Vryspraak: Naskoolse opleiding met die oog op ’n selfstandige gemeenskap

(Grafika: Verskaf)

By die Vryheidstigting se pas afgelope Jeugberaad op Orania het ten minste twee goed ons as organiseerders opgeval. Dit was die kinders se sin vir selfstandigheid en hul sin vir gemeenskap. Hulle het dit natuurlik nie só geformuleer nie – dan het ek dit gewantrou, want dan het hulle ons dalk net nagepraat. Nee, hulle het dit in groepwerk en probleemoplossingsessies getoon op maniere wat my laat dink dat ons propagering van selfstandigheid en gemeenskap oor die afgelope dekades inslag gevind het.

Beteken dit dat ons propaganda so goed was? Dit betwyfel ek, want dit gaan oor meer as propaganda, dit gaan oor óf en hoe jy ingestem is op die groter werklikhede van jou tyd. Ons het die antwoorde van selfstandigheid en gemeenskap op die vrae van vervreemding en ontmagtiging nie geskep nie – ons het dit hoogstens gevind en mettertyd geformuleer.

Die inslag wat selfstandigheid en gemeenskap gevind het, getuig daarvan dat dit met jongmense se ervarings en behoeftes vandag resoneer, dit getuig van denkende leierskap – wat ook die tema van die Jeugberaad was. Maar waar laat dit ons ná afloop van so ‘n byeenkoms? Dis goed en wel om kinders wat op die drumpel van volwassenheid staan, op iets soos denkende leierskap bedag te maak, maar waarmee rus ons hulle verder toe?

Terwyl die antwoord op hierdie vraag voor die handliggend is, naamlik met naskoolse opleiding, lê die eintlike vrae nog in die vraag opgesluit: Watter ons is dit wat watter hulle wil toerus, en vir watter volwasse lewe? Baie Afrikaners wil nog oor sulke vraagstukke dink asof hulle dit namens Suid-Afrika kan doen. Daarvoor is die tyd egter lankal verby en ons kan sonder skroom ten behoewe van ons eie kinders en ons volk se kinders optree. Niemand anders gaan dit in elk geval doen nie.

Ons praat dus van ‘n Afrikanergemeenskap wat vir Afrikanerkinders naskoolse opleiding moet bedink in en vir ‘n leefwêreld wat tegelyk deur snelle vooruitgang én snelle agteruitgang gekenmerk word, en waarin hulle nie hul heil van die owerhede kan verwag nie. Kortom gestel, dit is die politieke situasie waarin ons ons bevind en waarop ons meer as net ‘n politieke antwoord moet formuleer as ons wil slaag. Ons antwoord lê ook op die terreine van geloof, ekonomie en kultuur.

Geloof gee aan ons ons plek in die orde van dinge. Ekonomie handel met hulpbronne en lewensmiddele waarsonder ons nie kan funksioneer nie, nóg as individue, nóg as gemeenskap. Politiek gaan oor die inrigting van die samelewing en oor besluitneming in breër verband. Kultuur is hoe ons oor dinge dink, selfs as ons nie eens besef dat ons daaroor dink nie – dis iets soos ‘n kombinasie van instink en tradisie.

Wie hom of haar dus bemoei met die vraag na naskoolse opleiding, na die toerusting van jongmense om die volwasse wêreld te betree in ‘n tyd van wanorde en bedreigings, kan kennelik nie net vaardighede in gedagte hê nie. So noodsaaklik as wat ekonomies benutbare vaardighede is, so noodsaaklik is geestelike ankerpunte (geloof), ‘n sin vir magsverhoudings (politiek), en maniere om oor voorspoed, teëspoed, geleenthede en krisisse te dink (kultuur).

Om ons kinders net met vaardighede toe te rus, is om te veronderstel dat die res gegewe is. As dit van ouer Afrikaners se jeugwêreld waar was – en na my ervaring was dit – dan moet ons aanvaar dat dit vandag nie meer is nie. Maar wat meer is: as dit waar is dat ons in ‘n vorige era in ‘n vriendelike wêreld gelewe het, dan was dit ook nie sonder meer gegewe nie, dan was dit danksy ‘n voorafgaande geslag se opbou en vestiging daarvan, met al die opoffering wat dit geverg het.

Die punt is dus dat Afrikaners wat oor die vermoë beskik om ‘n positiewe leefwêreld vir ons jongmense te help skep, dit by uitstek kan doen deur – op watter manier ook al – tot naskoolse opleiding én opvoeding by te dra. Instellings moet gebou en uitgebou word, beursfondse moet gevestig en versterk word, instrukteurs en dosente moet gevind en betrek word, leierskap moet geïdentifiseer en ontwikkel word.

Betekenisvolle naskoolse opleiding is dalk die belangrikste bymekaarkompunt van al ons ander inisiatiewe en ondernemings. Dit is ‘n uitdaging waarvoor ons nie durf terugdeins nie, ‘n roeping waarvoor ons nie durf doof wees nie. Daarom gesels ons Donderdagaand 5 November om 19:00 oor naskoolse opleiding vir selfstandigheid en gemeenskap met Pieter Bisschoff, hoof van Bo-Karoo Opleiding in Orania.

  • Die Vryheidstigting beeldsend Donderdagaand 5 November om 19:00 ‘n gesprek oor “Naskoolse opleiding vir selfstandigheid en gemeenskap” tussen Carel Boshoff en Pieter Bisschoff, hoof van Bo-Karoo Opleiding (BKO) in Orania.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.