Vryhandelsooreenkoms tussen 44 Afrikastate

afrika kontinent africa

Argieffoto.

In Kigali, die hoofstad van Rwanda, is verlede maand ʼn verdrag vir die skepping van ’n vryhandelsooreenkoms (VHO) tussen die meerderheid Afrikastate (44 uit 54) onderteken, die Afrika-Vasteland Vryhandelsooreenkoms (AVVHO). Dit beteken dat Afrika die handel onder mekaar vergemaklik deur invoertariewe te verlaag of af te skaf, doeaneprosedures te vergemaklik en standaarde aan te pas. Die uiteindelike doel is ’n soort Europese Unie (EU) vir Afrika, selfs met ’n eie geldeenheid en vrye beweging van mense. Dit is egter nog vêr in die verskiet. Veral die vrye beweging van mense is selfs in die EU hoogs omstrede en was een van die redes vir die Brexit. In die geval van Afrika skrik veral Suid-Afrika daarvoor, want reeds nou is hier miljoene buitelanders uit ander Afrika-lande wat deur Suid-Afrika se voorspoed getrek word en talle probleme veroorsaak.

Die beginsel van handelsooreenkomste vir hele vastelande is ’n gesonde een en het die ekonomiese groei en handel in die betrokke gebiede gewoonlik bevorder. Die EU, oftewel sy ekonomiese voorlopers die Europese Ekonomiese Gemeenskap, Vereniging van SuidoosAsiatiese Nasies (VSAN), Noord-Amerikaanse Vryhandelsooreenkoms (Navho), Suidelike Gemeenskapsmark (Mercosur) is alles voorbeelde van suksesvolle streeksvryhandelsones wat in ekonomiese unies ontwikkel het. In die geval van die EU het dit selfs ’n monetêre unie geword. Die ekonomiese verbonde werk die beste waar lande geografies, ekonomies, polities en kultureel heelwat gemeenskaplike eienskappe het en ontwikkel daarom dikwels vanaf ekonomiese bande na kulturele en politieke bande.

Afrika se interne handel het oor die afgelope dekades verbeter, maar het nog veel groeipotensiaal. Tans vind sowat 18% van handel in Afrika intern plaas, terwyl dit in die geval van die EU om en by 60% is. Hoe sterker en hoe meer gediversifiseer ekonomieë is, hoe meer handel kan daar wees.

In Afrika is die probleem nog dat meeste uitvoerprodukte landbou- of mynbouprodukte is en dat daar heeltemal te min vervaardiging bestaan. Die vryhandelsooreenkoms kan egter die vestiging van meer vervaardigingsbedrywe aanmoedig. Nog steeds vind die meeste handel tussen ’n Afrikastaat en sy eertydse koloniale moondheid, of deesdae toenemend met China, plaas. Die bestaande streekshandelsblokke soos die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), die Gemeenskaplike Mark vir Oos- en Suider-Afrika (Comesa), die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikaanse State (EGWAS) en die Oos-Afrika Gemeenskap (OAG) is nog nie dawerende suksesse nie, maar is ’n begin.

Die idee om een groot Afrika-handelsblok te vorm, is ook niks nuuts nie. Reeds in 1991 is met die Verdrag van Abuja die visioen van ’n vryhandelsblok vir die hele Afrika in vooruitsig gestel. In 2008 is ’n verdere stap in die rigting geneem toe die SAOG, EGWAS en Comesa in beginsel besluit het om saam te smelt en ’n handelsblok van 26 state te vorm. Nou sal daar egter nog ’n veel groter vryhandelsblok gevorm word. Tot dusver was alles egter nog net voornemens.

Opvallend was dat die grootste ekonomie van Afrika, naamlik Nigerië, nie deel van die ooreenkoms is nie, wat heelwat van die sprankel wegneem. Nigerië is so groot dat dit ’n geweldige interne mark vir sy produkte het en boonop is verskeie bedrywe gewoond aan hoë invoertariewe om hulle te beskerm teen kompetisie. Die ondervinding wys egter dat groot ekonomieë gewoonlik die meeste baat by vryhandelsooreenkomste en die deur staan oop vir die huiwerige lande om later ook deel van die ooreenkoms te word.

