Vrye, nie gratis universiteite die oplossing

Limpopo-universiteit-betogings

Betogings by een van die universiteit verlede week. Foto: Twitter

Daar was die naweek verskeie berigte waarin gevra is waarom Afrikanerstudente nie grootskaals deelgeneem het aan die universiteitsopstande nie. Studiekoste ís immers baie hoog en boonop kon solidariteit met hulle arm medestudente baie vir rasseverhoudinge beteken, is onder meer gesê. Ander kommentators het tereg daarop gewys dat die opstande oor meer gaan as net studiegeld, en gewonder hoekom jong Afrikaners nie die kans aangryp om teen die onbevoegde leiers en die stand van die land te betoog nie?

Hierdie geldige vrae het my ook laat wonder, en ek het besluit om ’n twintigtal Afrikaanse studente te vra waarom hulle nie betoog het nie, en waarom dié wat saam betoog het wel deelgeneem het. Dit was nogal moeite om soveel studente oor die naweek te kontak, veral omdat ek wou seker maak dat hulle nie net uit ’n bepaalde denkrigting kom nie. Maar die antwoorde was insiggewend, en na al die gesprekke en e-pos-boodskappe het daar ook ’n breër antwoord op die krisis na vore gekom. Terselfdertyd het hulle kommentaar ook duidelik gewys hoe hopeloos uit voeling koerantskrywers regtig met die studente is. Hoewel ek nie wil voorgee dat my informele peiling wetenskaplik is nie, is dit tog insiggewend.

Werk en studeer

Uit die eerste vyf Tukkie-studente het drie geantwoord dat hulle te besig is om vir die komende eksamens te studeer. Hulle voel juis omdat hulle studies so duur is hulle seker wil maak dat hulle goed deurkom sodat hulle daardeur afslag op studiegeld kan kry. Die ander twee werk deeltyds om vir hulle studie te betaal, en meen dat werk ’n beter oplossing vir die hoë koste as betogings is. Van die ander Tukkies het gesê dat hulle deernis met die gewone arm swart studente het, maar nie die politieke agendas van die betogerleiers vertrou nie. Hulle was bekommerd dat die leierskorps net die geldige griewe van hoë studiekostes uitbuit, om steun vir hulle werklike politieke doelwit van die “voltooiing van die rewolusie” te kry.

Matie-studente op Stellenbosch en Kovsies op Bloemfontein het hierdie gevoel gedeel. Hulle standpunt was dat die betogerleiers dieselfde aktiviste is wat wit studente wil weghê, en wat onder die dekmantel dat Afrikaans “uitsluit” Afrikaanse studente wil uitsluit. Twee Stellenbosch-studente het reguit gesê dat die “Luister-lieg-video” ’n rassisties gedrewe swartsmeerdery van wit studente was, wat hulle heeltemal van die aktiviste vervreem het. Daarby het die intimidasie van studente om aan die betogings deel te neem hulle totaal afgesit. “Ons was regtig beangs toe ’n groep in ons koshuis ingekom en begin skree het dat almal moet uitkom en deelneem”, het ’n vrouestudent geskryf.

Twee Kovsies het gesê dat hulle aanvanklike simpatie vir die betogers vinnig plek gemaak het vir teenstand, toe dit duidelik geword het dat die opstand oor veel meer as klasgeld gaan en radikale transformasie ten doel het. Nog ’n Kovsie meen dat die aktiviste gedurig ontevrede en opstandig is, en nog ’n week voor die jongste opstande ’n veldtog teen Afrikaans en wit studente gevoer het. Ander Kovsies het ook gesê dis ’n ope geheim dat swart studente baie makliker studiebeurse as wit studente kry, en dat baie kla met ’n “witbrood” onder die arm. Hierdie stelling is baie gereeld deur bykans al die Afrikanerstudente oor al ses kampusse wat uitgevra is, genoem. Die algemene mening was dat dit feitlik onmoontlik is vir ’n wit student om studiehulp te kry, en dat die siening dat alle wit studente se ouers welvarend is en maklik vir hulle studies betaal hoegenaamd nie waar is nie.

