Vooruitsig vir 2017

amerikaanse-ekonomie

Foto: Geralt/Pixabay.com

Die herwaardering van die eie:

Baie word geskryf oor die sogenaamde populisme, die herlewing van nasionalisme en isolasie, gewoonlik in ʼn negatiewe trant. Dit is egter heeltemal natuurlik dat mense, na omtrent 20 jaar van globalisering wat al hoe vinniger toeneem, deur die negatiewe effekte bedreig voel. Almal hou van tegnologiese ontwikkeling, handel, beskikbaarheid van alle produkte op alle plekke ter eniger tyd, maar minder van die negatiewe gevolge, soos die massa-immigrasie, stygende misdaad en verlies van kultuur.

Multi-kulturalisme is vir lank voorgehou as wonderlik en tot almal se voordeel, maar die mense op grondvlak wat nie deel van ʼn internasionale elite is nie, beleef veral die nadele daarvan. Daarmee saam ontstaan ook nuwe alliansies. Die ou verdeling van arbeiders en mense uit die laer ordes, wat vir sosialistiese partye stem en die middelklas en meer gegoedes wat vir burgerlik-konserwatiewe partye stem, bestaan nie meer nie.

Donald Trump kon juis daarin slaag om die wit werkersklas, wat tradisioneel vir die Demokrate gestem het, na hom oor te trek en ook in sekere Europese lande slaag regse partye soos Front Nasionaal (in Frankryk) of Partij voor de Vrijheid (Nederland) daarin om mense rondom kultuur en patriotisme eerder as rondom brood- en botterbelange te verenig.

Dikwels het die regse partye dan ook ʼn ekonomiese beleid wat tradisioneel as links beskou is. “Die eie eerste” is deesdae ʼn algemene slagspreuk wat meer en meer na die hoofstroom beweeg, maar die links-liberale elite se mag is buite verhouding tot hul getalle en die oorwinning van sogenaamde populisme is nie ʼn vanselfsprekende saak nie.

Verkiesings in sleutellande en die toekoms van die EU:

In 2017 word verkiesings in drie Wes-Europese lande gehou wat die toekoms van die EU kan bepaal. In Nederland stem mense in Maart en die nasionalistiese Partij voor de Vrijheid behoort goed te vaar en kan selfs die grootste party word. Hoewel hulle waarskynlik nie die regering sal saamstel nie, kan die konstellasie so wees dat hulle op ʼn manier by die regering betrek moet word.

In April word die presidentsverkiesing in Frankryk gehou. Dit lyk tans waarskynlik dat twee regsgesinde kandidate, Francois Fillon van die gematig-konserwatiewe Republikeine en Marine Le Pen van die nasionalistiese Front National gaan deurdring na die uitkloprondte. Veral mev. Le Pen wil Frankryk se soewereiniteit versterk teenoor die EU en selfs ʼn referendum oor EU-lidmaatskap uitroep, maar tans lyk die kanse beter vir mnr. Fillon om die verkiesing te wen. Na vyf jaar van die linkse Hollande-bewind, swaai Frankryk weer na regs.

In Duitsland weer vind die algemene verkiesing later in 2017 (waarskynlik Oktober) plaas. Na alle verwagting sal die regsgesinde Alternative fuer Deutschland (AFD) die eerste keer tot die parlement verkies word, maar daar is geen kans dat hulle deel van ʼn koalisie sal wees nie, want tans staan al die ander partye saam teen hulle. Mev. Merkel sal volgens alle aanduidings aanhou regeer en min gaan verander, hoewel ʼn sterk vertoning van die AFD ʼn boodskap sal uitstuur dat groot dele van die bevolking ʼn ander beleid wil hê, wat die ander partye sal dwing om hul beleid na regs aan te pas. Die vlugtelingkwessie sal sentraal staan.

Ekonomiese nasionalisme:

Ontnugtering met ekonomiese globalisering gaan saam met die kulturele herlewing en afkeur van multi-kulturalisme. Hoewel dit eweneens as voordelig vir feitlik almal en as onstuitbaar voorgehou word, was sowel die Britte se stem vir die Brexit, asook die verkiesing van Donald Trump, ʼn rooi kaart vir  globale ekonomiese liberalisme. Die keersy van goedkoop produkte (meesal uit die Ooste) is groeiende werkloosheid in die Weste en ʼn verlies aan vervaardigingskapasiteit.

