Vryspraak: ’n Kulturele monument vir die grondlegger van Orania

Prof Carel Boshoffi is die grondlegger van Orania. (Foto: Verskaf)

So belangrik as wat fisieke monumente vir ‘n volk is, so belangrik is sy kulturele monumente ook. Om die waarheid te sê, sonder kultuurgoed, soos ‘n eie taal en denkwyses wat mense in staat gestel het om gedenkwaardige dade te verrig en daaroor te besin, sou min fisieke monumente ooit tot stand gekom het. Mens kan sê die een soort monument is uit klip gekap of in brons gegiet, die ander is op mense se harte uitgebeitel.

Die beste voorbeeld van kulturele monumente is dalk die tradisie wat stilweg ook onder Afrikaners leef, naamlik dié van gedenklesings. Van die gevestigde voorbeelde in Afrikaans is die SA Akademie se jaarlikse JBM Hertzog Gedenklesing, die destydse RAU se NP van Wyk Louw Gedenklesing, waartoe die Akademie ook onlangs toegetree het, en die ou SABRA se HF Verwoerd Gedenklesing wat sedert 1975 aangebied is en deur sy opvolger, die Vryheidstigting voortgesit word. Daar moet nog baie ander voorbeelde ook wees.

Die gedagte is natuurlik om die persoon aan wie dit gewy word, te vereer en te gedenk, maar dit word mettertyd meer as net ‘n herdenking, dit word ‘n geleentheid tot kritiese nadenke oor ‘n breër terrein.

So was die onderwerp vir vanjaar se Hertzog Gedenklesing byvoorbeeld “Genl. Louis Botha in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902” deur prof. Fransjohan Pretorius. Latere politieke verskille is agtergelaat in die terugblikke op meer as ‘n eeu gelede se gebeure.

In ‘n ander geval het prof Hermann Giliomee gesê dat sy Verwoerd Gedenklesing handel oor “Die enigma van Hendrik Verwoerd: ʼn Akademikus in die Politiek” (2003) tot die herwaardering van ‘n hele era en tot sy latere boek Die laaste Afrikanerleiers. ‘n Opperste toets van mag (2012) bygedra het. Die eerste 40 Verwoerd Gedenklesings is dan ook onlangs deur die Vryheidstigting in twee bundels gepubliseer en net die sprekers oor die jare vertel op sigself ‘n boeiende verhaal. Van die destydse staatspresident en eerste minister tot opposisieleiers en rebelse akademici het al hul stem binne dié verband laat hoor.

Sedert 2012, die jaar ná sy dood, is daar ook ‘n gedenklesing vir prof. Carel Boshoff, grondlegger van Orania ingestel. Hy was natuurlik nie die enigste denker wat in die rigting van ‘n selfstandige Afrikanergemeenskap gedink het nie en hy was nie die enigste doener wat die gedagte in werking gestel het toe die meeste mense gedink het dat dit ‘n onmoontlike poging is nie. Hy het egter ‘n unieke kombinasie van oorspronklikheid en waagmoed geopenbaar om van dié droom ‘n werklikheid te begin maak en sy gevestigde bestaan vir ‘n pionierslewe in die Karoo te verruil.

Aan die einde van sy lewe het hy dan ook op die vrae, “Wat was u grootste sukses?” en “Wat was u grootste teleurstelling?” dieselfde antwoord gegee, naamlik, “Orania, want ek sou dit al soveel groter wou sien, maar aan die ander kant, dat dit hoegenaamd, slaag is eintlik ‘n wonder.”

Daarin lê inderdaad die dubbelsinnigheid van elke politieke handeling onder moeilike omstandighede opgesluit: sukses is nie gewaarborg nie, maar om niks te doen nie, is eintlik ondenkbaar.

Die groot vraag is dan ook nie of ‘n politieke handeling in elke besonderheid perfek is of was nie, maar of dit in pas is (of was) met die tyd. En dadelik volg die vraag: Binne watter verband beskou? Want populariteit kan seker as maatstaf van in-pas-wees-met-jou-tyd beskou word, maar die populêrste verskynsels van vandag is meestal môre al weer vergete, veral in die politiek.

Daarom verdien die leiers erkenning wat nie populariteit nie, maar integriteit eerste gestel het en wat die strukturele kragte wat in hul tyd en samelewing aan die werk was, reg verstaan het. Dit is hulle wat oplossings kon formuleer vir probleme wat die meeste mense nog nie eens sien aankom het nie en vir wie ‘n kulturele monument, soos ‘n gedenklesing, gepas is.

Vanjaar se Prof. Carel Boshoff Gedenklesing word deur een van sy opvolgers, dr. John Strydom, voorsitter van die Raad van die Orania Beweging, gelewer. John en Lida Strydom het in 1996 Orania toe getrek en hul kinders, Nikke, Monja en Joost het nie net in Orania grootgeword nie, maar ook ná hul studies teruggekeer en ‘n besondere bydrae tot die gemeenskap kom lewer. Die Strydoms is elk in eie reg besig om diep spore in Orania te trap.

Die gedenklesing word vanjaar weer in Orania aangebied, maar word ook Donderdagaand om 19:00 regstreeks op die Vryheidstigting se Facebook-blad uitgesaai.

  • Die Vryheidstigting saai op Donderdag 12 November om 19:00 die Prof. Carel Boshoff Gedenklesing deur dr. John Strydom, voorsitter van die Orania Beweging, onder die opskrif “Carel Boshoff se Plan B” uit. Besoek die Vryheidstigting se Facebook-blad om die lesing te volg.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Carel Boshoff

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Wat ek baie graag wil weet, is hoekom net 60 mense, ja net sestig, Orania in 1991 gestig het? Die ANC was toe reeds sedert Februarie 1990 ontban en dit was toe reeds net gebaseer op getalle, redelik logies dat hulle ‘n nie-rassige verkiesing sou wen. Wit mense se negatiewe ervarings in die res van Afrika ná onafhanklikheid en “majority rule”, veral in Angola, Mosambiek, Zimbabwe en Zambië, was ook wyd bekend. Net 2 jaar voordat Orania gestig is, het die regse Konserwatiewe Party 685 000 van die wit stemme in die 1989 verkiesing gekry. Dié party het gereeld blanke… Lees meer »