Vrye Weekblad III bied nogmaals ʼn alternatiewe stem

Johannes Froneman

Ek wou reeds verlede maand oor Vrye Weekblad se ondergang skryf. Ook maar goed ʼn ander tema het toe opgeduik, want daar kry VWB toe ʼn derde lewe! Die publikasie is nou op eie bene en los van Arena Holdings, onder wie se vlerk die blad die afgelope paar jaar digitaal verskyn het.

Wat vrae laat ontstaan oor die redes waarom ʼn publikasie oorleef of ondergaan. Uiteindelik is daar net drie redes waarom ʼn publikasie ophou bestaan: dit word deur ʼn outoritêre regering toegemaak, die geld droog op of die rede vir die bestaan van die publikasie het verdwyn.

Met ʼn nuwe belegger in plek is die oorblywende vraag of daar wel plék is vir hierdie nispublikasie, die derde inkarnasie van Vrye Weekblad?

Toe VWB I in die 1980’s verskyn het, was ons nog midde-in die apartheidsera en was die land in konflik gedompel. Die blad was ʼn versetblad, een wat juis in Afrikaans teen die toenmalige bedeling in opstand gekom het.

Max du Preez en sy kollegas het gemeen die SAUK en Afrikaanse koerante versluier te veel van die waarheid wat (wit) Afrikaanse lesers ook moes hoor. VWB het dan ook talle groot stories oor apartheidsmisdade gepubliseer.

Hoewel die sirkulasie nooit veel meer as 10 000 was nie, het ander publikasies VWB se stories verder gedra. Só het die breë leserspubliek van tyd tot tyd kennis geneem van wat die blad skryf — maar of baie dit geglo het, is ʼn ander storie.

ʼn Tweede belangrike komponent van VWB se inhoud was die kulturele verset wat uit die bladsye gestraal het. VWB was nie net teen die politieke orde gekant nie, maar het ook nee gesê vir wat as tradisionele Afrikanerwaardes deurgegaan het. Geloof in God, veral ʼn god wat in apartheidsteologie toegedraai is, is verwerp. Christelik-nasionaal was ʼn vloekwoord en VWB het teiken geskiet na allerlei mites en gelofies.

Dit het baie Afrikaners woedend gemaak en hulle het uiteraard geweier om die blad te koop. Max het dus vir die bekeerdes gepreek, as so ʼn woord in hierdie konteks paslik is.

Deur alles heen het hy wat Max is egter ʼn interessante standpunt gehandhaaf, naamlik dat hy ʼn Boer is, ʼn Afrikaner. Net nie van die soort wat Sondae kerk toe gaan of vir PW Botha stem nie. Só gesien, het hy die idee van Afrikanerskap (probeer) verbreed.

Toe die nuwe bedeling aanbreek, het befondsing uit die buiteland opgedroog en het verskeie sogenaamd alternatiewe blaaie (VWB inkluis) gesluit. Die stryd teen apartheid was immers verby, wat ʼn kernrede vir die bestaan van hierdie blaaie laat verdwyn het.

Dat daar ʼn ander, veel langer stryd teen staatskaping, volgehoue rassediskriminasie en die ineenstorting van dienste onder ʼn ANC-regering voorgelê het, het hierdie anti-apartheidsmedia nie gedroom nie. Dit was ook nooit hul fokus nie.

Max het intussen vir Afrikaans Stereo ʼn geselsprogram begin aanbied (waar luisteraars dikwels woedend teenoor hom losgetrek het). Hy het ook belangrike werk by die SAUK se Special Assignment verrig, want Max is ʼn uitstekende joernalis — een van die beste wat ooit in Afrikaans gewerk het.

Die nuwe base by die SAUK het egter nie van Max se stywe rug en waglose mond gehou nie en hy is daar weg. Later is hy ook weg by Independent Media weens ʼn meningsverskil.

Toe kom die idee om Vrye Weekblad digitaal te laat herleef. ʼn Baie gestroomlynde opset is bedink met enkele voltydse redaksielede, verskeie vryskut-medewerkers en geen kantoor nie. Hierdie was inderdaad ʼn publikasie vir ʼn nuwe tydvak. Maar was daar genoeg finansiële steun — én genoeg betalende intekenare én advertensies? Duidelik nie – vandaar Arena se onttrekking aan die projek.

VWB het in die 1980’s ʼn duidelike stem laat hoor wat by linksgesinde (ek gebruik die woord losweg) Afrikaners (of wit Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners) geresoneer het. Maar die teikengehoor vir VWB II was net klein, het ek gedink.

Ons is tog lankal verby die politieke draaipunt; kultureel het ook baie water in die see geloop. En baie ou VWB-lesers sit bes moontlik anderkant die water. Die verset teen die ou bedeling is ou nuus; daar is nuwe uitdagings — in Suid-Afrika en elders. Waar groot maatskappye en buitelandse skenkers destyds ondersteuning aan die alternatiewe blaaie gegee het, is dit lank nie meer die geval nie.

Vir VWB was dit joernalistiek gesproke maklik om teen die ou politieke bedeling en ou godsdienstige en kulturele gebruike te rebelleer. Om ʼn (nuwe) nis in die digitale oerwoud uit te kap én genoeg steun te werf, is ʼn ander storie. Bewys die ondergang van VWB II dit dan nie?

Maar VWB III se mederedakteur Anneliese Burgess skryf met soveel aansteeklike entoesiasme oor die nuwe projek. Hulle wil naas al die ander Afrikaanse media — en sy noem Maroela by die naam — aan Afrikaanse lesers ʼn ander perspektief bied.

Uiteindelik hét ons in Afrikaans ʼn diversiteit van menings nodig — al verskil ons soms heftig. Dit is nodig vir ʼn lewendige intellektuele lewe — die oop gesprek wat Van Wyk Louw lank gelede bepleit het. Is VWB III se ruimte waar hierdie gesprek sal plaasvind?

Dit sal die tyd wel leer, maar ek vermoed ek sal selde met Piet Croucamp saamstem. Max toon wel tekens dat hy nuwe insigte kry in die realiteite wat onder die Solidariteit Beweging se sambreel ontplooi.

Ek twyfel egter of VWB III ooit meer as ʼn deeltjie van die Afrikaanse leserskorps standhoudend gaan interesseer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Johannes Froneman

Johannes Froneman is ‘n emeritus-professor, kurator van Mediamense.com en vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Groen Ghoen ·

Indien dit die einde van Antieklimaks se gewroeg en uitryg van derms is, sal ek graag VWB111 lees.

Republikein in die Wes Kaap ·

Max en sy vrinne preek vir mense wat reeds bekeer is. Die groepie word egter ouer en verloor belangstelling. Jonger mense beskou Max as ‘n cool, en somtyds weird.

Goldy ·

Vryeweekblad het verkeerde indukke versprei, daarvolgens sou hervorming goed gewees het. Die realiteit is dat dit toe net naiewe wensdenkery en leë beloftes was en die land in chaos gedompel is en ons als verloor. Alternatiewe idees as dit by ver links kom is idees wat oral tot ontmagting van gewone mense, ellende en misdaad lei. Ons soek beter alternatiewe, nie verlinkse regressiewe wensdrome nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.