Vry, maar met ʼn waterkrisis

vryheid-kzn-kerk-en-president-strate

Die dorp Vryheid in KwaZulu-Natal. Foto: Commons.wikimedia.org

Vryheid, die dorp in die noorde van KwaZulu-Natal, se damme het uiteindelik baie water ná die onlangse reën, maar sy krane bly leeg weens gebrekkige onderhoud en vooruitbeplanning.

Die pompe wat water uit die damme moet verskaf, is stukkend en die pypleidings is gehawend. “Die krane het meer as ʼn jaar gelede net eensklaps opgedroog, sonder vooraf waarskuwing of enige vorm van waterbeperking,” het die eienaar van ʼn gastehuis gesê.

Die eienaar van ʼn driestergastehuis sê sy het amper R400 000 aan infrastruktuur soos ʼn boorgat, JoJo-tenks, pompe, filters en ʼn kragopwekker bestee.

Die munisipaliteit het 15 tenks verskaf wat gereeld gevul word, maar gebruikers moet hul water self daar kom tap.

Gegoede mense het die houers en voertuie waarmee dit gedoen kan word, maar uit die townships kom daar kruiwaens en leë, rollende konkas wat gevul moet word. Baie van hierdie mense is tot vier kilometer van die naaste waterpunt. Mense wat dit kon bekostig, het self JoJo-tenks vir reënwater aangeskaf.

Die ergste gevolg van die krisis is die tot 550 gevalle van diarree wat maandeliks by die Bhekuzulu-kliniek behandel moet word.

ʼn Verpleegster by die kliniek sê mense word siek van hierdie water. Nie almal het skoon houers waarin hulle die water kan opgaar nie.

André van der Walt, voorsitter van Vryheid AfriForum, sê hy is verbaas dat nie meer mense siek word nie.

“Die rioolpompstasie by Bhekuzulu en Mondlo en selfs die hoofsuiweringswerke is al maande lank buite aksie. Rou riool vloei met die Besterspruit na die Klipfonteindam,” het hy gesê.

AfriForum dien op die gesamentlike komitee wat in beheer is van droogteverligting in Zoeloeland. Hy lewer insette oor wat gedoen moet word en dien as waghond oor die munisipaliteit van Abaqulusi met sy 210 000 inwoners.

“Die munisipaliteit is absoluut hopeloos in die uitvoering van onderhoud en beplanning. Ons het al by verskeie geleenthede massiewe waterlekkasies in pype opgespoor en gesorg dat dit herstel word.

“Die munisipalteit van Abaqulusi het nog geen poging aangewend om sy 400 000 inwoners op die hoogte van sake te bring nie – alles word deur AfriForum behartig. Ons het ʼn uitstekende verhouding met die plaaslike koerant en die sosiale media, wat baie help.”

Van der Walt sê ook hulle is tans besig om met die distriksmunisipaliteit te onderhandel vir geld om die pompe by Klipfontein te herstel, sowel as die vervanging van die verouderde pyplynstelsel. Die tegniese departement van Abaqulusi is aangesê om versekeringseise in te dien vir die sowat 2 000 watermeters wat gesteel is en waarsonder die dienste nie verskaf kan word nie.”

Soos die spreekwoord sê, is een se dood ook die ander se brood, en daar is heelparty entrepreneurs wat skep deur die water vir mense aan te ry. Inwoners betaal tot R500 vir 5 000 liter afgelewerde water. Van die eienaars verhuur ook hul bakkies vir die vervoer van water. Nie almal kan dit bekostig nie en supermarktrollies het intussen in hul honderde verdwyn….

Hoe pas mense aan?

Maar hoe hanteer die gewone sowat 4 000 inwoners op die dorp die krisis? Dis hoe ʼn tipiese gesin van vier te werk gaan:

Die toilet word nie elke keer gespoel nie en word met gebruikte water aangevul. Jy maak jou in die stort nat, seep in en skrop en spoel af – alles met 2½ liter water.

Jy beperk jou tot twee liter water per dag en gebruik papierborde en weggooibare eetgerei. Potte vir kook se binnekant word met foelie bedek. Jy meng jou skottelgoed se afspoelwater agterna met asyn, wat dit herbruikbaar maak en loopmaag voorkom. Die gesin se klere word een maal per week met 100 liter water gewas.

Die toekoms bly onseker vir waterverbruikers, maar die gewone watertarief word steeds van betalers gehef. Daar heers ook talle binnegevegte in die munisipaliteit waarin die ANC 21 en die IVP 19 setels hou. Die DA se verteenwoordiging is ʼn skrale drie.