Die ondertekening is egter eers die begin. Nou moet elke ondertekenaar se parlement die ooreenkoms goedkeur en daarna volg die lang proses van die implementering. Afrika-leiers is sterk met groot planne en skemas en die idee van nouer bande in Afrika is niks nuuts nie. Die Afrika-Unie (vroeër Organisasie vir Afrika-Eenheid) is ‘n voorbeeld vir ‘n groot visioen met min praktiese waarde. Dit is wel verblydend dat die keer op die ekonomie en nie die politiek gefokus word nie. Ekonomiese bande loop politieke samewerking gewoonlik vooruit. Die praktiese stappe sal nog heelwat kopbrekens veroorsaak. Die vervoerinfrastruktuur is ‘n voorvereiste vir handel en hier is nog ‘n groot agterstand. Ook burokratiese onbekwaamheid, korrupsie, wetlike hekkies, verskillendes standaarde en die belastinginkomste uit invoertariewe kan die implementering belemmer.

’n Mens hoop dat iets van hierdie ooreenkoms kom, alhoewel die ondervinding eerder skepties maak. Groot woorde en planne het al uit Afrika gekom (NEPAD, Afrika-Renaissance, Afrika-Eenheid, Pan-Afrikanisme ens.) en min het daarvan gekom wat tasbaar en tot voordeel van die mense is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Paul

Ek is baie bly dis ver in die verskiet. Afrika het net eenvoudig te veel uiteenlopende probleme, elke land van sy eie, diversiteit, geweld, onderstrominge, armoede soos ook in Suid-Afrika. Mens sou dink Cyril Ramaphosa se oor, wat sy land en miljoene agtergeblewe voetvolk se behoeftes aan betref, is op die grond, maar daar ignoreer hy toetentaal dit wat in sy eie land eerste aandag moet geniet, die opheffing van die mense. Maar toe is hy populisties en plaas toe die gedagte van vryhandelgebied en ‘n eie Afrika geldeenheid weer op die tafel. My eerste gedagte was dat hy ook… Lees meer »

Eish

Nuttelose oefening in futiliteit met n mooiklinkende benaming. Die klas van aksies is vir gesofistikeerde ekonomieë soos diė van Europa. Afrika kan niks vervaardig wat nie in die Weste ontdek en vervolmaak is nie. Afrika se arbeid is besig om uitgeprys te raak. Afrika is hoogstens n verbruikersmark en nie n geïndustrialiseerde kontinent nie. Afrika moet liefs konsentreer om landbou te ontwikkel ten einde die bevolking te voed en uit te voer en sy wildlewe beskerm ten einde n inkomstebron van toeriste te verseker. Al wat met so n amalgamering gaan plaasvind is dat invoere uit China kruis en dwars… Lees meer »

John

Nog ‘n verkeerde spelling. Dit moet vryhande-ooreenkoms lees… Eintlik is die sameswering al klaar in werking gestel…

Johannes van Staden

John jy is omtrent paratuskwadratus ne ;)

Jacobus

Die idee kan tot uitvoering gebring word as politiek, persoonlike voordeel, voetslepers en arrogansie uit die prentjie gehaal word. Die volgende moet gedoen word; 1) Standardisering en verhoging/versterking van Nasionale standaarde bv. SABS om ‘n Afrika Standaard te vorm waar alle Afrika lande aan moet voldoen 2) Uitbreiding en harmonisering van vervoer bv. pad, spoor, lug, hawens, skepe (padtekens die selfde deur Afrika en die spoorwydte die selfde sodat treine van die Kaap na enige bestemming kan reis sonder om goedere van een trein na ‘n ander te laai) 3) Uitbreiding van elektrisiteit opwekking en verskaffing oor grense 4) Harmonisering… Lees meer »