Vrystaat se krane én geld droog op

Deur dr. Roy Jankielsohn

Roy Jankielsohn.

Met die plaaslike regeringsverkiesings ʼn paar maande agter ons, beleef die meeste Vrystaters met verhoogde intensiteit munisipale regerings wat in totale ellende inmekaarsak. Die versoeking is groot om die verantwoordelikheid hiervoor uitsluitlik voor die deure neer te lê van diegene wat vir die ANC gestem het, of nog erger, nie gestem het nie.

Opposisiepartye weet egter dat ook ons met erns moet stoei met die vraag oor hoekom so baie potensiële kiesers nie geregistreer het om te stem nie, of nie op stemdag opgedaag het om te stem nie. Hierdie werklikhede verander ongelukkig niks aan die lot van inwoners nie.

Dorpe en nedersettings is weke lank sonder water en krag, berge vullis bou voor huise op wat plaagdiere lok, paaie is onbegaanbaar, en riool loop deur strate, erwe en naburige plase. Die swak dienste is lankal verby die punt van ongerieflikheid, en hou tans ’n omgewings- en gesondheidsrisiko vir inwoners in. Die gebrek aan water en besoedeling is ook ʼn skending van inwoners se menseregte.

Die woede wat oor die gebrek aan basiese dienste opbou is nie net werklik nie, maar ook ʼn verstaanbare en geldige emosie. Sommige sit self die skouer aan die wiel en maak skoon, sny gras en verwyder vullis. Slaggate word plek-plek self reggemaak en straatmerke word geverf. Terwyl die entoesiasme en dryfkrag van hierdie inwoners bewonder word, verander dit egter niks aan die harde werklikheid dat die instandhouding van munisipale infrastruktuur en die lewering van gereelde, goeie basiese dienste die hoofrede vir die bestaan van munisipaliteite is nie. Dit is ook net munisipaliteite wat op ʼn wettige manier die nodige inkomste kan genereer om hierdie funksies te vervul. Daarom is daar op die langer termyn geen ander opsie as dat munisipaliteite hul werk moet begin doen nie.

Munisipaliteite funksioneer natuurlik ook nie in ʼn lugleegte nie. Die ekonomiese gevolge van die verval in ons provinsie is oral sigbaar in die desperate gesigte van werklose volwassenes en in die honger oë van hul kinders. Senior burgers word broodwinners met hulle klein pensioene en staatstoelaes wat, weens inflasie, elke maand minder koopkrag het.

Die ANC-beheerde munisipaliteite en provinsiale regering in die Vrystaat sal nie die situasie kan omdraai nie. Die oorheersende rol van Vrystaatse ANC-leiers (wie se hoofkaraktereienskap hul korrupte instink is) oor langer as ʼn dekade in die stelselmatige ekonomiese agteruitgang in die provinsie, wys dat wolf al baie lank hier skaapwagter is.

Die verdeeldheid in die ANC is boonop onherstelbaar en die party sal homself nie kan regruk nie. Binnegevegte word nou in duur hofsake omgeskakel waarin strydende kaders mekaar op die kostes van belastingbetalers en inwoners se dienstegeld pak om oor die min hulpbronne wat nog nie geplunder is nie beheer te kry.

Kort ná ʼn verkiesing hoor ons die woorde “Jy kan nie ʼn stem eet nie”, maar is dit waar? Die werklikheid is dat, alhoewel ʼn abstrakte stem nie geëet kan word nie, dit wel gebruik kan word om ʼn beter regering aan bewind te plaas. Waar kiesers alternatiewe regerings as die ANC aan bewind geplaas het, is die kontras in dienslewering en ekonomiese omstandighede van inwoners meestal vinnig sigbaar. Mense kan miskien nie stemme eet nie, maar stemme kan wel veroorsaak dat meer inwoners kan eet. Selfs president Cyril Ramaphosa het vir die eerste keer ooit in sy onlangse staatsrede erken dat ons jarelange standpunt dat regerings se grootste funksie met betrekking tot werkskepping is om toestande te skep wat privaat beleggings en gevolglike werkskepping lok, korrek is. Daar is egter min twyfel dat ANC-regerings in die Vrystaat nie die wil óf vermoë het om hierdie rol suksesvol te vervul nie.

