Almal hou van stelsels wat werk, maar nie almal trek die verband tussen ‘n werkende stelsel en ‘n lewende erfenis nie. Erfenisbewaring word tipies met “ou goed” verbind en nie almal vind dit ewe interessant nie. Maar buiten dat ou goed ook eens nuut was en nuwe goed ook oud word, is dit die lewende teenwoordigheid van goed wat in ‘n sin nie oud of nuut is nie, maar eenvoudig dáár is, waaroor dit gaan wanneer mens jou afvra waarom sommige stelsels werk en ander nie.
As mens aan ‘n gebou dink, is die fondament tegelyk die deel wat die hardste werk én die deel wat die minste werk – dit lê eintlik net daar! En boonop bestaan die fondamente grotendeels uit bourommel! Die vloer waarop jy staan, rus direk of indirek op ou goed wat elders gesloop en tot niet gemaak is, maar wat herwin en ingery en vasgestamp is voordat die nuwe bouwerk weer kon voortgaan. En dis net die dele wat mens nie kan sien nie. Die mooiste nuwe geboue toon tekens van hul beste voorgangers – soms by wyse van ontwerpmotiewe, soms in die vorm van antieke deure, pilare, balke, kaggels, ensovoorts wat fleurig hergebruik word.
Fisieke stelsels, sê maar dié van werkende munisipaliteite, is eweneens gebou op eeue se oplossings van eenvoudige probleme soos watervoorsiening, rioolverwerking, padvoorsiening en energieverskaffing. Natuurlik het die fisieke, finansiële en wetsraamwerke ontwikkel en meer gesofistikeerd geraak, maar waar die stelsels wat oor geslagte ontwikkel en verfyn is, geminag word, loop die riool gou in dis strate af terwyl die krane sonder water staan omdat die pompe wat water moet voorsien, sonder elektriese krag is.
En as die krag af is, is dit nie net fabrieke en werkswinkels wat staan nie, dis ook hospitale wat ontwrig word en teaters wat gesluit word. Die fisieke ontwrigting hou dus na twee kante toe met kultuurverband – aan die insetkant kan geen boeke klop as daar ‘n kultuur van wanbetaling en wetteloosheid is nie en aan die uitsetkant bly kultuurprodukte in die slag as die dienste waarop dit berus, afwesig is. Maar kultuurerfenis kom op nóg ‘n manier, selfs meer omvattend, ook ter sprake.
Ek dink aan die vroeë 1980’s toe ek as skolier op die Kerkplein in Pretoria gekom het om in die Ou Raadsaal-gebou klasse in rekenaarwetenskap by te woon. Die ou geboue op die agtergrond en die Kruger-beeld in die middel met mense wat op die grasperke ontspan terwyl ander haastig na die hooggeregshof, poskantoor of bank stap. Ek het soms om die rysige figuur met die vier brandwagte rondom geloop … en wat gedink?
Nie dat “ons mense” beter as “ander mense” is nie. Mens weet natuurlik nie meer wat jy dekades gelede gedink het nie, maar een ding is seker: daar was grond onder jou voete – ook by wyse van spreke. Jy het geweet jy kom êrens vandaan en dit het gehelp om jou te laat dink aan waarheen jy op pad is. Ek en diegene wat daarmee kon vereenselwig, het nie daarvandaan weggegaan en gedink dis ‘n goeie idee om skole af te brand of dat ons nie munisipale dienste behoort te betaal nie. Ons het eerder, soos president Brand van die Vrystaat ons geleer het, gedink dat alles sal regkom as elkeen sy deel doen. Nog ‘n stukke kultuurerfenis – die Vrystaat, die president, én sy spreuk.
Só gesien is daar talle lewende erfenisse aan die werk. Dalk die eenvoudige trots op ‘n oupa of ouma, ma of tante of iemand wat ‘n besonderse prestasie behaal het, dalk ‘n besonderse meubelstuk of foto wat uit die familie kom, dalk ‘n familienaam wat met grasie gedra word en die band oor geslagte bind, dalk ‘n gunstelingplek waar die spore van ons voorgangers lê en spesifiek tot jou spreek. By ons sien mens dikwels nog ou klipkrale wat in die veld lê en waarvan vorige geslagte vir die oorlewing van hulle vee – en bygevolg hulself – afhanklik was. Mens kan nie juis sê dat jy daarsonder spesifiek slegter af sou gewees het nie, maar tog sou jy nie op dieselfde manier aan ‘n ryk en vol bestaan kon deelneem, as dit nie daarvoor was nie.
Die belangrikste is waarskynlik die gedagtegoed, die geestelike erfenis, die verhale en herinnerings met behulp waarvan ons vandag se uitdagings tegemoet gaan. Die houdings en gesindhede wat maak dat ons opbou eerder as afbreek, praat eerder as baklei, dink en beplan eerder as indonder en spyt kry. Dít nou in soverre ons dit regkry, want ons maak ook maar dikwels droog. Die punt bly dat ons sonder die woorde wat ons ook maar geërf het, nie sou kon praat nie, sonder die liefde van ouers en grootouers nie sou oorleef het nie, sonder die plase en dorpe en stede wat onsself nie gebou het nie, vandag nie ‘n tuiste sou hê nie. Kortom, dat ons eintlik die begunstigdes van ‘n ryk en lewende erfenis is.
Daarsonder sou ons volk kwalik ‘n skaduwee gewees het van wat ons nou is, en daarmee gaan ons skrikaanjaende uitdagings tegemoet. Daarom is dit die moeite werd om ons erfenis te bewaar – nie deur dit te museumifiseer nie, maar deur dit te léwe. Daarom dat ons instellings soos die FAK nodig het, want alleen kan elkeen eenvoudig nie vermag wat ons saam kan regkry nie. Daarom dat die Vryheidstigting Donderdagaand met dr. Danie Langner gesels oor ons lewende erfenis en die FAK se rol vandag.
- Die Vryheidstigting beeldsend Donderdagaand 29 Oktober om 19:00 ‘n gesprek oor “Ons lewende erfenis en die FAK se rol vandag” tussen Carel Boshoff en dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK en hoofleier van Die Voortrekkers.
Die is sowaar. Ons erfenis gaan verdwyn as niks gedoen word nie, want anc en hul kinders eff probeer hard. Ons kinders leer niks op skool en so moet ons staande bly deur hulle te leer en te vat.
In die ou SA was die FAK die openbare vleuel van die geheime Broederbond. Die Broederbond was weer die “think tank” agter die regerende Nasionale Party. Stelselmatig het die Broederbond en die NP al hoe meer “hervorm”, al hoe meer toegegee en uiteindelik aan die ANC oorgegee. As mens die NP en die Broederbond gewaarsku het dat die hervorming nie gaan werk nie en hulle gewys het op hoe die res van Afrika lyk, het hulle jou uitgekryt as verkramp en rassisties.
So dis UITERS vreemd dat die FAK nou kla oor SA so verval. Dis dan hulle “hervormings” wat die hele proses van verval aan die gang gesit het.