Vreemdelinge-haat of vreemdelinge-afguns

xenofobie-ana

‘n Polisieman hou twee verdagtes in Jeppestown, Johannesburg, aan. Verskeie xenofobiese aanvalle het in Februarie in Gauteng plaasgevind en buitelanders se ondernemings en huise is verwoes omdat Suid-Afrikaanse burgers hulle van misdaad beskuldig het. Foto: ANA/Xinhua/Zhai Jianlan

Deur Jeannette Gnade

Die Afrika Diaspora Forum het ʼn belangrike opmerking gemaak in antwoord op pres. Jacob Zuma se uitlating dat Suid-Afrikaners nie xenofobies is nie, maar slegs beswaar maak teen buitelanders se misdaadbedrywighede. Die Forum sê tereg dat dwelmhandel, mensehandel, witboordjie-misdaad en selfs halssnoermisdade nog altyd endemies aan Suid-Afrika was.

Die Forum bestaan uit duisende Afrika-boorlinge wat tans in die buiteland is vir werk of daarheen gevlug het weens die dikwels onuitstaanbare omstandighede op die vasteland.

Die media berig dikwels oor buitelanders wat deel vorm van misdaadsindikate of wat bordele bedryf, maar dit is gewoonlik beperk tot Nigeriërs en Mosambiekers. Zimbabwiërs word ook verbind aan plaasaanvalle.

Daar word selde gehoor van Somaliërs, Etiopiërs, Kongolese en ander migrante van Wes-Afrika wat by misdaad betrek word. Dié mense is ekonomiese migrante of polities-godsdienstige vlugtelinge wat ʼn heenkome in Suid-Afrika probeer vind. Van hulle is geleerde mense wat nie tot die informele handel in hulle nuwe vaderland beperk is nie, maar as dosente, navorsers en mediese dokters ʼn belangrike bydrae maak. Die Somaliese en selfs Pakistanse winkeleienaars in die tradisionele swart woongebiede stel lede van die plaaslike bevolking as werkers aan en bied ʼn onontbeerlike diens in verafgeleë plekke. Inwoners kan nie elke dag ʼn bus haal of ʼn minibus nader wink om ʼn brood te gaan koop nie. Aanvalle op dié mense word as polities-gedrewe voorgehou, maar is in werklikheid net ʼn verskoning om te plunder.

Afguns speel ʼn groot rol in die aanvalle op vreemdelinge en dit word altyd vererger deur histeriese groepsdruk. Hierdie opswepery en massa-histerie was nog altyd te sien in Suid-Afrika. Organiseerders begin dikwels ʼn vreedsame betoging, maar baie gou verander dit in geweldsaanvalle en strooptogte. Destyds met die sogenaamde Beleg van Bophuthatswana was inwoners min gepla oor die oorgangspolitiek of die toekoms van hulle tuislandregering – hulle het winkels met behulp van kruiwaens, kostrollies en selfs vragmotors leeggedra. Die skade het miljoene rand beloop.

Een van die beweegredes vir die Groot Trek was grootskaalse veediefstal en plundery. Boere aan die Oosgrens het eerder kans gesien vir die onbekende binneland as om verder die prooi van sommige regeringsgesteunde inheemse volke te wees.

Suid-Afrika moet ʼn slag die waarheid in die oë kyk. Die onderskeie etniese bevolkings in die land kom nie eers met mekaar oor die weg nie – wat nog te sê met vreemde bevolkingsgroepe uit die buiteland. Die faksiegevegte in die ANC waaroor daar so dikwels gepraat word, is niks anders nie as ʼn blote verfynde vorm van stamgevegte. Die Zuma-Zoeloe-monargie sal te alle koste geslote en onaantasbaar gehou word.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Die huidige mode om die vaderland te verlaat om groener weivelde te soek in plaas daarvan om te bou aan die eie of om regerings in die bek te ruk, is ‘n onvolhoubare aksie met erge gevolge. Baie mans en kinders het Europa ingevaar en hul vroue bloot net ‘weggegooi’. Diaspora as term word deur baie oppertuniste en kwaaddoeners misbruik. Dit kan nie weggeredeneer word nie en bemoeisieke ‘goody-goody’-vromes doen meer kwaad as goed. Wanneer hierdie ‘geholpenes’ ongeholpe bly, heimwee kry of agterkom hul droom was bloot net ‘n glimmende seepborrel, sal woede teen hierdie helpers opvlam. Dit sal skokkend verloop.

Alwyn Beetge ·

Afrika se mense is geweldadig en emosioneel. Die leiers toon n gebrek aan verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid. Hierdie is n resep vir agteruitgang.

Gino ·

Die laaste parragraaf het betrekking. Dis die groot rede hoekom die anc nie moedertaal onderrig wil bevorder nie en dit so sterk teenstaan. So kan hulle die boodskap beheer, want as die volgende geslag in hul moedertaal onderrig word sal elke stam en volk hul tradiesies beter verstaan en op n staduim besef dat wat vir die massas werk nie noodwendig vir die stam of volk werk nie. Dit sal lei tot meer partye wat stem ooreenkomstig volks of stam belange, wat die monopolie vanaf n gesentraliseerde party sal wegneem. Dis sal weer die mag eweredig verspry wat sal betekin leiers sal verantwoodbaar wees vir misdade, swak gedrag ens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.