In sy 1995-boek, Collapsed states: the disintegration and restoration of legitimate authority, skryf Willam Zartman oor die oorsake van vervalle state. Hierdie oorsake pas die Vrystaat in 2022 soos ʼn handskoen. Hy verwys na ʼn verswakte politieke sentrum as gevolg van ʼn magstryd binne die regerende party. Hierdie binnegevegte veroorsaak dat die politieke sentrum die vermoë verloor om aan die behoeftes van hul tradisionele magsbasis te voldoen. Hulle begin al hoe meer op nepotisme en ʼn binnekring staatmaak om aan bewind te bly. Die onbereidwilligheid om moeilike besluite te neem, veroorsaak ʼn inploffing van die regering weens institusionele onbeholpenheid. Regeringsprogramme word op grondvlak deur korrupsie of sabotasie ondermyn en dienslewering gaan verder agteruit. Die gevaarlikste situasie is wanneer die politieke sentrum beheer oor die staatsdiens verloor, wat dan op hulle eie en in eiebelang begin optree.

Met bogenoemde as verwysing voldoen die Vrystaat aan al die eienskappe van ʼn vervalle staat. Die Vrystaatse premier se besluiteloosheid is ʼn aanduiding dat sy beheer oor haar regering verloor het en boonop raadop is. Die Vrystaatse uitvoerende komitee tree onafhanklik van enige sentrale beheer op en plunder hul eie departemente in die grond in. Die lid van die uitvoerende komitee (LUR) verantwoordelik vir plaaslike regering misbruik staatsgeld om faksiegevegte binne munisipaliteite soos die Mangaung-metro te veg, terwyl nie ʼn enkele ANC-beheerde munisipaliteit in staat is om goeie basiese dienste aan desperate inwoners te lewer nie.

ANC-regerings in die Vrystaat gaan nie in die volgende twee jaar voor die provinsiale en nasionale verkiesings verbeter nie, en alle vooruitsigte tot dan lyk maar donker. Ons weet dat die ANC in ʼn jaar soos vanjaar, as die kies van ʼn nasionale leier op hul agenda is, ʼn obsessiewe enkelfokus daarop het – met die onafwendbare gevolg dat dienslewering verder agteruit boer. Ons weet ook dat diegene wat in Desember sal terugkeer Vrystaat toe as deel van die wenkamp, vir die duur van die volgende jare waarskynlik eerstens deur wraak en selfgelding gemotiveer sal wees, eerder as goeie regering en dienslewering.

Kiesers, en veral diegene wat kan stem maar in die meer onlangse verkiesings nie gestem het nie, sal egter ʼn geleentheid kry om ernstig oor hul verantwoordelikhede te dink ten opsigte van die behoud van ons provinsie en ons demokrasie. Kiesers het keuses in terme van ʼn alternatiewe regering met ʼn rekord van goeie dienste en ekonomiese groei. Hierdie opsie was nog altyd vir Vrystaters en kiesers in ander provinsies beskikbaar, maar net Wes-Kapenaars het die geleentheid gebruik om deur hulle stemme die verval wat in die res van Suid-Afrika plaasvind by hulle grense te keer. Om die grense van die Wes-Kaap vanuit die Vrystaat via die Oos-Kaap of Noord-Kaap oor te steek, veroorsaak ʼn visuele diensleweringskok. Vrystaters sal self moet besluit of dit in 2024 húlle beurt gaan wees om te eet, en of dit wéér die kaders se beurt gaan wees om te eet. Daar is egter nie genoeg finansiële kos vir beide die inwoners van die Vrystaat en die ANC-plunderaars om uit dieselfde pot te eet nie; dié is nou so leeg soos inwoners se waterkrane.

Terwyl raadslede, wetgewerslede en parlementslede van die opposisie deurentyd nuwe benaderings moet probeer vind sodat hulle nie net opponeer nie, maar ook poog om die regering van die dag so ver te kry om beter te regeer, bly die harde werklikheid dat slegs diegene wat met die mag om te regeer deur kiesers toevertrou word, die vermoë het om munisipaliteite, provinsies en ons land reg te ruk.

  • Roy Jankielsohn is die leier van die DA in die Vrystaat en lid van die provinsiale wetgewer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Mens kan niks anders verwag van die ANC nie, en as mense nog vir hulle stem dan moet hulle maar gaan kla by iemand anders. Geen simpatie.

casper ·

Elke ANC ondersteuner het elke swarigheid waarvoor hulle gestem het verdien !!
Laat hulle maar so lewe soos hulle wil !!

Androclus ·

Vrystaters sal self moet besluit of dit in 2024 húlle beurt gaan wees om te eet, en of dit wéér die kaders se beurt gaan wees om te eet.HULLE TREK HUL KRUISIES BY VERKEERDE PLEKKE,DIS HOEKOM DIE KADERS BLY EET!!

Dup ·

Die ANC en sy meelopers voel 100% gemaklik in so n vervalle en vuil omgewing.Daarom lyk dit soos dit lyk en gaan dit nie verander nie.Dit is ook die rede waarom belastingbetalers in sekere dorpe nou self moet regmaak en skoonmaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.