Beloftes maak skuld

Studente van die Universiteit van Johannesburg was bekommerd oor moontlike geweld en het gesê dat van die betogers hulle vyandig behandel het. ’n Nagraadse student se kommentaar was dat die ANC al vir jare lank beloftes maak oor gratis studie, en dat die swart studente nou moeg gewag is. Die nuusdekking wat die Wits-studente gekry het, het die emosies oral laat vlam vat. Sy glo self nie aan groter staatsteun nie, omdat dit in die hande speel van die kommunistiese minister Blade Nzimande wat groter beheer oor universiteite wil hê. Terselfdertyd gaan die verswakking van die universiteite se geldelike posisie volgens haar die standaarde en gehalte van die studies nadelig raak. Dit kan die universiteite dieselfde paadjie laat loop as die ander staatsinstellings soos die Lugdiens, Eskom en die SAUK.

Puk-studente het gesê dat hulle van die begin af geweet het dat studiekoste hoog is, maar dat dit steeds die beste belegging in ’n mens se toekoms bly. Vyf uit agt studente wat geantwoord het, werk deeltyds sodat hulle kleiner studielenings hoef te neem, maar almal sê dat die aktiviste net studiekostes misbruik om hulle politieke transformasiedoelwitte te probeer bevorder. Hulle voel dat die universiteit uit hulle pad gaan om behoeftige studente by te staan, en meen dat hulle nie hul ouers wat so duur betaal in die steek wil laat nie. Van die studente wat gekontak is het bloot gesê dat hulle nie belangstel in optogte en betogings nie, maar andersins goed met die swart studente oor die weg kom. ’n Student van Kaapstad het uit vrees vir intimidasie aan ’n optog deelgeneem, maar is uiters bekommerd dat die uiteindelike slagoffer van die opstande die wese en standaard van die universiteit gaan wees.

Vry of gratis?

Opsommend lyk dit dus of die politieke kulture van die meeste wit Afrikaanse en swart studente taamlik lynreg verskil, en dat die verdelingslyne dieper loop as die gesamentlike kommer oor duur studiegeld.

Dit bly verstommend dat die meeste kommentators voel dat die staat ’n groter rol in die universiteite moet speel, asof die swaar hand van die regering nie die sektor al genoeg benadeel het nie. Groter staatsbefondsing gaan beslis groter staatsbeheer meebring, wat akademiese vryheid, standaarde en die onafhanklikheid van die universiteite verder in gedrang gaan bring. Die ANC het reeds aangekondig dat die outonomie van die universiteite nou hersien gaan word. Die regering dwing universiteite om meer en swakker studente toe te laat, maar gee al minder geld daarvoor. Hierdie botsende doelstellings het nou so knyptang veroorsaak dat dit in opstande ontplof het.

Die oplossing is nie gratis studie nie, net soos gratis mediese sorg of gratis elektrisiteit vir almal nie moontlik is nie. Niks is gratis nie, want alles kos geld. Die vraag is net wie daarvoor gaan betaal. Die land het hopeloos te min universiteite en die staat het nie die wil en vermoë om vir die groeiende vraag voorsiening te maak deur nog universiteite te bou nie.

Daarom is die oplossing eerder vrye universiteite, waar die private sektor die vryheid het om die universiteitswese te betree en met bestaande universiteite mee te ding. Dit gaan die druk op bestaande universiteite verlig, en studente ’n groter keuse gee. Brasilië is een van die lande wat reeds gewys het dat dit kan werk. Buitendien, Suid-Afrika het reeds gewys hoe meer beheer die staat oor iets het, hoe swakker en duurder is dit. Daarteenoor bied private dienste wat teen mekaar meeding wat prys en gehalte betref, die beste keuse aan die publiek. Kom ons hoop dat die sentrale les uit die universiteitskrisis nie “meer” staat en minder vryheid is nie, maar “minder” staat en meer vryheid. Dan was alles moontlik die moeite werd.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Sharon Anderson ·

Dis baie maklik. Engelse en Afrikaner kinders is Christene, ek haal Kong James se Bybel aan.

