Vryheid, verant­woordelik­heid en menslikheid

vryheid

Foto: Helpwiththetoughquestions.com

Wat is vryheid? Hoe ver strek dit? Wat is die verskil tussen vryheid en wetteloosheid?

Dié vrae was 500 jaar gelede in die Duitsland waarin Martin Luther geleef het net so aktueel as in die huidige Suid-Afrika waar misdaad op alle vlakke, van voetsoolvlak tot in die regering, floreer.

Dit was Dinsdag, 31 Oktober, presies 500 jaar gelede dat Martin Luther sy 95 stellings bekendgemaak het in ’n poging om ’n dialoog in die destydse Rooms-Katolieke Kerk tot stand te bring. Die poging het misluk, en Luther het geëindig waar hy nie werklik wou nie – by die stigting van ’n nuwe kerk.

Wat Luther nie kon weet nie, is dat sy opstand die Europese en wêreldgeskiedenis ingrypend sou beïnvloed. Deurdat hy vernuftig van die boekdrukkuns – in sy tyd ewe revolusionêr as die internet vandag – gebruik gemaak het en bowendien in Duits, pleks van Latyn, geskryf het, het hy ’n proses aan die gang gesit wat in die loop van die 19de en 20ste eeu op die moderne liberale demokrasie sou uitloop.

Een van Luther se invloedrykste geskrifte was ’n pamflet uit 1520, Von der Freiheit eines Christenmenschen (“Oor die vryheid van ’n Christenmens”). Hy bou sy betoog op twee stellings wat retories vernuftig teenoor mekaar gestel word:

  • ’n Christenmens is ’n vrye heer oor alle dinge en niemand se onderdaan nie.
  • ’n Christenmens is ’n diensbare kneg van alle dinge en almal se onderdaan.

Wat Luther hier en in die res van die pamflet betoog (my woorde, nie syne nie) is dat die vraag nie slegs is vryheid van nie, maar vryheid tot.

Ons sien vryheid te dikwels as ván verdrukking of onreg – wat dit natuurlik óók is, maar dis meer as dit. Luther sien vryheid ook as die plig om jou medemens en die samelewing te dien.

Kom ek verduidelik na aanleiding van ’n praktiese voorbeeld: In my loopbaan as joernalis het ek dikwels van naby aanskou hoe sekere boontjietellers en medejoernaliste (gelukkig verreweg nie almal nie) die koerant se hooftaak gesien het as die genereer van wins, wins en nog meer wins. “Die koerant bestaan om wins te maak, of jy dit nou erken of nie,” het een só ’n bestuurder – wat in ’n stadium nogal ’n ouderling was – op ’n keer aan my gesê.

My teenargument was deurgaans – ja, natúúrlik moet koerante wins maak, laat ons nie naïef wees nie. As ons nie wins maak nie, hou ons op bestaan. Dis só eenvoudig. Maar wins is nie ons bestaansrede nie. Ons bestaansrede is diens, wat wissel van die plaas van die weervoorspelling en beurspryse tot plaaslike, politieke en internasionale nuus.

Op dié manier bemagtig ons ons lesers om hul eie besluite te neem. En ja, uiteraard maak ons in die proses foute, soms ernstig. Maar meestal doen ons ons bes.

Luther het ook die struktuur van die nuwe reformatoriese kerk heel anders as dié van die streng hiërargiese opbou van die Rooms-Katolieke Kerk gemaak. Die struktuur is “plat” – demokraties, as ’n mens dié begrip op die tyd van die Renaissance kan toepas.

Dit is verder uitgewerk deur Johannes Calvyn, aan wie die gereformeerde kerke wêreldwyd hul struktuur te danke het. Hy het bepaal dat die kerk nie by sinodes, klassisse of ringe gesoek moet word nie, maar primêr op voetsoolvlak by die gemeentes.

Maar die Calviniste het sake ook verder gevat. Calvyn het gemeen die “laer magistrate” mag hulle teen die bevele van ’n goddelose owerheid verset.

