Vriendelikheid alleen gaan Afrikaans nie red nie

Afrikaans3My goeie vriend en taalgenoot, prof. Wannie Carstens van Potchefstroom, maak die geldige punt dat goeie verhoudinge, beredeneerde redenasies en oop kommunikasie nodig is vir Afrikaans se oorlewing. Tydens die taalkonferensie van Solidariteit en AfriForum vroeër die week het hy beklemtoon dat aggressie nie die antwoord is nie, en dat dit nodig is om verhoudinge te herstel weens Afrikaans se “foute van die verlede”. Hy het terselfdertyd klem gelê op die vriendelike wyse waarop Afrikaans bevorder moet word.

Dit is noodsaaklik dat daar ʼn debat gevoer word oor wat nodig is om Afrikaans se oorlewing in al sy taalfunksies te verseker. Daarom wil ek uit die staanspoor saamstem met prof. Carstens se standpunt oor die noodsaak van goeie verhoudings, beredeneerde redenasies en om Afrikaans op ʼn vriendelike wyse te bevorder. Afrikaanssprekendes wat dit erns maak met ons taal moenie vyande maak van mense wat nie ons vriende is nie. Dis om jouself in die voet te skiet met ʼn goedgemikte skoot. Biskop Tutu het tereg in ʼn debat aan ʼn kwaai opponent gesê: “Don’t raise your voice, raise your argument!”

Noodsaaklik maar onvoldoende

Maar in die regte wêreld is dit nie so eenvoudig om net met vriendelike verhoudings en verstandige redenasies ʼn taal se oorlewing te verseker nie. Dit ís alles noodsaaklike, maar onvoldoende voorwaardes vir Afrikaans se oorlewing. Anders gestel, vyandigheid, aggressie en vrot verhoudings gaan nóg minder werk. Die oplossing lê op ʼn ander vlak as vriendelikheid of vyandskap of die verlede se foute.

Die beginpunt van die soeke na ʼn oplossing vir die voortbestaan van Afrikaans lê in die dieperliggende probleem wat die regering met Afrikaans het. Dít lê ongelukkig veel dieper as Afrikaanssprekendes se menseverhoudings of die gehalte van ons redenasies en ons kommunikasie. Inteendeel, die wese van die regering se probleem met Afrikaans het níks te doen met Afrikaanssprekendes se gewaande gebrek aan vriendelikheid, swak argumente, vrot verhoudings of die foute van die verlede nie. Die belangrikste bewys daarvan is dat regeringsleiers ook sterk gekant is teen die amptelike gebruik van hul eie inheemse moedertale soos Zoeloe, Xhosa en al die ander.

Die werklike rede vir die ANC se teenstand teen enige ander taal as Engels lê veel eerder in sy ideologie van nasiebou, sy sentrale beleid oor ras en sy gebruik van die verlede as magshefboom.

  1. Nasiebou-ideologie

Die eerste probleem wat die regering met Afrikaans het, is die ANC en SAKP se dieperliggende ideologie. Dis ironies dat diegene wat tydens die Soweto-opstande van 1976 teen Afrikaans as die “taal van die verdrukker” in verset gekom het, nou geesdriftig die taal van die grootste koloniale verdrukker in Afrika se geskiedenis ondersteun. Die politieke ideologie van nasiebou is vir die bewindhebbers belangriker as die gevolge van hierdie taalmishandeling van miljoene nie-Engelssprekendes. Suid-Afrika is sekerlik nou die enigste land ter wêreld waar dit van sy kinders verwag word om hul huistaal te laat vaar. Dis tragies dat die ANC-regering presies dieselfde taalfout as al die Afrikalande maak. Dit ondanks die talle lesse wat uit die tragiese mislukking van die vasteland se onderwys en opleiding geleer kon word.

