Vroue en armoede

Argieffoto

Deur dr. Rina Venter

President Cyril Ramaphosa neem in 2018 ʼn belangrike inisiatief. Hy doen ʼn beroep op vroeë ontwikkeling van kinders van arm mense, om die sirkel van armoede te breek. Statistiek Suid-Afrika bevestig daar was in 2016 altesaam 7,2 miljoen kinders tot en met ses jaar.

Vroue se versorging tydens swangerskap lê die grondslag vir gesonde kinders en hul vroeë ontwikkeling, onder meer, dat moeders wat MIV-positief is, die noodsaaklike mediese voorsorg kry om kinders te beskerm. Volgens ʼn verslag op die internet deur Statistiek SA sit 35% vroue vir meer as vyf dae per maand sonder geld om kos te kan koop. Hongersnood bestaan in talle gemeenskappe. Armoede onder vroue is ʼn groot probleem. Dit vereis die aandag moet verskuif hoe Suid-Afrika hierdie probleem aanpak.

Hierdie tyd van die jaar fokus ons weer op Vrouedag. Sterk klem word in die media gelê op die bemagtiging en gelyke geleenthede vir vroue. Dit is tyd dat vrouebewegings die vraagstuk van armoede eerste stel, en begin werk maak met hierdie ernstige probleem.

Die hantering van hierdie vraagstuk is nie eksklusief net die taak van die staat nie. Kragtige toesprake wat aan die staat gerig is en eis dat hierdie probleem ʼn prioriteit is, slaan die bal skeef. Dit lei tot krisisbestuur, verhoging en uitbetaling van onderhoudstoelaes, wat wel die ernstige nood verlig, maar beslis nie die probleem oplos nie.

Die hantering van armoede as maatskaplike vraagstuk is nie ʼn probleem wat in een geslag opgelos word nie. ʼn Goed beplande en bestuurde program van ontwikkeling moet in werking kom wat tegelyk verantwoordelikhede plaas op vroue, gesinne en gemeenskapsinstellings wat in oorleg met die staat die skouer gesamentlik aan die wiel sit. Die dryfkrag van hierdie proses lê, in my ervaring, in die hande van vroue wat omgee en saamsnoer om gesinne by te staan en gemeenskapsinstellings te versterk, wat die hele samelewing en die staat mobiliseer vir spesifieke ontwikkelingsinisiatiewe.

Baie sulke inisiatiewe bestaan reeds by kultuur- en welsynsinstellinge en by kerke, wat oral in die land in klein gemeenskappe ʼn verskil maak. Dit is egter noodsaaklik dat vroue landwyd met een stem na vore tree met ʼn doelgerigte ontwikkelingsplan wat hierdie inisiatief rig op spesifieke en praktiese ontwikkelingsoogmerke wat haalbaar en bekostigbaar is. Wat stap vir stap werk na ʼn doelstelling om gesinne in beheer van hul leefwêreld te kry.

Diegene wat dink dit is nie moontlik nie, praat uit onkunde. Baie dink dit is die staat se plig “om armoede op te los”. Terwyl die dryfkrag, motivering en selfvertroue in gesinne om self beheer te neem, deur vroue in gesinne gekweek moet word. Vroue moet die staat betrek met praktiese, haalbare ontwikkelingsprogramme, wat onder volle beheer van gemeenskapsinstellings staan. Die staat se rol moet beperk word tot instaatsteller van gemeenskappe. Sonder onnodige regulering en politieke agendas.

Arm gesinne het inspirasie nodig en ook selfvertroue, wat kerke en vroueinstellings met ʼn praktiese hand van onderskraging en bystand tot selfstandigwording help. Dinge wat arm moeders motiveer om met ʼn praktiese plan selfondernemend te raak en skeppend te begin dink en werk vir die ontwikkeling van haar gesin.

Dit maak die taak van vrou en moeder in gesinne van kardinale belang – iets wat die vrouebeweging moet verskerp en versterk en arm vroue nie minderwaardig ag nie. Só ’n houding verswak ʼn staat, en waarvoor uiteindelik ʼn duur prys betaal word wanneer kinders grootword sonder om volwasse en selfstandig te kan optree.

