Vryspraak: Die kwessie van ons mense se gemoed

Die gemeenskap het Dinsdag saam teen plaasaanvalle by Senekal betoog. (Argieffoto.)

Om na ons mense se gemoed vandag te verwys, klink half outyds – hoewel nie so outyds soos ‘n verwysing na “ons volksgemoed” sou wees nie. En tog is dit ‘n belangrike vraag, hoe dit ook al gefraseer word, want die antwoord daarop gee nie net ‘n aanduiding van waar ons ons vandag bevind nie, maar ook van wat ons verder kan verwag.

In die laat 1980’s is politieke byeenkomste vir swart Suid-Afrikaners verbied en die verbod is met mag en geweld afgedwing, maar massabegrafnisse kon eenvoudig nie verhoed word nie. Selfs ‘n totalitêre regime kan nie op die duur verhoed dat mense oor die dood van ‘n geliefde treur en mekaar daarin bystaan nie. En dat dit in die geval van ‘n gewelddadige dood die aard van protes sou aanneem, is onafwendbaar. Só het ek dit van buite beskou.

As die persoonlike en die politieke kante van ‘n samelewing eers só vervleg geraak het, is dit binnekort onmoontlik om die situasie van owerheidsweë te beheer. Daar is ‘n krag in gedeelde rou wat nie eens die sekurokrate onder PW Botha kon weerstaan nie, want gedeelde rou en gedeelde woede lê naby mekaar en spreek tot ‘n gedeelde menslikheid wat oral verstaan word. Massabegrafnisse het politieke protes geword wat wêreldwyd gebeeldsend is.

En mens kan dit nie forseer nie. Ek onthou byvoorbeeld die begrafnis op Luckhoff van ‘n weerlose boervrou – eintlik ‘n musikus – wat brutaal vermoor is, sowat 15 jaar gelede. Daar het ‘n diep geskokte en hartseer stemming geheers. Familie en vriende het die roudiens bygewoon, maar die kerk was nie eens halfvol nie en dit was asof die roubeklaers gevrees het dat iemand (soos ek, wat ‘n brief daaroor aan die Volksblad geskryf het en dit deel van ‘n “oorlog van almal teen almal” genoem het) politiek daarvan sou maak.

Die persoonlike en politieke wêrelde was nog te ver van mekaar verwyderd om die aard van die konflik wat hom onder ons afgespeel het, te begryp en die bereik daarvan in ons toekomsverwagting in te skat. Omdat die aanvaller ooglopend geen soldaat was nie, en die slagoffer nog minder, het die gedagte dat die oënskynlik geïsoleerde dood van ‘n enkele persoon deel van ‘n onverklaarde grondoorlog was, eenvoudig nie posgevat nie. En op ‘n manier was dit ook nie, sodat dit diep ongeskik sou wees om die punt op treurende naasbestaandes te probeer afdwing.

Ons mense se gemoed het die politieke vertolking van hul leed nie toegelaat nie. Hulle het die gedagte heldhaftig weerstaan om van hul persoonlike pyn gemeenskaplike woede te maak en iemand wat op die buiterante van die intieme kring gestaan het, sou daar niks aan kon doen nie.

Intussen het sake verander. Aanval op aanval en moord op moord het die gedagte van geïsoleerde insidente die nek ingeslaan, selfs al beteken dit nog nie dat elke aanval vanuit ‘n sentrale operasiekamer beplan word nie. Die moord op ‘n bejaarde egpaar op Hartswater of ‘n boerseun (hoe bring dié woord nou ‘n knop in my keel!) in die Oos-Vrystaat is eenvoudig nie meer net familie en vriende se saak nie. Die protesoptogte en byeenkomste wat dit oproep, getuig daarvan.

In Brendin Horner se geval is dit ook nie tot plaaslike optrede beperk nie, ek weet van minstens nog een gebedsbyeenkoms in Kimberley – en daar is waarskynlik meer – wat uit meelewing met Brendin en ander slagoffers se dood plaasgevind het.

Ons mense eien dit toe, ons mense laat dit nie meer reduseer tot blote statistiek of vergelyk dit met misdaad in ‘n wettelose land nie. Daar is immers geen troos of regverdiging in om te sê dat die orde ook vir ander verval het wanneer ons vriende en familie begrawe word nie. Daar is ‘n patroon en daar gaan ‘n oerkreet op wat sê: Genoeg is genoeg!

