Vrijheidsreis, meer as net ʼn museum vir die Voortrekkermonument

ʼn Museum vir die Voortrekkermonument

Dr. Danie Lagner

Die taak van ʼn museum kan kortliks opgesom word as om voorwerpe van besondere kulturele, wetenskaplike of historiese waarde te versamel, te versorg en te vertolk.

Tydens die Eeufeesjaar in 1938 is oudhede uit die Groot Trek versamel met die bedoeling om dit uiteindelik in die Voortrekkermonument te bewaar. Tot tyd en wyl die Voortrekkermonument voltooi is, is die historiese voorwerpe na die ATKV se museum in Hartenbos vir bewaring gestuur.

Tydens die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 is ʼn tydelike uitstalling van voorwerpe by die Voortrekkermonument gehou. Kort na die inwyding is Kotie Roodt-Coetzee as die eerste geskiedkundigebeampte aangestel en op 5 Julie 1957 is ʼn museum in die kelderverdieping aan die suidekant van die monument ingerig.

In die sestigerjare het die Transvaalse Provinsiale Administrasie besluit om ʼn nuwe museum-restaurant-kompleks ten noorde van die monument te ontwikkel wat in November 1966 bekendgestel is.

Vanaf 1966 tot 2001 was die kelderverdieping in die Voortrekkermonument stoorruimtes en daar was ʼn raadsaal aan die oostekant. Met die draai van die eeu is die Voortrekkermuseum in kantore omskep en die uitstallings terug na die senotaafsaal en kelderverdieping geskuif.

Die oorhoofse tema van die uitstallings in die twee museums was vir meer as ses dekades Voortrekkerlewe. Daar is gefokus op die pioniershuis, volkskuns en gebruiksartikels uit die Groot Trek wat in nege uitstalkaste vertoon is.

Op 14 Junie 2022, 84 jaar na die hoeksteenlegging, 73 jaar na die inwyding en 65 jaar na die eerste museum in die kelderverdieping geopen is, word ʼn nuwe vergrote museum en uitstalling geopen met die tema: Vrijheidsreis.

Vrijheidsreis

Met die konseptualisering van die nuwe museumuitstalling was daar twee vertrekpunte.

Die trek wat Suid-Afrika ingrypend verander het, is gereduseer tot ʼn paar paragrawe in skoolhandboeke.

Om geskiedenis vandag vir kinders te vertel moet dit vir hulle ʼn ervaring wees. Die afgelope maande is ʼn ervaringsgerigte kultuuraanbod deur die Lewende laer en Pionierswerf ontwikkel, waar die eens statiese uitstallings oor Voortrekkerlewe prakties deur trekkerkoffie om ʼn kampvuur, roosterkoeke, kleiosse maak en pioniershuis bou ervaar word.

Die museumuitstalling in Vrijheidsreis vertoon ook Voortrekkerlewe, maar is nou deel van ʼn dinamiese reis wat die vryheidsideaal van die Groot Trek beklemtoon. Die goue draad wat vanaf die Groot Trek, deur die bou van die Voortrekkermonument, tot vandag deurloop is die vryheidsideaal. Piet Retief se manifes bevestig dit. Vir die Voortrekkers was die Groot Trek ʼn toekomsreis met die doel om vry te wees.

Moerdijk het met die ontwerp en simboliek van die Monument die grootsheid van die Voortrekkers se dade beklemtoon. Met die senotaaf as die middelpunt, wou hy die prys van vryheid beklemtoon. Die uitdaging was om in Vrijheidsreis ook ʼn ervaring met beeld, kleur en klank te skep wat geskiedenis laat leef.

Die tweede vertrekpunt was om die uniekheid van elke verdieping in die Voortrekkermonument horisontaal te beklemtoon, maar die Groot Trek-verhaal ook vertikaal te bevestig.

Op die eerste verdieping is die indrukwekkende Heldesaal waar 27 Groot Trek-momente uit Querchetta-marmer gebeitel is.

Op die tweede verdieping is die senotaafsaal. Hier is die fokus hoofsaaklik op volkskuns en persoonlike besittings van die Voortrekkers. Die horisontale verband tussen die Groot Moord by Bloukrans, Bloedrivier en die Gelofte word in die senotaafsaal beklemtoon.

