Vryheid in die Afrikaanse wêreld

Prof. Pieter Duvenage (Foto: Verskaf)

So ʼn week of twee gelede het Ernst Roets ʼn belangrike lesing oor die begrip vryheid by Akademia gelewer. Hierdie lesing is op sy omvangryke doktorale proefskrif gebaseer, wat hy verlede jaar aan die Universiteit van Pretoria, onder leiding van prof. Koos Malan, voltooi het.

Soos Roets uitwys is vryheid een van ons grootste beskawingswoorde en -praktyke. In hierdie artikel word by hom aangesluit deur op die historiese en sistematiese betekenis van die begrip te wys – veral hoe dit in die Afrikaanse wêreld na vore getree het.

Die begrip vryheid spruit uit die diepste bronne van ons beskawing, soos Roets uitwys, naamlik die Klassiek-Griekse, Romeinse en Judaïes-Christelike. Reeds by Sokrates, Plato en Aristoteles is die begrip van vrye mens vaardig, alhoewel vryheid hier altyd as deugde-etiek en in samehang met die gemeenskap (polis) gesien word.

“Die Skool van Athene”. ‘n Voorstelling van die Griekse filosowe Plato, Aristoteles, Pythagoras, Diogenes, Herakleitos, Euklides, Zarathoestra, Ptolemaeus en die skilder Raphael (Foto: Ricciarini/Leemage)

In die Romeinse-Hellenisme word daar op hierdie vryheidsbegrip in ʼn meer individualistiese rigting gestuur – in denkskole soos die Skeptisisme, Epikuriërs en die Stoïsyne. Van hierdie drie is laasgenoemde die belangrikste wat ook Paulus se begrip van vryheid – in sy interpretering van die betekenis van Christus in die Nuwe Testament – beïnvloed het.

Die Christelike begrip van vryheid bevat dus ook elemente van die vrye mens, maar iemand wat sy of haar vryheid met verantwoordelikheid uitoefen. Hierdie begrip van vryheid het via Augustinus uiteindelik in die Protestantisme van Luther en Calvyn uitgemond. Hier is die stelreëls: Vryheid met verantwoordelikheid en waaksaamheid wat menslike hubris aanbetref.

Die vryheidsbegrip volg dan ʼn moderne trajek waar die Franse Rewolusie ʼn deurslaggewende gebeurtenis is, met denkers soos Burke en Payne wat verskillende posisies inneem en iemand soos Tocqueville wat tot ʼn groot mate by Burke se meer behoudende posisie aansluit.

‘n Uitbeelding van die Franse Rewolusie in die ikoniese skildery “Liberty Leading the People” (Foto: Wikipedia)

Vir doeleindes van dié bydrae wil ek egter met die moderne opvatting van vryheid in gedagte, meer spesifiek na die konteks van Afrikaners in Suid-Afrika beweeg.

Teen die laat 1830’s het ʼn aantal vryburgers, wat in die noord-oostelike gedeelte van die Kaapkolonie gebly het, besluit om hulle van die Britse gesag vry te maak. In die proses het hulle landgenote, wat agtergebly het, Britse onderdane in die Kaap gebly sonder om hul kerk of hul Nederlands-Afrikaanse taal op te gee – twee hoekstene van ʼn selfstandige gemeenskap en kultuur. Die landverhuisers het ʼn lang geskiedenis van vryheidsoeke gehad.

Die eerste roeringe van ʼn soeke na onafhanklikheid – die sogenaamde Patriot-beweging van die laat 1770’s (teen die Nederlandse VOC owerheid) – het tydens die Britse kolonisasie van die Kaap al hoe sterker geword en bygedra tot die noordelike beweging van mense wat bekend staan ​​as die Groot Trek. Dit was veral die ervaring van vervreemding, om ʼn gekoloniseerde kolonis te wees, wat tot ʼn sterk begeerte na individuele en kollektiewe vryheid bygedra het. Dit moet gesien word as ʼn weergawe van positiewe vryheid eerder as negatiewe vryheid – ʼn bekende onderskeid wat die politieke filosoof Isaiah Berlin in ʼn beroemde essay, in die laat-1950’s, maak en verder deur Michael Sandel uitgebrei is.

Pierneef se skildery “Die Groot Trek” (Foto: Wikipedia)

Negatiewe vryheid beteken vryheid van eksterne inmenging, wat Sandel die ongebonde self (“unencumbered self”) noem. Hier gaan dit oor maksimum vryheid – die maksimum vryheid van die individu teenoor sy of haar omgewing. Dit is ʼn begrip van vryheid wat baie Afrikaners deesdae volg, soos baie Westerlinge elders. Hierteenoor is positiewe vryheid die vryheid om ʼn spesifieke lewe te leef – of om ʼn vrye lewe te kan leef. (In sy weergawe verwys Ernst Roets heel interessant na positiewe vryheid as vervullende vryheid).

