Vryheid vra verantwoordelikheid

Dit was met ʼn siddering wat ek die onderstaande lees in The Star van 11 Augustus 2011.

Dit is ‘n groot, amorele, gebrutaliseerde sub-kultuur van ​​jong mense met ʼn gebrek aan onderwys, want hulle het nie ‘n wil om te leer, en vaardighede wat dit moontlik maak om hulle in diens te neem nie. Hulle is te lui om te werk as kelnerin of om huishoudelike arbeid te verrig, wat die rede is waarom byna al hierdie werksgeleenthede gevul word deur immigrante.

Foto: Facebook

Hulle het geen waardekode wat hulle sal laat afsien van anti-sosiale gedrag of selfs kriminele gedrag nie en daar is maar ʼn geringe kans dat hulle gestraf sal word as hulle dit doen.

Hulle het geen sin van verantwoordelikheid teenoor hulself nie wat nog te sê van ander en beplan nie verder in die toekoms in as die volgende maaltyd, seksuele ontmoeting of TV-sokker wedstryd nie.

Hulle is ‘n absolute dooie gewig vir die samelewing, want hulle dra niks by nie, maar kos die belastingbetaler miljarde. Die liberale mening is dat hulle slagoffers is, omdat die samelewing in gebreke gebly het om aan hulle die geleentheid te bied om hul potensiaal te ontwikkel.

Vir die leser kon dit ʼn beskrywing van die Suid-Afrikaanse jeug gewees het, maar so skryf die rubriekskrywer Max Hastings in die Britse Daily Mail (10 Augustus) na aanleiding van die onlangse opstande in Brittanje.

Die skrywer gaan dan voort en rig die blaam tot ʼn perverse sosiale etos waarin persoonlike vryheid verabsoluteer word en sê dat die Britse jeug die produkte is van ʼn kultuur waarin feitelik alles onvoorwaardelik gegee word.

Vandag in Suid-Afrika staan ons voor die dieselfde dilemma. Al die faktore wat teenwoordig is in Brittanje wat gelei het tot die onluste is netso en selfs meer teenwoordig in Suid-Afrika. Ons plaas so ʼn hoë premie en oordrewe klem op persoonlike vryheid met min of geen persoonlike aanspreeklikheid of verantwoordelikheid nie. Inteendeel die individuele aandrang op regte, of dit nou vryheid van spraak, of enige ander mensereg is, word polities korrek toegestaan maar word die gepaardgaande verantwoordelikheid verswyg. Dit moet ook nie afgemaak word as ʼn wit of swart probleem nie. Vele onderwysers, ook in oorwegend wit skole kan getuig van ʼn totale gebrek aan dissipline waarin gesag openlik uitgetart of uitgedaag word. Kinders ontvang ongekende en onbeperkte blootstelling op TV en deur speletjies en sosiale netwerke met geen ouerlike beheer nie.

Suid-Afrika het een van die hoogste werkloosheidsyfers vir die jeug, naamlik 51%. In sub-Sahara Afrika is die gemiddelde werkloosheid 12% met die wêreld gemiddeld op 13%. Volgens die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) is sowat 14,9 miljoen van Suid-Afrika se geraamde 50 miljoen mense van welsynstoelaes afhanklik. Dit is amper 30% van die bevolking – en so word ʼn afhanklikheidskultuur geskep wat nie volhoubaar is nie. As ʼn teenprestasie behoort ʼn kultuur geskep te word waarin verantwoordelikheidsbesef met ʼn gevolglike groeiende behoefte aan selfhelp. Dit ontbreek egter.

Voeg by bogenoemde die groeiende verbrokkelde huishoudings in Suid-Afrika en ʼn toenemend selfgesentreerde en gefrustreerde generasie is geskep. Dan is hier ook ʼn politieke dinamika wat verreken moet word.

Daarom sal die burgerlike samelewing en media toenemend ʼn kritieke rol moet speel om reeds gevestigde waardes uit te bou en die aandrang op regte te balanseer met die nodige gepaardgaande verantwoordelikhede. Dit is slegs deur verantwoordelikheid te aanvaar vir ons aksies met die besef dat elke besluit wat ons neem en elke aksie bepaalde gevolge het vir die toekoms.