Donald Trump wil juis die herindustrialisering van die VSA deur middel van invoerbeperkinge aanmoedig, iets wat lynreg teen die logika van globalisering indruis.  ʼn Ekonomiese oorlog tussen die VSA en China is beslis ʼn moontlikheid in 2017. Ook die toenemende ontnugtering met die EU onder talle burgers het veel te doen met die ekonomiese nadele van vrye handel. Die Derde Wêreld het vir ʼn ruk gebaat by die uitvoer van grondstowwe na China, maar sukkel ook nou met China se dalende groei en het te veel op die een handelsvennoot, China, gefokus.

Internasionale konflikte:

In Sirië, waar ʼn burgeroorlog al amper vyf jaar lank woed, is daar tekens dat dit dalk vanjaar tot ʼn einde sal kom, maar teen die prys van ʼn totaal verwoeste en steeds verdeelde land. ʼn Wankelrige ooreenkoms, soortgelyk aan die een in die voormalige Joegoslawië, kan volg, wat net die kiem van verdere oorloë in hom dra. Dit sal wel die moontlikheid van ʼn direkte konfrontasie tussen die groter moondhede, soos die VSA, Turkye, Rusland en Iran, wat verskeie kante ondersteun, verminder. Die herstel van verhoudinge tussen die VSA en Rusland (en die moontlike verwydering van Rusland uit die anti-Westerse alliansie) is een van Donald Trump se doelwitte, maar president Poetin bly onvoorspelbaar.

In die Suid-Chinese See smeul ʼn konflik al jare lank tussen China en kleiner state in die streek, soos die Filippyne, Vietnam en Maleisië (en Japan en Taiwan) oor die beheer van eilande en seegrense. ʼn Uitspraak van die Internasionale Tribunaal het teen China beslis en China se optrede is nou amptelik as boelietaktiek erken, wat dit moeiliker maak om voort te gaan. As die VSA, soos wat dit wil voorkom, toenemend uit konflikte bly, kan China aangemoedig voel om sy doelwitte met geweld af te dwing.

Terreur:

Daar is geen aanduiding dat die Islamitiese terreur, wat waarskynlik die grootste bedreiging vir internasionale stabiliteit en veiligheid is, in 2017 sal afneem nie. Trouens, op Nuwejaarsdag was daar reeds ʼn terreuraanslag op ʼn nagklub in Istanbul met talle slagoffers. Die aktiefste terreurgroep, ISIS (Islamitiese staat), word tans wel op verskeie fronte aangeval en hul “Kalifaat” in Noord-Irak en Sirië krimp. Daar is egter talle lande waar staatstrukture feitlik nie meer bestaan nie en wat deur Islamitiese terreurorganisasies as basis gebruik word, soos Jemen, Somalië en Libië.

Ekonomie:

Die dalende olieprys was een van die min ekonomiese ligpunte in 2016. Die ou produsente, soos Saoedi-Arabië, het in ʼn prysoorlog getree met nuwe produsente, wat veral olie uit skalie ontgin, soos die VSA en Kanada, wat laasgenoemde nogal seermaak. In die proses het talle Opec-lande egter self seergekry en intussen is die olieprys weer op pad boontoe, maar dit is onwaarskynlik dat dit weer bo $80 per vat sal staan in die afsienbare toekoms. Die goeie nuus is egter dat die ontwikkeling van tegnologie vir alternatiewe energie met rasse skrede vorder. In 2017 kan ons dalk ʼn deurbraak sien wat super-batterye betref, wat nog altyd die achilleshiel van sonenergie is. Sonaangedrewe motors vir die massa is dan die volgende stap.

Oor die algemeen lyk dit nie asof 2017 ʼn sterk ekonomiese oplewing sal bring nie. China was vir te lank die enigste staatmaker en sukkel self om sy groeikoers te handhaaf, die VSA behoort onder Donald Trump ʼn oplewing te ervaar, maar het eers nog heelwat huiswerk om te doen, veral wat die yslike skuldlas betref. In die EU lyk dinge nie rooskleurig nie, weens strukturele swakhede wat niemand waag om aan te spreek nie en die BRICS-lande het ook glans verloor.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.