  • Om die senotaaf is agt lanterns van Bloedrivier-walaer aangebring.
  • Die Johanna van der Merwe-ossewa, vernoem na die dogter wat Bloukrans oorleef het, is saam met die Laas-wa fokuspunte. Die Laas-wa is die tweede oudste ossewa in die land en is deur die Voortrekkerleier, Gert Maritz, gebou. Dit is ook die enigste wa, wat by die Slag van Bloedrivier was, wat behoue gebly het.
  • ʼn Nuwe toevoeging in die senotaafsaal is ʼn loodglaspaneel met die Gelofte op. Op die loodglaspaneel word die Geloftekerk vertoon met die temas van die Here se sorg en trou en gelowiges wat in die Woord geanker is. Loodglas is kenmerkend van ons Westerse kerktradisie. Dit is die eerste keer waar die Gelofte permanent in die senotaafsaal vertoon word.
  • As deel van die ervaring in die senotaafsaal, word geliefde psalms en gesange van die Voortrekkers deurlopend gespeel. Dit is liedere wat die Voortrekkers tydens belangrike gebeure of huisgodsdiens gesing het. Die psalms en gesange is in die Nederlands van die Groot Trek-tydperk opgeneem en word op ʼn huisorrel gespeel wat tipes tydens huisgodsdiens gebruik is. Liedere wat onder andere gehoor word, is:

Gesang 20:9, wat deur die Potgieter-trek gesing is toe hulle die Oranjerivier met vlotte oorgesteek en die eerste vryheidstree in die nuwe land gegee het.

Psalm 146, “Prys die Heer met blye galme”, wat op die rand van die Drakensberg gesing is toe hulle Natal die eerste keer gesien het.

Psalm 130, “Uit dieptes van ellende”, wat die aand na die Groot Moord in Retief se laer met huisgodsdiens gesing is.

Psalm 38, die Gelofte-psalm, wat elke aand met die aflê van die Gelofte gesing is.

“Aan U, o God, my dankgesange”, die aandgesang waarmee lang dae op die wapad afgesluit is.

Op die derde verdieping is die ou museum in drie gange omskep waarin die vloei van die Vrijheidsreis uitgebeeld word.

Die Vrijheidsreis begin in die vlagsaal waar ʼn stokou Natalia-vlag deur Nico Moolman geskenk is. Elke republikeinse vlag was ʼn uitroepteken teen oorheersing.

Die store is omskep in die Gerhard Moerdijk- en WH Coetzer-sale waar die bou, ontwikkeling van die friespanele en inwyding van die Voortrekkermonument uitgebeeld word.

Berge op die trekpad was uitkyk- en versamelpunte, maar ook bakens op die Vrijheidsreis. Die bekende landskapskilder, Gerrit Pitout, het op ses panele berge op die trekpad in sy kenmerkende Pierneef-styl geskilder.

By elke berg is ʼn eietydse woordveld aangebring om die Voortrekkers se reisverhaal makliker te verstaan, te verduidelik en te vertel.

Die Voortrekkers se Vrijheidsreis eindig by die Magaliesberg waar erkenning gegee word aan Paul Kruger, die Voortrekkerseun wat later president en simbool van die Afrikaners se vryheidsideaal geword het. Die seun wat onder ʼn Engelse vlag gebore is, maar nie onder ʼn Engelse vlag wou sterf nie.

Daar is talle voorbeelde van deurskouende verbande waarmee die Vrijheidsreis ook vertikaal bevestig word:

  • In die friespaneel word Piet Retief se tafel uitgebeeld. Die friespaneel beklemtoon die oomblik waar Koning Dingaan die traktaat teken. Dit is die Afrikaner se eerste onderhandelingstafel waar hulle grond koop. In die nuwe uitstalling is Retief se oorspronklike tafel waarop die koopkontrak gesluit is.
  • Retief se bladsak word op die friespaneel uitgebeeld. In die bladsak was Retief se gebedeboek saam met die traktaat. Die gebedeboek, deurweek met sy bloed, word in die nuwe uitstalling gesien.
  • Op die friespaneel staan Sarel Cilliers op die kanon Grietjie. Grietjie het ʼn staanplek in die senotaafsaal gekry. In die nuwe uitstalling word die Gelofte in oorspronklike Nederlands gelees en die Gelofte-psalm gesing.
  • Op die friespaneel word die Geloftekerk gebou. In die senotaafsaal is die Geloftekerk in loodglas uitgebeeld. In die nuwe uitstalling is ʼn replika van die voltooide Geloftekerk.

