Vrae oor nalatenskap van Mandela

Nelson Mandela. Foto: GCIS

Nelson Mandela is reeds in lewe meer vereer as enige ander mens. Nou, na sy dood, stroom die lofredes in.

Niemand sal waag om ‘n kritiese woord of selfs ‘n ongemaklike vraag te laat val nie. Swyg of word verguis. Mandela is immers onaantasbaar.

Die rede is meervoudig. Mandela verteenwoordig vir die wêreld alles wat goed is: die geduldige, vriendelike man wat verkeerdelik vir sy oortuigings vir 27 jaar tronk toe gestuur is deur ‘n wrede, rassistiese regering; die man wat sy posisie van mag gebruik het om vrede en versoening te bevorder toe hy weerwraak kon geneem het.

Daarom het hy ‘n wêreldwye ikoon geword. Meer nog: hy was “God se geskenk aan Suid-Afrika”, aldus ‘n gereformeerde Suid-Afrikaanse teoloog. Ander het hom met Jesus vergelyk, in die sin dat hy iets van Christus se liefde en deernis weerspieël het.

Of daar is ten minste aangevoer dat Mandela, wat as Metodis gedoop is maar nooit enige blyke van geloof in die openbaar laat blyk het nie, manifestasie was van God algemene grasie. Daaroor kan verskillend geoordeel word.

Hoe ook al, met die meeste lofbetuigings oor sy persoon en versoeningsrol kan gemaklik saamgestem word. Hy was inderdaad ‘n besondere mens. Een van die grootste in die geskiedenis. ‘n Krasser eksponent van die ANC-ideologie kon immers ‘n verwoestende rasse-oorlog geïnisieer het.

Maar ek moet tog enkele kantaantekeninge maak wat die eensydige beeld van Mandela relativeer.

Hy het, soos ons almal, foute gemaak – in sy private lewe, as gewone politikus en as staatsman. Hoewel hy later verhef is tot ‘n vlak ver bo die gewone politiek en gewone sterflinge, moet sy grootheid uiteindelik ook aan hierdie foute beoordeel word.

Soos dat hy die president was toe wette op die wetboek geplaas is wat swartmense se ekonomiese posisie drasties moes verbeter, maar wat negentien jaar later ‘n handjievol obseen ryk swart elite opgelewer het terwyl die arm massas roep om brood. In alle billikheid, daar is ‘n sterker swart middelklas, maar die projek het in bepaalde opsigte misluk.

Hy was ook die president toe die beleid van “kader-ontplooiing” beslag gekry het. Vandag erken selfs senior ANC-ministers dat hierdie beleid, wat meebring dat (swart) ANC-lede op tipies kommunistiese wyse in elke denkbare openbare pos aangestel is, katastrofaal was.

Die ideologiese blindheid van die ANC onder Mandela en sy opvolgers het ook ‘n kultuur van korrupsie bevorder wat Suid-Afrika verrot. Ons het vergeefs gewag vir Mandela om kragdadig hierteen op te tree of sy morele stem sterker daarteen verhef toe hy as “vader van die nasie” alles van die kant gade geslaan het.

Nog ‘n klad op Mandela se nalatingskap is dat hy nie duidelike leiding gegee het terwyl tienduisende, nee, honderdduisende aan Vigs-verwante siektes gesterf het nie. Ja, sy de facto premier en latere president, Thabo Mbeki, en onbekwame ministers van gesondheid moet veral die skuld kry vir hierdie gekke ontkenningsbeleid, maar Mandela kon meer gedoen het. Hy het immers die morele kapitaal daarvoor gehad.

Die toekenning van eerbewyse aan bedenklike figure soos Ghadaffi, steun aan mense soos Mugabe van Zimbabwe en noue bande met lande waar die Christelike kerk lank onderdruk is, is die gevolg van ‘n anti-Westerse ideologiese keuse wat die ANC onder Mandela begin en deur sy opvolgers voortgesit is.

Hierdie en ander politieke foute is nie uitgewis deur Mandela se warm persoonlikheid nie. Dit dui wel op ‘n ander kant van sy persoonlikheid en ideologie. Hy kon koud en onverbiddelik wees. Hy was ‘n politikus wat in ‘n links-revolusionêre dampkring beweeg en gefloreer het.