Rom 13:13
Let us walk honestly, as in the day; not in rioting and drunkenness, not in chambering and wantonness, not in strife and envying.

Basta daarmee ons kinders het ‘n opvoeding..die end hiervan!

DEE ·

Wit studente (meeste) se agtergrond sal nie toelaat dat hulle tot sulke drastiese handelinge oorgaan nie. Brand, plunder, skade en n rondspringery van n ander aard is nie hier ingebore nie. My dogtertjie (21) sou dit nie waag om haar gesiggie daar te wys nie, want 21 of te not, haar gatjie sou om hulp geroep het. En dit, dink ek is die verskil

Hercules Boshoff ·

Dr. Flip

Vir iemand wat hom beywer vir daadwerklike burgerlike deelname in ons land, is dit vir my bemoedigend om te sien dat u met die minimum vooroordele ondersoek instel na die saak. Ek was, ten spyte van aanvanklike bedenkinge wat ek deel met studente hierbo vermeld, by die Kovsies betoging. Van ‘n afstand beskou, moet ek erken, lyk so ‘n storie nogal intimiderend. Toe ek egter die nuusberigte lees waarin vermeld word dat studente die politici (en die media) verjaag, het ek geweet hier is iets groter aan die gang en ek kon my nuuskierigheid (eerder as dapperheid) nie meer keer nie, en daar gaan ek toe… By die betoging aangekom, het swart mede-studente vir my gevra: waar is die wit outjies? Op ‘n stadium het ek nogal ietwat skaam gevoel, totdat die wit koshuise om die draai gekom het (so 8 uur Donderdagaand). Dit het geklink soos ‘n tuisspan wat op die veld draf! ‘n Absoluut onvergeetlike oomblik. My vraag is egter, waar is die beriggewing hiéroor??? Ek is van mening dat die politici hierdie probleem al ‘n lang pad gesien kom het, en die skuld op die Afrikaner probeer pak om die aandag van hulle tekortkominge af te lei. Die kortsigtige media, wat in oppervlakte eerder as dieper waarhede geintrisseerd is, het natuurlik in hulle hand gespeel met hierdie poging. Die feit dat die swart studente (wat gebreinspoel word om ons te blammeer vir alles), ons daar gesien het en ons saammet hulle gedans het, sal beslis iets beteken. Partykeer is iets belangriker as ideologie nodig om mekaar te vind, ‘n woord wat ek lanklaas raakgelees het, menslikheid. Groete

Leendert van Oostrum ·

Private universiteite, net soos private skole, word net so streng beheer soos staatsinstellings, en selfs nog meer (private skole, byvoorbeeld, staan onder die “gehaltebeheer” van Umalusi, wat alles oor beheer en niks oor gehalte gaan nie, terwyl staatskole nie daaraan onderderwerp word nie).

Hoe dit ookal sy, die eindresultaat is dat privaatsonderwys die studente dieselfde slop voer as staatsonderwys – net met ‘n silwerlepeltjie.

Mnr Buys se aanname dat private universiteite vrye universiteite is, is ongegrond.

Mike ·

Ek stem heeltemal saam Leendert nou vra ek, hoe gaan Soliforum se selfstandige gemeenskappe hierdie problem aanspreek? Daar is NET EEN oplossing en dis onvoorwaardelikke selfbeskikking.