Verweefdheid van kuns

Die grootsheid van die Voortrekkermonument lê in die verweefdheid van ʼn veelvoud van kunsvorme. Dit was belangrik om nie net die ou kunswerke te beklemtoon nie, maar dit ook aan te vul met ʼn nuwe geslag Afrikaners se kunswerke.

  • Die detail van elke argitekstekening van Gerhard Moerdijk wat in die Moerdijk-saal uitgestal word, is ʼn kunswerk in eie reg.
  • Die imposante klipwerk van marmer en graniet getuig van fyn boukuns. Cornelius Pretorius, meesterbouer van die firma WF du Plessis het elkeen van die ongeveer 60 000 granietblokke op mekaar geplaas. Aan die einde van 1945 is die laaste granietblok deur hom gelê. Vandag word die vakmanskap en boukuns voortgesit en instandgehou.
  • Die beeldhoukuns van Anton van Wouw, Laurika Postma, Hennie Potgieter en Peter Kirchhoff word gekombineer met die beeldhoukuns van Phil Minnaar en Danie de Jager, ons eietydse Afrikaanse beeldhouers.
  • In die senotaafsaal is fyn weefkuns van die tapisserieë, volkskuns van ouds en koekversierkuns.
  • Die skilderkuns van WH Coetzer en Pierneef word gekombineer met die kunswerke van Gerrit Pitout en Ferdi Pieterse.
  • In elk van die vier boogvensters is daar 1072 stukkies Belgiese loodglas. Dit word gekomplementeer deur Chris Boshoff se eietydse loodglaskuns.
  • In die senotaafsaal en Vrijheidsreis is die grafiese kuns van Belinda Naudé.
  • Johan van Staden het met sy fotografiekuns meer as 2000 voorwerpe binne en buite die Voortrekkermonument gefotografeer.
  • Die klankkuns van Flip Loots, Danie Nolte Produksies en Francois Lessing van Die Gelofte-musiekblyspel skep in die senotaafsaal en Vrijheidsreis atmosfeer.
  • Die beligting van Afrison is ʼn kunswerk in eie reg.
  • Ook NP van Wyk Louw se skryfkuns het ʼn plek in die Voortrekkermonument gevind. Vir die hoeksteenlegging in 1938 het hy Die Dieper Reg geskryf wat handel oor Afrikaners wat in die beskuldigdebank van die geskiedenis beland het.
  • In ʼn Engelse omgewing hoop ons dat veeltaligheid ook ruimte vir Afrikaans sal skep. By Afrikaners se kultuurtuiste skep Afrikaans ʼn ruimte vir ander tale, naamlik: Engels, Zoeloe, Sepedi, Frans, Duits, Nederlands en Mandaryns. Dit is ook die eerste keer dat die Gelofte in al die tale vertaal is. Die omvattende gids is opsigself ʼn monumentale kunswerk van woorde, klankgrepe, inligting en vertalings. Ons storie word in ons eie woorde aan besoekers verduidelik, in ʼn taal waarin elkeen kan tuis voel.

Respek vir geskiedenis en kulture

Die gipspaneel met die wrede Bloukrans-toneel word in die nuwe WH Coetzer-saal uitgestal. Die baba wat teen ʼn wawiel verpletter word, ʼn kleuterlykie waarop getrap word en die verkragtingstoneel wat selfs vanaf die eerste skets na die gipspaneel verander is. Op versoek van generaal Smuts is die finale friespaneel versag. Die verskil tussen die gipspaneel en die finale friespaneel het ʼn belangrike boodskap vir vandag. Die versagting van die paneel beteken nie die miskenning of verdraaiing van geskiedenis nie. Die Bloukrans-friespaneel beeld steeds die wrede moorde en onmeetlike verlies uit. Generaal Smuts het verstaan geskiedenis is nie ʼn wapen om wraak, haat en bitterheid aan te wakker by toekomstige geslagte nie.