Die nuwe Suid-Afrikaaanse grondwet wat in 1996 finaal onder Mandela aanvaar is, is ‘n model van sekularisme. Vir vele is dit ‘n aanduiding van volwassenheid, demokrasie en vryheid, maar vir vele Christene (swart en wit) het hierdie nuwe, soms oordrewe vryhede ‘n terugwaartse stap beteken omdat dit nie gepaard gegaan het met geestelike en politieke volwassenheid nie.

Suid-Afrika is inderdaad ‘n land met die uiterlike skyn van ‘n Westerse demokrasie. Maar dit is ‘n Afrikaland waar 17 000 moorde per jaar plaasvind, heksery en voorvadergeloof steeds wyd voorkom en enorme ongelykhede die stabiliteit van die staat bedreig.

Dit is die land wat Mandela agtergelaat het, nie omdat hy die situasie geskep het nie, maar omdat hy as feilbare mens te veel ideologiese gebreke gehad het om die land op die pad van volhoubare voorspoed te plaas.

Uiteindelik was hy geen verlosser nie.

Die artikel het vroeër in die Reformatorisch Dagblad verskyn. -Red

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Johannes Froneman

Johannes Froneman is ‘n emeritus-professor, kurator van Mediamense.com en vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

AmY ·

Hoekom praat jy van ‘n ‘wrede rassistiese regering?’ Die man het hoogverraad gepleeg?

Nou wonder ek waarom ‘die wrede rassistiese regereing’ hom nie gehang het nie?

As die doodstraf nog in SA was, is ek byna seker die Boermaglede sou gehang het.

Of ruk ek nou dam onder die eend uit?

Dan het boon-op nog, terwyl hy die tronk was, bomme laat afgaan?

Nee, hy moes nie vergewe het nie. Hy was nie onskuldig in die tronk nie. Sy slagoffers en slagoffers se families is die wat moes vergewe.

AmY ·

Self na hy tronk toe is, het hy nog gehaat. Want waarom ou hy dan bomme laat afgaan het? Of was dit maar ‘n ‘stokperdjie?’ Ek het hom nog nooit vertrou nie. Jammer.

Jan van Niekerk ·

As Mnr Mandela in gewone omstandhede president geword het, en dieselfde beleid gevolg het en private lewe gehad het, sou sy beeld van niks af soos dié van Barak Obama gepoets moes word. Ons kan die NP bedank dat hulle die swart gevaar geskep het sodat Mandela minder gevaarlik kon voorkom.

AJ ·

Die ironie van die saak is Mnr Mandela het meer van sy volksgenote die ewigheid ingestuur as wat die apartheidsregering ooit kon droom om te doen, deur ‘n enkele handtekening van hom in 1997 op die aborsie wet van ’96.
Laaste statistieke toon op +/-80000 aborsies per jaar?

Brakanjan ·

Mandela was al die tyd deel van die SA Kommunistiese Party. Die party het juis dit nou die dag erken!

Julius Bellingan ·

Ek kan nou nog nie verstaan waarom almal, ook die buiteland, Mandela as ‘n Ikoon beskou nie. Wat het hy werklik vir SA gedoen of beteken. Absoluut niks. Apartheid kry altyd die skuld vir enigiets wat verkeerd loop in die land.
In my opinie het die vorige regering meer gefokus op afsonderlike ontwikkeling want ‘n mens kan nie verskillende kulture bymekaar gooi en verwag dit gaan werk nie. Die “apartheid” waarvan almal praat was eintlik maar net dat hulle wat nie soos ons blankes lyk nie, nie toegelaat was in sekere publieke plekke wat nou nie meer die geval is nie, Dit daar gelaat.
Ek wens regtig dat die begrafnis van Mandela nou al verby is want ‘n mens kan nie Radio luister of ‘n TV aansit wat nie media dekking gee oor Mandele se dood nie.
Genoeg is werklik genoeg.

Piet Badenhorst ·

Hi
Ek weet nie regtig wat Mandela vir ons land gedoen het nie, al wat ek kan se is dat hy die land begin sink het na die 1994 verkiesing.
OA kyk na ons land se paaie kyk na die misdaad syfer(we got freedom free to kill free to rape free to hijack) ens ens,dis al freedom wat hulle het. Kyk hoe word ons elektrisiteit gesteel, kyk hoe lyk ons drink water, kyk hoe steel almal geld uit die staatskas. Hulle verryk hulself met ons belasting geld. moet ek aan gaan.
Nee wat almal verafgod hom maar vir my het hy niks gedoen nie.
En wat hy destyds gedoen het was VERKEERD. hy was n terroris niks anders nie.
Groete
Piet

