Vryspraak: Die kwessie van klimaatsverandering

Argieffoto (Foto: Tumisu/Pixabay)

Linkse politiek trek vandag aansienlike voordeel uit vrese vir klimaatsverandering, stygende seevlakke en ’n wêreldwye omgewingskrisis. Soveel só dat regse politiek dikwels daarop antwoord deur die omvang van aardverwarming, indien dan nie die bestaan daarvan nie, te ontken en die oorsake daarvan buite bereik van menslike handeling te plaas. Aan die een kant het ’n hele “groen” industrie posgevat, aan die ander kant vrees mense die impak daarvan op die industrieë waarvan hulle vir hulle daaglikse lewens afhanklik is.

Hierdie kenmerkende voorbeeld van politieke polarisering is ook nie tot die VSA beperk waar die vlak van Twitterpolitiek en slagspreukgevegte ʼn mens telkens verstom nie, dit speel ook in die diepergaande Europese politiek, byvoorbeeld in Nederland, af. Maar die logika bly dieselfde: wat my opponente sê, kan nie waar wees nie; wat hulle bevoordeel, moet bestry word. En voor jy sien, bepaal jou opponente jou agenda en skryf hulle langs ’n omweg jou twiets.

Tog bly die vraag: hoe antwoord mens vanuit ’n behoudende oogpunt op die ooglopende linkse kansvattery as dit by omgewingspolitiek kom? Op die bevordering van “groen” produkte waarvan die omgewingsimpak soms groter is as hulle gewone eweknieë? Tog seker nie deur blote ontkenning en “meer van dieselfde” nie? Dit kom, ernstig beskou, nie net neer op ’n ontduiking van ons verantwoordelikheid, van die rentmeesterskap van die natuur en sy hulpbronne waarmee die meeste konserwatiewe Afrikaners grootgeword het nie; dit sou ook dom wees.

Aan die een kant is die vraag sekerlik nie of die aarde al oor millennia deur klimaatsveranderings, ystydperke en woestynvorming gegaan het nie. Al die geologiese bewyse daarvoor bestaan, en dit geld vir tydperke toe die menslike bevolking so klein en primitief was dat hulle geen aandeel daaraan kon gehad het nie.

Aan die ander kant is die vraag sekerlik ook nie of ’n wêreldbevolking van sowat 7,7 miljard mense in 2019 (teenoor sowat 1 miljard in 1800 en 2 miljard in 1930) wat jaarliks met sowat 83 miljoen groei, ’n uitwerking op die omgewing sal hê nie. Veral as in ag geneem word dat hul energiebehoeftes vir die laaste 100 jaar grootliks uit gefossileerde bronne voorsien word, met ander woorde uit reserwes wat oor duisende jare gevorm het.

Die vraag kan dus nie wees of daar van klimaatsverandering sprake is en of die mensdom ’n aandeel daaraan het nie, maar of dit sin maak om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar en of dit sal help om iets daaraan te probeer doen. En selfs as die skemas waarmee linkse regerings en partye mekaar probeer oortref, onoortuigend is, maak dit sin om die verskynsel te ontken of die probleem te ignoreer?

(Grafika: Verskaf.)

Roger Scruton, die groot Engelse filosoof wat onlangs oorlede is, het opgemerk dat dit vir hom moeilik is om te glo dat “conservatives” so min begrip vir “conservation” kan toon – in Afrikaans sou ʼn mens kon aanvoer dat behoudende sienings en ’n bewarende ingesteldheid jeens die wêreld tog hand aan hand behoort te gaan. Dat dít is wat die diep konserwatiewe begrip van rentmeesterskap van ons vereis.

Een van Scruton se laaste boeke is Green Philosophy. How to think seriously about the Planet en dit verdien ernstige oorweging onder diegene wat ’n verantwoordelike standpunt oor die kwessie van klimaatsverandering wil inneem. Meer nog, dit verdien om deel van die gesprek oor en beplanning vir ’n volhoubare toekoms te word, in politieke en in staatsverband sowel as daarbuite. Soos hy tereg sê, as mens vir ’n oomblik aan die heersende ideologieë van ons tyd dink, is dit meteens duidelik dat nóg die liberalisme nóg die sosialisme beter in staat is om oor omgewingsbewaring die toon aan te gee as die konserwatisme.

Maar ideologiese etikette daar gelaat: die Vryheidstigting benader die vraag heel prakties deur ’n openbare gesprek aan te bied waaraan prof. Hannes Rautenbach, weerkundige en Akademia se dekaan van Natuurwetenskappe, en dr. Wynand Boshoff, voorsitter van die Vryheidsfront se navorsingskomitee, gaan deelneem.

Rautenbach het nie net ’n tegniese kennis van weerpatrone en hoe dit ontstaan nie, hy het ook ’n natuurkundige én kultuurkundige ingesteldheid wat aan sy insigte ’n diep deurleefde inhoud gee. Boshoff is weer nie net ’n politikus nie, maar het onder andere ’n meestersgraad in volhoubare landbou en beoefen permakultuur op ’n huishoudelike skaal. Albei deelnemers is eerder prakties as ideologies ingestel en praat gewone Afrikaans.

  • Rautenbach en Boshoff sal die kwessie van klimaatsverandering vanuit ʼn konserwatiewe beskouing bespreek met Carel Boshoff, hoof van die Vryheidstigting, as die gesprekleier vir die geleentheid. Lesers kan dié gesprek regstreeks op die Vryheidstigting se Facebook-blad op Donderdag 1 Oktober om 19:00 tot 20:00 volg en dit is ook daarna op die blad beskikbaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Carel Boshoff

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maria

Klimaatsverandering is ‘n natuurlike siklus van ystydperke en warmer tye. Waarom groen energie gewild is, is omdat mens onafhanklik van Eskom wil wees.

Josef du Toit

Of mens uit klimaataktivisme of uit plaaslike realiteit (gebrek aan eie olie-bronne en/of in duie storting van monopolie-energievoorsiening) na alternatiewe gedwing word, ontwyk steeds nie die jammerlike ontnugtering wanneer daar deeglik na son- en windkrag gekyk word nie. Sien bv PragerU (Prager University) se youtube-kanaal, en veral die kort stukke onder die titels “What’s wrong with wind & solar?” en “Do we have to destroy the earth to save it?”. Daarby sien ek seegolf- en gety-energie selfs in Groen-sirkels nog steeds as koste ondoeltreffend beskou word.

groenboer

Ek is entoesiasties oor wat dir Oraniabeweging aan die doen is. Daar is een ding wat my bekommer: die dorp, en die voorgestelde Afrikanerhartland in daardie omgewing, is baie swaar afhanklik van die voortgesette vloei van die Oranjerivier. Dit is seker moontlik dat die huidige klimaatveranderingding bloot politiek is, maar niemand kan ontken dat die klimaat oor tyd verander nie, en as die klimaat sodanig verander dat daai rivier ophou vlei, is die hele Oraniaprojek gedoem. Dieselfde geld straks as die regering die vloei afsny deur die waterlisensie te onttrek of ‘n dam te bou of die rivier te besoedel.… Lees meer »