Afrikaleiers klou ideologies vas aan die rampspoedige formule vir nasiebou van Samora Machel, eertydse leier van Mosambiek: “Vir die nasie om te leef moet die volk sterf.” Met die oogmerk om al die uiteenlopende rasse- en etniese groepe in een nasie saam te bind, glo Afrikaleiers steeds aan die uitgediende resep van nasiebou. Met nasiebou word nie bedoel ʼn gewone gesonde strewe na nasionale eenheid nie, maar die afdwing van ʼn “staatsnasie” met een politieke en kulturele identiteit. Gewoonlik is die oogmerk om minderhede met mag en mening by die meerderheid te probeer inlyf. Dít ondanks die opmerking van Ali Mazrui, die Afrika-intellektueel, dat Machel se formule net daartoe gelei het dat “dit alles in Afrika vernietig het, behalwe die volke en etniese groepe”! Die rede vir die mislukking van die Machel-resep is baie eenvoudig: Die onderdrukking van volke en etniese groepe wat die beleid van gedwonge nasiebou geverg het, het tot grootskaalse groepskonflik gelei. Waar dit probeer is, het etniese groepe nasiebou sterk teengestaan omdat die opheffing van hul bestaan eenvoudig ʼn té hoë prys was om te betaal vir die onsekere voordele van ʼn kunsmatige staatsnasie.

  1. Rasse oorheersing

Afrikaners is só gewoond daaraan om van rassisme beskuldig te word, en die ANC só gewoond daaraan om ons daarvan te beskuldig, dat dit nie by Afrikaners óf die ANC opkom dat die ANC self aan ’n rassebeleid toegewy is nie.

Die verskil is bloot dat die ANC om den bloede ontken dat daar enigsins sprake van ’n greintjie rassisme in sy beleid is. Tog meld sy beleidsdokumente duidelik dat die ANC verbind is tot die “bevryding van swartes in die algemeen en Afrikane in die besonder”. Tweedens maak die ANC-beleidsdokumente ook uitdruklik melding van sy beleid van “African hegemony”, oftewel Afrikaan-oorheersing. Derdens het die ANC die grondwetlike beginsel van gelykheid omgetower in die staatsideologie van transformasie, wat rasse-verteenwoordigendheid ten doel het. Hiervolgens moet alles in die land die nasionale demografie weerspieël, wat in die praktyk op rasseoorheersing sal neerkom.

Selfs oudpres. FW de Klerk voel baie sterk daaroor dat die konsep van “verteenwoordigendheid” onversoenbaar is met die grondwetlike beginsel van kulturele verskeidenheid. Hy sê dat in ons multikulturele gemeenskap “verteenwoordigendheid” daarop sal uitloop dat die meerderheid elke faset van minderhede se lewens sal beheer, of dit nou in hul werk, skole, universiteite of hul sport is.

Maar die belangrikste toets van die ANC se siening oor ras is wat in die praktyk gebeur, en nie wat hulle op nasionale feesdae soms in “reënboog-uitsprake” sê nie. Die feit is dat die ANC ras ʼn sluitsteen van alle beleidsrigtings gemaak het, en dat daar nog geen einde daarvoor in sig is nie.

Die beste opsomming van die ANC se dubbelslagtige houding oor ras is afkomstig van prof. Lawrence Schlemmer, die bekende sosioloog.

“The ANC has perfected a code in responding to the issue of race. It invariably starts off from the position of non-racism, and it then qualifies this with a commitment to closing racial gaps in order to achieve a legitimate basis for non-racialism, and from there it proposes a range of race-based affirmative action and empowerment policies to give effect to this. In the latter aspect it is able to assure its African or black supporters that, although ‘non-racial’, it is ‘on their side’.”

Pierre van den Berghe, dieAmerikaans-Belgiese politieke wetenskaplike, het ook betekenisvol opgemerk dat “rassisme maklik verdoesel kan word as demokrasie – as jou groep so gelukkig is om ʼn getalle-meerderheid te wees”.

Daarmee saam dien die ANC se beleid om met sy strategie van kader-ontplooiing “beheer oor alle magshefbome te neem” verder om hul magsgreep oor die samelewing te verseker. Louwrens Pretorius het in ’n gesaghebbende studie oor die ANC-beleidsdokumente tot die gevolgtrekking gekom dat sy siening van demokrasie eerder neerkom op “regering oor die mense as regering deur die mense”.