CECILE ·

Ek stem volkome saam Prof. Froneman – ek hoop in my hart dat hy die geleentheid gehad het om die ware Jesus Christus te ontmoet.

william ·

Wat ons nou sien is afgodery. Mandela was leier van die Xhosa nasie en veral die Thembu stam. Hy kan nie my leier wees nie. Sy tronkstraf en alles wat gebeur het, het hy oor homself gebring. Hy is n selferkende kommunis. Ek sidder om te dink wat sou gebeur het as die ANC suksesvol was met hulle planne in die sestiger jare . In 1994 het hulle n land gekry met n sterk infra struktuur. Alles was daar. Netwerk paaie ,spoorwee,krag netwerk,damme ,skole, hospitale ens. Al wat van hulle verwag word is om op hierdie stewige fondasie voort te bou en die land vooruit te neem. Vandat Mandela en die ANC oorgeneem het gaan alles agteruit. Die Afrika kontinent met al sy minerale en olie behoort die rykste te wees maar tog bly dit die armste.

A.Willemse ·

Prokureure de Klerk en Mandella
Het saam die Nobelprys’t verwerwe,
g’n prokureurs tot op hede,
dis klaarblyklik die rede,
‘t ooit meer skurke hul vryheid laat erwe. A.W.

wynand ·

Vriende Doen julleself n guns en gaan na U Tube.en klik op James Manning on South Africa en kyk wat hy te se het
groetnis
wynand

Cronje ·

Baie dankie Prof. Froneman vir die balans wat gebring is met hierdie skrywe. U het soveel sake aangeroer, maar voel ek genoop om die wettiging van aborsie en homoseksualisme by u lysie van negatiewes te voeg.

‘n Artikel in Die Volksblad van 29 Januarie 2011 berig dat sedert wettiging van aborsies in 1996 op die wetboek geplaas is, daar reeds 1miljoen babas wettig in Suid-Afrika vermoor is.

Prof., dit is veel meer as die honderde duisende waarna u verwys wat weens vigs omgekom het.

Verblydend is dat u veroordelend staan teenoor hekserye en voorvadergeeste maar teleurstellend dat u leier, lustig meegedoen het aan die praktyk van voorvadergeeste. Die Burger van 1 April 2010 berig dat, Helen Zille, met haar ampsmotor, ‘n lewendige skaap na Khayelitsha vervoer het sodat hierdie mense die voorvader-geeste kon vereer.

Verskonings is probeer aanbied, maar die feit dat die skaap lewendig was, was ‘n te sterk bewys vir haar motief. Politiek is baie naar – jy praat na gelang van die gehoor wat jy bedien.

Wat gaan ons doen met die 2014-verkiesing om stemme te werf?

Johanwig ·

Daar word heelwat kritiek gelewer ten opsigte van Mandela maar die media beskou dit nie as gepas vir publikasie nie. Die grootskaalse ophemeling vertroebel die massas se perspektief. Dit is niks anders as indoktrinasie nie. Die vraag is hoekom word dit gedoen?

Mandela se oordrewe opgeblase versoeningsrol reflekteer duidelik in sy nalatenskap. Chaos, rassespanning, falende ekonomie, patetiese wetgewing wat kontra-produksie bevorder, ens. Hy het ook nie enige ander opsies gehad as om ‘n versoenenende gesindheid te openbaar nie. Sou hy ‘n pad van konflik en weerwraak gekies het sou hy met die eens formidabele SA Weermag te doen gekry het.

