Vrees en fopnuus

Foto ter illustrasie.

Deur Anton Meijer

“Mense op die groepe, maak seker jy maak jou spaartenk vol met brandstof, maak seker jy koop genoeg kos vir drie weke. My bronne het aan my gesê dat al die lorriedrywers van môre af gaan staak.”

Dié tipe stem- en teksboodskappe het die afgelope paar weke weer soos ’n veldbrand versprei.

Die sogenaamde bronne word nooit genoem nie, die gebied waar die protes of onluste gaan plaasvind, ook nie. Geen datums word verskaf nie. Dus, ’n generiese boodskap met een doel voor oë; om vrees in die samelewing in te jaag.

In Nederland gebruik hulle ’n mooi term vir hierdie inligtingsmouse. Solder-terroriste. Mense wat in hul solder agter ’n rekenaar sit en deurgaans op die deel-knoppie klik.

Dit is veel makliker om die boodskap aan te stuur, indien daar ’n moontlikheid is dat dit waar is, as om die inhoud van die boodskap te verifieer.

Teen die tyd wat die polisie, of die betrokke vakbond of organisasie, die gerugte in die kiem smoor, is die boodskap al duisende kere gedeel, en het dit reeds sy doel gedien.

Dit gebeur ook met beweerde gevalle van rassisme. Dink maar aan juffrou Elana Barkhuizen wat haar pos kwyt was, omdat ’n heksejag op Twitter die regering genoop het om op te tree, sonder dat die nodige bewyse eers ingesamel is.

Soveel vrees, paniek, onsekerheid en hartseer word onnodig veroorsaak omdat sensasie en skindernuus bo die waarheid en sekerheid verkies word.

Hiermee word daar nie gesê dat daar nie ’n mate van waarheid steek in van die boodskappe wat versprei word nie, maar daardie waarheid is gewoonlik ’n halwe waarheid.

Ja, vragmotorbestuurders hét gestaak die week, hulle is bekommerd oor geweld teenoor hul kollegas, maar dit beteken nie die lewering van kos en ander produkte het van die een dag na die volgende gestop nie.

Ja, taxi-eienaars in die Pretoria-sakekern het strate versper en winkels is geplunder, maar die hele stad het nie tot stilstand gekom nie. Daar is stertjies aan die berigte gelas om reaksie van die publiek te ontlok.

Dit is dus bitter belangrik om die boodskappe te verifieer.

Gaan lees verskeie koerante en nuusplatforms. Luister na jou gemeenskapstasies. Skakel in by buurtwag-groepe wat versigtig te werk gaan met inligting.

Hou steeds jou ore op die grond, maar vat die boodskappe wat versprei word maar met ’n knippie sout.

Gaan die nuusbronne na. Sommige webtuistes lyk soos die ware Jakob, maar is spesifiek opgestel om fopnuus te versprei.

Lees met valkoë deur verklarings wat aangestuur word. Gaan die besonderhede na van die persone wat aangehaal word. Soms is die hele verklaring vals.

Gebruik die wonder van tegnologie en die internet om vas te stel of foto’s of video’s dalk gemanipuleer is. In sommige gevalle sal jy jou antwoord reeds op die eerste bladsy van Google vind.

Ja, dit gaan jou ’n ekstra paar minute neem om die inligting te verifieer voor jy dit aanstuur, maar maak eerder seker jy stuur nie fopnuus aan nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lourend dup ·

Ek is heel van facebook af oor la die strooi wat mense so deel en as waarheid verkondig.

JWC ·

Die hoofstroom media is geensins hier onskuldig nie!! Gaan kyk maar wie besit die mediahuise… die regerende party se beeld en beleid word voortdurend gepoets. Vra jouself af waarom die afgelope staatskaping so suksesvol was. Kyk bietjie hoe word persone wat alarm maak verpletter deur juis die media. Hoeveel werklike navorsing word nog deur die media gedoen? Of is dit maar ‘n kwessie van “copy & paste” uit ander bronne? Nee wat, jammer om te sê, maar die media is oor die algemeen hul eie ondergang en vyand…. gladnie meer te vertrou nie!

Chris Ws ·

Ek het whatsapp opgeskop omdat daar meer fopnuus versprei word as ware nuus en mens betaal deur jou ore in data vir ander se snert.Ek is besig om my FB skoon te maak van alle onnodige “nuusberig groepe” ook agv die hordes snert wat geplaas word.Daar is mense wat paniek wil saai wat my erg die harnas in jaag.
Ja mens moet voorberied wees vir tekorte soos brandstof ,nie bederfbare kos en veral genoeg water om jou toilet mee te spoel sou die water toevoer vir ‘n lang tydperk onderbreek word en kerse en kragopwekkers om Evkom se werk te doen as dit nodig is en so aan.In ons land is dit basiese noodsaaklikhede waarsonder mens beslis eendag gestrand kan wees.

JK ·

Eenvoudig, as jy dit nie self gesien het nie, moet dit nie deel nie. Maar die Saffa is lief vir vrees en paniek, dink maar Siener, hy was die eerste Saffa fopnuus verspreider.

Johan ·

Die jammerte is dat ons mense op die alternatiewe media aangewese is omdat die sg hoofstroom media hulself gediskrediteer het deur vooroordeel en gunsnuus

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.