Vryspraak: Afrikaners se tweeledige bestaan

Afrikaner

(Argieffoto: Adéle Changuion/Maroela Media)

Twintig jaar gelede, toe ons op die drumpel van die lang voorsiene oorgang na meerderheidsregering staan en dit óórduidelik is dat wit minderheidsregering in Suid-Afrika (wat ons lankal geweet het onvolhoubaar is) op die punt is om te eindig, weet die Afrikaner destyds nie wat om te doen nie.

Linkse Afrikaners wou lankal hulle kultuur losmaak van die politiek, regse Afrikaners het meer in magsbehoud as in volhoubaarheid belanggestel en die middelgroep het gedink dit sal veilig wees om identiteit vir waardes te verruil.

Terugskouend het nie een van die denkwyses ons gehelp om te weet wat om volgende te doen nie – ten minste nie met die oog op die lang termyn nie. Toe doen ons naastenby niks, ons dryf eintlik maar in die stroom af, ons probeer net om nie te sink nie. En het ons toe gesink? Dit hang af hoe ʼn mens daarna kyk; ons is darem nog hier om die storie te vertel – al het dit intussen ʼn afgesaagde storie geword.

Nou is die vraag wat om te doen met die gebroke skikking en die gebroke land. Afrikaners was immers nog altyd lief vir die land – of dit nou die vorm van ʼn republiek, ʼn kolonie, ʼn unie of die RSA aangeneem het, ons was en is lief vir die land. Nie noodwendig vir die staat nie, maar wel vir die land met sy landskappe en kuslyn en mense en tale en kulture – die wêreld in een land, soos die toerisme-advertensie van die 1980’s dit gestel het.

As jy oud genoeg is, dink bietjie terug aan die ligbeeldvertonings wat op Voortrekkerkampe saam met ʼn voordrag van “Die Stem van Suid-Afrika” – verkieslik Anna Neethling Pohl se weergawe – vertoon is. Dié liefde was nie vir ʼn politieke stelsel nie, hoewel ʼn politieke stelsel ʼn enorme uitwerking daarop het. Ek ken byvoorbeeld niemand meer wat met enige erns sal sê: Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jóú, Suid-Afrika nie. Om die waarheid te sê, as politieke konstruk is Suid-Afrika se leeftyd verby, dis eintlik net nog ʼn streeksbenaming soos dit voor 1901 ook was.

As ons dan nóú wil weet wat om te doen, is daar dus twee goed om mee tot grepe te kom. Die een is ʼn verstaanbare maar onvrugbare nostalgie na die goeie ou dae onder die Oranje-Blanje-Blou. Alles was nie sleg nie en alles was nie goed nie, maar belangriker nog, dit kan nie terugkom nie, dit gaan nie help om jou dood te verlang nie. Die ander is ʼn keuse wat ons destyds ook verlam het: Moet ons ons aan Suid-Afrika onttrek of moet ons daarin opgaan? Die punt is, nie een was regtig moontlik nie.

Onttrekking in ʼn volkstaat, selfs aan die hand van goeie buurskap, het ten ene male teen die grein van die meeste Afrikaners se gevestigde belange en lewensomstandighede ingegaan. Terselfdertyd  was ons nie so onmisbaar vir die nuwe bedeling as wat ons gedink het nie – nie omdat die stelsel sonder ons sou kon werk nie, maar omdat die nuwe elite nie omgee of dit werk nie, solank hulle net kan bly skep. Sterre in die oë vir óf die ou óf die nuwe bedeling sal ons dus nie help om beter te sien nie. Ons moet maar ons oë uitvee en sober om ons kyk as ons wil weet wat om te doen.

(Grafika: Verskaf)

Sonder om te dink dat daar ʼn handleiding is vir Wat Afrikaners nou moet doen. is daar een so ʼn sobere waarneming wat ons sal help om die vraag te beantwoord. Dit is dat Afrikaners in die toekoms ʼn tweeledige bestaan gaan voer. Aan die een kant gaan ons mense steeds verspreid oor die hele wêreld, maar ook in Suid Afrika woon – en ons moet maniere vind om desnieteenstaande ons bande van liefde en kultuur te versterk. Aan die ander kant gaan ons, spontaan én planmatig, ons in groter konsentrasies vestig. Daarsonder kan Afrikaners dalk individueel behoue bly, maar sal ons gemeenskapslewe verflou totdat daar niks van oorbly nie.

ʼn Mens hoef net te kyk na wat Orania met 2 000 mense gedoen kry om te weet hoe waardevol ʼn selfstandige gemeenskap is. En dink dan net wat kan ʼn gemeenskap van 20 000 mense vermag, om van 200 000 nie te praat nie! Nie teenoor die Afrikaners in verstrooiing nie, maar in aansluiting daarby en in samehang daarmee. Wat ons egter moet besef, is dat ons ook in Suid-Afrika prakties in verstrooiing is, buiten waar ons planmatig konsentreer.

Hieroor gesels Carel Boshoff en Vaughn Stoman, studentemaat, aktivis, veearts in Engeland en grondeienaar by Orania, Donderdag 11 Maart om 19:00 in die Vryheidstigting se Vrysending op ons Facebookblad, wat daarna op Facebook en YouTube beskikbaar is.

  • Die Vryheidstigting beeldsend Donderdag om 19:00 ʼn gesprek tussen Carel Boshoff en Vaughn Stoman, oor Afrikaners se tweeledige bestaan – verspreid én gekonsentreerd. Die gesprek is daarna op Facebook en YouTube beskikbaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MT ·

Ek het groot waardering vir die puik werk wat julle doen, en die groot tree wat Orania daagliks gee op die pad na volle onafhanklikheid.

Die hartseer werklikheid is egter dat meeste Afrikaners eerder die oppak-en-emmigreer keuse maak vir selfbehoud, en so volledig deel geword het van die groot diasporas van die laaste eeu.

As ek korrek onthou, het ‘n Solidariteitopname getoon dat ongeveer 800,000 Blankes Suid-Afrika die laaste 30 jaar verlaat het. Ek is bewus van die edele pogings om bande met hierdie mense te behou, maar dit vertraag bloot die onafwendbare.

Daar is geen goeie oplossings of maklike keuses meer oor nie.

Terloops, uit my ondervinding en verstaan van die onlangs geskiedenis, het Regse Afrikaners juis in volhoubaarheid belanggestel, en nie soseer in magsbehoud nie. Die behoudendes het juis geweet dat volhoubaarheid sonder enige vorm van mag onmoontlik is.

‘n Kwarteeu van die nuwe Suid-Afrika gee hulle gelyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.