Die sterk klem op vroue se regte, en geleenthede vir posisies in die samelewing, ag dikwels die belangrike rol wat vroue as moeders moet speel, dikwels gering. Vrouebewegings moet ʼn omgeesamelewing ontwikkel wat arm moeders se vertroue versterk, met praktiese daaglikse leiding om te groei en sterk te staan in hul taak om kinders op te voed vir die eise wat die groter samelewing stel. Kinders se opvoeding moet nie verskuif na skole nie, terwyl moeders loonarbeid gaan verrig nie. Moeders bly primêr saam met vaders verantwoordelik vir die opvoeding van kinders. Daarom het moeders verskeie ondersteuningstelsels nodig wat gemeenskappe vir moeders moet help ontwikkel.

Armoede as verskynsel breek mense se selfbeeld in stukke. Armoede skep ernstige kwesbaarheid en afhanklikheid, wat selfvertroue ondergrawe, wat maklik verswak tot ʼn gebrek aan inisiatief en ʼn toekomsvisie. Wanneer daar nie hoop op ʼn beter lewe is nie, verkummel mense se weerstand teen verval en misdaad. Die sosiale patologie wat kan ontwikkel, verswak gemeenskappe en ook die staat.

Diegene wat dink bogenoemde standpunte staan op onrealistiese wensdenkery, moet ʼn keer kennis neem watter sterk rol vroue gespeel het ná 1902 om Afrikaners uit haglike omstandighede op te hef. Hierdie aksies is versterk deur arm vroue te betrek, in wat destyds naaldwerklasse genoem is. In hierdie klasse is geleer om tweedehandse klere te verwerk, brei en hekelwerk te doen, klere te maak, gesonde voedsel te berei en met min geld slim te koop. Vroue is onderrig in die opvoeding en ontwikkeling van kinders, om goed te vervaardig en te verkoop. Naaldwerkklasse is gestig in meeste plattelande se dorpe waar erge armoede geheers het. Die Federale Vroue Raad wat uit hierdie inisiatief ontwikkel het, het ontwikkel tot die grootste welsynsorganisasie in die land, met ʼn bedryfsomset van miljoene rande.

Vroue het met die staat sedert 1904 onderhandel om skole te kry, inrigtings vir verarmde bejaardes daar te stel, en dogters in te skakel in huishoudskole wat dogters prakties toegerus het vir die taak as tuisteskeppers en moeders. Hulle het geld ingesamel vir hul bedrywighede en slaag uiteindelik daarin om die staat te oortuig om hierdie dienste op ʼn vennootskapsbasis te subsidieer (nie oor te neem met streng regulasies nie). Die gemeenskap se inisiatiewe is deur die staat begin versterk met beperkte finansiële hulp, wat vroue toegelaat het om ʼn eie stempel af te druk op die indrukwekkende ontwikkelingswerk wat gedoen is. Intussen het hierdie vroue met die staat onderhandel oor die taak en rol wat die staat moet speel om hierdie inisiatiewe in die gemeenskap te versterk, nie oor te neem nie.

Hierdie verhaal is uniek en besonders. Wanneer vroue hande vat, die gemeenskap mobiliseer en die staat laat fokus op programme wat mense suksesvol oplei en bemagtig, ontwikkel selfvertroue in gemeenskappe.

Teen 1960 het die destydse Departement van Nasionale Opvoeding ʼn afdeling geskep vir Volwasse Opvoeding. Hierdie program het opgeleide huishoudkundiges gratis beskikbaar gestel vir alle instansies wat ontwikkelingswerk gedoen het. Ná vyftig jaar van toegewyde doelgerigte programme het die Afrikaanse gemeenskap uit erge armoede beweeg en het die staat met ondersteunende onderwys en opleidingsprogramme hierdie programme versterk.

Om mense te begelei uit armoede, vereis dekade lange volgehoue inisiatief en toewyding in die vaste wete en doel dat mense self beheer kan neem van hul lewe. Soos die een geslag op die skouers van die ander klim, en verder kyk en bou.

