Vryheid deurmekaar geklits

VSA-amerika-vlag-sparkler

Foto: Free-Photos/Pixabay.com

Veranderende situasies in die VSA het verskeie van die VSA se voorste denkers die pen laat opneem tydens die onlangse onafhanklikheidsviering. Dit lyk of almal snuf in die neus het dat dinge net nie meer dieselfde is nie, en dat nuwe denke nodig is.

Lawrence Kudlow, wat as konserwatiewe skrywer bekend is, trek ’n noue band tussen vryheid en onafhanklikheid. Die agtergrond is dat die inwoners van die destydse 13 Amerikaanse kolonies van Brittanje, baie sleg deur hul koloniale moondheid behandel is. Dit word as ’n tirannie beskryf. Die opkomende Amerikaners het bitter min sê in hul eie sake gehad.

Die gevolg was die opstel van die Deklarasie van Onafhanklikheid.

Kudlow wy uit oor die beskaafdheid van die dokument, met onder meer reg om gesprek te voer, en respekvol van mekaar te verskil.

Hierdie vryheid, meen Kudlow, het die ruggraat van die wêreld geword. Vryheid is dus een van die VSA se beste uitvoerprodukte.

John Stossel trek die lyn ’n bietjie verder tot die ontstaan van die Amerikaanse grondwet. Een van die gevolge van onafhanklikheid en ’n grondwet is dat die Amerikaners nie net hul ekonomiese agterstand teenoor die Britte gou kon inhaal nie, maar binne ’n eeu die welvarendste nasie ter wêreld kon word.

Maar terwyl Kudlow opgewonde is oor die guns wat die VSA die wêreld aangedoen het, is daar ’n ander kant van die munt – en dit is dat dinge in die VSA self aan die verander is. Patric J Buchanan skryf ’n artikel onder die titel: “Is Amerika nog ’n nasie?”

Hy verwys na die aanvanklike beskouing dat die Amerikaanse nasie, waarmee hy eintlik volk bedoel, aanvanklik almal dieselfde taal gepraat het, dieselfde godsdiens aangehang het, dieselfde waardes aan ’n regeringstelsel geheg het en baie eenders was in hul gebruike en gewoontes.

Buchanan stel dit dat dit lank nie meer die geval is nie. Hy wys daarop dat die elite nou graag sê dat die VSA se krag in sy diversiteit geleë is, en betwis dit. Hy laat aan die einde van sy artikel die vrae en moontlike antwoorde in die lug hang.

Dit laat ’n mens oor Suid-Afrika wonder. Ook hier, met oudpres. Nelson Mandela se vergelyking van die reënboognasie, is die konsep bevorder van krag wat in diversiteit opgesluit lê. Maar tydens die Kliptown-beraad, wat juis belê is om rassespanning te verlig, haal dr. Nkosazana Zuma vir dr. Pieter Mulder, destydse leier van die Vryheidsfront Plus, oor die kole oor hy minderheidsregte bevorder. Volgens haar moet die wit mense eenvoudig deel van die meerderheid word.

Nugter weet hoe sy meen dis prakties moontlik met ’n regering wat die een rasdiskriminerende wet na die ander instel wat wit mense benadeel.

Nugter weet hoe sy dit versoen met pres. Zuma se herhaalde verwysing na wit mense as “white supremacists” – nogal op ’n saamtrek teen rassisme. Die lysie is baie lank.

Vryheid is ’n delikate voorreg wat baie maklik skade ly as dit veral in ’n heterogene gemeenskap nie reg hanteer word nie. En namate die VSA meer heterogeen word, besef al hoe meer Amerikaanse skrywers dit, en tas vervaard rond om antwoorde te kry.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MCH ·

Soms praat dit wat nie gesê of geskryf word nie, die hardste en duidelikste. Daardie ongeskrewe uitsprake wat tog binne die konteks van die gesproke of geskrewe woord val en nie spesifiek uit of ingesluit word nie vanweë politieke korrektheid. Miskien nie op die man af genoem nie ten einde diplomatiese uitkomkans te bied wanneer dinge warm raak en statuur behou moet word. Dit sou byvoorbeeld veel nader aan die waarheid gewees het om te sê dat die Amerikaanse leefwyse bedreig word deur onbeheerste immigrasie die afgelope dekades wat in die afsienbare toekoms tot gevolg gaan hê dat Amerikaners die minderheid gaan wees in hul eie land en gevolglik gevaar loop om politieke mag te verloor. Dit op sigself beteken dat integrasie n klaaglik mislukte konsep is wat nie eens die VSA na sukses kon bestuur nie. Die bedreigde staus quo mag insluit n nuwe tipe regering, amptelike landstaal en n verdere aanslag op die Christelike geloof.

JC ·

Nugter weet, hoe sy dink dit Sal OOIT gebeur haha!!
Moet ons, ons volkskap sommer net opgee, terwyl die Britte oor meer as 200 jaar dit nie eens kon af forseer nie. Sjoe, en…sy wil…”president” wees? Het DZ skoolgegaan en geskiedenis op skool gehad. Regtig?

Thuunda ·

Multikulturalisme is besig om orals krake te wys. Dit is net eenvoudig nie prakties uitvoerbaar oor die langtermyn sonder dat die een groep die ander groep sal wil onderdruk. Die logiese uiteinde van multikulturalisme sal altyd konflik wees (hoe kan dit anders wees as die waardes en doelwitte hemelsbreed verskil?).

Die politieke en massamedia elite is verantwoordelik vir die konflik wat nog kom in Europa en die VSA…asook in die Reenboognasie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.