Waarheidsgetroue, maar stylvolle geskiedenis, help die nageslag om beter te verstaan en is ʼn leerboek vir die toekoms.

ʼn Doelbewuste keuse is gemaak om erkenning te gee aan die hoë vlak van sofistikasie van koning Dingaan se krygsmag. Die Zoeloeleër was ʼn goed opgeleide, geordende en dapper militêre krygsmag met bewese suksesvolle strategieë en oorlogstaktiek. Shaka was bekend as “Umhlovu”, wat die Groot Olifant beteken. Nadat Dingaan vir Shaka vermoor het, het hy ʼn nuwe stad vir hom gebou en met ʼn fyn woordspeling Umgungundlovu genoem. Die beteken letterlik die olifant is omsirkel of gevange geneem. In die trekroetetuin is Shawu, die reuse olifantbeeld van Danie de Jager, naby die simboliese uitbeelding van Umgungundlovu opgerig om die grootheid en millitêre mag van die Zoeloekoninkryk te bevestig. Frans Lion-Cachet skryf in 1883 in sy boek, De Worstelstrijd der Transvalers,“dat Retief eerst te laat zou beseffen dat niemand zich ongewapend in een afgesloten ruimte met een wilden olifant behoort te begeven.” Die olifant as simbool van Zoeloekrag en mag word in die Vrijheidsreis bevestig.

Een van die mooi verhale wat in die voorbereiding van die Vrijheidsreis ontvou het, was dié van Livingstone en sy span. Toe hulle besef hulle is besig om Umgungundlovu in die museum te bou, het Zoeloe-werkers, Zoeloe-krygers geword. Hulle het elke oggend Indaba gehou. Umgungundlovu se ingang moes oorgebou word. Die veghek by die Bloedrivier-toneel moes met rourieme gemaak word. Skildvelle is in Zoeloeland aangekoop. Die breëlem assegaaie is volgens Shaka se metode gemaak en geslyp. Hulle het die korrekte klere vir die koning en impi’s gekies. Zoeloetrots was deel van die ontwikkeling van Vrijheidsreis en uiteenlopende kulture is met respek bevestig.

Die keuse is gemaak om nie in Vrijheidsreis op die veldslag by die Bloedrivier-toneel te fokus nie. Dit word reeds op die friespaneel in die heldesaal gedoen. Die fokus in die museum val op vier wonderwerke wat vir baie Afrikaners, oor geslagte, steeds ʼn getuienis van die Here se redding is, naamlik:

  • Die oormag van ongeveer 16 000 Zoeloes teen 464 Voortrekkers. Dit word uitgebeeld op ʼn muurpapier waarop 16 000 skilde geteken is. Erkenning word ook aan die agttien Zoeloe-regimente, wat by Bloedrivier geveg het, gegee.
  • Die flou lanternlig buite die walaer wat ʼn nagaanval verhoed het. In die aandtoneel word gefokus op die Gelofte en Gelofte-psalm as belydenis van afhanklikheid terwyl ʼn oormag die laer omsingel.
  • ʼn Helder dag na digte, klam mis en ʼn week van swaar reën.
  • Daar is bereken dat ongeveer 48 000 werpassegaaie op die laer neergereën het en nie een Voortrekker is dood nie.

ʼn Belangrike vraag

Vryheid is meer as ʼn bestemming. Wanneer vryheid in ʼn bestemming vasval lei dit kort-voor-lank tot die onvryheid van gemak, stagnasie, instandhoudingsdenke en uiteindelik tot verval. Vryheid is ʼn reispad waar dit elke dag verwerklik moet word. Die Gelofte getuig vryheid is ook ʼn verantwoordelikheid. Die vraag is nie net wat leer Afrikaners uit die Voortrekkers se vryheidsreis vir ons eietydse vryheidsreis nie, maar waartoe inspireer die Voortrekkers se geloof en prestasies Afrikaners vandag?

In die opsig is Vrijheidsreis meer as ʼn museum. Dit is ʼn standpunt en ʼn bevestiging van ʼn ideaal en reisverhaal wat oor eeue geslagte Afrikaners aan mekaar verbind.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.