Vryspraak: Politieke gemeenskap

Carel Boshoff.

As Afrikaners besig is om hul selfvertroue te herwin – en dit lyk inderdaad so – moet woorde soos politiek en gemeenskap ‘n toenemend belangrike rol daarin speel.

Die rede is dat volhoubare selfvertroue en ‘n positiewe selfbeeld op meer as blote weerbarstigheid of verset teen benadeling gebou moet word. So onmisbaar as wat sulke sentimente ook al is, het ‘n standhoudende beweging op die duur toepaslike argumente, frases en woorde nodig. Daarsonder verflou die oortuiging wanneer jou saak op die helder beligte ontleedtafel gedissekteer word en daar geen deeglike denke in die kern daarvan gevind kan word nie.

Voorgangers

In die vorige bedeling is hierdie werk by uitstek deur twee hoogstaande denkers verrig, naamlik die digter en skrywer NP van Wyk Louw en die sosioloog en politikus HF Verwoerd. Louw het, naas sy werk as kunstenaar en letterkundige, ook invloedryke opstelle en rubrieke oor die grondslae en regverdiging van ons volksbestaan geskryf. En dit was sulke hoogstaande werk dat lesers tot 80 jaar later nog daardeur geboei word en dit toepaslik vind. Verwoerd het dit moeiliker, want as politikus het hy minder geskryf en meer gepraat, maar ook meer gedoen – en dit is wat vandag nog teen hom gehou word: dat hy apartheid tot nuwe hoogtes gevoer het.

Sonder om nou hierdie twee denkers omvattend te beoordeel, verwys ons hier na twee kenmerkende frases waarmee hulle die strewe van hul era verwoord het en bymekaar aansluiting gevind het. Die een is Louw se Voortbestaan in geregtigheid en die ander is Verwoerd se Afsonderlike ontwikkeling, waarmee hy apartheid, as woord én as beleid probeer vervang het. Die punt is dat daar in hierdie twee frases en in hul verband met mekaar ‘n hele denkbeeld opgesluit lê wat nie sy geldigheid verloor het net omdat daar ‘n wankelmoedige politiek op gebou is nie.

Om as Afrikaners nou weer oor politiek te dink en dit aan die hand van gemeenskap te doen, sluit op ‘n manier by hierdie voorgangers van ons aan, maar gee ons ook die geleentheid om belangrike verskille aan te teken. Verandering roep immers verandering op, ook en veral met die oog op behoud. Kom ons gaan dus dieper daarop in.

Wat politieke gemeenskap behels

‘n Politieke gemeenskap is duidelik ‘n gemeenskap van ‘n bepaalde soort, een wat daarop afgestem is om lewensbepalende besluite oor homself te neem terwyl hy ook oor meganismes en instellings beskik om verskille oor voorkeure en prioriteite rakende sulke besluite te hanteer. ‘n Politieke gemeenskap is dus nie net ‘n aantal individue nie, maar ook ‘n kollektief, ‘n geheel waarvan die som groter as die dele is. En met hierdie verhouding tussen die dele en die geheel word ons voor ‘n wesenlike vraag na die aard van die politiek gestel, maar kom ons verken die konsepte en hul geskiedenis kortliks voordat ons by dié sleutelkwessie uitkom. (“In Politieke gemeenskap [2]”)

Die eerste gedagte om onder oë te kry, is dat ‘n politieke gemeenskap (as verskynsel) net kan bestaan as en in soverre daar politieke gemeenskap (as aktiwiteit) beoefen word. Maar wat beteken dit?

As ons aanvaar dat politieke gemeenskappe die afgelope drie of wat eeue nie net in state gehuisves word nie, maar die vorm van state aangeneem het, dan het die beoefening van politieke gemeenskap betrekking op die prosesse van politieke besluitneming, maar ook op die vorming van politieke denkbeelde en voorkeure wat dit onderlê. Die burgery van sulke state het dus genoeg in gemeen en genoeg om oor te verskil dat inhoudgewende debatte oor samehangende ideale gevoer kan word sonder dat die verskille die samehang uitmekaar laat spat.

Die Romantiek

Hier help dit om aan die Romantiek te dink, ‘n rigting in die filosofie en die kuns wat gedurende die agtiende en negentiende eeue, teen die agtergrond van die opkomende Verligting en Rasionalisme, klem op die intuïtiewe, die skone en die gevoelsmatige eerder as die redelike, die praktiese en die doelmatige gelê het. Vir die Romantiek was natuurbelewing, skoonheidservaring, volkskuns, moedertaal, kultuur en tradisie van die elemente waaruit ‘n outentieke lewe bestaan en wat deur die politieke gemeenskap in beskerming geneem en bevorder moes word. In die proses word ‘n kunsmatige elite-kultuur ook vir ‘n aardse volkskultuur verruil en word die weg vir ‘n bepaalde vorm van persoonlike uitdrukking, individuele deelname en demokratisering voorberei.

Nie te vreemd nie dat die moderne (19de-eeuse) Europese staatsbedeling ook die stempel van die Romantiek sou dra, en wel in die vorm van ‘n sameval tussen volk en staat.

“Volk” is in hierdie verband tipies ‘n taal-, kultuur- en geloofsgemeenskap wat, danksy die drukkuns, industrialisering en verstedeliking bo lokale identiteite uitgestyg het en van ‘n nasionale kultuurgemeenskaplikheid bewus geword het. Selfbewuste volke kon, danksy toenemende demokratisering, hulself in die politieke arena laat geld en hul lede se belange bevorder. Nie dat dit sonder die dikwels pynlike inlywing van onaanpasbare en plaaslike minderhede plaasgevind het nie, maar oorhoofs was die bevolkings van die state wat die res van die wêreld gekoloniseer het, in die belangrikste opsigte redelik eenvormig.