Flip ·

Mnr Van Oostrum, natuurlik is Privaatuniversiteite onderworpe aan gehaltebeheer van kwalifikasies. Dit kan egter nie vergelyk word met die direkte staatsbeheer van openbare instellings nie. Hulle word beheer deur befondsing, ministriële aanstellings op rade, departementele voorskrifte en gedetailleerde verslagdoening. Daarteenoor geniet Privaatuniversiteite volle operasionele vryheid solank gehaltevereistes nagekom word. Daar bestaan ongelukkig nie ‘n ander ‘vryer’ opsie binne die huidige werklikheid nie. Daarom help dit nie om moedeloos hande in die lug te gooi omdat daar nie ‘n ander waterdigte volmaakte oplossing is nie. Ons doen wat ons kan, en sal weer ‘n plan maak as dit nodig raak.

Leendert van Oostrum ·

Beste Mnr Buys,

Dankie vir die toeligting. Ek hou veral van die eerste frase in jou slotsin – “Ons doen wat ons kan…”

Maar die laaste frase daarvan maak my ongemaklik – “…as dit nodig raak”.

Universiteite was nog nooit sonder ‘n verhouding met die owerheid nie. Sedert die eerste universiteite, Bologna in Italië en Oxford in Engeland, is van universiteite vereis om deur die owerheid (hetsy koning, kerk of wat-ook-al) “gelisensieer” te wees.

Maar daardie “lisensie” was presies wat “lisensie” beteken – ‘n vryheid wat deur die owerheid gewaarborg word en beskerm word, of wat die universiteit self mag beskerm. Die reg om self te besluit a) wie hulle as studente aanvaar en b) wie hulle aanstel om te onderrig. Histories beteken b) ook dat die professor besluit wat hy vir sy studente leer. (En studente het van een universiteit na die ander gereis om onderrig te ontvang van die professore van hul keuse.)

Ek gesels vanaand met ‘n oudstudent van Wits wat vertel hoe die “apartheids-” regering hierdie outonomie van universiteite gerespekteer het. Elke universiteit is destyds opgerig en bedryf ingevolge sy eie wet wat deur die Parlement aanvaar is – sy “lisensie”. As sodanig was elke universiteit direk aan die howe verantwoordelik vir die uitvoering van “sy” wet. En sy begroting is deur die Parlement goedgekeur.

Dit was een van die eerste verandereinge wat die ANC-regering aangebring het – al die ou universiteitswette is herroep en vervang deur een weet, wat die Minister van Hoëronderwys in beheer sit van elke universiteit in die land (insluitende “private” universiteite). En van die beurs waaruit hulle befonds word.

U sien, “in die ou dae” was elke universiteit verantwoordelik vir sy eie “gehaltebeheer”. Sy reputasie onder studente en kollegas in die wêreld is daardeur bepaal.

As ‘n universiteit, soos nou, elke liewe kursus wat hy aanbied moet laat goedkeur (m.a.w. die inhoud wat die professor moet onderrig) en verantwoording moet doen aan die minister se waghonde vir die “gehalte” van sy onderrig is daar van outonome universiteite en van akademiese vryheid geen sprake nie. Ek weet. Ek het tien jaar lank in juis hierdie veld gewerk.

Ek stel dit aan u dat dit nou reeds nodig is om “planne te maak”, want van “vrye” universiteite is daar geen sprake nie. En ons mag nie voorgee dat daar is nie.

Ons kan hoogstens onderneem om in daardie rigting te werk.

Disselboom ·

Dis bygeloof soos die naïewiteit om die drogredenasie te glo en te aanvaar dat “die staat” kamtig “gehaltebeheer” oor opleiding uitoefen wat die ware opstand wat nodig is, verhoed. Die opstand wat nodig is, is om die juk van sosialisme in al sy vorme en ongeag deur watter bevriende of vyandige regering dit uitgeoefen word.

Die huidige stelsel van akkreditasie en registrasie van onder andere universiteitsopleiding is ‘n vreemde nuwigheid. Blykbaar was ons voorouers heelwat eerliker en/of slimmer, want universiteite het hulle eie standaarde gestel en uitgeoefen en is daarvoor in die mark erken.

Ons moet die slawe-mentaliteit en die gedagte dat die staat oral mag betrokke wees, afskud.

