Vryspraak: Die nuwe wêreld van digitale erfenisbewaring

Foto ter illustrasie. (Foto:
Vladyslav Bahara/Unsplash)

Om van digitale erfenisbewaring te praat, klink soos ‘n contradictio in terminis – en om van ‘n contradictio in terminis te praat, klink soos ‘n deftige manier om te sê dat jy onsin praat. Dit voel eenvoudig vreemd om dié twee begrippe saam te bind, want die digitale wêreld is nie net die modernste wat daar is nie, dit is ook vlietend en broos. Enigeen wat al ‘n hardeskyf met vyf jaar se familiefoto’s verloor het, sal weet waarvan ek praat. En tog …

Vir die doel van die argument, haal ek ‘n boek van my boekrak af: Victorian Buildings of South Africa. Including Edwardian & Transvaal Republican styles. A survey of houses, churches, schools, public and commercial buildings with notes on materials used, the architects concerned, prefabricated ironmongery and the influence of Europe / 1850-1910. Die outeur is Désirée Picton-Seymour en dit is in 1977 deur A.A. Balkema in Kaapstad/Rotterdam uitgegee en het my in 1989 R75,00 uit die sak gejaag.

Die voortreflike fotobeelde en sketse is in swart en wit en as die grootte mens aan ‘n ontspanne koffietafelboek laat dink het en jy dalk nie die titel met aandag gelees het nie, hoef jy maar op enige van die 412 bladsye met sy dubbelkolom-setwerk in klein lettertipe oop te maak om agter te kom dat vir die skrywer en uitgewer om inhoud eerder as vertoon gegaan het. Nou is die opvallende dat hier van skrif en afbeeldings op verganklike papier gebruik gemaak is om bouwerk uit klip en steen en gesmede ysterwerk te dokumenteer en toe te lig.

En het ek nie met ‘n byna heilige respek vir boeke grootgeword nie, sou ek dalk al lankal besef het hoe vreemd hierdie vorm van erfenisbewaring in werklikheid is: die permanentste van kuns, naamlik bouwerk, word met behulp van iets so vernietigbaar soos papier vir die nageslag bewaar. In die proses word die boek ook self, as dit van sulke gehalte is, ‘n stuk erfenis wat volgens die eerste webwerf waarop Google my laat beland, nou al vir R1 400 verkoop.

My punt is natuurlik eenvoudig: terwyl talle van die oënskynlik onvernietigbare monumente uit ons verlede al tot niet gemaak is, is die enigste vorm waarin hulle bewaar gebly het, aan ‘n totaal andersoortige tegnologie en materiaal te danke. En dan praat ons nie eens van, byvoorbeeld, Sir Banister Fletcher se A History of Architecture wat vir ‘n groot deel op blote oorblyfsels van antieke geboue en stede gebaseer is nie.

Waar klip Athena die Oorwinnaar gefaal het, het papier haar glorie drieduisend jaar later gered! En niemand van ons is danig verras nie, ons het dit gewoond geraak. Ons kan ons in werklikheid nie voorstel hoe erfenisbewaring sou lyk as hierdie tegnologie, die drukkuns, nie gedurende die afgelope 500 jaar voldoende ontwikkel het om nie net die beelde te red nie, maar ook ou én nuwe vertolkings daarvan beskikbaar te stel. Erfenisbewaring sonder papier is eenvoudig ondenkbaar, waarom sal dieselfde nie ook vir die nóg kragtiger inligtingstegnologie geld nie?

Dit is wel waar dat papier ten minste nog iets fisiek/tasbaars is en nie maklik met die druk van ‘n paar verkeerde knoppies eenvoudig uitgewis kan word nie, daarvoor is digitale media nodig en dit skep nie juis bewaringsvertroue nie. Maar aan die ander kant het digitale media kennelik gekom om te bly en is daar talle oplossings vir die twee groot gevare wat ou data bedreig, beskikbaar. Eerstens kan rugsteune maklik en goedkoop gemaak word op plekke wat eenvoudig nie aan dieselfde natuurlike of mensgemaakte rampe blootgestel is as selfs ‘n aantal biblioteke in dieselfde landstreek nie.

Tweedens is dit heeltemal moontlik om die formate van bewaring – programme wat ons twintig jaar gelede gebruik het, maar intussen al van vergeet het – by te werk en by te hou. Al wat dit beteken, is dat digitale bewaring – soos immers enige ander bewaring – ook voortgesette onderhoud verg. As mens dit aanvaar, is die res eintlik maklik, want toegang tot data, nie net dokumente en afbeeldings nie, maar selfs tot driedimensionele dokumentering, word besonder maklik gemaak. Databestuur en -ontsluiting word onvergelykbaar vergemaklik met programme wat selfs gratis beskikbaar is, terwyl toegang meestal vanaf enige plek in die wêreld kan geskied as mens die regte gebruikersnaam en wagwoord het.

Die ontsluiting en visualisering van grootdata danksy ongelooflik vinnige en akkurate soekprogramme maak toegang tot bronne wat voorheen meestal onmoontlik was, nou maklik. Maar hoe werk die tegnologie en wat is dit werd vir ‘n bevolking wat in groot dele van sy geboorteland oorweldig en ontuis voel? Daaroor gesels ons vandeesweek in die Vryheidstigting se aanlyn gesprek met dr. Burgert Senekal, ‘n letterkundige wat grootdata baasgeraak het en nou daarmee wondere verrig.

Dr. Senekal is ‘n medewerker van die Vryheidstigting en het al buitengewone sukses met talle digitale bewaringsprojekte behaal. Hy is ook, saam met Susan Brokensha outeur van Surfers van die tsunami: navorsing en inligtingstegnologie binne die geesteswetenskappe en van talle akademiese artikels oor verwante onderwerpe.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

En dit is hier waar die 1984-geskiedskrywers hul vingertjies sal wil inkry en foto’s dokter tot ‘waarhede’ vir hul ideologieè. Ons geskiedenis selfs diè voor 1652 word reeds ver-Marsiaans. Dog dit wat reg en goed is word wel Elders opgeteken. En die Bybel is hoe oud?

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ek het foto’s wat al heeltemal vergeel en verdof het, maar wat ek digitaal in die wolk gestoor het. Ek mag die ou foto nie meer kan sien nie, maar die digitale foto is so vars soos nou net geneem!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.