Vryspraak: Saam in Afrika, waar lê die sleutel tot ’n modus vivendi?

afrika-vasteland-aardbol-kaart-duim-kleur

(Argieffoto: Maroela Media)

Terwyl talle Afrikaners hul toekoms elders in die wêreld sien, is die meeste van ons se verbintenisse met die deel van Afrika waar ons woon, te sterk om dit te verbreek. Ook nie dat almal wat in die buiteland gaan werk en woon, hul bande verbreek nie, want baie van hulle behou Afikaans as huistaal en kom weer terug of hul kinders kom terug. Die punt is egter dat die meeste van ons nooit weggaan nie – omdat ons nie wil nie of omdat ons nie kan nie, of beide. Ons verbintenis is naamlik ‘n kwessie van gesindheid én praktyk.

Intussen het Afrikaners in die verlede nie, en is ons nou ook nie geneig om in Afrika soos op ‘n eiland in die see te woon nie. Dié stelling kan natuurlik betwis word en die blote woord apartheid sal as eerste bewys van ons gepoogde eilandbestaan aangegee word, maar dit is nie so ‘n uitgemaakte saak as wat ons deesdae wysgemaak word nie.

Al het die woord in die middel van die vorige eeu groot aanhang onder Afrikaners geniet, het politieke leiers en denkers vir etlike dekades daarna gepoog om hul beleid, wat meer as segregasie behels het, ‘n meer beskrywende naam te gee. Dit het elemente van ontwikkeling en samewerking behels en selfs die “positiewe” konsep van voogdyskap is met beelde van vennootskap vervang. Dat ‘n politieke beweging wie se sukses van die ondergang van Afrikanermag afgehang het geen begrip vir sulke nuanses sal hê of toelaat nie en dit steeds in die slegste moontlike lig wil stel, sal niemand seker verbaas nie.

Voorts is die verhouding tussen wit- en swart mense in Suid-Afrika oor eeue heen deur kontak van verskillende soorte gekenmerk. Die kontak het inderdaad op ongelyke magsverhoudings, beide institusioneel en individueel, berus en was terugskouend ooglopend onvolhoubaar, maar die een ding wat dit nie was nie, is wit isolasie en ‘n eilandbestaan. Om die waarheid te sê, die sekerste waarborg vir die einde van wit dominansie was ekonomiese integrasie en die “wit ekonomie” se “swart arbeidsafhanklikheid” in ‘n era van toenemende gelykheid.

Die gevolg was dat die strategie van nie net apartheid nie, maar ook van afsonderlike ontwikkeling aan die hand van die ekonomie  daarin misluk het om kulturele verskeidenheid in staatkundige verskeidenheid te vertaal. Die moderne staat is inderdaad eerder ‘n ekonomiese as kulturele konstruk. Daarby het die dominante wit bedeling selde probeer en nog minder daarin geslaag om sy beelde van kultuurgebaseerde federalisme op ‘n werklik wederkerige wyse in werking te stel.

Weer eens nie by gebrek aan teorie nie – daarvan getuig die evolusie van die staatsdepartement wat met die administrasie van die swart bevolking moes handel se naam: van Narturelle Sake in die 1950’s tot Plurale Betrekkinge in die 1970’s. In praktyk is dit deur beide wit- en swart mense verstaan en beleef as ‘n dominante groep wat sy voorkeure en voorwaardes op ‘n onderhorige groep afgedruk het vir solank as wat hy die botoon kon voer. Op dié verontwaardigende onderbou kon die onderhorige groep net met verwerping reageer en dit het op die omwenteling van die middel-1990’s uitgeloop.

Nou, ‘n kwarteeu later bevind ons ons onder ‘n heel nuwe stel omstandighede: Afrikaners is polities meer onderhorig as dominant en ekonomies onder druk, hoewel ons steeds (of weer) kultureel ‘n goed georganiseerde gemeenskap is. Nou ontstaan die vraag hoe om onder hierdie omstandighede ons verhoudings in te rig. Spanning en wrewel is aan die orde van die dag en politieke populiste is besig om rondom swart armoede te mobiliseer op ‘n wyse wat net ‘n zero som-uitkoms kan voorspel.

(Grafika: Verskaf)

Maar dit laat geen reg aan die tallose voorbeelde van goeie betrekkinge en verhoudings, op beide gemeenskaps- en individuele vlakke, wat ook oor die afgelope eeue geheers het, geskied nie. Verhoudings wat nie altyd die toets van ‘n globale politieke omwenteling kon deurstaan nie, maar wat onder omstandighede tog aan die diep menslike vereistes van wedersydse erkenning en respek voldoen het. Dit is sosiale kapitaal wat uit ‘n swart rewolusionêre oogpunt geïgnoreer en tot niet gemaak moet word, maar wat uit Afrikaneroogpunt behou en gekoester – en soms herontdek – moet word.

Afrikaners se toekoms, maar ook die breër Suid-Afrikaanse samelewing se vryheid, vrede en voorspoed, hang vir ‘n groot deel daarvan af. Boonop kan ‘n selfstandige gemeenskap soos Afrikaners vandag die selfvertroue hê om uit eie beweging beter en volhoubaarder verhoudings as in die verlede te vestig. Ons het mos ook uit ons foute geleer!

Hiermee is Barend Uys, hoof van Opinor, daagslike besig en hieroor praat Carel Boshoff en Barend Uys op Vrydagoggend 26 Februarie om 09:30 in die Vryheidstigting se Vrysending op ons Facebook-blad, wat daarna op Facebook en YouTube beskikbaar is.

  • Die Vryheidstigting beeldsend op Vrydagoggend 26 Februarie 2021 om 09:30 ‘n gesprek tussen Carel Boshoff en Barend Uys, hoof van Opinor, oor die vraag “Waar lê die sleutel tot ‘n modus vivendi tussen Afrikaners en ander Suid-Afikaanse gemeenskappe, gegewe ons onontwykbare saamwees in Afrika?” Die gesprek is daarna op Facebook en YouTube beskikbaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.