Vryheid uit verset

Deur Monica Mynhardt

Piet Retief.

In die vroeë 1800’s het klein groepies boere stuk-stuk uit die Kaapkolonie noordwaarts begin trek. Talle vrae het geheers oor die redes waarom boere die sekerheid van ’n Britse regering sou verlaat op soek na die moontlikheid van iets beter in die onbekende noorde.

In sy manifes van 1837 voorsien Piet Retief die redes vir die trek. Diegene wat besluit het om die kolonie te verlaat, was op soek na gelukkiger, rustiger en vryer lewens.

Hierdie was egter nie ’n vreemde stap vir die boere nie. ’n Onblusbare hunkering na vryheid was nog altyd kern aan die wese van die Afrikaner.

Deur die geskiedenis heen het dit in verskeie vorme vergestalting gevind. Dit vorm ’n groot deel van die rede waarom ons voorvaders aanvanklik na Afrika gekom het. Dit was die dryfveer agter die Groot Trek. Dit het ons in twee vryheidsoorloë met die Britte gedompel. Dit het ons selfs gedryf tot die belofte dat óns sál regeer, sodat geen ander volk ons ooit weer onderdruk soos wat die Britte gedoen het nie. Ons drang na vryheid het ons grootste suksesse tot gevolg gehad; asook ons grootste foute.

In welke vorm dit ook al oor meer as 300 jaar vergestalt het, was dit altyd met ons – selfs in die tye wat ons skynbaar daarvan vergeet het.

Gedurende die afgelope 25 jaar is ons deur allerlei stukke wetgewing en maatreëls absoluut onderworpe aan die magtige staat gestel. Hierdie geleidelike verdrukking het met sielkundige mishandeling gepaardgegaan. Dit het tot gevolg gehad dat ons óf vergeet het van ons drang na vryheid óf te skuldig gevoel het om dit uit te leef óf geen ruimte meer gehad het om so te maak nie.

Hierdie onophoudelike vlaag maatreëls vanuit die regering het so ook met die huidige krisis nie opgehou nie. Inteendeel. Hulle het dit eerder gesien as ’n gulde geleentheid om hul magte uit te brei.

Een ding wat egter vinnig duidelik geword het, is dat die regering nie net daarin belangstel om die krisis af te weer nie, maar ook om dit tot hul eie voordeel aan te wend. Die arbitrêre en absurde aard van hul maatreëls, het net vererger met die verloop van tyd.

Teen einde Maart was Suid-Afrika een van net 30 uit 139 lande in die wêreld wat die strengste moontlike inperkingsmaatreëls ingestel het met ’n sogenaamde stringency index van 100 volgens die Universiteit van Oxford. Die regering kon in wêreldterme dus nie strenger maatreëls toepas as wat hulle het nie. Die VN het die regering boonop kasty oor die toksiese wyse waarop hulle hierdie maatreëls probeer afdwing.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: @KhuselaS/Twitter

Verlede Donderdag het president Cyril Ramaphosa aangekondig dat ons vanaf Mei ’n oorgangsfase sal betree om mettertyd terug te keer na ’n nuwe normaal. Hierdie oorgangsfase het beloof om in vyf verskillende vlakke landwyd toegepas te word na gelang van die risiko’s in verskillende provinsies en streke. Hoewel die verskillende vlakke verskillende mates van inperking sou fasiliteer, is die een onderliggende ding aan al die vlakke dat dit ’n algehele verslapping van die streng vlak 5-inperkingstaat is. Die hele land sou op 1 Mei op vlak 4 geplaas word, met verskillende provinsies wat mettertyd op grond van ’n risiko-gebaseerde aanslag na laer vlakke geskuif word.

Namate die ministers die nuwe regulasies aangekondig het, het die veronderstelde verslapte vlak 4 al meer na ’n slenter van die regering begin lyk.

Buiten die feit dat die regering talle van die reeds bestaande regulasies net gehou het, het hul absurde bykomende maatreëls aangekondig. Sonder om hulself aan die onnodige rompslomp van billike prosedures te steur, het die regering talle aspekte van ’n de facto-noodtoestand in die land geïmplementeer.

Die eerste opspraakwekkende stap was om ’n aandklokreël tussen 20:00 en 05:00 tot en met vlak 2 in te stel. Verder is dit verpligtend gemaak om gesigsmaskers te dra te alle tye, reg oor die land en op enigeen van die vier vlakke.

Een van die versoeke wat duisende mense aan die regering gerig het, is om regulasies ten opsigte van oefening te verslap. Minister Nkosazana Dlamini-Zuma het aangekondig dat mense slegs binne ’n 5km-radius van hul huise mag oefen en ook slegs tussen 06:00 en 09:00 soggens. Die absolute arbitrêre aard van hierdie sogenaamde verslapping, spreek van ’n regering wat nie net omgee oor die bekamping van die virus nie, maar eerder oor die uitbrei van eie magte.