  1. Politieke magshefboom

Afrikaners moet nie so goedgelowig wees oor die ANC se eensydige gebruik van die geskiedenis as ʼn politieke magshefboom om Afrikaners “onderdanig en op ons plek” te hou nie. Daarom bly dit noodsaaklik dat Afrikaners die kulturele selfvertroue aan die dag lê om met politieke volwassenheid hierdie soort argumente te hanteer.

Die ANC benut Afrikaners se selfbewustheid oor hul verlede gerieflik om enige geldige hedendaagse strewes van Afrikaners te diskrediteer en te ondermyn. Die ANC gebruik hierdie en ander politieke magshefbome in ’n kulturele geweldpleging teen Afrikaners. Om slegs met vriendelikheid te reageer op hierdie ANC-aggressie is om jouself te ontwapen wanneer jy jouself eintlik moet verdedig. Dit sou fataal wees om op te tree asof die ANC se kulturele  en meerderheidsgeweld geneutraliseer kan word slegs met vriendskap. Taalvrede is wanneer alle partye mekaar hul geldige kulturele ruimtes gun, nie wanneer een van die partye geslaan word maar nie terugslaan nie.

Oplossing

Daarom, om Afrikaans se voortbestaan te verseker is goeie verhoudings, deurdagte redenasies en oop kommunikasie belangrike voorwaardes, maar nie voldoende nie. Dit bly ’n middel tot ’n doel, en nie ’n doel op sigself nie. Soms moet daar sterker standpunt ingeneem word, omdat ons taal en ’n Afrikaanse universiteit dit werd is. Dáárvoor is deeglike kennis en vaardighede van ’n ewewigtige taalpolitieke strategie bepalend noodsaaklik. Ja, ʼn gebalde taalvuis is nie die antwoord nie, maar ook nie pleitende hande nie. Die antwoord lê veel eerder in die “derde weg” van skeppende hande, wat taalinstellings skep, uitbou en beskerm soos Afrikaanse skole, die Potchefstroom-kampus, Akademia, Sol-Tech, en Afrikaanse media soos Maroela Media en Afrikaanse gemeenskapsradio’s, Afrikaanse streke, dorpe en stede, en Afrikaanse kuns en kultuur. Om “die skat van Afrikaans veilig deur die skare te dra”, soos Van Wyk Louw dit gestel het, is vriendelike, ferm, maar veral skeppende, bouende én helpende hande nodig.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Bruno Stef ·

Flip ek hoor jou maar dit laat n wrang smaak in n mens se mond as jy na al die vernietiging om jou kyk.Ek het as kundige met 45jaar se ervaring my kennis aan ons plaaslike dorpsbestuur aangebied gratis om die dorp se wankelende infrastuktuur te red.Ek het op n paar vergaderings alreeds vorderings begin sien maar wonder of die kool die sous werd is moet n mens nie maar terugstaan en die inploffing gade slaan nie tot almal se nadeel nie.

Tommie ·

Uitstekende artikel! Die ANC is oorspronklike gestig as rookskerm vir die SAKP. Mandela was lid van die nasionale uitvoerende komitee van die SAKP. Sodoende is die kommunistiese ideologie verbloem om die simpatie van die Westerse lande te wen. Die liberale afrikaners moet begin wakker skrik.

Anchen Dreyer ·

Goed deurdagte redenasies, om Flip self aan te haal, wat van kulturele selfvertroue spreek en wys hoe om met skeppende hande bou! Flip doen wat hy predik.

HEVW ·

Bruno Stef Ek kan nouliks glo dat jy n kundige met 45 jaar ondervinding is. Jy praat van geringe vordering. Ja ons het sekelik rede om moedeloos te raak, maar ingee, asb. nooit nie. Kwalifiseer vir ons die totale resultaat en ewigdurende gevolge van die inploffing.

Bruno Stef ·

HEVH Ek weet dit klink drasties maar dit kom neer op verwoesting wat ek al in Mozambiek en Zimbabwe gesien het en die duidelike agteruitgang wat ek elke dag aanskou met mense wat in poste is sonder enige begrip of kwalifikasies.In vergaderings kom die arrogansie en algehele domastrantheid na vore wat n mens laat wonder of jy nie eerder passief moet word nie MAW waarom nog probeer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.