Vryheid van spraak is demokraties

Argieffoto

Argieffoto

Dit is verstommend om nog in die jaar van onse Here, 2016, op ʼn Afrikaanse webwerf te moet skryf, maar die vryheid van spraak, wat in ons grondwet veranker is, kom steeds al meer onder druk. Nie net in Suid-Afrika nie; wêreldwyd.

Ene Johan de Villiers, wat beskryf word as “van die African-European Indaba, ʼn gemeenskap van mense van Afrika wat in Europa woon”, het luidens berigte pas probeer om te verhinder dat die sanger Steve Hofmeyr ʼn toespraak oor die Afrikaners in ʼn restaurant in Den Haag hou. Hofmeyr het wel gepraat, maar in ʼn ander restaurant in Scheveningen, die kusdorp net langs Den Haag.

Ek is geen besondere aanhanger van Hofmeyr nie (en ook nie van sy Nederlandse gasheer, Martin Bosma van die regs-populistiese Partij voor de Vrijheid nie) maar die inhoud van sy oortuigings is nie in dié rubriek ter sprake nie. Sy regte wel.

In 2005 het Max du Preez, Yvonne Malan en Annie Gagiano probeer keer dat Dan Roodt, die baas van die ekstreemregse organisasie Praag, op die rand van die Stellenbosch Woordfees optree. Na aanleiding daarvan het ek in Die Burger (25 Februarie 2005) geskryf: “In die demokrasie moet ʼn mens ʼn prinsipiële verskil tref tussen iemand se oortuigings en sy regte. Roodt se oortuigings is sýne. Op die – soos Johannes Degenaar dit genoem het – markplein van meningswisseling kan jy hom toejuig of uitjou.

“Maar Roodt se régte is nie net sýne nie. Dis ook mý regte – en, ja, my vriend, ook jóú regte, jy wat vind dat ek die vryheid van die demokrasie met my skryfsels misbruik.” (Dit was ʼn verwysing na die verwyt van ʼn verloopte oud-kollega wat altyd sy mond uitspoel oor alles.)

“Demokratiese regte is ondeelbaar. As Roodt se regte aangetas of ingeperk word, word ook Scholtz sʼn aangetas en ingeperk, saam met dié van ons almal.”

Egte demokratiese verdraagsaamheid beteken jy moet ruimte maak vir menings wat jou teen die bors stuit – ja, selfs vir dié wat jou walg. Die Suid-Afrikaanse reg maak tereg slegs twee uitsonderings: laster (waarvoor die verdraagsaamheid in ons regspraak tans taamlik groot is) en haatspraak. As ʼn mens die Grondwet, veral art. 16(2), en art. 10 van die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onregverdige Diskriminasie saamlees, is daar een element wat bepalend is by die vraag of iets haatspraak is, te wete dreig met leed of geweld.

Die gerespekteerde Britse nuustydskrif The Economist wy toevallig in sy jongste uitgawe ʼn hoofartikel aan die vryheid van spraak. Dit word, heel treffend, só afgesluit: “Never try to silence views with which you disagree. Answer objectionable speech with more speech. Win the argument without resorting to force. And grow a tougher hide.”

Teen dié agtergrond getuig dit nie van ʼn egte begrip van die demokrasie wanneer mense soos Johan de Villiers (van wie ek nog nooit gehoor het nie) Hofmeyr probeer verhinder om ʼn toespraak in Nederland te lewer nie. Dat dit gedoen is juis in die naam van die demokrasie, laat ʼn wrang smaak.

In dieselfde uitgawe kyk The Economist ook na op die vlaag protes wat Amerikaanse en Britse kampusse tans beleef (en wat ook na Suid-Afrika oorgewaai het). As jy die motiewe van die opstandige studente goed ontleed, kom dit híerop neer: Hulle beweer die vryheid van spraak vir ánder (waarvan die inhoud na hul mening rassisties is) laat hulle beledig voel en hulle eis dus dat die kampus dit moet voorkom.

As die studente moet kies tussen spraakvryheid en die reg om nie beledig te word nie, kies hulle laasgenoemde. Dis wat essensieël ook op Suid-Afrikaanse kampusse gebeur: die uitgooi van menslike ontlasting oor standbeelde, die gewelddadige ontwrigting van klasse en toetse, die dreigement om chaos se saai op kampusse waar Afrikaans voorkom – dis alles fundamenteel ondemokraties.

Want, soos The Economist ook uitwys, dit bly nie net op kampusse nie. Wat dáár gebeur, spoel oor na die res van die samelewing. Die waarheid hiervan sien ons tans in die parlement, waar die EFF hul speelgoed uit die kot gooi elke keer as pres. Jacob Zuma daar ʼn toespraak wil hou.

Moenie my verkeerd verstaan nie: Dis geen pleidooi vir Zuma of sy oortuigings nie. Dis wel ʼn pleidooi vir die demokrasie – iets heel anders.

Daar is natuurlik ook ʼn ander kant van die munt. As iets nie téén die wet is nie, beteken dit nie jy móét dit doen nie.

Vergewe my as ek dit aan die hand van ʼn ietwat onwelriekende voorbeeld illustreer. Dis nie teen die wet om ʼn luide stink wind in ʼn beskaafde geselskap te laat nie; niemand gaan jou voor die hof daag nie en geen landdros sal jou skuldig bevind nie.

Maar dit beteken nie dis rég om dit te doen nie. Dieselfde geld vir platvloersheid en opsetlike beledigings. Jy mág dit doen. Maar móét jy?

