Vrede van Versailles: Afrikaners veg teen Duitsers se vernedering

ondertekening-van-die -vrede-van-versailles

’n Portret deur William Orpen van die ondertekening van die Vrede van Versailles in 1919. Foto: Historiek.net

Dit is vandag – Vrydag 28 Junie 2019 – presies ’n eeu gelede dat die Vrede van Versailles, wat ’n finale einde aan die Eerste Wêreldoorlog gemaak het, geteken is. Dit was ’n verdrag wat die seëvierende Geallieerdes aan die Duitsers gedikteer en wat laasgenoemdes tot in die grond verneder het.

Die verhaal van die Versailles-verdrag, die bydrae wat dié vernedering tot die magsoorname van Adolf Hitler iets meer as 13 jaar later en die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog ná 20 jaar gelewer het, is goed gedokumenteer. Wat minder bekend is, is die vergeefse stryd wat die Unie van Suid-Afrika se afvaardiging in Parys, genls. Louis Botha as premier en Jan Smuts as visepremier, gevoer het om die ergste Duitse vernedering te probeer versag.

Louis Botha was teen dié tyd siek en moedeloos en het nie meer lank gehad om te leef nie. Smuts het ’n titaniese geveg gevoer, maar die passie wat die oorlog gegenereer het, was ’n tsunami wat ook hóm uit die pad gespoel het.

Smuts was iemand met ’n diepe insig in die wêreldgeskiedenis, kultuur en beskawing. Hy was ’n internasionale reus vir wie Suid-Afrika eintlik te klein was en wat al in 1914 ingesien het dat die oorlog op ’n ramp sonder weerga moes uitloop. In ’n brief het hy voorspel dat dit Europa 50 jaar of selfs meer sou terugplaas.

Smuts het sy posisie in die imperiale oorlogskabinet sedert 1917 gebruik om te waarsku dat ’n verslane Duitsland nie te kwaai verneder word nie. Hy het ingesien dat Duitsland ’n sleutelrol in die Europese kultuur en beskawing speel, en dat die vernietiging daarvan die poorte vir die Russiese kommuniste kan open.

As Duitsland vernietig word, het hy in ’n toespraak gewaarsku, kan dit juis die beskawing wat die Geallieerdes wil red, in die afgrond stort: “It may be that in the end you have the universal bankruptcy of government, and you lose the forces of revolution, which may engulf what we have so far built up in Europe.” Die beskawing “can be broken down, and you resort to barbarism just as after the Roman Empire the world reverted to barbarism.”

Teen dié agtergrond het hy ná die wapenstilstand van November 1918 invloed probeer uitoefen op die drie sentrale figure in die drama – pres. Woodrow Wilson van Amerika, premier Georges Clemenceau van Frankryk en premier David Lloyd George van Brittanje. Die begin was nie sleg nie; hy kon Wilson se steun kry vir die stigting van die Volkebond.

Maar dit was sy enigste sukses.

Wilson was ’n naïewe, idealistiese professor in die regte wat nie die brute werklikheid van die Europese magspolitiek begryp het nie. Clemenceau, wat Parys as jong man in 1871 in vlamme weens ’n Duitse bombardement gesien het, het ’n rooiwarm haat teenoor die Duitsers gekoester en wou voorkom dat hulle ooit weer ’n Europese faktor van betekenis – laat staan ’n bedreiging – word.

Lloyd George het in beginsel in Wilson se rigting geneig, maar hy was ’n tipiese siniese opportunis wat gekyk het hoe die wind waai – en die wind het eerder saam met Clemenceau as met Wilson gewaai.

Trouens, in vergaderings het Clemenceau, nie sonder rede nie bekend as le Tigre (“die tier”), soos ’n stoomroller oor Wilson gewals. En dus is ook Smuts, op stuk van sake die verteenwoordiger van ’n klein landjie, platgeloop.

Clemenceau was trouens vernietigend-minagtend oor Smuts, en het hom le saboteur du Traité Versailles (“die saboteur van die Verdrag van Versailles”) genoem. Aan genl. Henri Pétain het Clemenceau blykbaar gesê: “Sê aan die maarskalk [Smuts] daar is net een ding wat hy kan doen om sy verraad ongedaan te maak. Dit is om baie gou te sterf.” Geen wonder dat Smuts nooit ’n vriend van die Franse – “a bad neighbour” – was nie.

