Vryehandel teenoor sogenaamde vryehandel

tpp-grafika

Grafika: Motley.ie

Op die hakke van Brexit verlede jaar, is Donald Trump vanjaar in die nuus oor sy onttrekking van Amerika uit die sogenaamde Trans Pacific Partnership, oftewel TPP. Trump word, soos met Brexit-voorstanders, wyd en syd daarvan beskuldig dat hy hierdeur teen die vryemark en vrye internasionale handel is, maar hou hierdie beskuldiging steek?

Die TPP sou naas die Noord-Amerikaanse Vryehandelsooreenkoms (NAFTA) en die Europese Unie die derde grootste streekshandelsooreenkoms ter wêreld wees. State soos Japan, Australië en Kanada was deel van die aanvanklike twaalf ondertekenaars van die inisiatief.

Vooraanstaande sakelui, joernaliste en regeringslui wêreldwyd het Trump intussen vir die onttrekking gekritiseer.

Anthony Gardner, pasuitgetrede VSA-ambassadeur by die Europese Unie, sê byvoorbeeld: “Ons glo in goeie handelsooreenkomste. Ek dink die Transpasifiese Ooreenkoms sou belangrik wees, nie net om ekonomiese groei te stimuleer nie, maar belangriker, om ons te help om die reëls vir globale handel te skryf – iets wat ons vir dekades nou al doen.”

Gevra oor die moontlikheid dat die VSA ʼn direkte vryehandelsooreenkoms met Verenigde Koninkryk kan sluit, sê Gardner dat die vroegste waaroor samesprekings daaroor kan begin, is oor twee jaar van nou af: “Om ʼn vryehandelsooreenkoms tussen die VSA en die VK te sluit, sal nie eenvoudig wees nie en dit sal nie vinnig wees nie.”

Hierdie uitlatings van Gardner is tipies van die dubbelpratery en ingesteldheid van vandag se staatlike politici. Aan die een kant praat hulle van vryehandel en aan die ander kant is hy trots daarop dat hulle nou al “dekades” lank die “reëls vir globale handel” skryf.

Die sogenaamde vryehandelsooreenkomste, wat die wêreld vandag ken, is allesbehalwe vryehandelsooreenkomste. Dit is duisende en duisende bladsye van tegniese puntjies, reëls, uitsonderings, subsidies, heffings, begunstiging en penalisering met ʼn legioen van regslui wat toustaan om dit te interpreteer. Vra maar vir enige Afrikaanse boer, wat probeer om iets na die sogenaamde vryemark-EU uit te voer, hoe Gardner en die eurokrate klippe in hul pad rol.

Dit is goeie nuus dat Gardner vervang gaan word. Bloomberg spekuleer dat die plaasvervanger die Brexit-voorstander, professor Ted Malloch, kan wees. Malloch was in Januarie vanjaar in die nuus, nadat hy die EU met die USSR vergelyk het en na die EU verwys het as ʼn supranasionale en onverkose liggaam, met burokrate wat hande uitgeruk het.

Dit is intussen tog so dat Trump met ʼn hele aantal ander uitsprake nie noodwendig ʼn voorstander van vryehandel is nie, maar wat sy afbreek van die bestaande internasionale sogenaamde vryehandelsooreenkomste betref, is hy op die regte koers.

Anders as wat Gardner beweer, is ʼn ware vryehandelsooreenkoms baie maklik. Dit skaf belastings, heffings, kommissies, kwotas en burokrate se werksgeleenthede af en laat dit aan boere, maatskappye, entrepreneurs en ander private organisasies oor om hul eie handelsooreenkomste te beklink. Hier is nog ʼn geleentheid vir Trump om die wind uit die seile van die establishment te haal en om voor Gardner se voorspelde twee jaar om is reeds ʼn kort, bondige vryehandelsooreenkoms met die VK te sluit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anton ·

…Piet ek stem saam Trump is op die regte koers…goeie artikel…

John ·

Trump weet nie hoeveel ondersteuners hy hier aan die suidpunt van Afrika het nie. Iemand moet hom inlig. Dit sal ‘n riem onder sy hart wees dat daar iewers mense is wat die logika in sy aksies raaksien…

Santie ·

Dankie vir ‘n positiewe artikel. Ek dink ons weet nou al almal dat enige artikel oor Trump van die liberale kant af negatief sal wees. Een van die man se bekendste kenmerke is dat hy raad vra by mense wat weet. Soos die liberale aangaan sou mens dink hy doen sommer net oor hy lus het. En hy het baie ondersteuners wereldwyd, hulle raas net nie soos die immer ontevrede liberale nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.