Vryspraak: Is die onafhanklike regbank gewaarborg?

(Foto: Verskaf)

Die siening dat ‘n onafhanklike regbank ‘n kenmerk van ‘n volwaardige demokrasie is en menseregte waarborg, word met soveel oortuiging aangehang dat mens dit kwalik in goeie geselskap kan bevraagteken.

Daarby sal niemand met demokratiese bedoelings teen ‘n onafhanklike regbank of menseregte gekant wees nie, met die gevolg dat dit as aksioma geld, as uitgangspunt waarop verdere argumente gebou word en waaroor nie gestry word nie.

Desnieteenstaande ervaar Afrikaners as ‘n minderheid in Suid-Afrika, wat inderdaad oor ‘n onafhanklike regbank en ‘n handves van menseregte beskik, dit nie eens as beveiliging van ons fisieke bestaan nie, wat nog te sê van meer abstrakte regte soos taal en kultuur. Om die waarheid te sê, pleks dat die Grondwet ons regte beskerm, word ons deesdae opgeroep om die Grondwet te beskerm! Die bedoeling is natuurlik dat ’n grondwet wat werk beter is as een wat nie werk nie, maar die ommekeer waarop sulke goedbedoelde oproepe neerkom, behoort ons twee keer oor die hele leerstuk te laat dink.

Prof. Koos Malan se nuwe boek plaas die soeklig op die Suid-Afrikaanse Grondwet. (Foto: Verskaf)

In sy boeiende boek met die titel There is no Supreme Constitution (2019) is dit presies wat prof. Koos Malan doen: hy onderwerp sienings wat ons as vanselfsprekend leer aanvaar het, aan ‘n deeglike kritiek. Deeglik ten opsigte van beide die geskiedenis én die logika daarvan. In die proses maak hy ‘n meer omvattende saak uit as wat hier weergegee kan word, maar hy behandel inderdaad die spesifieke kwessie van ‘n onafhanklike regbank en individuele menseregte. Bygesê dat hy ook nie afwysend teenoor enigeen van die twee staan nie, maar wel ‘n onontbeerlike mate van realisme en soberheid in die spel bring.

Die kwessie van ‘n onafhanklike regbank moet tegemoetgegaan word met die vraag: onafhanklik waarvan? Dit is goed en wel, en nie onbelangrik nie, dat die regbank onafhanklik van direkte politieke inmenging deur óf die parlement en parlementêre partye, óf die president en ministers sal wees. Dit sluit in dat die aanstelling van regters nie gepolitiseer behoort te word nie en dat hulle slegs aan regsreëls en hul eie gewete verantwoording verskuldig behoort te wees.

Dit sou egter ‘n groot fout wees, en Malan toon dit deeglik aan, om te veronderstel dat regsreëls en die toepassing daarvan ‘n soort neutraal rasionele saak is, onverwant aan die waardes en vraagstukke wat op ‘n bepaalde tyd in ‘n spesifieke samelewing die toneel oorheers. Voorts is daar niks aan die feit dat regters nie politici of staatsamptenare (in die gewone sin van die woord) is nie, wat hulle verhoed om tot dieselfde dominante elite wat die regering, die politiek, die sakewêreld, die professies, ensovoorts, bevolk, te behoort nie.

Inteendeel, dit is juis vanselfsprekend dat regslui deel van ‘n gemeenskap en van ‘n samelewing sal uitmaak en dat daar van hulle verwag sal word om reg te spreek in samehang met die heersende waardes, kultuur en prioriteite van die samelewing. Hulle behoort – en in Suid-Afrika gebeur dit dikwels – toe te sien dat maatreëls binne hierdie breë raamwerk onpartydig en korrek toegepas moet word, maar in soverre Suid-Afrika se dominante elite saamstem oor die noodsaak van (rasse-) transformasie, moet mens verstaan as hulle dit as hul taak beskou om toe te sien dat dié transformasie “volgens die reëls” plaasvind.

(Grafika: Verskaf)

Dink maar aan pleknaamveranderings wat al in die hof omgekeer is omdat die reëls nie akkuraat gevolg is nie, net om later prosedureel korrek tóg deurgevoer te word. Beskerming teen diskriminasie op grond van ras of die beskerming van taalregte word eenvoudig aan ander prioriteite, waaroor die toonaangewende bevolking saamstem, onderwerp. Dan laat ons nog buite rekening watter beperkte vermoë Suid-Afrika as falende staat het om selfs meer fundamentele en onbetwisbare regte (soos die beskerming van lewe en eiendom) te beskerm. Dít is ‘n onderwerp op sigself.

Die punt is dat die teorie van beskerming deur ‘n onafhanklike regbank, veral vir minderhede in Suid-Afrika, in werklikheid uiters onbelowend is. Dit is soos om op ‘n geknakte riet te steun – dit skep net vir ‘n oomblik die verwagting dat dit jou gaan help om regop te bly en wanneer jy dan val, is jy net nóg minder gereed daarvoor. Uiteindelik blyk dit duidelik dat ‘n stelsel wat in een verband goed kan werk, byvoorbeeld, in ‘n redelik homogene staat, nie noodwendig in ‘n ander opset, byvoorbeeld, ‘n veelvolkige staat met groot verskille van kultuur en ekonomie, ewe goed sal werk nie.

‘n Onafhanklike regbank in ‘n konstitusionele demokrasie is dus nie soseer verkeerd nie as wat ons verwagtings daarvan meestal totaal oorspanne is. Niks kan selfstandigheid vervang nie, daarom bly vryheid ‘n volk se uiteindelike ideaal.

Sulke gedagtes en ander wat daarby aansluit, maak deel uit van Donderdagaand 19 November se paneelgesprek met prof. Koos Malan, waaraan Carel Boshoff, dr. Philip Nothnagel, Pieter Krige en dr. Wynand Boshoff deelneem.

  • Die Vryheidstigting beeldsend Donderdagaand 19 November om 19:00 ‘n paneelgesprek oor ‘n glas Rebelle-bier met prof. Koos Malan aan die hand van sy boek There is no Supreme Constitution.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Derek ·

Die vraag is net, moet die minderheid maar net inval by die wette van die meerderheid en hulle eie kultuur en mens wees inboet. Dit blyk die geval te wees in SA. Die verdere vraag gaan oor die vryheid van godsdiens, dit beteken die wet moet gedeel word om voorsiening te maak vir elke godsdiens. So moet elke kultuur en taal ook beskerm en bevorder word. Dit het nog nooit gebeur nie, maar die regering het in meeste opsigte hul eensydige opinies op almal probeer afdwing. Die grootste kommer is die bekostigbaarheid van die regstelsel wat ontsettend duur is. Net om maar voorbeeld te noem, net een relatiewe goedkoop saak van 10 miljoen rand kan werk verskaf aan ongeveer 41 mense teen R 240 000.00 per jaar, 82 mense teen R 120 000.00 per jaar.. Dit kan baie meer monde voed as in aggeneem word die formule vir aantal persone per inkomste. Die regskoste is buitensporig duur en nie vir almal toeganklik. Suid Afrika kan dit nie bekostig as in aggeneem word die ekonomiese toestand.

Suzette ·

Die regbank in SA is beslis nie onafhanklik nie! En dit gaan ook nie in die nabye toekoms verander nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.