Vroeër is allerlei onbewese menings, wat in sommige kringe as onmanierlik beskou sou word, oor ʼn bier in die kroeg of langs die braaivleisvuur gelug. Dit het nie verder gegaan nie.

Deesdae dink elke Jan Rap en sy maat hulle kan enigiets onder die son op die sosiale media uitspuit. Maak nie saak hoe beledigend, ploertig of onbewese die stellings is nie, baie mense laat waai eenvoudig asof daar geen remme is nie.

Ek kyk soms na die reaksies onderaan my artikels. Sommige mense verskil met my, maar doen dit rasioneel en manierlik; ander gil, skreeu en vra wat het ek vanoggend gerook? Ek het ʼn dik vel teen sulke beledigings gekry. Dit sê alles oor daardie mense en niks oor my nie.

Waarvoor hier gepleit word, is vryheid van spraak (binne die twee beperkings van ons reg), maar met die gebruik van selfbeheersing. Vryheid bring immers ook verantwoordelikheid mee; dit moet gepaard gaan met pligte, anders ontaard dit in chaos en anargie (soos die EFF maak).

Kom ons laat Steve Hofmeyr én Julius Malema praat sonder om hulle te probeer verhinder. Kom ons antwoord hulle – waar ons met hulle verskil – met hoflikheid en bowenal met beter argumente.

Die antwoord lê op die markplein van idees, by beskaafde debatvoering. Nie by pogings om mense se monde te snoer nie. En ook nie by platvloersheid nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

FRANCOIS ·

Stem 100% saam, wou ook graag weet wie is Johan de Villiers en bly hy hier in Suid Afrika ?

Theuns ·

Leopold jou kommentaar is reguit en op die man af. Dankie vir jou eerlike kommentaar. Hoop nie jy gee om nie maar ek noem jou en Herman Toerien Maroela se “Boodskappers”.Ek sien elke dag uit om julle kommentare te lees. Mooi loop.

Rupert Ashford ·

Goed geskryf Leopold. Vryheid van spraak soos jy dit hier beskryf is tans oor die hele weste besig om onder geweldige druk te verkeer nogal in die naam van demokrasie. Ons moet katvoet loop…

Jordaan ·

Indien dit so is dat vryheid van spraak slegs beperk word deur laster of haatspraak, en indien haatspraak so geag word agv dreigement van geweld, word rassisme dan ook teen die twee beperkinge gemeet om te bepaal of dit toelaatbare vryheid is? Dit blyk nie die geval te wees nie?

Leendert van Oostrum ·

Die idee dat sommige idees onderdruk kan word in die naam van “vryheid” is al reeds sedert die jare vyftig en sestig met ons. Een van die groot manne van die Frankfutershule (ek vergeet watter een) het die idee voorgestaan dat die vrheid van ‘n dominante groep onderdruk kan word deur ‘n “verontregte” groep.

Wat Malema doen is dus maar net deel van die Neo-Marxistiese revolusie. Meer spesifiek: Die “National Democratic Revolution” waarvoor Malema hom hartlik beywer.

Deesdae gaan die ANC/EFF openlik te werk met hul revolusionêre mikpunte. Of ons al verstaan wat dit alles inhou betwyfel ek as ek kyk na die beriggewing op Maroela Media. Maar Dr Scholtz sal miskien onthou hoe ‘n “liberale” of ten minste “verdraagsame” Afrikaanse internet-gesprekgroep (“Groep van 63”) deur sy skeppers vernietig is omdat iemand dit gewaag het om die aandag te vestig op die bestaan en aard van die NDR, en ander dit nie wou hoor nie.

Vryheid van spraak? Nie by Malema nie en ook nie by ons “verdraagsame” Afrikanerseders nie. In SA was en is demokrasie ‘n hersenskim.

Johan de Villiers ·

Leopold Scholtz as joernalis het sekerlik nie opgelet nie……. Ek het 2 meter van hom af pamflette uitgedeel binne die Nederlandse parlementsgebou op 5 Desember 2012 toe Kallie Kriel daar saam met Koos Malan van UP met die PVV gepraat het. Algemeen Dagblad van Nederland het ‘n onderhoud met my gevoer en die Volkskrant het ook daaroor verslag gedoen. Maar Media24 se man het liewers besluit om agter Kriel en die PVV se Bosma aan te stap na die koffieplek….
Verlede jaar was daar wyd in Nederland en SA berig oor my aandeel in die Hofmeyr-kansellasie in Amersfoort, NL. Leopold Scholtz het dus net homself te blameer dat hy nie up to date is nie.

Leopold Scholtz ·

Beste Johan, ek aanvaar die korrektheid van jou geheue. Die verwysing waarop jy antwoord, is egter maar ‘n terloopse opmerking in my artikel. In alle nugterheid, kom ons bespreek die sentrale punte wat ek noem. Lekker dag vir jou.

Leeukuil ·

Dagsê Leopold. Net een opmerking. As jy Dan se Praag, as ‘n ” ekstreemregse organisasie” beskou, dan is jy “ultra-links” van waar ek (en die kringe waar ek in beweeg) staan. Uit my verwysingsraamwerk is Johan de Villiers dan seker “hiper-pienk”. Daarby het ek gedog ek is ” matig-behoudend”. Alles is beslis relatief. Dit is verseker vir my ‘n wekroep ,want ek meen toe nog altyd dat Praag net “effe-konserwatief” is. Groete.

johann brits ·

Ek dank jou vir hierdie artikel-net jammer ons moet gereeld ook na die President luister!Gelukkig weet ons hy spreek nie regtig sy eie opinies uit nie,sy ‘speeches’ word gedikteer deur ander.Eintlik bejammerswaardig

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.