekking het, wat tradisioneel uitsluitlik met die staat vereenselwig is.

Slotsom

Prof. Koos Malan se nuwe boek plaas die soeklig op die Suid-Afrikaanse Grondwet. Foto: Verskaf.

Hierdie uiteensetting bring aan die lig dat die Grondwet allermins ʼn vaste en onveranderde gegewe is. Naas die Grondwet, met sy hovaardige pretensies van oppergesag, stabiliteit en finaliteit, is daar ʼn daadwerklike konstitusie. Dit is die konstitusie wat deur politieke kragte teweeg gebring en verander word en in die werklike gebeure en praktyke bestaan.

Wees dus versigtig om jou op die formulerings van die Grondwet te verlaat in die waan dat dit die ware konstitusie beliggaam. Daardie formulerings is dikwels misleidend – agterhaal deur die werklik beslissende kragte en gepaardgaande praktyke, wat die daadwerklike konstitusie behels.

Die doktrine van grondwetlike oppergesag is bykans religieus van aard. Dit verkondig ʼn gerusstellende blye boodskap dat ons op grondwetlike formulerings kan vertrou as die permanente waarborg vir ons wêreldlike saligmaking – vir sekuriteit en die beskerming van al ons belange. Baie mense mag hierdie uiteensetting dus ontstellend vind.

Dit is egter belangrik om nie by die verontrusting vas te steek nie of om lewe te probeer blaas in die ongeldige doktrine nie. Daar is twee ander dinge wat eerder prioriteit behoort te geniet.

Die eerste is dat ons klaarheid moet kry oor wat die voorwaardes is vir ʼn werklik ewewigtige en werkbare konstitusionele orde. Die tweede, soos hierdie uiteensetting uitgewys het, is dat ons moet begryp dat konstitusionele verandering, hetsy gunstig of ongunstig, altyd teweeg gebring word deur sterk politieke kragte. Etlike van die voorbeelde van konstitusionele verandering, waarop gewys is, is deur die ANC op grond van sy ideologie van transformatisme teweeg gebring.

Dis egter allermins die enigste politieke krag. Inteendeel, enige goed georganiseerde gemeenskap is in staat om op eie stoom gunstige konstitusionele verandering te weeg te bring. Dit raak veral te midde van ʼn wanfunksionerende staat soos hier in Suid-Afrika ʼn moontlikheid en is trouens reeds besig om te voltrek. In die sesde en laaste bydra sal die fokus juis hierop wees: hoe ʼn gunstiger konstitusionele orde deur goed georganiseerde gemeenskappe teweeg gebring word.

Vir eers verskuif ons egter nou die aandag na een van die ander hoofgeloofsartikels van die grondwetlike orde, naamlik die vaste vertroue in die onafhanklike en onpartydige regbank as die beskermer van ons belange.

  • Dié artikel is die derde in ʼn reeks van ses artikels wat prof. Koos Malan geskryf het na aanleiding van sy nuwe boek There is no Supreme Constitution. Die boek word deur African Sun Media uitgegee en kan aangeskaf word by TakealotGoogle BooksITSI, African Sun se Facebook-winkelAmazon Kindle en EBSCO eBooks aangeskaf word. Dit kan ook by Protea Boekhuis gekoop word. Klik op die skrywer se naam bo-aan die artikel om alle vorige artikels te lees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Koos Malan

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

Wigte en teenwigte? Ek vertrou FW De Klerk en Roelf Meyer lees met geil oë al Prof Malan se artikels oor die grondwet.

Stefan

Maar wat van al die waarborge wat de klerk en meyer ons van verseker het?
Ek wil graag ‘n miljoen leen by een van hulle sodat ek dit kan bekostig om die land te verlaat.
Ek waarborg die sal terug betaal word!!

Pieter J

Dit is alles so waar wat die prof sê. Ek wonder of hy nie dalk vir ons kan raad gee oor hoe ons uit die gemors kan kom waarin ons ons nou bevind nie. Miskien moet hy ook vir ons sê hoe om van die liberale hoofstroom media en ander liberales wat nog steeds mense mislei, ontslae te raak.

Frans

Erfsonde is dus in die eerste plek die gevolge waar onder kinders lei weens hul ouers se oortredings teen hul Skepper se gebooie en plan en ‘n afwyking van die SY riglyne soos ons dit in die Bybel vind en nie soseer oortredings teenoor mense nie.Om dus kinders wat nie niks met apartheid te doen gehad het nog steeds te straf is ‘n verkragting van hul grondwetklike regte en is bloot wraaksugtige optrede.

Omdan ewe skynheilig selfs tenders vir openingsgebede daar te stel is ‘n bespotting en beswaddering van sy Naam.