Vryspraak: Wat Afrikaners kan leer by die VSA

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Afrikaners se belangstelling in Amerikaanse politiek is, as mens aan Hollywood-Amerika dink, onverstaanbaar. As mens egter verby die silikon en glans en onwerklike lewens van filmsterre kyk, is dit ‘n heel ander saak. Dan gaan daar raakpunte oop, veral met die WASP (White Anglo-Saxon Protestant)-gemeenskap – ‘n beskrywing uit die 1970’s van die gediskrediteerde, voorheen dominante bevolkingsdeel wat in die persoon van Donald Trump onlangs weer die toon aangegee het.

Om die waarheid te sê, baie Afrikaners bejeën die situasie met ‘n kombinasie van nostalgie en verontwaardiging, want ten spyte van al die banaliteit waartoe die Amerikaanse vermaaklikheidsbedryf geneig is, het die VSA die afgelope eeu nog as anker van die Westerse wêreld gedien. Dit het polities en ekonomies, maar ook kultureel en geestelik gegeld en Afrikaners het daartoe aangetrokke gevoel. Belangrike verskille het egter meegebring dat ons verhouding die afgelope dekades deur gespanne belangstelling gekenmerk is.

Formeel gesproke is die VSA byvoorbeeld nie op kulturele nasionalisme nie, maar op konstitusionele patriotisme gebou. Almal is welkom, solank hulle volgens die reëls speel en hoewel die reëls oorspronklik diep kulturele inhoude gehad het, het dit hoe langer hoe meer voorgegee om neutrale, waardevrye ordereëls te wees. Die doel was dan ook nie om mense agter gedeelde ideale saam te snoer nie, maar om hulle uit mekaar se hare te hou sodat elkeen sy/haar private oogmerke met die minimum inmenging van ander kan nastreef.

Die liberale oortuiging was dan ook dat so ‘n neutrale regulering van private belange, veral ekonomies, maar ook polities en kultureel, as’t ware deur ‘n onsigbare hand in die rigting van almal se voordeel gelei word. Hierdie beeld van sake word meesterlik ontleed deur Michael J Sandel in sy legendariese artikel van 1984 in Political Theory, “The Procedural Republic and the Unencumbered Self”. Die punt is eintlik dat die liberalisme so suksesvol was in sy privatisering van alle waardes, dat daar kwalik enige gedeelde waardes, buiten vir iets soos “verdraagsame privaatheid” – wat toenemend onverdraagsaam afgedwing word – oorgebly het.

Agter die dominante liberale diskoers, wat nou weer met pres. Joe Biden se verkiesing die botoon gevoer het, lê daar egter groot kulturele en geestelike bronne wat deur groepe en gemeenskappe in die VSA gekoester en ontgin word. Ek vermoed, byvoorbeeld, dat die meeste publikasies oor ‘n sentrale figuur in die Westerse tradisie soos Thomas Aquinas vandag uit Amerika kom. Ek weet dat daar Christelike gemeenskapsuniversiteite is waar die klassieke Westerse tale en tekste bestudeer en aan volgende geslagte jongmense oorgedra word, universiteite by wie Akademia, onder meer, aansluiting vind.

Noudat Trump, wat uit verskillende oogpunte nogal ‘n problematiese figuur was, deur ‘n volbloed linkse liberaal vervang is, en politieke tendense al meer deur ‘n groeiende nie-Westerse bevolking beïnvloed word, is dit duidelik dat ons Westerse geesteserfenis nie sonder meer op die beskerming van ‘n supermoondheid kan staatmaak nie. Dit, terwyl Europa – die wieg van die Westerse tradisie – by uitsondering ook nie die wil of vermoë openbaar om hulle teen ‘n volgende golf van Islam-besetting te verweer nie.

(Grafika: Verskaf)

Dit is asof die geloof en wetenskap waarop ons beskawing gebou is, maar veral die verhouding tussen geloof en wetenskap waarop dit gebou is, eenvoudig nie meer algemene aanhang geniet nie. Dit open twee vrae. Eerstens: of en hoe lank ‘n beskawing wat sy eie bronne verontagsaam en minag, behoue kan bly, en tweedens: wat diegene wat steeds tot dié beskawingsbronne aangetrokke voel, te doen staan.

Afrikaners in Suid-Afrika, wat Westers gesproke deel van die “nuwe wêreld” uitmaak, en wat behoudend staan jeens die waardes wat die “nuwe wêreld” hoegenaamd moontlik gemaak het, soek intuïtief bondgenote in die VSA op. Nie omdat hulle groter, beter of meer is nie, maar omdat ons en hulle in soveel opsigte in dieselfde bootjie is.

Dit is boonop nie ‘n nuwe verskynsel nie. Hoewel ons bewussyn aan beide kante van die Atlantiese Oseaan gestempel is deur ‘n betreklik onlangse periode van dominansie, was dit nie altyd so nie en sal dit kennelik nie altyd so bly nie – ook nie daar nie.

Daarom is die verbintenisse tussen vroeë Afrikaners en Amerikaners opnuut van belang. Dit is uiteraard nie iets wat met ‘n enkele woord of gebaar weer van krag word nie, maar ‘n verhouding wat, namate omstandighede dit begunstig en ons dit koester, weer van groot waarde kan wees.

Daarom dat Carel Boshoff en prof. Pieter Duvenage, dekaan vir geesteswetenskappe by Akademia, in die Vryheidstigting se Vrysending Donderdagaand om 18:00 die onderwerp “Afrikaners en Amerika, wat om te leer en nie te leer nie”, gaan bespreek. Dit sal daarna op Facebook en YouTube beskikbaar wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik ·

Die oplossing in SA is ooglopend waar daar ‘n Federale staat stelsel moet wees waarin Boere-Afrikaners selfstandig en onafhanklik hulself kan regeer. Met staatsverval en fiskale afgrond word binnekort bereik gaan word moet elke gemeenskap mobiliseer en vir hul self sorg op alle gebiede. Verandering kom gewoonlik vinnig en onverwags, veral in Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.