Danie ·

Daar was 2 baie insiggewende artikels in die afrikaanse koerante op vrydag 13 Desember oor mnr Mandela.Een was deur Leoppoldt Scholtz,n historikus,en na my mening n baie nugter denkende man.
Dit sal vir almal goed wees om ook dit te lees.
Leopoldt Scholtz praat van 4 strategiese besluite waarvan Mnr Mandela wel deel was.
Hy was wel n SAKP lid,en die SAKP het vanaf die sestiger jare die ANC se leiding basies oorgevat,en dus op die rug van die ANC gery.
Die tweede was die besluit deur die SAKP,wat die leiding van die ANC basies oorgeneem het,om die gewapende stryd te begin.
Interessant genoeg was daar n derde besluit gewees,wat ook voortgevloei het uit mnr Mandela se kontak met wit kommuniste,die van nierassigheid.Hy het nie sy stryd gesien as teen n rasse groep nie.
Die vierde besluit ,wat hy op sy eie geneem het,was om die doodloopstraat van die tagtiger jare te beeindig met onderhandelinge.Hy het dit gedoen sonder om die ANC se goedkeuring te kry.Terwyl hy in die tronk was het Mandela boeke oor die Afrikaners gelees en byna elke dag Die Burger koerant gelees,en dit alles het die deurslag by hom gegee om n dialoog te begin.
Leopoldt Scholtz se ook alles dui daarop dat sy strewe tot versoening eg was.Hy het nie bitterheid deel van sy presidentskap gemaak nie,en daar was baie versoenings gebare tydens sy presidentskap.
In sy artikel praat Tim du Plessis van mnr Mandela se 3 bekerings.
Die eerste was sy besluit om n gewapende stryd te begin.
Dan was daar weer n bekering in die 80s,toe hy besef het die gewapende stryd sal nie bevryding bring nie,onderhandeling en skikking was die enigste oplossing.
Dan was daar n besluit by hom om weg te draai van bitterheid,want hy het nie plek vir bitterheid gehad in die taak wat op hom sou wag as president nie.
Dan se Tim Du Plessis ook die essensie van Mandela was basies dat hy Suid Afrika se betreklik vreedsame oorgang van onhoudbare minderheids regering na volwaardige demokrasie bedink en laat gebeur het.Dit was weliswaar met die hulp van ander maar sonder Mandela sou dit nie gebeur het nie.
In wat daarop gevolg het was hy weinig meer as n toeskouer.
Ek wil daarmee saamstem.Mandela het sy taak gesien as die nasiebouer en versoener,as die president van die land.Hy het landsbestuur oorgelaat aan Thabo Mbeki en die ANC.
En laasgenoemde twee het klaaglik misluk met landsbestuur.Die kaders wat ontplooi was wou hul beloning he,en dit was n kwessie van elkeen wou soveel van die land se rykdom in sy sak druk as wat hy kon.
Die wapen transaksie was n sprekende voorbeeld.Astronomiese bedrae is as omkoopgeld aan top kaders uitbetaal.
Onder Zuma sal die land net meer en meer agteruitgaan,dis n feit.

Babs Brouwer ·

Raakgevat maar lig gestel.
Het hy ooit een keer gemaan dat al die moord op boere gestaak moet word?
Komende van so ‘n vredeliewende man sou tog baie van waarde gewees het!

Danie ·

Ek is geen geskiedkundige nie,maar ek weet geskiedkundiges kyk na iemand se lewe in geheel.Hulle kyk nie 5 of 10 jaar terug nie,maar dekades en selfs eeue.
Soos waarom die Afrikaners n sterk nasionalisme ontwikkel het,wat tot die bewindsoorname van die NP in 1948 gely het.Dis veral die Boere oorlog aan die begin van die vorige eeu,waar sowat 30000 vroue en kinders in konsentrasie kampe gesterf het.
Maar intussen is die ANC ook in 1912 gestig en hulle was gestig om na swart mense se regte om te sien.Teen die agtergrond van apartheid het Nelson Mandela toe die leier van die ANC geword.Hy was n sterk leier en Xhosa stamhoof wat hom as prokureur bekwaam het.Hy het spesifieke ideale gehad,in sy eie woorde was hy bereid om daarvoor te sterf.Hy wou volle regte vir swart mense sien,maw geen diskriminasie op grond van kleur.
Die NP het ander planne gehad en het geglo elke volk behoort homself te regeer.Ekonomies kon hierdie “groot” apartheid natuurlik nooit werk nie.
Natuurlik sou konflik volg.Nelson Mandela was toe die eerste bevelvoerder van Umkhonto we Sizwe,wat in 1960 gestig was.Hierdie besluit om tot gewapende verset oor te gaan was eintlik die besluit van die SAKP,wat die leierskap van die ANC oorgeneem het.Interressant genoeg was dit ook wit kommuniste wat Nelson Mandela oortuig het dis nie n rasse stryd nie,maw hy baklei nie teen wit mense as sodanig nie,maar teen n stelsel.
Hierdie besluit om tot gewapende stryd oor te gaan,ook die feit dat Mandela n SAKP lid was,kan natuurlik gedebatteer word.Gandhi het bv nooit tot gewapende stryd oorgegaan nie.Self het hy dit gesien as onafwendbaar ,want daar is geen vreedsame manier om sy ideale te bereik nie.Soos ek se,dis debatteerbaar.Maar hy was natuurlik nie lank bevelvoerder nie,want hy was kort daarna tronk toe.
Maar dis ook Mandela wat in die 80s besluit het om gesprekke te begin met die NP regering,n besluit wat hy op sy eie geneeem het.Hierdie gesprekke het uiteindelik op n skikking uitgeloop,met n onderhandelde Grondwet.Dit het ten minste n uitgerekte oorlog beeindig.
Hy was n taai onderhandelaar,maar hy wou n vreedsame skikking he.Baie mense en geskiedkundiges se mening is dat sonder hom sou daar nie n skikking gewees het nie.Hy kon taai onderhandel,maar hy kon ook meer radikale elemente in die ANC beheer.
Hy wou n vreedsame eerste verkiesing he,hy het bv nie omgegee die IVP wen Kwazulu_Natal nie.
Hy het n besluit geneem daar moet versoening wees.Ek dink dis onbetwisbaar.Hy was reeds oud,en sou nie eintlik aktief die land kon bestuur nie.Hy wou die seremoniele president wees,en sy presidentskap op versoening bou.Hy het dit oorgelaat aan Thabo Mbeki en die ANC as party om die land te bestuur.Daarin het hulle klaaglik misluk.Die ontplooide kaders wou n betaaldag he,en korrupsie het begin,onbekwame mense is aangestel in hoe posisies,ens.
Aan die einde van die dag was Nelson Mandela beslis net n mens.Maar sy nalatenskap is een van vrede en versoening.En hy het beslis n internasionale ikoon geword agv daarvan.Definitief het die feit dat hy 27 jaar in die tronk gesit het,maar versoening wou he,beslis daartoe bygedra.