Leendert van Oostrum ·

Daar is ander maniere as “onvoorwaardelike selfbeskikking”.

Die onderwerping van alle onderwys aan die staat is strydig met die internasionale reg, en bepaald met verskeie internasionale vedrae wat SA bind.

Maar dit is direk strydig met die grondwetlike reg op akademiese vryheid sowel as die grondwetlike reg om onafhanklike onderwysinstellings op te rig en te bedryf.

Wette en handelinge deur die owerheid, wat strydeig is met die grondwet is nietig en bind niemand nie.

Dit is dus heeltemal geregverdig om beperkings wat nie billik en geregverdig is nie, doodeenvoudig te ignoreer asof hulle nie bestaan nie.

En dan kyk mens wat die owerheid daaromtrent doen. Die kanse is gewoon dat hulle niks sal doen nie. As hy wel optree sal dit wees om jou akkreditasie te benadeel – maar dan kan mens juis die beperkinge wat hy op jou stel in die hof betwis.

Dit is soos Mnr Buys skryf: Mens gooi nie sommer jou hande in die lug en kerm dat die staat onregverdig is nie. Daar is baie wat daaraan gedoen kan word.

Fanie ·

Mike, onvoorwaardelike volle selfbeskikking! Briljante idee! Ek is seker Solidariteit het nooit aan hierdie maklike uitweg gedink nie- dankie vir hierdie kitsoplossing. Sal jy asb gou vir ons onvoorwaardelike volle selfbeskikking verkry, dan is alles mos weer reg, en dan is al hierdie gesukkel in ‘n oogwink verby. Hemel op aarde, dink net! Go Mike Go! Moet ons net nie laat wag nie Mike, jy ken mos sekerlik die kortpaaie.

OudPUK ·

Ek is elke dag meer en meer verstom met die toestand van ons universiteite. Ek het in 2011 gegradueer vanaf die NWU Potchefstroom. My studente jare was vol pret en kommer vry, want in hierdie tyd was daar nie betogings en gelykheids-issues nie. Ons grootste kommer was om die eksamens deur te kom. En dit is nie so lank terug nie! What happened!!!!

Wat my ook verstom, is dat al meer en meer mense verwag dat alles verniet moet wees. Waarom studier ons dan? Waarom probeer ons ‘n kwalifikasie onder die belt kry, as alles op die einde van die dag net verniet gaan wees?

Die geleentheid op tersiëre onderrig is presies dit – ‘n geleentheid!! As dit vrylik en openlik vir almal beskikbaar gemaak gaan word, gaan dit net geen waarde meer dra nie!

Ons het hard gewerk om te betaal vir ons eie studies, of dit nou was om die bank of een of ander instansie terug te betaal, ons studies was nie verniet nie, en na my mening het dit ons so ‘n bietjie verantwoordelikheid geleer.

Kom ons sê die staat maak ‘n besluit ten gunste van gratis universiteite, gaan dit daar stop? Volgende gaan hulle gratis kos, behuising en voertuie wil hê.

My punt is eenvoudig, werk vir dit wat jy wil hê. Moenie verwag dat dit in jou skoot gaan val nie.

Fanie ·

Mike, onvoorwaardelike selfbeskikking? Skitterende voorstel- Solidariteit het dit beslis nog nooit oorweeg nie. Dis nou ‘n lekker kitsoplossing wat al ons probleme in ‘n oogwink gaan wegtoor. Wie sou dit nou kon dink? Maak asb gou ou Mike- en kry dit vir ons- maar moenie ons laat wag nie hoor! Anders begin ons dalk dink jy smous net met onuitvoerbare politieke hoofpynpille- en dit wil jy seker darem nie hê nie. Lekker ou Mike man- toor gou onafhanklikheid vir ons, dan hoef ons nie soos Solidariteit met al die moeilike werklikhede te werk terwyl ons julle die moeite aandoen om ons nog hier van die niksdoen kantlyn af te moet kritiseer nie ou maat.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.