Persoonlike vryheid soos wat ons dit tans sien en beleef in Suid-Afrika skep ʼn kultuur waarin dissipline uitgedaag word, staatsafhanklikheid aan die toeneem is, regte opgeëis word en verantwoordelikhede genegeer word. Persoonlike vryheid kan slegs suksesvol uitgeleef word as kernwaardes soos respek, eerlikheid, lojaliteit, verantwoordelikheid, aanspreeklikheid, geregtigheid, deursigtigheid, demokrasie, en menseregte ingeskerp is. Daarmee saam moet selfrespek en dissipline gevestig word. Maar dit beteken ook selfrespek en erkenning vir wie en wat ek is – en daaruit moet ʼn selftrots ontwikkel. Persoonlike vryheid vereis dus ook persoonlike verantwoordelikheid en dit is ʼn ernstige tekortkoming vandag.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Anoniem ·

Geagte mnr. Bosman,

Ek stem heelhartig saam met u skrywe.  Die beginsel van menseregte sonder menseverantwoordelikhede voed ‘n selfvernietigende verbruikerskultuur.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet stel nie alleen teleur omdat dit onderwerp is aan die interpretasie van die ANC-regering en sy prioriteite nie, maar die beloftes wat dit maak is ook giftig vir ons gemeenskappe.

Afrikaners in die algemeen en die Afrikanerbond spesifiek beskik nie meer oor die vermoë om die Suid-Afrikaanse Grondwet te verander of te beïnvloed nie en moet aanvaar dat die kanse wat wel met die beïndiging van die vorige bedeling bestaan het, liederlik verspeel is. 

Dit is daarom sinneloos om oor die vergane verlede te tob en belangrik om vandag ‘n verskil te maak waar dit wel moontlik is.

In hierdie opsig bied burgerlike instellings, kultuurorganisasies en onafhanklike skole die potensiaal vir Afrikaners spesifiek en alle Suid-Afrikaners in die algemeen om onsself los te maak van die negatiewe invloed van die grondwet en die regering om ‘n omgewing te skep waar ons ten spyte van die grondwet, kan gedy.

Jorik van Suid-Afrika ·

Die koppeling van vryheid met verantwoordelikheid is inderdaad ‘n groot uitdaging; dit is volgens alle historiese gegewens ‘n ingewikkelde saak wat oor geslagte tot stand kom in gemeenskappe, volke en nasies wat dit probeer nastreef. Die skets van die haglike situasie in die land, soos mnr Bosman dit uitnemend hierbo doen, skiet egter tekort aan ‘n ontleding van waar hierdie verval sy oorsprong het. Ons weet almal dat die jeug voorbeelde navolg en deur voorbeelde geïnspireer word. Welke voorbeeld is in die aanloop tot 1994 en daarna gestel – wat sou kon dien om die jeug te oortuig dat vryheid en verantwoordelikheid hand aan hand gaan? Die kreet van “liberation before education” wat sedert die tagtigerjare opgeklink het onder Swart betogers, die invoer van die halssnoermoorde as deel vd “demokratiese rewolusie”, en die afbrand van skole en staatsgeboue het immers die patroon gevestig wat vandag nog voortgesit word in die vakbonde se taktiek, al is die demokratiese rewolusie deurgevoer en die mag volledig verplaas na die Swart meerderheid. Wanneer die nuwe bewind beskou word met sy geskiedenis van korrupsie, versaking van dienste en verantwoordelikhede – kom die boodskap tog duidelik deur: staatsposte en vryheid is bloot die lisensie vir selfverryking, niks anders nie. Wat die Afrikanervolk betref geld byna dieselfde argument: hoeveel is daar werklik omgegee vir die vryheid van die Afrikaners? Op roekelose wyse is die Afrikaners uitgelewer aan die Swart meerderheidstem – sonder enige verantwoordelikheid teenoor die nageslag. Kyk maar wat is die lot van baie Afrikaanse skole en universiteite. As Afrikanerleiers (veral die NP-manne) so min omgegee het vir hulle vryheid, waarom sal die jonger geslag die verantwoordelikheid daarvoor opneem?  Hoeveel maak dit dan werklik saak? Miskien het ons nog nie eens begin om ons land se toestand in historiese konteks te verstaan nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.