Die stemming onder ons mense het verander, ons gemoed is nie meer dié van lydelike aanvaarding nie. Ons sê: Nee!

Maar is dit genoeg? Word ons toekoms op ‘n groot NEE gebou? Dit sal tog duidelik nie deug nie. Die vraag is waarvoor ons in dieselfde asem JA sê. Hartseer, frustrasie en woede is soms nodig – dis immers onafwendbaar, maar dit bou niks op nie. Nie vanself nie, nie voordat ons van die verlies sin maak en ons nie net daarin berus nie, maar dit ook as wegwyser aanvaar.

Dit is vandag die vraag: Waarheen wys ons verlies? Een antwoord wat mens moeilik ontsnap, is: na ‘n verlede wat nie in die teken van hierdie verlies gestaan het nie, maar waarheen ons ook nie kan terugkeer nie. Die geskiedenis werk eenvoudig nie so nie. Nog ‘n antwoord is: na ‘n finale konfrontasie waar die magte wat teen mekaar opgestel is, dit uitveg totdat net een oorbly. Maar die geskiedenis werk ook nie só nie en meestal kom die onderworpene terug om by die oorwinnaar te spook. Selfs al is jy dus baie seker dat jy sal seëvier – en wie kan so seker daarvan wees? – is daar baie ander faktore wat bepaal of dit volhoubaar sal wees. ‘n Derde antwoord is: na een of ander utopia waar haat en stryd vervang word deur liefde en versoening, as ons maar net hard genoeg probeer. Maar helaas, die geskiedenis werk ook nie so nie.

(Grafika: Verskaf.)

As ons die strukturele kragte wat hierdie konflik onderlê, behoorlik verreken, kan ons nie aan die Afrikaner se demografiese dilemma ontsnap nie. Dan moet ons die kombinasie van getalle, verspreiding en samestelling van ons bevolkings in die oë kyk en besef dat as ons nie gaan konsentreer nie, ons nie gaan standhou nie. Ons ou patrone van vestiging, die plek wat ons voorheen in die ekonomie en politiek ingeneem het, die manier waarop ons oor onsself en oor ander en oor ons arbeid en hul arbeid gedink het, was onvolhoubaar en ons verlies staan in die teken daarvan.

As ons verlies ‘n wegwyser is na selfstandigheid op plekke en maniere waarop ons dit self in stand kan hou en ons nie van ‘n disfunksionele staat afhanklik is om dit vir ons te doen nie, dan maak dit sin. Dan is die offers wat ons bring, nie verniet nie. As ons mense se gemoed wat nou deur woede en frustrasie gevul is, op ‘n nuwe toekoms en op vryheid gerig kan word, met ander woorde as die energie wat nou los is, positief aangewend kan word om nie net te protesteer nie, maar ook alternatiewe te skep, dan is daar iets anderkant die smart. Dan is daar hoop.

  • Die Vryheidstigting beeldsend Donderdagaand 8 Oktober om 19:00 ‘n gesprek oor “Die kwessie van ons mense se gemoed vandag” tussen Carel Boshoff en Johan van der Merwe van Boer Media, wat die onlangse byeenkoms op Senekal bygewoon het.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Carel Boshoff

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Therese

“Daar is immers geen troos of regverdiging in om te sê dat die orde ook vir ander verval het wanneer ons vriende en familie begrawe word nie”.

Ware woorde van Carel Boshoff.

Die post-1994-moord-en-doodslag het ons onkant gevang en sommiges beskou dit, verbysterend genoeg, as ‘n noodwendigheid in die nuwe SA waaraan almal blootgestel is.

Boertjieman

Ek begin nou op die punt kom, eintlik al lankal maar wil dit nou verwoord, waar ek alles wat ek nou besit, materialisties beskou, sal opgee en trek na ”n plek waar ek saam my eie mense myself kan wees sonder om verskoning te vra en sonder as volk geredigeer te wees tot’ ‘n rasis of’ ‘n apartheid voorstaander. Die mengelmoes van volkere, met die getalle verhoudings soos in SA, sal net nie werk nie! Dit mag dalk in Europa of SA werk, of in Australië en Nieu-Seeland, waar die getalle verhoudings heel anders daarna uitsien, maar nie hier in… Lees meer »