Vrede in die Koreaanse skiereiland: eg of vals?

Kim en Moon na die ondertekeing van die vredesverdrag. Foto: Korea Broadcasting System via AP

’n Historiese ontmoeting tussen die leiers van Noord- en Suid-Korea, Kim Jong-un en Moon Jae-in het verlede week op hul grens plaasgevind. Die twee lande verkeer nog in ’n staat van (koue) oorlog en sedert 1953 geld net ’n wapenstilstand langs die hoogs gemilitariseerde grens tussen die twee lande. Dit is ’n oorblyfsel van die Koue Oorlog, met een land wat ideologies in twee state gedeel is – ’n kommunistiese en ’n kapitalistiese een (soortgelyke gevalle was Duitsland en Viëtnam).

Ná simboliese gebare en persoonlike samesprekings, is ’n ooreenkoms onderteken wat die Koreaanse skiereiland sonder kernwapens, ’n einde aan vyandige optrede tussen die twee state, beter verkeersverbindings, familiereünie, opvolgsamesprekings met China en die VSA en ander stappe in vooruitsig stel. Kim was selfs spesifiek teenoor sy Suid-Koreaanse eweknie en het laat blyk dat die toetsterrein vir kernwapens teen Meimaand gesluit sal word.

Nog onlangs het die Noord-Koreaanse leier sterk taal teenoor die Suide en veral teen die VSA, Suid-Korea se beskermheer, gebruik en met oorlog gedreig. Noord-Korea het ook kernwapentoetse uitgevoer en sy missiele deurentyd verbeter, sodat selfs die VSA bereik kon word. President Trump het hard en duidelik geantwoord en ’n oorlog, selfs met kernwapens, het vir sekere waarnemers moontlik gelyk. Sanksies teen Noord-Korea is met druk van die VSA nog verder verskerp.

Kim en
Moon skud blad. Foto: Korea Summit Press Pool via AP

Die verdrag is ’n groot stap en het onlangs nog onrealisties gelyk. Dit moet egter nie vergeet word nie dat daar in die verlede ook al ontmoetings tussen die twee leiers se voorgangers was en beloftes deur Noord-Korea gemaak is as hulle in ’n benoude situasie was. Daar het egter niks van die voorneme gekom het nie en Noord-Korea het kat en muis met die Suide, die VSA en die VN gespeel.

Nou is daar die selfs nóg meer beslissende ontmoeting tussen president Trump en mnr. Kim in vooruitsig. Gesprekke op hoë vlak het reeds tussen die twee lande plaasgevind. Eers ná die ontmoeting sal ’n mens weet of daar iets substantiefs van die vredesvoorneme gaan kom. Vrees vir die VSA (eerder as vir Suid-Korea) is een van die dryfkragte agter die missielprogram van die noorde.

Mnr. Kim is bekend as iemand wat irrasioneel optree en wat hom nie steur aan internasionale verdrae nie. Die opperste doel van die Noord-Koreaanse leier is die voortbestaan van die streng kommunistiese en geïsoleerde bewind en die groot vraag vir mnr. Kim sal wees hoe sy bewind kan oorleef sonder kernwapens, isolasie en onderdrukking.

Die vredesvoorneme kom as verrassing nadat in 2017 en 2016 verhoudinge van kwaad tot erger gegaan het. Daar is egter verskeie gebeure wat moontlik daartoe aanleiding gegee het:

  • Eerstens is daar mnr. Moon wat eers minder as ’n jaar gelede tot president van Suid-Korea verkies is en wat die vredesvoorneme tussen die twee state sy prioriteit gemaak het en ook bereid was om toegewings daarvoor te maak. Mnr. Moon is ’n terughoudende persoon en iemand wat goed kan luister en ook teenstanders met respek behandel. By die ontmoeting was daar ‘n oop en eerlike atmosfeervir kommunikasie en die interpersoonlike aksie tussen die twee leiers reg, iets wat nie hoog genoeg aangeslaan kan word vir internasionale verhoudinge nie.
  • Die rol wat internasionale druk, veral deur die VSA, wat leiding by die VN geneem het, op mnr. Kim gespeel het, moet egter nie vergeet word nie. Mnr. Kim is, as kommunis, iemand wat beter deur duidelike taal en mag beïndruk word as deur mooi praatjies. Mnr. Trump het in duidelike taal met ’n totale vernietiging van Noord-Korea gedreig indien hulle die VSA of een van sy eilande of bondgenote soos Suid-Korea of Japan sou aanval. Mnr. Obama, mnr. Trump se voorganger, was daarteenoor besluiteloos en het swak en wankelrig oorgekom.
  • Nog ’n rede is China se rol. China is die enigste land met wie Noord-Korea goeie betrekkinge het en wat as ’n soort groot broer optree. Sowat 90% van die handel van Noord-Korea is met China. Mnr. Kim was onlangs in China vir samesprekings met die Chinese leier Xi Jinping en dit is moontlik dat daar ernstig met hom gepraat is. Mnr. Trump het blykbaar ’n goeie verstandhouding met president Xi en het dit benadruk hoe ’n ernstige probleem die kernwapenprogram van Noord-Korea vir die VSA is. China het ook dié keer die sanksies teen Noord-Korea nie net in teorie nie, maar ook in praktyk meegemaak en dit het moontlik die deurslag gegee. China wil nie sy verhoudinge met die VSA vertroebel nie, ten spyte van verbale aanvalle van tyd tot tyd en ekonomiese kompetisie, en nog minder sy huidige sterk ekonomiese groei belemmer deur ’n oorlog of krisis in sy onmiddellike omgewing.
  • Nog ’n rede kan wees dat Noord-Korea ekonomies sy einde bereik het. Die regime hou ’n front voor, maar dit is bekend dat die lewensomstandighede besonder erg is in die land. Alhoewel die regime alle mag het en ook nie omgee vir sy eie mense nie, moet hulle nog steeds vir die instandhouding van die regime, veral vir die weermag, inkomste verdien. Daar is al geruime tyd sanksies teen Noord-Korea, maar dit is onlangs nog verskerp en dalk het die land sy eie hulpbronne uitgeput en moet nou politieke toegewings maak in ruil vir ekonomiese toegewings.
  • Laastens is daar ook aanduidings dat die kernwapenprogram deur ’n aardbewing groot skade berokken is en dat dit Noord-Korea se vordering vernietig het. Noord-Korea is dus skielik nie meer militêr so onaantasbaar soos hulle was nie, maar die front word nog voorgehou.

