Vredesnobelprys vir vegters vir vryheid van spraak

Vanjaar se Nobelprys vir Vrede het aan twee onafhanklike joernaliste – Maria Ressa uit die Filippyne en Dimitri Muratow uit Rusland – gegaan. Al twee probeer om in toenemend onderdrukkende omstandighede ’n onafhanklike en regeringskritiese koerant en webwerf te bedryf om die vryheid van die pers en die vryheid van opinie, wesenlike mense- en burgerregte, in hulle onderskeie lande lewendig te hou.

Ressa bedryf die aanlyn nuusblad Rappler, wat veral krities is oor die Filippynse president Rodrigo Duterte se veldtog teen dwelmhandel met alle middele, wat talle moorde insluit. Ressa en haar publikasie word dikwels gedreig en met verskeie regsake gebombardeer in ʼn poging om haar te probeer stilmaak.

Muratow bedryf al vir baie jare met Nowaja Gaseta een van die min onafhanklike en regeringskritiese koerante in Rusland. Nowaja Gaseta berig oor dit wat ander koerante liefs vermy: korrupsie, polisiegeweld, verkiesingsmanipulasie en die verskeie oorloë waarby Rusland betrokke is. Verskeie joernaliste, wat te veel onaangename waarhede van die magtiges onthul het, is al in Rusland gedood, byvoorbeeld die bekende onthullende joernalis Anna Politikowskaja. Die omstandighede van moorde op joernaliste word selde deur die regstelsel oopgevlek. Meer en meer media word in Rusland tot samewerking gedwing.

Sowel die Filippyne as Rusland is nominaal demokrasieë, maar word deur outoritêre leiers regeer wat hulle nie te veel aan die wet en reëls van demokratiese optrede steur nie, en daarby onafhanklike media aan bande probeer lê. Op die ranglys van persvryheid volgens die organisasie Verslaggewers sonder Grense is beide lande taamlik laag gelys: uit 180 lande lê die Filippyne 138ste en Rusland 150ste. Natuurlik is daar lande waar dinge veel erger gaan en ’n vrye pers nie eers bestaan nie, of ten beste vanaf die ondergrond bedryf word, soos in totalitêre kommunistiese diktatorskappe soos Noord-Korea, China en Kuba. Daarteenoor is Rusland en die Filippyne lande wat nominaal tot persvryheid verbind is, wat oor hulle internasionale beeld besorg is, waar die regerings nog demokraties verander kan word en waar die afgly in totalitarisme nog gekeer kan word.

Vanjaar se besluit van die Nobelkomitee kan oor die algemeen verwelkom word; beide is persone wat hulle idealistiese werk onder moeilike omstandighede doen en wat nog nie wyd bekend is nie. Persvryheid het ook nog nie aandag gekry as motivering vir die toekenning van die vredesprys nie. Daar is ook nog geen beëindiging van internasionale konflikte in 2021 gesien nie, wat gewoonlik ʼn belangrike rede vir ʼn toekenning is. Natuurlik is die intree vir persvryheid nie in die noue en direkte sin ʼn daad wat vrede skep nie, alhoewel die getroue beriggewing oor oorlog help om oorlogsmisdade te voorkom en geargumenteer kan word dat volwaardige demokrasieë, waarvan persvryheid een van die hoekstene is, minder geneig tot oorlog is.

Dit was ook ʼn goeie besluit dat die prys aan magtelose en onbekende persone toegeken is, eerder as aan bekende politici wat selde onbaatsugtig optree en wat reeds geld, mag en invloed het, maar boonop steeds dikwels teleurstel. Dink maar aan die 2009-toekenning aan Barack Obama, eertydse Amerikaanse president, bloot vir sy voorneme om vrede te maak, of die 2019-toekenning aan Abiy Ahmed, Ethiopiese eerste minister, wat wel vrede met die buurland Eritrea gesluit het, maar daarna minstens medepligtig geword het aan die tans woedende oorlog teen die Tigrayvolk in sy land. Ook ’n tydgeestoekenning aan byvoorbeeld Black Lives Matter, Angela Merkel of Greta Thunberg is ons hierdie jaar gespaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vrijburger

Persoonlik heg ek nie meer veel waarde aan Nobel toekennings nie.

Rupert Ashford

Ek dink die vredesprys het sy glans en relevansie verloor toe dit aan Obama toegeken is slegs vir wie en wat hy was en sonder dat hy enigiets gedoen het om dit te verdien. So hulle kon maar net sowel die hele storie gesink het met ‘n Thunberg of BLM toekenning en klaargekry het. Die toekenning aan die joernaliste as mens kyk na die nominasies is in elk geval ook maar weer ‘n vlugreaksie.