Vooruitgang of verval vir Frankryk?

franse-vlag

Foto: Jackmac34/Pixabay.com

Is die eens magtige Frankryk op ʼn onstuitbare pad van verval? Frankryk staan deesdae bekend as die land met die pessimistieste burgers in Wes-Europa. Op 23 April gaan die Franse na die stembus om ʼn nuwe regering en president te verkies. Met die verkiesingsveldtog volstoom aan die gang, is dit duidelik dat agteruitgang, van amper alles in Frankryk, die groot tema van vanjaar se verkiesing sal wees.

Die land se werkloosheidskoers staan tans op 10%. Frankryk het die grootste Moslembevolking in Wes-Europa. Na verskeie bloedige terroriste-aanvalle oor die afgelope paar jaar, het Frankryk se toerismebedryf ʼn skerp afname in besoekersgetalle beleef. Die huidige president, Francois Hollande, is uiters ongewild en sy beleid word grootliks deur die meeste Franse verwerp. Daar is sekerlik genoeg rede vir die Franse om pessimisties te wees.

Met die sosialiste, wat na Hollande in ʼn warboel verkeer en die sentrumregse kandidaat, Francois Fillon, om wie se kop ʼn nepotisme-skandaal ontwikkel het, kon die nasionalistiese kandidaat, Marine Le Pen, nie ʼn beter tyd as die afgelope Sondag gekies het om haar verkiesingsveldtog te loods nie.

In haar toespraak, voor duisende ondersteuners in Lyon, het Le Pen die Franse verkiesing as ʼn keuse tussen patriotisme en globalisme gestel. Le Pen en haar Front National staan onbeskaamd vir patriotiese waardes en die beskerming van die eie.

Waar lê die oplossing vir Frankryk se probleme? Om die oplossing te vind, moet die rede vir die probleme in Frankryk eers ondersoek word. Globalisme het talle Westerse lande oor die afgelope paar dekades wesenlik verander. Net soos in Amerika en Brittanje, het Frankryk ook ʼn sogenaamde ‘roesstrook’ in die noorde van die land ontwikkel, soos fabrieke moes sluit omdat produkte teen goedkoper pryse ingevoer kon word. Die gemiddelde ouderdom van boere in Frankryk styg voortdurend en daar is ʼn groot tekort aan jongmense wat tot die landbousektor toetree. Met massa-immigrasie oor die afgelope vier dekades, ervaar Frankryk demografiese druk van ʼn groterwordende Moslembevolking.

Wat die verkiesing van Donald Trump in Amerika en die Brexit-stem in Brittanje ons gewys het, is dat daar ʼn wesenlike irritasie met die gevolge van globalisme in die grootste Westerse moondhede is. Die gewildheid van Viktor Orban in Hongarye en die feit dat Marine Le Pen in Frankryk en Geert Wilders in Nederland in verkiesingspeilings voorloop, behoort alle twyfel oor die wesenlikheid van die afkeur vir globalisme uit die weg te ruim.

Wat behels die alternatief tot globalisme? Wat in die media as regse populisme uitgebeeld word, behoort eerder as die patriotiese alternatief beskou te word. Le Pen, soos Trump, Wilders en Orban, wil onwettige immigrante deporteer, immigrasie uit Moslemlande beperk, invoerheffings instel om eie vervaardiging weer aan te moedig en plaaslike bedrywe beskerm.

Terwyl die Franse pessimisties oor die toekoms is, is daar rede om in ʼn blink Franse toekoms te glo. Frankryk het steeds ʼn sterk kultuuridentiteit. Die land het ook die hoogste bevolkingsaanwas in Wes-Europa en is steeds die gewildste toerismebestemming in die wêreld. Van die beste landbouprodukte in die wêreld word in Frankryk geproduseer. Die vraag is of die Franse daarin kan slaag om hul bindende krag van identiteit te behou en die negatiewe gevolge van globalisme teen te werk. Net die tyd sal leer.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pietman ·

Indien Frankryk nie die Moslem toestroming kan stuit nie, defnitief verval. Marine Le Pen is hul laaste kans.

VDM ·

Baie dankie, Jaco Kleynhans, vir jou leidinggewende kommentaar oor Frankryk se komende verkiesing. Maroelamedia volg ‘n Bybelse benadering. Daarom word mensgemaakte globalisme (Babelse eenheid, vgl Gen 11) afgewys ten gunste van Godgegewe nasionalisme (Hand 17:26). Ek vind hierdie benadering geweldig bevrydend op politieke, ekonomiese en maatskaplike vlak. Hier is lig! Hier is hoop in ‘n duistere wereld van goddelose humanisme!

Stormrider ·

Ons gaan in April vir 3 weke met vakansie in Frankryk. Ons visumaansoeke is gisteroggend 09:00 ingedien, die visums is vanoggend teen 11:00 uitgereik – basies in een dag. Toerisme is gewis af in Frankryk!

Koning Roos ·

Hey julle moet ook Nederland dophou! 15 Maart is verkiessing as PVV (Geert Wilders) wen kry Afrikaners Recht om Terugkeur.

Ek hoor ook stories dat die party nogals sterk is die jaar agv al die aanvalle en onstabilteit in EU.

Beertjie ·

Ons moet kyk hoe ons mekaar kan help. Hoe Kan Ons die kant vir Geert en sy party help?

Riaan ·

So neem die Moslems oor hulle is besig om Frankryk te high jack.As die franse wakker word is dit nie meer hulle land nie.En Duitsland moet wakker word hulle is op die selfde pad.En so ook die res van die wereld!

John ·

En nou het Le Pen die Jode voor ‘n keuse gestel tov burgerskap. Dit kan ‘n fout wees. As hulle oppak gaan Frankryk baie verloor, moenie ‘n fout maak nie. Baie Jode het afgelope tyd na Israel verhuis.

André ·

Ek skrop ek my nessie in ‘n land wat nie my eie is nie, waar ek nie die taal geken het nie, waar ek nie die sosiale etiket verstaan het nie. Nou woon, werk, en kuier ek saam met nuwe, interessante vriende in die land. Dié land het my gehuisves, ‘n beurs toegestaan om wêreldklas opvoeding te ontvang, en die geleentheid gegee om skouer tot skouer te staan met die elite in akademiese en besigheids kringe. Die land is Frankryk. As die advies van die lot verkramptes hierbo gevolg word, sal geen uitruil van idees, of isolasie van blootstelling aan ander sienings en waardes die orde van die dag wees. En hoe eng (belangriker: vervelig) is dit nie?

p.s. Voor die gewone, en lam ‘verraaier’ argument rondgegooi word: ek is en bly Afrikaans, en bly voorlopig besorgd oor my geboorteland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.