  • Dr. Rina Venter is ‘n voormalige minister van gesondheid en maatskaplike dienste. Sy het ook die outobiografie ‘n Stukkie van die legkaart geskryf waarin Venter ʼn besonderse blik gee van die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse geskiedenis net voor en ná die politieke omwentelinge van 1994.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

…. en waar is die Afrikanervroue nou? Op hul knieè met beloftes van nog ellende sou die grondwet gewysig word. Na 50 jaar opgehef en na nog 50 jaar weer onder. Die ANC wil die Afrikaner wortel en tak uitroei. Vroue kan nie beroepsvroue en tuisteskeppers wees nie. Misdaad gedy weens die afwesigheid van die ma. En geen woord oor verantwoordelike gesinsbeplanning nie. As dit taboe is, is bogenoemde droom ‘n blaar in die wind… mooi maar gedoem. Hierdie droomplan moet aan die ANC-vroueliga verkoop word om self hul eie mense en vriende uit Afrika te bearbei. Afrikaners het skaars genoeg olie in die kanne vir elke dag se liggie vir die pad. Die tyd van die wyse en dwase maagde…

Diefie ·

Hou op om kinders te maak. En doen iets om jouself te help. Maak ten minste die gebied skoon waar jy bly. Daar is besighede wat saad vir groente gee. Plante bome ens. Kry die kinders en jongmense om iets positief te begin. Al is daar net 2 kinders, dit sal groei. Iewers is daar sekerlik een wat vooruit wil gaan. Doen is daaromtrent jouself.

Jerry ·

Ek stem saam dat dit nie die staat se plig is om armoede op te lig nie, ook dat die staat wel privaatinisiatiewe om armoede te verlig moet ondersteun anders kan dit nie werk nie. Hierdie is egter SA en hier is die staat, armoede, agteruitgang en verval terwille, hier word agteruitgang georkestreer ten einde kolonialisme met sosialisme te vervang, hier word stukkie vir stukkie genasionaliseer ten einde totale politieke en ekonomiese beheer te verkry. Hier word die staatskaderstrukture verryk, terwyl die res verarm. Hier word inisiatiewe om mense uit armoede te lig nie deur die staat ondersteun nie, maar wel deur die staat ondermyn! Hier is dus groter probleme en onoorkombare uitdagings as wat daar in die verlede bestaan het toe privaat inisiatiewe deur die staat ondersteun was. Die ANC staat het SA in n gat (welsynstaat) geplaas wat al hoe dieper insink en waar dit al hoe donkerder raak. Gewone mense met gewone inisiatiewe sal oorleef, maar vooruitgang sal hulle vir geslagte lank nie in SA langer beskore wees nie. Dit is ongelukkig die harde realiteit van die armoede situasie in SA. Gewone mense wat die situasie probeer omdraai sal deur die staat geteiken en ondermyn word. Jy het hier te doen met gewetenlose verandering vir geldgierige selfverryking tesame met wraakgerigte vernietiging van dit wat was! Die totale verswelging deur getalle vir verstedeliking gaan ongekende armoede in SA teweeg bring. Hoe meer getalle, hoe dieper raak die gat (welsynstaat) waarin hulle, hulself ingrawe!

Geen logika ·

Solank as wat die huidige regering toelae betaal vir elke kleintjie op die heup, so lank sal die verantwoordelikheid vir selfopheffing en gesinsbeplanning uit die individu se hande bly. Die ANC moedig ongebreidelde aanwas aan. Kinders het deesdae kinders, en so bly vroue en kinders binne die bose kringloop van armoede, ongeskooldheid en agtergeblewenheid. Opheffing begin by OPVOEDING.

Zaks ·

Armoede het n buddy. Die buddy word nooit genoem nie. Die buddy is OORBEVOLKING. Lekker kop krap oor armoede TODAT die buddy nie GETAKEL word nie.

Frans C ·

Die probleem lê by die veelwywery waarvan die oud President Zuma ‘n sprekende
voorbeeld is.Dit is ‘n resep gegrond op kwantiteit en nie kwaliteit nie.

Solank die vrou ‘n ondergeskikte rol in die opsig speel sal die probleem van armoede
bly bestaan.As veral swart vrou nie besef dat hul nie kinderfabrieke is nie
en dat kleiner gesinne ‘n groter kans op ‘n beter lewe het,kan die armoede probleem nie opgelos word nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.