Ten spyte van ’n aanvanklike aankondiging wat die verkoop van sigarette en ander tabakprodukte sou toelaat, het die regering gister aangekondig dat hierdie verbod nog nie afgeskaf gaan word nie. Die rede hiervoor is dat dit in mense se beste belang is, aangesien rook nadelig is vir ’n mens se longe, maar ook omdat mense dikwels sigarette deel. Verder het 2 000 mense in publieke kommentaar klaarblyklik teenstand gebied teen die afskaffing van die verbod – asof die regering ’n geskiedenis daarvan het om hulself aan openbare kommentaar te steur! Toevallig het dit in hierdie geval maar net ooreengestem met wat hulle buitendien van plan was om te doen.

Ebrahim Patel.

Hoewel verskeie sektore en besighede op vlak 4 kan oopmaak, het minister Ebrahim Patel aanvanklik aangekondig dat maatskappye wat van e-handel gebruik maak, soos Takealot, nie toegelaat moet word om handel te dryf nie. Volgens hom bied hierdie maatskappye se aard hulle ’n onregverdige voordeel bo ander wat nie van aanlyndienste en aflewering gebruik kan maak nie. Gisteraand het hy teësinnig aangekondig dat hierdie maatskappye wel mag oopmaak, maar dat hy sal bepaal wanneer, wie en in watter mate hulle mag funksioneer.

Hoewel die regering sover die verskillende maatreëls vir die verskillende vlakke aangekondig het, is daar nog geen duidelikheid oor watter provinsies of streke op watter vlakke gaan funksioneer nie. Vir die voorsienbare toekoms gaan die hele land dus op vlak vier wees. Indien ’n mens in ag neem dat die regering provinsies moeilik van laer na hoër vlakke terug sal kan skuif, gaan hulle waarskynlik ook uiters skugter wees om provinsies in die eerste plek van vlak vier af te skuif.

Tydens die regering se mediakonferensie van eergisteraand het hulle herhaaldelik klem daarop gelê dat hierdie maatreëls nie drakonies is nie. Die feit dat hulle dit herhaaldelik moes sê, dui egter daarop dat hul dade lank reeds van die teendeel spreek.

Met die verloop van die staat van algehele afsondering het die regering se optrede ons toenemend ongemaklik laat voel. Hoe meer en strenger maatreëls hulle aankondig, hoe meer besef ons stadigaan dat hierdie nié die tipe oorheersing is wat ons bereid is om te duld nie.

’n Strewe na vryheid wat vir jare lank stilgemaak is, is langsamerhand besig om terug te keer.

Piet Retief het 183 jaar gelede verklaar waarom die boere die Kaapkolonie wou verlaat. Die Groot Trek het nie begin met ’n gekoördineerde en eensklapse uittog van honderde gesinne nie.

Hulle was ook nie daarop uit om enigeen omver te werp of oorrompel nie. Dit was eerder vanuit ’n diepe ontevredenheid met hul omstandighede dat hulle op soek was na vrede, geluk en vryheid. Dít het hulle hulself gegun.

’n Verset teen verdrukking begin selde in ’n georganiseerde massa. Dit begin eerder met ’n onthou van dit wat jy is en nog altyd was. Ons voorvaders was Westerlinge wat vryheid in ’n ongerepte Afrika kom soek het. Ons is vandag hier omdat hulle dit gevind het.

Retief het sy manifes met die volgende afgesluit:

“Ons verlaat nou die vrugbare land van ons geboorte, waar ons groot verliese en voortdurende ergernis moes ly, en betree ‘n wilde en gevaarlike gebied; maar ons gaan met ‘n vaste vertroue op ‘n alsiende, regverdige en barmhartige Wese, wie ons sal strewe om te vrees en nederig te gehoorsaam.”

  • Monica Mynhardt is ‘n navorser by die Solidariteit Bewegingstrust. 

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cleopatra69 ·

Word Orania ook onderwerp aan dieselfde voorwaardes as die res van suid afrika?

SomeOne ·

daars voowaar ‘n groot probleem, ons voorsate het getrek om vryheid te kry, waarheen gaan ons trek om VRYHEID te kry, alles om ons is klaar beset met onderdrukkers

Zacharias ·

Dis maklik,
1. dit gaan nognie swaar genoeg met ons nie!
2. Die watter word nét stadig genoeg warm gemaak.
3. Ons het almal in sneeuvlokkies verander.

Blommetjie404 ·

Noord Kaap hier kom ons… Gee ons ‘n tuisland en laat ons almal maar trek en van voor af begin, ons is ‘n opstaan nasie wat weer van voor af kan begin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.