Vryspraak: Die verband tussen waar jy vandaan kom en waarheen jy gaan

Foto ter illustrasie. (Argieffoto: Gian Ehrenzeller, AP)

ʼn Mens dra die stempel van jou tyd en omstandighede, dit is onvermydelik. Arm of ryk, oud of jonk, stedelik of landelik, wit of swart, ongeletterd of gekwalifiseerd – dit maak ʼn groot verskil aan hoe jy sake sien en beleef. En niks daarvan is eenduidig nie: uit armoede word dikwels welvaart gebore terwyl bevoorregting in die verlede geen waarborg vir sukses in die toekoms is nie.

Dit is duidelik dat persoonlike talent en toewyding ʼn deurslaggewende verskil kan maak. Maar dit is eweneens duidelik dat jou houding die manier waarop jou vermoëns en omstandighede bymekaarkom, bepaal. En jou houding is nie ʼn individueel persoonlike saak nie, dit word deur gesin en gemeenskap, rolmodelle en ideaalbeelde wat deel van ʼn groter geheel uitmaak, bepaal. Die beeld van ʼn self-made man is maar die vrug van ʼn eensydige klem op die uitdagings in plaas van die geleenthede waaruit elke mens se lewe bestaan.

Dit word nie gesê om afbreuk te doen aan die prestasie van mense wat groot struikelblokke moes oorkom om sukses te behaal nie. Natuurlik is daar diegene wat bo hulle omstandighede uitstyg en daarvoor erkenning verdien. Om al die erkenning aan die enkeling te gee, help egter min om die groter verskynsel van opheffing, ontwikkeling en vooruitgang in die groter samelewing te verstaan of te bevorder. Daarom is die groter prentjie dikwels van groter belang.

Die groter prentjie van persoonlike prestasie en die opheffing van ʼn gemeenskap is ook ten minste net so veeldimensioneel as die prentjie van die presterende enkeling. Nie bloot materiële faktore nie, maar geestelike waardes is bepalend. Ekonomiese kragte speel natuurlik daarop in, maar des te meer speel die kulturele kragte wat mense se insig in en houding jeens die ekonomiese kragte bepaal, daarop in. En daardie kulturele kragte, wat ʼn soort stille verstandhouding tussen rolspelers verteenwoordig, wat onderlinge vertroue bevestig en berekenbare optrede in samewerking asook mededinging verseker, is deurslaggewend.

Daarom is die rol wat instellings en organisasies in gemeenskappe speel en kán speel so belangrik. Dit bepaal en vestig kulturele elemente soos vertroue en voorspelbaarheid en kan selfs ʼn mate van sensuur of tug toepas waar die ongeskrewe reëls van ordentlikheid oortree word. Want “ordentlikheid” of “goeie maniere” het met meer as net mekaar se gevoelens of status te doen. Roger Scruton sou kon sê: daarop het die Engelse ʼn empire gebou. Goeie maniere gaan oor waardigheid en erkenning en daarsonder kom niks goeds tot stand nie.

Dit is dus nie so eenvoudig as om ʼn ideologiese voorskrif te proklameer, soos dat “julle goeie werk nie net vir julleself nie, maar vir almal” gedoen moet word. In die eerste plek is enigiets wat werklik goed is, “vir almal daar” – al is dit net by wyse van voorbeeld. Maar belangriker is dat enige goeie ding die moontlikheid het om herhaal te word en uit te kring, om die wêreld van ʼn punt af ʼn beter plek te maak, al begin dit hoe klein. Oor goeie gemeenskapsinisiatiewe moet dus eerder gesê word: “Doen dit vir julleself, maar hou dit nie net vir julleself nie!” En daaraan voldoen die meeste inisiatiewe uit Afrikanergeledere tans.

Maar dit is eintlik nie die punt nie; die punt is dat ons nie mag toelaat dat die stempel van ons tyd ons slagoffers van ons omstandighede maak nie. Stereotiperings soos “jong Afrikaners in die huidige Suid-Afrika” kan net so ontmagtigend wees soos “swart mense onder apartheid”. In elke geval is daar uitdagings en struikelblokke, maar in elke geval is daar ook uitsonderings wat die pad na groter moontlikhede as die voor die hand liggende aandui. Die vraag onder jong Afrikaners kan dus eerder na geleenthede as beperkings wees – nie in die oppervlakkige sin nie, maar in die sin van bronne.

Eerstens: oor watter kulturele bronne beskik ek om uitdagings te bowe te kom? Tweedens: watter struikelblokke moet ek oorkom om sukses te behaal? Dan dink ons ekonomies, maar eers kultureel; persoonlik, maar eers gemeenskaplik – en ons begin by wat en wie ons kan vertrou. En uiteindelik steek ons dit nie soos ʼn lamp onder ʼn emmer weg nie, maar ons verlig soveel van die wêreld as wat ons daarmee kan bereik. En as ons doen wat ons moet en wat ons kan, word die lamp op die tafel ʼn stad op die berg! Dalk meer letterlik as wat ons nou nog dink.

Die kwessie is dus: jy is jonk, maar nie meer ʼn kind nie; jy is gekwalifiseerd en wil ʼn verskil maak, maar daar staan baie tussen jou en dit wat jy kan en wil doen. Hoe benader jy dit? Hoe speel waar jy vandaan kom in op waarheen jy gaan? Dit is die soort kwessies wat Carel Boshoff en Hanjo Gouws in die Vryheidstigting se Vrysending Donderdag om 19:00 gaan bespreek.

  • Die Vryheidstigting saai Donderdag 27 Januarie 2021 om 19:00 ʼn regstreekse gesprek tussen Carel Boshoff en Hanjo Gouws, ʼn jong Afrikaner in Suid-Afrika vandag, uit wat handel oor die onderwerp: Die onvermydelike verband: waar jy vandaan kom en waar jy heen gaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.