Vrystede as model vir groeiende gemeenskap-selfstandigheid

Toekomsberaad-Flip-Buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het dié toespraak op 31 Mei 2016 by Orania se Stadskonferensie in Pretoria gelewer. Hy is versoek om te praat oor die tema, “Staatkundige uitvoerbaarheid van Orania se dorp-na-stad-strategie”. Dit word met vergunning hier op Maroela Media gepubliseer. -Red

Die Amerikaanse ekonoom Paul Romer se verbeeldingryke idee van vrystede het die afgelope dekade ’n opskudding veroorsaak. Vrystede is stede wat onder ’n spesiale “handves” regeer word, en nie aan al die gewone staatswette onderhewig is nie. Dit word volgens selfgekose politieke, ekonomiese, en kulturele stelsels geregeer. Dié stede geniet afgewentelde selfbestuur. Dit maak dit moontlik om pasmaak stelsels te ontwerp en beter besluite te neem omdat die regeerders meer in voeling met plaaslike omstandighede is.

In 2008 was 112 van Kalifornië se stede al vrystede, waarvan Los Angels en San Francisco die bekendstes is. Die beste voorbeeld van ’n vrystad is sekerlik Hongkong, wat saam met die stadstaat Singapoer as model vir China se vinnige ekonomiese ontwikkeling gedien het. Die Chinese leier Deng Xiaoping het in die tagtigerjare vier vrystede naby Hongkong as loodsprojekte begin om te sien hoe die vryemarkstelsel in China kan werk. Na die sukses van hierdie stede het hy nog 14 sulke stede as “spesiale ekonomiese sones” begin en daarna die model oor die hele Ooskus van China gekloon. Uiteindelik het China “stad vir stad” tot ʼn moderne staat ontwikkel. Die regeerders van hierdie gebiede het beleggers, besighede en geskoolde werkers met hul vernuwende ekonomiese en politieke stelsels getrek. Só het die vrystadmodel van Hongkong die lanseerplatform van die opkoms van China geword volgens die beginsel van “een land, twee stelsels”.

Derdewêreldlande

Romer, ’n ekonoom aan die Stanford-Universiteit, het bekendheid verwerf vir sy voorstel dat ryk lande vrystede op oop gebiede in arm lande help begin en dit dan onder ’n spesiale handves regeer. Die doel is om hierdie suksesmodel dan na groter gebiede uit te brei, totdat die hele land naderhand beter regeer word. Romer is reeds in 1997 as een van Times se 25 invloedrykste persone benoem, en hy het in 2012 die tydskrif Foreign Policy se lys van honderd top-denkers in die wêreld gehaal. Sy lesing op TED se wêreldkonferensie in 2009 het hom regoor die wêreld bekend gemaak, en talle lande eksperimenteer met sy idees om die Hongkong-voorbeeld regoor die wêreld uit te voer.

Twee stelsels

Romer se vertrekpunt is dat swak regering die grootste oorsaak van armoede, werkloosheid en omgewingskrisisse is. Hy vergelyk die reuseverskille tussen lande wat gelyk begin het, maar in twee regeringstelsels verdeel is, byvoorbeeld Oos- en Wes-Duitsland, Noord- en Suid-Korea, en natuurlik China en Hongkong of China en Taiwan. Die enigste verskil tussen die voorspoed van die een deel en die ellende van die ander deel was die verskillende regeringstelsels.

Die Chinese leiers het nes Romer geglo dat dit te moeilik is om ’n hele land dadelik te verander en dat dit makliker is om met ’n stad as lewende eksperiment te begin. Dit gee mense die vryheid om die nuwe stelsel te benut of ʼn oue te behou. Dis ook klein genoeg om genoeg proefnemings te doen voordat dit op ’n groter skaal uitgevoer en gekloon word. Romer voel veral sterk daaroor dat dit te moeilik is om bestaande stede met gevestigde stelsels en lewenswyses te verander omdat dit tot groot weerstand teen verandering kan lei. Sy voorstel is dat dit beter is om eerder nuwe stede te ontwikkel wat van die begin af volgens die nuwe reëls gebou is.

Suid-Afrika

Die Suid-Afrikaanse regering het die Chinese eksperiment hier in ’n afgewaterde vorm probeer herhaal. In 2014 is die Wet op Spesiale Ekonomiese Sones (Wet no. 16 van 2014) deurgevoer en areas soos Coega, Richardsbaai, Oos-Londen en Saldanhabaai aangewys. Daar bestaan dus reeds ʼn plaaslike regsraamwerk vir Romer se idees.

