Met die hoogbloei van nasionale inperkings en internasionale pandemie-angs was dit voorspelbaar dat nuwe samesweringsteorieë sou posvat. ‘n Nuwe virus uit China wat die wêreldbevolking bedreig? ‘n Vismark in Wuhan – maar nie te ver van ‘n mediese navorsingsentrum nie? Natuurlik of mensgemaak? Lewensbedreigend in die ergste graad? En wie het in elk geval gedink oorlog sal in ‘n tyd van biotegnologie nog met outydse wapens gevoer word?
Dit is die soort vrae waarop eenvoudige antwoorde nie sonder meer gegee kon word nie, in elk geval nie tot die bevrediging van mense wat eenmaal begin wonder het of alles pluis is in die wêreld. En as jy reeds skepties is oor die owerhede wat jou sekerheid moet gee en die media wat die boodskap dra, dan word ‘n ontkenning so goed as ‘n bevestiging. “Vertrou jy die WGO?” “Waarom dink jy wou Trump Amerika se geld van hulle weerhou?” “Glo jy alles wat die nuuskanale sê?”
En dít is die soort agtergrond waarteen die verbeeldingryke teorie posgevat het dat die nuwe selfoontegnologie, wat ook in 2019 in Wuhan, China in werking gestel is, medeverantwoordelik vir die pandemie is. Die verspreiding van hierdie teorie bied ‘n kostelike voorbeeld van hoe informele nuusverspreiding oor sosiale media plaasvind, met die gevolg dat akademiese studies al daaroor gepubliseer is. Boeiende leesstof as mens bo-oor die tegniese besonderhede gelees kry.
Maar dit is nie van bloot akademiese belang wanneer die kuberkrygers hulle tot die wêreld van dinge wend en selfoontorings aan die brand begin steek nie. Teen dié tyd kan sosialemediaplatforms boodskappe verwyder en deelnemers blokkeer, maar die vlieë is uit die botteltjie en niemand kan hulle weer terugsit nie. Dan kyk mens met groter erns na wat ‘n veelkantige vraagstuk blyk te wees.
Uit ‘n mediastudie-oogpunt is die vraag hoe ‘n teorie waaraan kundiges nie ‘n tweede gedagte gee nie, genoeg geloofwaardigheid kan verwerf om tot sulke militante optrede te lei. Of hoe dit so wyd kan versprei en soveel aanhang kry dat kundige opinies tot die teendeel eenvoudig as deel van die sameswering beskou word. Eintlik het mens daarmee al ‘n tweede kant begin belig, naamlik, watse sosiale en sielkundige kragte aan die werk moet wees om mense só teen die stroom te laat inswem.
Dit is duidelik dat enige teorie wat sulke aanhang verwerf, ‘n verklaring moet bied vir iets wat daarsonder nie in die groter orde van dinge tuisgebring sou kon word nie. Dit bevestig waarskynlik ‘n siening wat mense reeds in ‘n ander verband aanhang, soos dat daar ‘n wêreldwye komplot gesmee word om sentrale beheer oor die hele planeet te bekom. Voorbeelde soos die geldmag, supranasionale belange, universalistiese gelowe en ekspansionistiese staatsbeheer is lankal in die visier en elke nuwe strategie word weer in die ou voeë tuisgebring.
Interessant soos dit sou wees om die hele verskynsel dus uit ‘n sosiologies-sielkundige hoek te benader, verdien die tegniese kant van die vraag ook kundige oorweging. Die aanvanklike gedagte dat selfoontorings wat 5G-seine uitstraal, die bron en oorsaak van die Covid-19-uitbreking sou wees, het skynbaar beperkte aanhang geniet. Versekerings dat virusse nie deur elektromagnetiese golwe versprei kan word nie, het skynbaar genoegsaam met kritici se lewenservaring geresoneer dat hulle dit geglo het, selfs(!) al is dit die mediese establishment wat so sê.
Die volgende teorie wat by algemeen aanvaarde konsepte, soos dat bestraling nadelig vir mens se gesondheid kan wees, aansluit, het meer inslag gevind. Dit sou daarop neerkom dat die virus en die 5G-“bestraling” apart, maar verbandhoudend is. Terwyl die mens al vir millennia met virusse te kampe het en hul aanslae biologies oorkom, sou die kombinasie van ‘n nuwe virus en mense se verswakte immuunstelsel as gevolg van bestraling, op ‘n ongekende skaal noodlottig wees.
Nou is dit maklik om (al byna) terugskouend te sê dat die impak van Covid-19 nie so erg was nie en die groot teorieë daarmee hul krag verloor het. Die dwingende vraag na die verhouding tussen mens en tegnologie, is egter weer op die voorgrond geplaas. En as die vraag na mag en magsuitoefening op globale skaal mense al geslagte lank boei, dan boei die vraag na die verhouding tussen tegnologie en die lewe en wêreld ons al sedert moderne ontwikkeling die afgelope twee- tot driehonderd jaar. Veral die wêreldoorloë van die vorige eeu het dit aan die orde gestel.
Dit is van die vrae wat – meer wetenskaplik as filosofies – aan die orde kom wanneer die Vryheidstigting Donderdagaand 26 November ‘n zoom-gesprek tussen die broers Hendrik, Carel en Wynand Boshoff beeldsend. (Dr.) Hendrik is ‘n elektroniese ingenieur en tegnoloog en (dr.) Wynand is ‘n ekoloog en politikus wat dikwels met vrae soos hierdie gekonfronteer word, terwyl Carel, ‘n filosoof, die hoof van die Vryheidstigting is en die gesprek sal lei.
- Die Vryheidstigting beeldsend Donderdagaand 26 November om 19:00 ‘n zoom-gesprek tussen die drie broers Boshoff, Hendrik, Carel en Wynand oor “Die kwessie van 5G-selfoonseine en die verspreiding van Covid-19”.
Hoe waar. EK was deel wat teen 5G is.