 

 

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Siener van Melbourne ·

Ek verstaan nie mooi hoe n man wat nie skroom om sy eie familielede om die lewe te bring nie skielik glimlaggend vrede soek met sy bure nie. Iets is nie pluis met die vent nie.

Marthinus Willemse ·

Ek sien Kim Jong-oen se optrede nie as irrasioneel nie. Hy is die leier van `n land wat nie wil hê dat lande soos die VSA aan hom voorskryf nie. Nou word hy tipeer as
“irrasioneel” en iemand wat “hom nie steur aan internasionale verdrae nie”. (Die VSA steur haar nie aan verdrae nie, soos die onlangse aanval in Sirië.) Kim word sleggesê net omdat hy weier om die knieg voor die VSA te buig.

As ek Kim is, sal ek kerntoetse staak, maar nie van my kernwapens ontslae raak nie. Daarby is sy oupa in Rusland gebore, en die antieke Japannese stam van die Koreane af. Dit maak die saak `n klein bietjie ingewikkelder. Ons weet daarom nie werklik wat Kim se “opperste doel” is nie. Miskien soek hy `n demokrasie, maar moet soos Michail Gorbatjof in Augustus 1991 veg teen die kommuniste wat dit nie gesoek het nie, en dan maar jou oom laat doodskiet.

Gerhard ·

Ek sien weer die VN as ‘n uitgediende maaksel wat muishond lande soos Rusland, Noord-Korea, Sirië en hul soms onregmatige regerings die geleentheid gee om met hulle streke weg te kom. Beide Sirië en Noor-Korea se regerings behoort glad nie erken word nie.

Yankee ·

Grandfather Kim ll-sung was nooit in Rusland gebore nie, maar wel in Pyongyang!!

John ·

Hy soek ‘n demokrasie? Kim ‘n verklaarde godjie soos sy voorsate met grootse standbeelde wat die inwoners aanbid… of…. Hoeveel volksgenote het nie ‘n wrede dood gesterf nie en nog onlangs die broer van Kim en die Amerikaanse jongman… Nee, hierdie is ‘n poging van Kim om homself as wereldleier te vestig; iemand op gelyke voet as Trump en andere. Die wereld beweeg in elke geval nou na ‘n volgende paradigma van robotgenetika. Die verskrikking der eeue. Alle groot lande is reeds gerat met vreemde wesens in ‘n lang slaap totdat die boodskap inskop. Atoomkrag het sy gruwelike doel gedien en is uitgedien selfs as kragmodums. Wat ons sien is nie te glo nie… Vrede op aarde? Dis 1 Mei vandag.

VN makker ·

Ek kan nie genoeg beklemtoon hoe swak, pateties die VN is nie. Besluitloos, passief, sonder opinie, ruggraatloos, help nie waar hulp nodig is nie. Ontbinding van die VN en vervanging met werklike sterk leiers is noodsaaklik.

Marthinus Willemse ·

Jan Smuts het gesê dat daar nie tweederangse lande in die internasionale gemeenskap is nie. Kyk byvoorbeeld na die Veiligheidsraad van die VN; ons behoort `n permanente lid te wees. Miskien, as ons ophou praat van Eerste en Derde Wêreldlande, of een land erken en nie `n ander land nie, sal dit dalk help om minderwaardigheids- én of meerderwaardigheidskomplekse uit te roei. Mense is van nature meer kreatief en produktief indien hulle van waarde geag word.

Gerhard ·

Jan Smuts was verseker nie die skerpste lem in sy tyd nie. Hy is deels verantwoordelik vir die gemors wat die VN vandag is. Die woorde Eerstewêreld en Derdewêreld het spesifieke en geldige betekenise wat verwys na die ontwikkelingsvlak van ‘n land, wat ook geldig is in enige gesprek waar die status van daardie land bespreek word.

Die rede waarom sekere lande by die VN permanente lede is van die Veiligheidsraad is omdat hulle gewoonlik intree in wêreld sake om dit te besleg. Die res het geen aanspraak om daar te wees nie. Dit kan met reg gevra word of almal van hulle daar hoort. Bv. Sjina doen omtrent nooit iets in konflik gebiede nie. Daar is ook lande Soos Rusland en andere wat net nie meer genoegsaam hulle mag kan projekteer om werklik as ‘n wêreldmoondheid in te tree nie. Eintlik behoort net die VSA daar te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.