Voortrekker: probleem-olifant of slagoffer?

Voortrekker, die ikoniese woestynolifant. (Foto: Christophe Pitot via Facebook)

Deur Pierre Massyn

Die stof het nog nie gaan lê oor ʼn “rondloperolifant” genaamd Voortrekker wat in my geboorteland Namibië geskiet is nie. Bewaringsgroepe was bitterlik kwaad oor hierdie insident. Op hierdie manier – so is gesê – sal Namibië niks bewaar nie. Die teenpool was die jagtersgroepe wie se sienswyses reëlreg ingedruis het teen die sogenaamde “groenes” se standpunt. Aan die hart van hierdie dispuut lê daar natuurlik die eeu oue konflik tussen die mens en die natuur – in hierdie geval spesifiek die diereryk.

Die argument word selfs oor ʼn Skriftuurlike boeg gegooi met die mens wat in die posisie van “kurator” geplaas is en veronderstel is om oor die natuur te heers.

Jare gelede het ek ʼn mentor met die naam van Laurie Smith gehad. Eendag, op ʼn ereveldwagterskursus by die Dieretuin in Pretoria in 1995 raak oom Laurie ʼn waarheid kwyt wat permanent ʼn lêplek in my korteks gevind het. Oom Laurie se stelling was naamlik dat waar die menslike hand eers een keer ingegryp het, hy ad infinitum sal moet bly ingryp, want die balans is dan vir goed versteur. Die probleem was dat die mens se voortdurende “ingryping” ooglopend katastrofaal was.

Laurie Smith het ons ’n ander minder bekende feit oor die olifante in die Krugerwildtuin vertel. Daardie olifante se voorsate het meer as ʼn honderd jaar gelede in ʼn nou korridor in Mosambiek na die gebied wat ons vandag die Krugerwildtuin noem, gemigreer. Dit was ook nodig, want die olifante in die ou Transvaal se getalle is destyds drasties uitgedun, oor hoofsaaklik een rede: ivoor.

Baie winters gelede het ek in ʼn ensiklopedie Die Skatkis gelees van ʼn olifantjagter genaamd Majoor P.J. Pretorius wat gemaai het onder die olifantbevolking waar die Addo-olifantpark vandag is. Ek kan nie sê dat ek Pretorius enigsins ooit bewonder het oor hy meer as ʼn honderd bosreuse uitgewis het nie. Daarvoor was die lot van die kalfiewesies vir my te hartverskeurend. Maar ter versagting moet ek hier vermeld dat hy deur die owerhede aangestel is vir hierdie slagting, eufemisties ʼn “uitdunning” genoem, omdat daar boerderyaktiwiteite in die gedrang was. Weer eens het dit hier gegaan oor die konflik tussen die mens en die grootvoete.

Jy kan enigiets met statistieke bewys, maar niemand sal daarteen kan stry dat feitlik alle wildspesies (sekere boksoorte uitgesluit), veral leeus en olifante, se getalle drasties gedaal het sedert 1980. Van renosters wil ek nie eens praat nie. Botswana word dikwels genoem as ‘n land waar olifante floreer, maar volgens die ekoloog en fotograaf Chris Dunford het die olifantbevolking daar sedert 2006 met 14% gedaal. Die hele bloedige sage word ten dele vertel in Spoor of Blood deur Alan Cattrick.

Daar is ʼn deel van die Oos-Vrystaat wat bekendstaan as die Riemland. Eens op ʼn tyd het dit daar gewemel van ontelbare bokke. Dit was voor hul “kennismaking” met die dodelike wapen, die geweer. In die naam Riemland lê sy eie tragiese geskiedenis opgesluit.

In Suid-Afrika is een van die onbesonge heldinne die diereliefhebber en bewaarder Lente Roode van Hoedspruit wat saam met ʼn jagluiperd grootgeword het nadat die dier se ma deur ʼn boer geskiet is. Haar eweknie in Namibië is ʼn passievolle en toegewyde Amerikaanse vrou genaamd dr. Laurie Marker. Haar bewaringsentrum is min of meer tussen Otjiwarongo en die Waterberg, as jy Namibië ken.

Laurie Marker en haar assistent, Manda Wilson, het jare lank ʼn desperate stryd gevoer om die jagluiperds van uitwissing te red – want daar was (en is) boere wat die diere voor die voet geskiet het. Ja, jy kry jagters én jagters…

’n Jaar of tien gelede was die jagter (wyle) dr. Lucas Potgieter vir my bitterlik kwaad toe ek hom daarop gewys het dat ons voorsate aandadig was aan die grootskaalse uitwissing van die dierelewe namate die Kaapkolonie gegroei het. Olifante, leeus, luiperds, seekoeie, buffels en vele ander is genadeloos gejag en uitgeskiet – nie net vir oorlewing nie, maar dikwels omdat hulle bloot in die pad van die mens met sy strewe na “ontwikkeling” gekom het. Spesies soos die Kaapse leeu, die kwagga en die bloubokkie is sonder meer uitgewis en die Kaapse wildehond amper ook.

Ons politieke meesters is te papbroekig om dit ooit te sê, maar dis slegs oor die onbeteuelde bevolkingsaanwas dat hele habitatte vernietig word, want meer mense het meer woonplek nodig en dan moet hulle natuurlik gevoed word ook – en daardie taak word verrig deur sowat 35 000 boere, hoofsaaklik wit en Afrikaans, maar daaroor sal ek op ʼn ander geleentheid iets skryf.

