Vryspraak: Gemeen­skaps­ont­wik­keling en selfstandigheid in praktyk

Gemeenskapsontwikkeling word bespreek in die jongste regstreekse gespek van die Vryheidstigting. (Foto: Verskaf)

‘n Gemeenskap is ‘n komplekse sisteem en ontwikkeling is nie ‘n eenvoudige proses wat in ‘n reguit lyn van begin tot einde afloop nie. Gemeenskapsontwikkeling is dus ‘n dubbeld ingewikkelde ding; dit is soos om ‘n klomp balle gelyk in die lug te hou, en elke kort-kort gooi iemand vir jou nog een. En as die gemeenskap Orania is, dan weet jy boonop vriend en vyand hou jou die hele tyd fyn dop!

Die eerste denkfout wat hierby vermy moet word, is dat dit ten diepste ‘n kwessie van ekonomie en finansies is. Mens stel ontwikkeling maklik gelyk aan ekonomiese ontwikkeling, terwyl dit natuurlik nie heeltemal waar én nie heeltemal onwaar is nie. Terwyl hier kennelik van welvaart, vervaardiging, dienste, handel, belegging, besparing, besteding, en wat meer sprake is, begin en eindig dit nie daarby nie.

Die welstand van mense in ’n gemeenskap behels eenvoudig soveel méér as die bevrediging van individuele verbruikers se behoeftes. Veral as dit nie net normale verbruiksbehoeftes is nie, maar die oorverhitte begeertes wat aggressiewe bemarking opwek en wat dan so dikwels met duur korttermynskuld befonds word. Die woorde welstand en gemeenskap dui alreeds op ‘n ander logika, op volhoubaarheid, verantwoordelikheid en billikheid.

Binne dié verband is dit eenvoudig nie elkeen vir homself en die duiwel vir die res nie, al sal die markmeganisme altyd die verskille wat eie aan mense is ook in die verdeling van welvaart reflekteer. Daarmee is ook reeds te kenne gegee dat gemeenskapsontwikkeling nie vasval in die vrugtelose stryd teen die vrye mark en ten gunste van ‘n onwesenlike gelykheidsideaal nie.

Van die gedagtes wat eie aan gemeenskapsontwikkeling is, word in die volgende riglyne vervat:

  • Dat die mark ‘n ongeëwenaarde meganisme vir die doeltreffende verspreiding van goedere en dienste is, maar nie ‘n ideologie nie;
  • Dat ‘n gesonde ekonomie onmisbaar vir ‘n gesonde gemeenskapslewe is, maar dat welvaart dit nie waarborg nie;
  • Dat ‘n sobere onderskeid tussen doel en middel mens help om jou prioriteite in die ekonomie, maar ook vir die ekonomie te bepaal;
  • Dat geen mens ‘n eiland is nie – nie ekonomies nie en andersins ook nie;
  • Dat ons die rentmeesters van God se oorvloed is eerder as stryders vir die grootste hoeveelheid skaars goedere; en
  • Dat ons nie in ‘n oorlog van almal teen almal gewikkel is nie, maar mekaar oor verskille heen vind wanneer ons gesamentlike doelwitte probeer bereik.

Verder: net soos mense in ‘n suksesvolle gemeenskap ‘n stewige ekonomiese onderbou nodig het om te floreer, het ‘n funksionele ekonomie stabiele mense nodig om daaraan deel te neem. Al is mens dus vanuit ‘n menslikheidsoogpunt dalk geneig om van die ekonomie ‘n blote middel tot ‘n geestelike doel te maak, vertel dit ook nie die hele storie nie. Daar is ook ‘n perspektief op sake waarvolgens kultuur inderdaad ook in diens van die ekonomie staan en ingevolge waarvan ‘n goeie ekonomiese bedeling ‘n doel word wat allerlei middele in diens neem, naamlik die ekonomiese perspektief.

Om die waarheid te sê: die verskynsel van gemeenskap as sodanig en gemeenskapsontwikkeling, kan uit minstens die volgende vier perspektiewe beskou word. Dit is ‘n ekonomiese-, politieke-, kulturele- en geloofsperspektief. Elkeen het ‘n logika en legitimiteit van sy eie en elkeen ly net skade wanneer dit tot enigste beeld van die gemeenskap en gemeenskapsontwikkeling verhef word. Daarenteen baat elkeen van die perspektiewe daarby om deur die ander aansluitende perspektiewe omlyn en beperk te word en, ironies genoeg, daardeur vrygestel te word om te wees wat dit ten diepste is.

In die bevestiging van elkeen van die oogpunte se beperkings, lê dus ook die moontlikheid daarvoor om die beste tereg te kom en ‘n gebalanseerde samehang te vind en te vestig. Prakties gesproke bring dit mee dat ekonomiese ontwikkeling nie sonder maatskaplike ondersteuning nagejaag kan word nie, net soos werkskepping nie sonder behuising beplan kan word nie en ekonomiese groei nie sonder opleiding volhoubaar sal wees nie.

(Grafika: Verskaf)

Gemeenskapsontwikkeling is dus ‘n multidissiplinêre veld waarop die grootste bate dalk lewenservaring is. Dit is nie iets wat resepmatig aangepak kan word nie, dit is eerder iets wat van binne af en van onder af groei as wat dit van bo of van buite in werking gestel kan word.

Dít is die uitgangspunte wat instellings soos die Orania Ontwikkelingsmaatskappy en Orania se Helpmekaar inisiatief onderlê. En dit is die soort kwessies wat Carel Boshoff en Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy en voorsitter van Orania Helpmekaar in die Vryheidstigting se Vrysending Donderdagaand om 19:00 gaan bespreek.

  • Die Vryheidstigting saai op Donderdagaand 4 Februarie 2021 om 19:00 ‘n regstreekse gesprek uit tussen Carel Boshoff en Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, oor Gemeenskapsontwikkeling en selfstandigheid in praktyk. Kom volg die gesprek hier op die Vryheidstigting se Facebook-blad.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Carel Boshoff

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.