In die praktyk is private dorpe wat hulself regeer besig om landwyd te ontstaan. Die toenemende gewildheid van hierdie “vrydorpe” – wat ál meer en ál groter raak – is te danke aan beter veiligheids-, water-, elektrisiteit-, omgewings-, ontspannings-, onderwys- en leefstyldienste as wat die regering aan burgers kan lewer. Hier maak inwoners en ontwikkelaars in die praktyk hulle eie “wette” en val hulle nie in dieselfde mate onder dieselfde reëls as die res van die land nie. Die vinnige opkoms van hierdie dorpe staan in die teken van ’n staat wat al vinniger verswak en nie meer basiese dienste tot bevrediging bied van diegene wat dit kan bekostig nie. Dit is ook ’n vergestalting van mense wat self oor hulle lewens wil besluit, en nie meer swak regeer wil word nie. Namate die gesentraliseerde politieke stelsel misluk, stel die bevolking self federale oftewel gedesentraliseerde oplossings in werking. Die probleem is dat hierdie dorpe net vir die meer welvarende groep bekostigbaar is, en dat mense hier kliënte eerder as burgers is.

Kultuurdorpe

Hierdie vrydorpe bied ’n oplossing vir die persoonlike behoeftes soos veiligheid en lewensstyl, maar dis nie ʼn oplossing vir mense se kulturele- en gemeenskapsbehoeftes nie. Omdat hulle steeds deel van stede is, is die vlak van outonomie wat hulle kan uitoefen ook uiters beperk. Hulle is ook steeds blootgestel aan die verswakkende bestuur van die stede. Die vraag is egter of hierdie groeiende verskynsel ook ’n oplossing bied vir gemeenskappe wat voel dat hul taal, kultuur, leefwyse en veiligheid in gedrang is? Die vraag geld vir mense wat dit saam as gemeenskap en nie net as gegoede enkelinge wil beskerm nie.

As soveel mense op grond van beter veiligheid en leefstyl saam wil groepeer, geld dieselfde beginsel sekerlik ook vir diegene wat graag op grond van hul taal en kultuur saam wil groepeer. Daar kan selfs ’n saak daarvoor uitgemaak word dat die Grondwet sterker voorsiening maak vir kultuurgemeenskappe wat hulle belange wil beskerm, as vir enkelinge wat dit in ’n  private dorp wil doen.

Orania as groeiende vrystad

Maar hoe sal so ’n kulturele vrystad in die praktyk kan werk? Die antwoord hierop is reeds enkele jare gelede ontwikkel deur prof. Dan Kriek, voormalige hoof van politieke wetenskap aan Unisa. Hy het Orania in die Noord-Kaap as voorbeeld gebruik en ’n moontlike grondwetlike “padkaart” voorgestel waarvolgens só ’n dorp tot ’n betekenisvolle vlak van selfstandigheid kan ontwikkel in terme van Artikel 235, 156 (Munisipaliteite), 104 (1) (Provinsies), 126 (Toedeling van funksies), 99 (Munisipale funksies), 125 (Provinsiale uitvoerende magte) en 41 (Samewerkende Regering) van die Grondwet. Hy het aangetoon dat dit vir Orania binne die Grondwet moontlik is om tot ’n soort vrystad te ontwikkel wat, indien dit polities beding word, selfs provinsiale status of selfs meer kan geniet. Die kern van sy voorstel was dat ’n dorp soos Orania algaande meer magte en funksies van die provinsiale en selfs nasionale owerheidsvlakke kan laat afwentel namate die dorp groot genoeg groei tot hulle in staat is om dit uit te voer. Daar kan later natuurlik nog naasliggende “Orania”-kultuurdorpe ontwikkel word.

Hoewel Orania weliswaar gekniehalter word deur die politieke bagasie van ’n “rassistiese volkstaat”, is dit grondwetlik moontlik as genoeg Afrikaners só ’n projek sou ondersteun. Die dorp voldoen nie nou aan die vereistes van ’n vrystad nie, maar as hy sy politieke beeld kan verbeter en sy ontwikkeling versnel kan hy deel van Romer se vrystad-idee word. Die dorp beskik reeds oor veel beter bestuur en veiligheid as die meeste ander klein dorpies in die land.

Modeldorp

Die nuwe strewe om Orania van ’n dorp tot ’n stad uit te bou in plaas van ’n volkstaat, is meer werkbaar en in lyn met die nuutste ontwikkelings soos deur Romer bepleit. Orania het bepaalde nadele soos sy afgeleë ligging, klein getalle en politieke beeld. Dié nadele moet opgeweeg word teen die voordele van ’n nuwe begin, die veilige afstand van onstuimige stedelike bevolkings, en die kans om op ’n betreklik leë gebied in die praktyk hoë vlakke van outonomie te geniet. Geen “toestemming” van die owerheid is hiervoor nodig nie, omdat daar nie digte staatstrukture bestaan nie. Hoe vinniger die dorp groei, hoe meer provinsiale en selfs nasionale funksies kan vanaf die sentrale owerheid afgewentel word in terme van die Grondwet en bestaande wetgewing soos deur Kriek voorsien. Die dorp se bestaande goeie betrekkinge met die Xhosa-gemeenskap van Mnyameni en die provinsiale regering, verbeter hul kanse om gesamentlik met die owerheid vir meer magte of spesiale status soos spesiale ekonomiese sones te onderhandel. Dit kan die dorp in staat stel om mettertyd meer magte uit te oefen, totdat dit in ’n vrystad met ʼn omliggende string vrydorpe met eie politieke, ekonomiese, kulturele, opvoedkundige en arbeidstelsels kan ontwikkel. Deur hierdie lesse en stelsels met ander dorpe en gemeenskappe te deel, kan Orania juis ’n model word van ’n vrystad wat met ander vennote saamwerk.