Megastede om die oorweldigende massas te huisves soos wat onse president wil hê, is volgens my nie die oplossing vir die bevolkingsontploffing nie.

Die gerespekteerde en goed ingeligte regskenner André Swanepoel (my ou klasmaat van Hoërskool Windhoek waar ons in 1971 saam stalperde was) besit een die grootste jagplase in die ou Suidwes-Afrika (Aru Game Lodges), teenaan die Gobabispad as jy ooswaarts uit Windhoek op die lughawepad uitry. Ek het geweet ʼn ryk Amerikaner het 120 000 Namibiese dollars betaal om Voortrekker te skiet, maar ek wou meer weet. Soos dit ʼn ordentlike ondersoekende joernalis betaam, win ek sy kommentaar in ter wille van balans en perspektief oor hierdie omstrede saak.

André vuur sy eerste salvo:

“Wie hierdie olifant ooit die naam Voortrekker gegee het, gaan my verstand te bowe. Die olifant was ʼn probleemdier wat geskiet is omdat hy in konflik met die mens gekom het. Olifante kan weens honger alles in hul pad platloop en vernietig.”

Namibië beleef tans sy ergste droogte in 130 jaar. My skoolmaat gaan voort: “Die prys van N$120 000 is die standaard prys wat deur die owerhede vasgestel word nadat hulle op die terrein was en ʼn ondersoek van stapel gestuur het. Die trofee van so ʼn dier mag ook nie geneem word nie en daar word geen uitvoerpermit uitgereik nie. Die geld gaan direk na die ʼn natuurbewaringsfonds waar dit, onder meer, aangewend word vir teenstropery en die herstel en instandhouding van die infrastruktuur van parke.

“Die olifant was in ʼn kommunale gebied en nie op ʼn kommersiële plaas nie. Al is olifante in privaat besit, word die jag daarvan streng gereguleer en moet jy nog steeds ʼn permit kry. Só ʼn probleemdier moet nog steeds deur ʼn gekwalifiseerde, professionele grootwildjagter vergesel word.

“Wanneer ʼn dier tot probleemdier verklaar word, word daar gepoog om binne 24 uur ʼn koper daarvoor te kry teen ’n voorafbetaalde prys, waarná ʼn permit dan in oorstemming met die voorwaardes uitgereik word. Indien die owerhede nie ʼn aanbod kry nie, skiet hulle hom self en gee die vleis aan die plaaslike bevolking. Dit is vanselfsprekend beter om geld in te win as niks nie.”

André vertel my van sy persoonlike ervaring met ʼn probleem-olifant: “Ek het so twee jaar terug ʼn permit gekoop vir ʼn olifant wat van Botswana deur die Kalahari gebreek en verwoesting gesaai het op die plase so ver soos hy gaan – van oos na wes. Hy het, onder andere, ’n klein kind van een van die plaaswerkers doodgetrap. Ek het sy spoor gevat, maar hy het my ontwyk en is later weer oor die grens na Botswana. Ek het nie die geld vir die permit teruggekry nie. Dat die olifant weggekom het, was my probleem.”

Daar bly beswaarlik 300 000 olifante oor teenoor die geskatte 1,5 miljoen van die bosreuse  in 1960.  Hulle het Afrika en die wêreld bewoon lank voor die mens kom indring het. En hulle habitatte bly krimp.

Hierdie argument is duidelik nog lank nie gewen of verloor nie. Een ding staan egter soos ʼn paal bo water: In die stryd tussen mens en dier kan en sal daar altyd net een wenner wees. Hoeveel armer sal ons egter nie wees as die laaste olifant, die laaste leeu, die laaste luiperd of die laaste renoster geskiet is nie? As ek een wens kon gehad het, sou dit wees dat die mens in harmonie met die natuur moet lewe. Ek wanhoop egter dat dit ooit gaan gebeur. Die mens is in sy wese heeltemal te selfsugtig, wreed en vernielsugtig daarvoor. Ons is besig om hierdie planeet te vernietig, en uiteindelik sal ons onsself vernietig. Ek hoop ek is verkeerd!

  • Pierre Massyn is ʼn skrywer en onafhanklike natuurbewaarder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Schalk ·

Dat die mens oorbevolk is kan niemand betwis nie. Om oorbevolking te beveg is ‘n toekoms voordeel. As ons nie die mensdom gaan bedwing nie sal ons soos die dier ook oor grense heen kos soek om te oorleef.
Harde woorde maar die mens vernietig himself.

Hanno ·

Almal wat kinders het, lewer n bydrae tot oorbevolking, al is daai bydrae ook baie klein.

Barend ·

Ons kan doen net wat ons wil, ons sal die vernietiging van die aarde deur die mens nie kan stuit nie.

Pieter ·

Die skrywer is baie eenogig. Daar is tans baie meer wild op wildplase as wat daar ooit teen 1960 in die hele Suid Afrika was. Die diere het waarde gekry omdat hulle bewaar word deur aanteling onder die boer se toesig. Hy laat sy ekstra diere jag en die geld word weer in die plaas gesit om nog uit te brei.

JAN ·

mooi skrywe dankie ! Pierre.
Ek het ń jagpermit van Duitswes A gesien vir een Boesman!1915

Mens mag nie die name Robertz Milner en Kitchener noem nie. Want dis die olifante in die SA hoenderhok. hmmmm.?

Mensdom ·

Dis hoekom ons die mensdom genoem word, want ons is dom. Ons gaan mekaar nog eet as alles besoedel en opgevreet is. The End.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.