Namate dit duidelik geword het dat die Geallieerdes afstuur op ’n diktaat wat die Duitsers tot in die grond sou verneder, het Smuts verskeie wanhopige pogings aangewend om Wilson en Lloyd George van gedagte te laat verander. In ’n brief aan die Britse premier het hy na sy eie Suid-Afrikaanse agtergrond verwys: “My experience in South Africa has made me a firm believer in political magnanimity…” Hy het afgesluit met ’n dringende waarskuwing: “[O]ur present panic policy towards Germany will bring failure on the Conference, and spell ruin for Europe.

Aan ’n vriendin het hy hom oor die vredesbepalings ontboesem: “Sometimes they appear to have been conceived more in a spirit of making war than of making peace.” Half wanhopig het hy profeties aan Lloyd George en Wilson geskryf: “Under this Treaty Europe will know no peace… I am grieved beyond words that such should be the result of our statesmanship.”

Dit was inderdaad die kern van die saak. Sy woorde aan sy eie vrou was nog meer op die man af: Die verdrag was “een vreselijk document”. “Onder dit tractaat gaat de toestand in Europa ondragelijk worden en moet er òf revolutie komen òf weer een oorlogs uitbarsting mettertijd.”

Smuts se voorspelling is tragies bewaarheid. Net 20 jaar en twee maande later is Europa opnuut in ’n bloedbad, nog veel erger as die een van 1914-’18, gedompel.

Smuts was só beswaard dat hy dit ernstig oorweeg het om te weier om die verdrag te onderteken. Dit het swaar druk van Louis Botha en Lloyd George geverg om hom te beweeg om, sy dit met ’n swaar hart, toe te gee.

Die finale seremonie, toe die Duitse afgevaardigdes hul handtekenings onder hul eie nasionale vernedering moes aanbring, het hom siek laat voel. Die seremonie was volgens hom “uninspired, unimpressive, mechanical, soulless”.

’n Enigsins verbitterde Smuts het op 18 Julie 1919, toe hy terug na Suid-Afrika vertrek het, ’n afskeidsalvo in ’n verklaring aan die Britse pers afgevuur: “The brutal fact is that Great Britain is a very small island on the fringe of the Continent” – iets wat die Britte moes seergemaak het – “and that on the Continent the seventy odd million Germans represent the most important and formidable national factor. You cannot have a stable Europe without a stable settled Germany, and you cannot have a stable, settled and prosperous Great Britain while Europe is weltering in confusion and unsettlement next door. In our policy of European settlement, the appeasement of Germany therefore becomes one of cardinal importance … The great issue will probably be decided in Germany for good and all.

Dis woorde wat ’n spesiale weerklank het in die era van Brexit.

Smuts het nooit van dié siening afgewyk nie. Maar twee dekades later was die boosheid van ’n Adolf Hitler só erg dat hy Suid-Afrika opnuut teen Duitsland moes laat oorlog maak.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
dries

dankie Leopold. Baie interessant, hoe min weet ons van Smuts. ‘n Grote gewees.

Frm

Hulle was omtrent almal grootes tot voor fw. Was dit nie vir die belaid van afsonderlike ontwikkeling nie sou daar geen stede in Suid Afrika wees nie wat nog van superstede.

Gwen

’n Insiggewende stuk, dankie. Ek het nie baie agting vir Smuts as Afrikaner nie – ek meen hy het sy eie mense in die steek gelaat – maar as wêreldleier was hy ’n besonder begaafde mens met ’n versiende blik wat min voor of na hom gehad het. Hy was ongelukkig te veel gemoeid met die internasionale politiek om die situasie onder sy volk ten volle te begryp.

Waarheid

Neewat hou verby.
Wie hom aanhang het n groot probleem .

ZAR

Leopold baie dankie, ek leer soveel by jou.
Ek gaan jou egter ‘n gunsie vra, gaan kyk die dokumentêr “The greatest story never told” verniet op hul webtuiste met dieselfde naam, dan doen jy ‘n meningstuk oor dit. Ek sal baie geïnteresseerd wees in jou opinie. Dis ‘n gedeelte van die geskiedenis van die 2de wêreld oorlog waarvan ons nie in ons boeke leer nie. Sover kon ek nog geen van die stellings daarin weerlê nie.