Onder sy opvolgers is dit mettertyd uitgewerk tot die plig om teen ’n goddelose owerheid in opstand te kom. Dit was hierop dat protestantse teoloë soos Martin Niemöller, Karl Barth, Kaj Munk en Dietrich Bonnhoeffer gebou het in hul opstand teen Adolf Hitler.

In Bonnhoeffer se geval het dit selfs medewerking aan die mislukte moordaanslag op Hitler op 20 Julie 1944 ingesluit. Daarvoor het Bonnhoeffer met sy lewe betaal.

Wat sê dit nou alles vir Suid-Afrikaners wat in die jaar van onse Here 2017 aan die suidpunt van Afrika leef?

Suid-Afrika het ’n land geword waar vryheid klaarblyklik insluit die reg om te beroof, te vermoor, te martel. Waar jy die reg het om jou posisie van invloed te gebruik om te “eet”, ofte wel om omgekoop te word en jou mag te misbruik.

Die beriggewing in die Sunday Times van die laaste twee weke dui op ’n staatshoof – pres. Jacob Zuma – wat haas geen grense in sy grypsug en selfverryking ken nie. As die bewerings waar is, klou Zuma verbete aan die mag vas om die miljoene wat hy reeds ontvang het, verder aan te vul.

En dan het hy die durf om God se naam ydellik te gebruik om sy party se plunderings te regverdig!

As Martin Luther en Johannes Calvyn vandag in Suid-Afrika sou verskyn, sou hulle vol afsku terugdeins en hard weghardloop. Om van die teologiese helde uit die Hitler-tyd nie eens te praat nie.

Vryheid beteken nie bandeloosheid nie. Dit beteken nie dat daar geen grense is nie. Vryheid beteken nie dat ’n misdadiger die reg het om ’n afgeleë plaasopstal te oorval en die inwoners wreed te vermoor nie. Dit beteken nie dat politici die reg het om ten koste van die armes te “eet” nie.

Dit beteken wel dat diegene wat in verantwoordelike posisies aangestel of verkies is – politici, kerklui, amptenare, sakelui, joernaliste, noem maar op – hul vermoëns in belang van die samelewing moet inspan en nie net op kort termyn na hul eie sakke kyk nie.

In teenstelling met sommige van sy tydgenote het Calvyn geen beswaar gehad teen besittings nie. Wat vir hom wel van belang was, was hóé jy daardie besit verwerf het, en wát jy daarmee doen.

Het jy eerlik vir jou geld gewerk? Geniet dit dan; jy het dit verdien. Het jy die samelewing in die proses sowel finansieel as geestelik verryk? Dan is dit in orde.

Die kommunisme is ’n ideologie wat oorspronklik op ’n hoë vlak van moraliteit gebou was. Ongelukkig is dit ’n onhaalbare stelsel wat net afgedwing kan word, wat beteken dat selfs Luther en Calvyn se dienende vryheid onmoontlik word.

Maar wat die kommunisme en die ongebreidelde kapitalisme gemeen het, is dat albei die belang van die méns ignoreer.

Dis nie net kommuniste wat die vyand van die kapitalisme is nie. Die rykste kapitaliste is dalk nog groter vyande van die vrye mark.

Leer liewer by Luther en Calvyn!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Ou Vry Vrydenker Vlakvark @ Verantwoordelikheid.Medemenslikheid ·

Beste Leopold, ‘n baie goeie holistiese artikel.

Die GOUE driebeenpot van vrede, geluk en voorspoed: Vryheid MET verantwoordelikheid EN MEDE-menslikheid.

Ongelukkig leef ons in ‘n wêreld met ‘n ongebreidelde bevolkingsaanwas en afnemende bronne: dit gaan toenemend wees ‘n stryd en kompetisie om bronne ter oorlewing – die wet van die natuur. Ons is en bly maar almal soogdiere onderhewig aan die natuurwette.

Heinrich ·

Probleem met die klomp kleptokrate is dat hulle slegs weet van die Christelike geloof, maar dit glad nie toepas nie en geen verhouding met die Lewende God het nie. Hulle weergawe van geloof het die voorvadergeeste “add-on” wat ‘n nogal sterk invloed het op hulle denkwyses. Hulle weet genoeg om Christelike liefde aan te haal maar weet te min om Christelike liefde toe te pas.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.