Boere het aangebied om stormwaterdreins skoon te maak en damme te skrop. Die hulp is van die hand gewys en die werkers wat hierdie take moet verrig, staak gereeld.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

Dis presies hoe dinge gedoen word as ‘n land hard daaraan werk om in ‘n Zimbabwe te verander. Niks gaan beter gaan word nie. Katastrofes wag en hospitale se medisyne raak op. Die DA in die Kaap het hard probeer om munisipaliteite optimaal te laat funksioneer, maar instroming van oraloor en regeringsweerstand begin ook daardie kameel se rug breek.

Johannes ·

Maar so stem die dorstiges weer vir dieselfde breinloses met die volgende verkiesing… wil maar net nie leer nie…

Tarina Marais ·

Dit is ‘n lelike aanmerking. Ons probeer om die DA hier in te kry maar duidelik is jy onbewus van die oorheersende ANC propaganda en intimidasie onder die plaaslike bevolking. Miskien is dit tyd dat die DA meer doen om die mense die spreekwoordelike “lig” te laat sien. ‘n Vryheid Inwoner.

Hendrik ·

Die basis van enige homogene gemeenskap wat dink aan onafhanklikheid en wat sal lei na selfbeskikking is om die gemeenskap se water voorsiening te vestig. Daar moet genoeg water reserwe wees vir die winter of nie reen seisoen. Elke huis moet so ingerig wees om net die nodig water te gebruik. Dit moet goed beplan word en dit is belangrik om die mense in die gebied bewus te maak en ook te help met die beplanning om water onafhanklik te raak. By enige krisis (net soos elektrisiteit) sal die “fly by nighters” in spring om geld te maak en dit kan maklik onbekostig word vir die lae- en middelklasgroepe. Ek het nie ‘n probleem met entrepeneurs nie.

Koos1 ·

Maar dis mos nou ‘n goeie storie om te vertel! Met trots gebring deur die ANC!

Sharon ·

Hi daar.
Ek het op vryheid groot geword. My suster bly nog daar. Dit is omtrent ‘n aan passing en nuwe lewenstyl. Jy moet kophou. Hoeveel water is nog in die jojo daagliks. Waner kan/ moet jy water gaan haal by die water punte. Almal werk bedags..na vyf is daar rye en rye mense. So…. water word gehaal na 10 in die aande. Jy versamel plastik bottels.. almal het dit nodig. Elke ou bring sy water werk toe. EN almal het nie jojo tanks en bakkies nie. So dis nou Boer maak ‘n plan. Wie help jy vandag by die watergat…

Tarina Marais ·

As inwoner van Vryheid wat hierdie elke dag beleef en ervaar, voel ek dat daar 2 kante van die muntstuk is. Hierdie is nou wel nie ‘n veertjie in die hoed van ons huidige regering nie en beslis ook nie vir ons Munisipaliteit nie, maar hierdie het ons as inwoners immers bymekaar gebring, bý die waterpunte. Ons almal probeer mekaar help, en ja daar is mense wat ‘n geleentheid gebruik om geld te maak, maar daar is ook mense wat dit verniet aanry na ander wat nie vervoer het nie. Ongeag ras, kleur of kultuur. Ons as gemeenskap is saamgegooi deur omstandighede en ons probeer dit “maak werk”. Hierdie is egter vir baie van ons, wat ook maar in die stede grootgeword het, en altyd water in die krane as vanselfsprekend beskou het, iets wat ons oë laat oopgaan het vir diegene in ons land wat dit oor baie jare moes aandra na hul huise. Die besef dat ALLE regerings maar doen wat hulle pas ten koste van landsburgers. Om hierdie net voor die deur van een regering te lê is kortsigtig om die minste te sê. Ons sal bly stem en hoop op verandering net soos in ons 4 metros wat nou deur die hoofopposisie party beheer word, maar of hulle ook enigsins instaat sal wees om dinge onmiddelik te herstel, bly ‘n ope vraag. Vir nóú doen ons as gemeenskap wat ons kan vir mekaar en mag God ons almal lei en beskerm. DV.

Hendrik ·

Ek is bevrees deur te bly stem en te hoop vir verandering is nie goed genoeg nie. Zimbabweburgers het dit ook gedoen en hulle het ‘n 94% werkloosheidssyfer. Plan B , burgerregtegroepe , selfstandige gebiede wat lei na selfbeskikking glo ek is die oplossing. Voorspoed met die 2019 stemmery.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.