Vryspraak: Mediamense en modernisering

prof-johannes-froneman

Prof. Johannes Froneman is ’n mediakenner en kurator van ‘n Afrikaanse digitalemediamuseum. (Foto: Facebook)

Afrikaners se vinnige en suksesvolle oorgang vanaf ‘n landelike en tradisionele “boere”-bestaan na ‘n stedelike en moderne bestaan gedurende die twintigste eeu, is tot ‘n baie groot mate aan moedertaalontwikkeling te danke. Daarvan getuig onder andere Jaap Steyn se monumentale taalhistoriese werk ‘Ons gaan ‘n taal maak.’ Afrikaans sedert die Patriot-jare wat in 2014 by Kraal Uitgewers verskyn het, sowel as sy ewe formidabele taalsosiologiese werk Tuiste in eie taal: Die behoud en bestaan van Afrikaans van 1980 by Tafelberg.

En dan het Wannie Carsten en Edith Raidt se Die storie van Afrikaans: Uit Europa en van Afrika. Biografie van ‘n taal wat in twee dele in 2017 en 2019 by Protea Boekehuis verskyn het, verdere grond gebreek. Nie net danksy die omvang en inhoud daarvan nie, maar ook met die meegaande webwerf waar verwysings, toeligting, uitbreiding en interaksie met die boek vir die eerste keer van stapel gestuur is, maak daarvan ‘n unieke en onskatbaar waardevolle bron. En hierdie hoogtepunte van Afrikaanse taalstudie is uiteraard nie al wat die afgelope 100 jaar oor Afrikaans verskyn het nie – as mens net letterkundige kritiek byreken, het dit al ‘n onoorsienbare studieveld vir spesialiste geword.

En tog is die punt dat ons elke dag in ontelbare situasies besig is om ons leefwêreld grootliks in Afrikaans tegemoet te gaan: ons medemense, ons werkomgewing, nuus en gebeure, plaaslik en elders. Selfs waar ons ons in die omgang van ander tale bedien – en dit is ‘n vaardigheid en voorreg om op trots en voor dankbaar te wees – is ons begrip van elke situasie op ‘n byna mistieke manier deur ons moedertaal ingeklee. Dit is waarom mens kan aanvoer dat moedertaalontwikkeling die voorwaarde vir werklike breedgebaseerde bemagtiging is – ook in die ekonomie.

Wat egter met al die filosofiese en teoretiese behandeling van die taalvraagstuk nie uit die oog verloor moet word nie, is die praktiese inslag daarvan. ‘n Taal moet gepraat en gehoor word, en geskryf en gelees word. En dit is die lees en skryf van Afrikaans wat dit bo die beperkte, individuele en private verband uitlig en daarvan ‘n openbare saak en ‘n gemeenskapskeppende krag maak. So noodsaaklik as wat dit is dat die taal in mense se harte lewe, so noodsaaklik is dit dat Afrikaans die openbare media, koerante, tydskrifte, boeke, radio en televisie moes inneem – nie net in die verlede nie, maar nog steeds.

Daarom dat die taalwerkers – joernaliste, skrywers, kommentators, bemarkers, digters, akteurs, politici, ensovoorts – besondere erkenning en waardering verdien, selfs dié van wie mens jou soms afkeer of wat jy geneig is om af te lag. Onderwysers en predikante het sekerlik ‘n onvervangbare bydrae tot ons mense se ontwikkeling gelewer en doen dit nog steeds, maar die openbare media en die inhoudskeppers daarvan se eiesoortige rol is nie minder belangrik nie. Ook op hierdie terreine het mense baanbrekerswerk gedoen waarsonder ons nie volledig in Afrikaans sou kon lewe nie. Daarsonder sou Afrikaans steeds die kombuistaal gewees het waarvoor dit lank gelede uitgekryt is.

Paslike erkenning word in prof. Johannes Froneman se digitalemediamuseum, Mediamense.com, aan rolspelers op die mediaverhoog gegee. Daar vind mens ‘n wonderlike hoeveelheid foto’s en voorblaaie van koerante en tydskrifte, lewensverhale en geskiedkundige berigte, stories agter die stories en die persoonlikhede van mense van wie jy dalk net die naam geken het. Dit is die vrug van ‘n lang loopbaan in die media, eers as joernalis en later as dosent, en deurgaans as waarnemer en versamelaar. Froneman het, met die hulp van joernalis James Kemp, daarin geslaag om ‘n sonderlinge en waardevolle versameling saam te voeg en aan te bied vir enigeen wat toegang tot ‘n beeldskerm het. Op jou rekenaar of op jou selfoon kan jy na ou knipsels en voorblaaie kyk, opspraakwekkende nuusgebeure uit vorige era’s nagaan, en in die terugskouings van joernaliste, redakteurs en fotograwe deel.

  • Die Vryheidstigting beeldsend op Donderdagaand 27 Mei 2021 om 19:00 ‘n gesprek tussen die Carel Boshoff en prof. Johannes Froneman, buitengewone professor aan die NWU oor sy digitalemediamuseum Mediamense.com Die gesprek is daarna op Facebook en YouTube beskikbaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.