In sy beroemde essay skryf Berlin (1984: 22) dat die positiewe opvatting van vryheid (“liberty”) nie na vore kom nie “… if we try to answer the question… ‘What am I free to do or be?’, butBy whom am I ruled?or ‘Who is to say what I am, and what I am not, to be or do?’” In die lig van die aanhaling is die verhouding tussen individuele vryheid en demokrasie dus meer kompleks as wat baie mense dink.

Hoewel Berlin uiteindelik heel versigtig negatiewe vryheid bo positiewe vryheid kies, bied Michael Sandel ʼn gekwalifiseerde weergawe van dié onderskeid aan in sy werk vanaf die 1980’s. Met verwysing na Hegel se argumente teen Kant, sluit positiewe vryheid in ʼn sekere sin by kommunitêre kritici van die moderne (regte-gebaseerde) liberalisme aan. Hier word die aanspraak op die prioriteit van regte bo die goeie bevraagteken – en die beeld van die keuse-vrye individu wat daardeur beliggaam word.

Michael Sandel doseer politieke filosofie aan die Harvard Universiteit. Sy werke oor geregtigheid, etiek, demokrasie en markte is al in 27 tale vertaal. (Foto: Harvard)

In aansluiting by Aristoteles is die argument dat ons nie politieke gebeure kan regverdig sonder verwysings na gemeenskaplike doeleindes nie, en dat ons nie ons persoonlike lewe kan bedink sonder om na ons rol as burgers en deelnemers aan ʼn gemeenskaplike lewe te verwys nie.

Sandel (1984: 9) se interessante bydrae is dat hy tussen ʼn ongebonde self (“unencumbered self”) en ʼn gesitueerde, narratiewe en gebonde (“encumbered”) self verwys. “I am situated from the start, embedded in a history which locates me among others, and implicates my good in the good of the communities whose stories I share.”

Soortgelyk aan Gadamer se konsep van die hermeneutiese self in sy filosofiese hermeneutiek, is hier nie van ʼn persoonlike self in isolasie sprake nie, maar een wat dialogies met ander verbind is – en wat eerder deur die algemene goeie as abstrakte regte beïnvloed word. ʼn Mens sou kon argumenteer dat die Afrikaners van die Patriot-beweging (in die 18de eeu), die Voortrekkers en die burgers van die Oranje-Vrystaat en die Suid-Afrikaanse Republiek (in die 19de eeu) volgens die begrip van positiewe vryheid – ʼn gebonde, gesitueerde en hermeneutiese self – soos deur Sandel verwoord, geleef het.

‘n Kaart van die Boererepublieke (Foto: Wikipedia)

ʼn Mens sou ook kon argumenteer dat die oorgrote meerderheid Afrikaners van die 20ste eeu, deur middel van ʼn verskeidenheid van instellings, eerder in die positiewe as negatiewe opvatting van vryheid tuisgevoel het.

Die merkwaardige is egter dat ʼn groot deel van die Afrikaner-elites in die 1980’s na ʼn begrip van negatiewe vryheid en individuele regte beweeg het. Op hierdie grondslag het die NP ook die onderhandelinge met die ANC gevoer, wat na 1994 op die nuwe staat en Grondwet uitgeloop het.

Die ouer opvatting van positiewe of vervullende vryheid het egter nie daarmee verdwyn nie, maar het deur die skepping van nuwe instellings en die argumente van die intellektuele ʼn nuwe lewenskrag gekry. ʼn Mens kan maar net jou oë oophou en ore spits en jy sal die begrip van positiewe vryheid onder hedendaagse leiers in die Afrikaanse wêreld opmerk.

Die uitdaging is nou om die verwikkelde verhouding tussen negatiewe en vervullende vryheid so goed as moontlik te kommunikeer en te debatteer in gemeenskapsverband, die Suid-Afrikaanse konteks en op internasionale gebied. Hierdie is ʼn kwessie wat ons almal se aandag vereis.

Bronne:

Berlin, I. 1984. ‘Two Concepts of Liberty.’ In: Liberalism and its Critics, edited by Michael Sandel. Oxford: Blackwell.

Sandel, M. (ed.) 1984. Liberalism and its Critics. Oxford: Blackwell.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Duvenage

Prof. Pieter Duvenage is die dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Afrikaner se vryheidsdenke behoort ook vanuit ‘n oorlewingshoek beskou te word. Ons is ongeveer 4% van die bevolking van ‘n land wat besig is om te vervreem van die weste en hul filosofiese denke. Amerikaners en Wes Europiërs begin al hoe meer om na Suid Afrika te verwys as ‘n mislukte staat. Dis waarskynlik as “straf” vir ons verbintenis met Rusland, China, Iran, Kuba en vele ander. Dit plaas Afrikaners toenemend in ‘n onhuidhoudbare situasie waar keuses gemaak moet word. En dis ‘n tammeletjie wat veel meer praktiese aksies vereis as ‘n filosofiese redenasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.