Vryspraak: NP van Wyk Louw se nalatenskap vir ons tyd

NP van Wyk Louw. (Foto: Karoo Hoogland Munisipaliteit.)

Die Afrikaanse skrywer NP van Wyk Louw sou waarskynlik met gemengde gevoelens gereageer het op die beskrywing “volksbesit”. En tog is dit presies hoe mens hom 50 jaar ná sy dood op 18 Junie 1970 kan beskryf, want as jy ouer as 30 is en ‘n Afrikaanse skool bygewoon het, het jy waarskynlik “Raka”, “Grense” en “Vroegherfs” beter leer ken as wat jy dalk gedink het moontlik is.

Louw se gedigte en dramas is ‘n kultuurskat wat vir Afrikaners so waardevol moet wees soos Goethe vir die Duitsers of Shakespeare vir die Engelse. Daarmee het hy, om sy eie beeld te gebruik, van Afrikaans ‘n volwaardige instrument in die orkes van wêreldtale gemaak – dalk net ‘n fluit, maar tog ‘n deel van die vol en ronde klank wat vir ‘n groot simfonie onmisbaar is.

Maar dit is sy prosa, sy opstelle oor oënskynlik alledaagse onderwerpe en in eenvoudige taal, wat mens steeds en meer kan boei. Ek huiwer om daarna as filosofie te verwys, want dan verwag mens iets ingewikkeld en ontoeganklik. Daarenteen is Louw se opstelle eenvoudig, amper plattelands in die sin van bekende woorde, duidelike beelde, verstaanbare sinne, onopgeblase gedagtes.

Byvoorbeeld: In September 1961 spreek hy ‘n jaarkongres van SABRA (die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasseaangeleenthede – die voorganger van die Vryheidstigting) oor onderlinge verhoudings in Suid-Afrika toe en sê:

“Ons sal eenvoudig moet leer – of geleer word – wat die stel reëls is waarbinne ons mag praat oor ánder volke wat ons landgenote is, en die reëls van wat die uiterste grense is waarbinne ons mag optree wat hulle betref.”

            […]

“Wát ons politieke toekoms in hierdie land ook mag wees, ons sal daardie stel reëls van onderlinge omgang nodig kry.

“Of ons, soos ek uit my hart hoop, hier ‘n groep vrye, bevriende volke kry wat later uit eie beweging iets soos ‘n Gemeenskaplike Mark, ‘n Bond van Volke, of wát ook al vorm …

“En of ons, deur geweld, of deur ons eie, ons Blankes se traagheid en oneerlikheid ‘n volkebredie kry waarin die minderhede opgelos en langsaam vernietig word …

“Watter van die twee paaie ons ook al gaan kies, hierdie stel basiese reëls sal ons nodig kry.” (Versamelde Werke II p. 395-6)

Mens sou talle aanhalings kon gebruik om die punt te maak – en dit is duidelik dat hy nie eenvoudig geskryf het omdat hy eenvoudig gelees het nie, want hy het van die ingewikkeldste digters en filosowe wat daar is, gelees. Hy het egter geen onverteerde gedagte deurgegee nie. Hy sou dit altyd vir ‘n intelligente en belangstellende, al sy dit ongeleerde luisteraar, vir “Ou oom maer Willem”, kon verduidelik – om dit só te stel!

Nie dat dit sy pittigheid of populariteit is wat Louw vyftig jaar ná sy dood gedenkwaardig maak nie; dit is eerder sy eerlikheid en sy sin vir die langer termyn, die onderliggende spanning, die strukturele konflik. En die saamdink van teendele. Voorin sy bundel literêre opstelle, Swaarte- en ligtepunte (1958) skryf hy:

“Weet jy jong, ek het nog altyd só ‘n beskouing van klippe gehad: in die middelste korrel van die klip – daar waar ons meen sit sy swaarheid: dáár is dalk iets ligs.

[Ou oom maer Willem]

As ons nou sê dat Afrikaners vandag, anders as in die era van Louw, nie net magteloos nie, maar ook tuisteloos is; nie net tuisteloos nie, maar ook magteloos, dan is die vraag of hy nog steeds van belang is. Het hierdie skrywer wat met die handsambok onder sy mense se aanmatiging en valse trots ingeklim het, ook nóú en vir óns iets te sê?

Op sterkte van die bostaande aanhaling kan ons reeds bevestigend antwoord, met betrekking tot beide dat ons eenvoudig sal moet leer – óf kan verwag om geleer te word – wat goeie maniere in ‘n veelvolkige samelewing vereis, én dat as minderhede in Suid-Afrika onder druk beland, dit ten minste deels aan “Blankes” Ase “traagheid en oneerlikheid” te wyte sal wees.

Maar naas die negatiewe oordele wat hom veral onder konserwatiewe nasionaliste ongewild gemaak het, is daar ook die vertroue en die selfstandigheid wat hom ‘n nuwe daeraad ánderkant die “donker nag van die siel” kon laat bedink. Nie net lê die versoeking om te glo dat blote voortbestaan verkieslik is bo voortbestaan in geregtigheid vir elke volk êrens en wag nie; dié krisis is ook die voorwaarde vir ‘n volk om op ‘n byna mistieke wyse “herbore, jonk, skeppend” te voorskyn te kom.

Hoe langer Afrikaners aan die mag bly klou het, hoe donkerder het die toekoms geword. Maar die prysgawe daarvan, van mag oor ander – teen watter prys dit dan ook gekom het – het nuwe moontlikhede vir ons eie selfstandigheid geskep. Ook dié insig en dié selfvertroue het ons op ‘n manier aan NP van Wyk Louw te danke.

Daarom is dit reg dat ons hom vandag in herinnering roep en aan hom eer betoon.

  • Die Vryheidstigting bied vanaand (Donderdag 18 Junie) om 19:00 ʼn huldigingslesing vir die groot Afrikaanse denker NP van Wyk Louw aan. Die lesing word intyds op die Vryheidstigting se Facebook-blad uitgesaai met as onderwerp “NP van Wyk Louw en die derde Afrikaner”. Carel Boshoff, hoof van die Vryheidstigting, sal die lesing lewer en prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia en voorsitter van die FAK, sal dit inlei.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Carel Boshoff

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jaco

Ek haal aan uit die berig: Hoe langer Afrikaners aan die mag bly klou het, hoe donkerder het die toekoms geword.” Maar toe daar al in die vroee 1980’s gepraat is van afskei, volkstaat ens, toe het die regerende nasionale party gese dis rassisme en gedink hulle “hervorming” sal werk. Die regse Konserwatiewe Party en die regse Herstigte Nasionale Party het weer geglo hulle so ‘n verkiesing wen (al het hule NOOIT saamgewerk nie) en dan apartheid terugbring. in 1990 is die ANC gewettig. Almal moes vanaf kort daarna geweet het hulle so ‘n non racial verkiesing loshande wen. Tog… Lees meer »