Maar dit is net een kant van moderne Europese state se ontwikkelingsgeskiedenis. ‘n Ander en selfs belangriker kant is die sentralisering van soewereiniteit. Ter bevordering van sterk en eendragtige optrede met die oog op ekonomiese ontwikkeling en/of oorlog, is die gesag van die nuwe, groter state toenemend in ‘n absolute owerheidsinstelling, eers die monargie en later die verkose regerings, se hande geplaas. Nie alleen het hulle die swaardmag en belastinginvordering gemonopoliseer nie, hulle het ook toenemend daarin geslaag om alle gesagsinstellings tussen die individu en die sentrale owerheid uit te faseer of kragteloos te maak.

Demokratisering

In ‘n soort dubbele beweging sou burgerskap verbreed en versmal word. Verbreed, want alle permanente inwoners van sulke state sou burgers word; versmal, want die betekenis van burgerskap sou tot simboliese verteenwoordiging van die individuele burger in ‘n magtige en onpersoonlike sentrale owerheid beperk word. In sulke gebiedsgebaseerde volkstate (Frankryk, Italië, Duitsland, ensovoorts) kon die ontwrigting van nuwe stelsels nog met nuwe vorme van ewewig teengewerk word, maar in samelewings waar hierdie patrone gedwonge of vrywillig nageboots is, het dit tot onvoorsiene gevolge gelei.

Waar hierdie staatsvorm egter deur kolonisering wêreldwyd uitgevoer is, is staatsgebiede aan die hand van die koloniseerders se belange afgebaken en met behulp van gesentraliseerde soewereiniteit geadministreer, ook waar daar geen samehangende politieke gemeenskappe was wat met die staatsgrense saamgeval het nie. Die mate van samehang wat daar was, is aan verset teen dieselfde buitelandse oorheersers te danke. Maar waar die juk van koloniale oorheersing suksesvol afgewerp is, het die koloniale staatsgrense, administratiewe strukture en tale grootliks onveranderd gebly en het die staatsbevolkings geen betekenisvolle politieke gemeenskappe uitgemaak nie. Selfs die ywerigste nasiebouprogramme het selde bo bevolkingsdele se kompetisie om skaars hulpbronne uitgestyg, met die gevolg dat etnisiteit en tribalisme tot vyand van die staat verklaar is. Dit het die gedagte versterk dat elke tussenidentiteit tussen die individu en die staat bestry moes word eerder as om boustene van ‘n nuwe orde te wees. Geen wonder dat sulke state meestal misluk het nie.

‘n Nuwe ewewig

Maar hoe kan daar ewewig bereik word in ‘n wêreld wat deur verskil en kompetisie gekenmerk word? Dis eintlik eenvoudig – hoewel nie maklik nie: deur die verskille en die draers daarvan nie te probeer wegdink nie, maar te verreken en te huisves. Maar hoe doen mens dit? Weer eens eenvoudig, maar nie maklik nie: deur federalisties eerder as sentralisties te dink. Ingevolge die federalisme, wat natuurlik baie vorme kan aanneem, kan ‘n veelvolkige staat soos Suid-Afrika uitstyg bo die perke wat sy koloniale geskiedenis hom oplê deur aan homself as ‘n gemeenskap van gemeenskappe te dink.

Maar daarmee, dat Suid-Afrika aan homself as ‘n gemeenskap van gemeenskappe dink, is ons reeds by die einde en nie die begin van die storie nie. Die begin moet naamlik wees dat gemeenskappe aan hulself as politieke gemeenskappe dink en beide na binne én na buite politieke gemeenskap beoefen. Dit sal ons toerus om toepaslike verskille te verreken en noodsaaklike bondgenootskappe aan te gaan. Dan kan ons aan ons eie kant wees, ons eie billike belange bevorder en ons eie toekoms verseker sonder dat dit ten koste van enige iemand anders hoef te wees. Inteendeel, mense en gemeenskappe wat hul eie strewes en belange goed verstaan en oordeelkundig bevorder, vind meestal aanknopingspunte by ander mense en gemeenskappe met soortgelyke behoeftes.

Dit sal vir Afrikaners in Afrika nie anders wees nie. Dalk, as so ‘n gemeenskap van gemeenskappe ‘n funksionele werklikheid word, kom Suid-Afrika met ‘n nuwe selfbeeld tot verhaal en help red ons hom van die disintegrasie en ondergang waarheen hy nou op pad is. En gebeur dit nie, is ons beter gereed vir die post-Suid-Afrikaanse geskiedenis wat ons dan gaan betree.

  • Die bydrae is deur die Vryheidstigting verskaf. Die Vryheidstigting is ‘n burgerlike inisiatief wat in 2019 van stapel gestuur is en hom toespits op navorsing en strategiese skakeling met die oog op Afrikaners se vrye uitlewing van hulle identiteit en strewes.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

pestilensie ·

Insiggewend , Baie wat PW Botha voorgestaan het, maar deur Pik en FW afgeskiet is . Maar om hierdie tipe van federalisme te laat werk ,het jy sterk leiers en n meer konserwatiewe media nodig ,en moet ons (afrikaners) begin saamstaan , n moeilike taak aangesien die indokternasie van die PW era diep loop . Ook is dit belangrik vir alle rolspelers om saam te stem , aangesien ons geen politieke mag meer het nie

Ettienne ·

Uitstekend artikel. Logies, rasioneel en objektief uiteengesit.

As ons as Afrikaners nou net kan afsien van die “Elke bobbejaan kraai koning op sy eie miershoop” sindroom en begin saamwerk en saamstaan…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.