Freddie ·

“Die nuwe Suid-Afrikaaanse grondwet wat in 1996 finaal onder Mandela aanvaar is, is ‘n model van sekularisme. Vir vele is dit ‘n aanduiding van volwassenheid, demokrasie en vryheid, maar vir vele Christene (swart en wit) het hierdie nuwe, soms oordrewe vryhede ‘n terugwaartse stap beteken omdat dit nie gepaard gegaan het met geestelike en politieke volwassenheid nie.

Suid-Afrika is inderdaad ‘n land met die uiterlike skyn van ‘n Westerse demokrasie. Maar dit is ‘n Afrikaland waar 17 000 moorde per jaar plaasvind, heksery en voorvadergeloof steeds wyd voorkom en enorme ongelykhede die stabiliteit van die staat bedreig.”

Ek verstaan nie lekker hoekom jy kla oor hierdie aspek nie? As dit nie was vir die “model van sekularisme” nie, sou die Christelike geloof waarskynlik die vervolgde geloof gewees het (saam met, natuurlik, ander nie-Afrika gelowe). Jy se dan self dat Suid-Afrika “‘n Afrikaland” is, waar voorvadergeloof wyd voorkom.
Ek weet ook nie mooi hoekom jy die voorvadergeloof groepeer saam met moorde en ongelykhede nie. Dit maak nie lekker sin nie. Jy meen seker dat dit ook ‘n onwettige “praktyk” is?

Ten spyte van Mandela se foute, was hy ‘n amazing man!
Al het hy nooit enige teken van geloof gewys nie (volgens jou natuurlik!), was hy vir my ‘n moderne voorbeeld van Jesus se kruisdaad: onvoorwaardelike vergifnis en genade!

henk venter ·

Goed, nou is ons al WEKE by mandela en sy afsterwe verby en STEEDS is Maroelamedia se voorblad vol gesaai van mandela, madiba en wat julle hom ookal wil noem. Wat is die kans dat ons nou ontslae kan raak van die afgesaagde nuus en NUWE oorspronklike nuus op die blad kry?

Burger ·

Ek dink Nelson Mandela is die laaste een wat sal ontken dat hy ook foute gemaak het . Hy het ook sy denke verander en hy was beslis nie alles behalwe n Saint. In sy eie woorde ” as n Saint iemand n sondaar is wat prober regmaak , dan is hy een.

Christen / nie – Christen , ek weet nie . Wat ek weet is dat hy meer Christus karakter openbaar het as die meeste sogenaamde Christene wat ek ken.

Die wortels van die haat wat hierdie land deurmekaar gemaak het is dan juis gevorm uit n Christelike omgewing….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.