Vryspraak: Hoe ’n volk hom aan sy eie skoenrieme optrek

Toe die Helpmekaarfonds in 1917 van stapel gestuur is om die Rebellie-leiers se boetes en skadevergoeding te betaal, moes £110 000 (vandag seker al meer as R30 miljoen) binne twee maande ingesamel word. (Foto: Verskaf)

‘n Entoesiastiese geskiedenisonderwyser wat die armblankevraagstuk van die 1930’s met ons behandel het, het die beeld van ‘n ou wat in die moeras wegsink, maar hom aan sy eie skoenveters optrek, in my kop geplant. Dit het ons op pad van die geskiedenisklas na die fisikaklas heelwat vermaak verskaf en ek kon my nie ophou verbeel dat die kostelike TO Honniball nié ‘n strokie sou geteken het van Oom Kaspaas wat vir Nefie vertel hoe hy homself in die Bosveld uit een of ander penarie gered het deur hom aan sy eie skoenrieme op te trek nie.

Agter die grappie lê natuurlik die eenvoudige feit dat mens ‘n vaste punt nodig het om ‘n voorwerp te skuif, en dat jou skoenveters alles behalwe só ‘n vaste punt is. En tog is dit nie ‘n ontoepaslike beeld nie, want ‘n verarmde bevolking wat homself begin red, het juis geen ooglopende vaste punt om aan vas te hou nie – totdat mens besef van watter materiële belang geestelike verwysingspunte kan wees.

Toe die Helpmekaarfonds in 1917 van stapel gestuur is om die Rebellie-leiers se boetes en skadevergoeding te betaal, moes £110 000 (vandag seker al meer as R30 miljoen) binne twee maande ingesamel word. Jaap Steyn beskryf in sy kostelike boek Trouwe Afrikaners. Aspekte van Afrikaner-nasionalisme en Suid-Afrikaanse taalpolitiek 1875-1938 (1987) die aangrypende verhaal van eenvoudige mense met min tot hulle beskikking wat dié enorme teiken gestel – én oortref het. Stellenbosse skoliere wat een maal per week ontbyt oorgeslaan het om dié geld by te dra, ‘n Paarlse skool wat vir ‘n kwartaal droë brood sou eet en die besparing oorbetaal, en toe hulle tóg botter present kry, het hulle dit gretig aanvaar … en verkoop!

Van die hele poging sê pres. Steyn op 28 November 1916 dat die Helpmekaarbeweging die enigste voorbeeld in die wêreld is van waar ‘n volk wat in opstand was, hom ingespan het om die skade te vergoed en selfs deur opponente gehelp is. (Tydens dié toespraak het hy inmekaargesak en is oorlede.)

Wat natuurlik hieruit blyk, is dat Afrikaners se onderlinge solidariteit, hul lojaliteit aan opregte leiers en hul sin vir geregtigheid vaste verwysingspunte was wat ‘n sterker basis vir optrede gebied het as gemaklike toegang tot fondse.

Verder is dit verstommend hoeveel geld met klein bydraes ingesamel kan word as daar net genoeg sulke klein bydraes is – en natuurlik maniere om dit onder genoeg mense se aandag te bring. De Burger en Het Volksblad het ‘n deurslaggewende rol gespeel deur verhale soos dié oor koshuiskinders se offervaardigheid wêreldkundig te maak en daardeur verdere deelname aan te wakker. Talle inisiatiewe van, byvoorbeeld, vrouegroepe wat met gebak geld ingesamel het, het daarop gevolg, asook meer welvarende Afrikaners wat groter bydraes gemaak het.

Die uiteinde was ‘n fonds wat nie net die Rebellie-skuld gedelg het nie, maar ook verdere ondernemings en opheffing sou moontlik maak. Die energie wat ontsluit is, het ‘n onomkeerbare proses tot gevolg gehad wat Afrikaners in staat gestel het om verstedeliking, droogte, depressie, oorlog en ontwrigting te bowe te kom. Ondernemings en ondernemers wat daaruit na vore gekom het, sou geslagte later rolspelers in ‘n globale ekonomie word en ‘n groot deel van die bevolking se beste potensiaal is ontsluit danksy opleidingsgeleenthede en toegang tot die ekonomie.

(Grafika: Die Vryheidstigting)

As bronne van die Afrikanernasionalisme in daardie tyd, verwys Steyn na godsdiens, bloedverwantskap, volksgevoel en ekonomiese verbondenheid. Hoewel baie dinge uiteraard verander het gedurende die 100 jaar wat intussen verloop het, is dit verbasend hoeveel ook dieselfde gebly het. En hoeveel teruggekeer het na ‘n vergelykbare situasie, ten spyte van hoogtepunte wat intussen bereik, maar weer verloor is.

Die punt is dat Afrikaners vandag weer deur enorme materiële uitdagings gekonfronteer word, deur armoede, werkloosheid, diskriminasie, algemene ekonomiese insinking, swak regering, ens. Hoewel daar vandag baie welvarende Afrikaners is en hoewel talle Afrikaners in die korporatiewe wêreld presteer, bly die werklik kapitaalkragtige Afrikaners steeds min in getal en voel hulle dikwels, juis vanweë hul finansiële belange, ingebind en onvrymoedig om Afrikanersake openlik te ondersteun.

Ons sal ons materiële nood weer eens met geesteskrag tegemoet moet gaan, waarna ons weer eens mag vind dat die hulpbronne wat gemonster kan word, nie te min is nie. Maar uiteindelik kan ons geen volhoubare bestaan verseker sonder hulpbronne en die strategiese aanwending daarvan nie. Afrikaners bou, uit die nood van die omstandighede, aan ‘n parallelle ekonomie waardeur ons eie opleiding en skoling, werkverskaffing, veiligheid, media en vermaak, en nog meer bekostig moet word. Met genoeg bydraes, al is dit klein – en “klein” beteken vir elkeen iets anders – kan mens berge versit.

Dít is waaroor die Vryheidstigting se aanlyn gesprek op Donderdag 10 Desember om 19:00 by @vryheidsinonstyd handel. Carel Boshoff praat met Appie Pienaar, Solidariteit se hoof van finansies en betrokke by ‘n verskeidenheid projekte met behulp waarvan Afrikaners besig is om hulself te red.

  • Die Vryheidstigting beeldsend Donderdagaand 10 Desember om 19:00 ‘n gesprek tussen Carel Boshoff en Appie Pienaar, Solidariteit se hoof van finansies, oor “Voorwaardes en planne vir ekonomiese self-help vandag”. Kom volg die uitsending op die Vryheidstigting se Facebook-blad.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.