Vrye privaat stede: Ontwikkeling vir die Derde Wêreld of neokolonialisme?

Hongkong

Foto: Ruslan Bardash/Unsplash.com

Met die huidige migrasiestrome van Afrika en die Midde-Ooste na Europa word deur politici dikwels bepleit dat die oorsake vir die migrasiestrome, met ander woorde die swak omstandighede in die lande van herkoms, beveg moet word, om sodoende migrante in hul lande van herkoms te hou. Ontwikkelingshulp van miljarde dollars word al vir dekades betaal en nog verdere verhogings in vooruitsig gestel, maar dit bereik eerder die teendeel, omdat die korrupte en onstabiele regerings daardeur nog gesubsidieer word.

Ontwikkelingshulp is dikwels gerig op die verbetering van plaaslike toestande en sal tipies die bou van infrastruktuur soos hospitale en skole, die aanlê van sanitasie, ensovoorts behels, iets wat eintlik die regering se verantwoordelikheid is. Die onderliggende strukture, soos ʼn korrupte elite, ʼn kultuur van wetteloosheid en onbekwame bestuur, word deur ontwikkelingshulp egter nie aangeraak nie, omdat daar eksplisiet nie ingemeng word in ʼn land se politiek nie en omdat die ontwikkelingshelpers dikwels afhanklik is van die regering se goedgesindheid.

ʼn Meer radikale ontwikkelingskonsep is dié van die vrye privaat stad oftewel charter city. Dit het sterk liberaal-ekonomiese denke as fondament en sien die wêreld as een groot mark met menslike handel soos bepaal deur markkragte. Terwyl ontwikkelingshulp ʼn eensydige gee van die Eerste Wêreld is, is die privaat stad op wedersydse voordeel gerig en is eerder ʼn besigheids- as ʼn liefdadigheidskonsep.

Die idee daaragter is dat ʼn stuk Eerste Wêreld, onder Westerse bestuur en met Westerse wette en arbeidspraktyke, lae belasting en goeie infrastruktuur, in ʼn land van die Derde Wêreld opgerig word. Dit sal moet geskied in samewerking met die betrokke regering van die land, wat ʼn stuk van sy soewereiniteit opgee ten einde werk en ontwikkeling deur ʼn maatskappy of organisasie te skep. ʼn Kontrak sal bepaal wat elkeen se regte en pligte is. Die privaat stad sal dan soos ʼn ligtoring wees wat die hele omgewing beïnvloed. Dit sal werk skep vir die arm mense uit die land, maar die privaat stad sal eksterritoriaal wees en dus sal die werkers in- en uitpendel, iets wat nogal aan die ou Suid-Afrika laat dink.

Feit is egter dat die lande van die Derde Wêreld geen eie ontwikkelingskonsep kon toepas nie. Alle variasies van sosialisme en inheemse ontwikkeling is al beproef van Suid-Amerika tot die Verre Ooste en het gewoonlik rampspoedige gevolge gehad. Selfs al bestaan daar ʼn soort twee klasse-stelsel, beteken die inkomste wat die werkers in die privaat stad verdien, ʼn terugvloei na hul gemeenskappe en vind daar ook afstroomontwikkeling plaas.

Die man agter die charter city-konsep is Paul Romer, ʼn briljante Amerikaanse ekonoom, hoofekonoom van die Wêreldbank en wenner van vanjaar se Nobelprys vir ekonomie. Ook Titus Gebel, ʼn Duitse ondernemer wat in Monaco woon, bevorder die konsep van die vrye privaat stad.

Vir talle kritici op die linkerkant ruik dit na neokolonialisme, terwyl talle state dit ook as ingryping in hul soewereiniteit sien. Veral in Afrika is daar min entoesiasme oor die konsep, omdat die koloniale verlede nog vars in die geheue is en Afrika-leiers nog nie tot ʼn punt gekom het waar hulle realisties is oor hul eie beperkinge nie. Daarby is China se ekonomiese belegging in Afrika baie meer neokolonialisties en minder tot voordeel van die plaaslike inwoners as wat vrye privaat stede sou wees.

In Sentraal-Amerika is daar meer openheid en al ʼn mate van vordering, waar die regerings van El Salvador en Honduras die ontwikkeling van charter cities en spesiale ekonomiese sones in beginsel goedgekeur het. Daar is egter nog ʼn lang pad voor dit in praktyk gebeur, en daar is ook heelwat weerstand op grondvlak. Dalk sou ʼn suksesvolle privaat stad die massa uittog tog van arm migrante uit Honduras na die VSA kon gekeer het. Immers het hulle niks anders as werk gesoek nie en sou ook die ongelykheid in die VSA aanvaar het. Met die privaat stad kon hulle ten minste in hul eie land bly woon het.

Een voorbeeld vir ʼn suksesvolle stad wat naby aan die konsep van Romer en Gebel kom, is Hongkong. Alhoewel sedert 1996 polities deel van China, is Hongkong outonoom en veral ekonomies werk dit volgens die vryemarkkonsep, wat dit een van die mees vooruitstrewende stede in die wêreld maak.

Nog voor China sy eie ekonomiese hervormings begin het, was Hongkong ʼn model en het China stede naby Hongkong soos Shenzhen tot spesiale ekonomiese sone verklaar, waar met die Westers-kapitalistiese stelsel geëksperimenteer is. Toe China sien dat Shenzhen, nes Hongkong, werk, het hulle die konsep min of meer op hul ander stede toegepas. China se ekonomiese groei word deur verstedelikking gedryf, nie die Derde Wêreld-krotbuurt-verstedeliking nie, maar verstedelikking wat saamgaan met ontwikkeling en modernisering.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Stephan de S ·

Baie dankie vir n hoogs interessante artikel waarvan n mens moet kennis neem. Dit laat my besef dat politieke stelsels nie vaste strukture is maar dat daar gedurig verandering kan wees om n gegewe tyd en sy mense die beste te dien. Mag dit hoop bring in ons situasie, dat stelsels kan verander, en mag dit ons uit die gedagtebinding breek dat daar nėt een manier of oplossing is om bevolkings te bestuur.

marco polo ·

Interessante artikel. Die laaste paragraaf behoort ook insiggewend te wees vir diegene wat alewig glo dat China ‘n arm land vol krotbuurte is.

Judge Dredd ·

Nou nie juis ‘n nuwe konsep nie – dis soortgelyk aan antieke griekeland se “City States”.

JAN ·

Baie dankie vir leersame artikel. Dit mag maar opvolg artikels kry.
Mbt Brexit en Soros en ons eie diaspora. ? Wat van kuberstate? Internet stede soos Facebook Skype. WHATSAP Hmmm?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.