Op dié wyse kan ’n suksesvolle Orania binne ’n dekade moontlik as model dien om armoede die hok te slaan, gemeenskappe te bemagtig en hul taal, kultuur en omgewing te bewaar. Orania kan moontlik selfs in ’n mededingende alternatief tot emigrasie ontwikkel vir mense wat so aan die toekoms twyfel dat hulle wil emigreer. Interne migrasie is beter vir die land as buitelandse emigrasie. Die bepalende suksesfaktor gaan die mate van ondersteuning wees wat die dorp gaan kry van Afrikaners wat groter selfstandigheid ondersteun. Orania se sukses hang dus van die voorstanders van selfbeskikking af, en nie van die regering nie. Reusevordering kan binne enkele jare gemaak word as voorstanders van selfbeskikking die kans aangryp om die dorp tot ’n vrystad uit te bou, in plaas daarvan om net te kla oor hoe swak hulle deur die ANC regeer word. Diegene wat dit steeds as ʼn onhaalbare lugkasteel sien, moet dit opweeg teen wat ander as die onvolhoubare Suid-Afrikaanse sandkasteel sien.

Só ’n projek kan steeds vryheid van keuse bied – diegene wat daarmee verskil, hoef dit nie te ondersteun nie. Dit kan wel ’n politiek-kulturele uitlaatklep bied vir ’n groot groep Afrikaners se groeiende vervreemding van die huidige bestel. Dit kan ook ’n kulturele kragstasie word wat dienste aan Afrikaanse gemeenskappe bied wat oor tien jaar hoogs waarskynlik nie meer in die meeste dorpe en sommige stede gaan bestaan nie. Natuurlik het hierdie voorstel vir ’n kultuurdorp as deel van die Suid-Afrikaanse verskeidenheid baie leemtes, en sal dit ’n klein onderdeel van ’n groter oorlewingsplan uitmaak. Maar enige voorstel moet teen die ander toekomsmoontlikhede opgeweeg word. Selfs indien daar net ʼn  5% risiko is dat die bestaande bedeling nie gaan slaag nie, is dit dan des te meer net verantwoordelike risikobestuur om in 5% van jou planne ook vir ʼn prakties uitvoerbare plan vir kulturele vrystede voorsiening te maak. Daar is nie meer volmaakte oplossings oor nie, en die bal is in die hande van voorstaanders van selfstandigheid om te wys dat so ’n praktiese voorstel wel kan werk.

Maroela Media het berig ʼn ekonomiese ontwikkelingsplan wat ten doel het om Orania van ʼn dorp tot ʼn stad te laat groei is Dinsdag by die Stadskonferensie in Pretoria bekendgestel. Ingevolge dié plan sal meer as R180 miljoen oor die volgende vyf jaar in verskillende projekte belê word. Lees meer.

Kyk gerus na die volgende video van Paul Romer tydens ‘n Ted Talk oor: “Why the world needs charter cities

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Loeis ·

Hierdie is ‘n sinvolle artikel, maar ek wil ‘n paar goed uitwys.

Daar word gemeld dat nuwe reels beter in “nuwe” stede werk. Maar. Waar reels reeds bestaan het, en die nuwe regering dinge dan anders doen, is daar ook uiteraard verandering, en in Suid-Afrika is dit nie positiewe verandering nie.

Daarteenoor: stel jou voor dat die sterk Afrikaanse dele in Pretoria selfbestuur kies. Niks hoef nuut gebou te word nie (en ja, daar sal baie teenkanting vann die ANC, EFF en DA wees – lg het eenkeer buite Kleinfontein naby Pretoria betoog). Maar woonbuurte in Pretoria (en elders) het reeds strukture in plek.

So ‘n mandaat kan in ‘n verkiesing gegee word, maar selfbestuur vereis ook inwoner betrokkenheid. In kort, ons moet self verantwoordelikheid vir ons woonbuurte neem, ipv dit aan politici oor te laat.

jaco ·

daar woon net meer as 1000 mense in Orania en daar is 8 kerke. hoe op aarde gaan hulle saamstaan en van Orania n stad maak? hulle kan nie eens almal saam in een kerk sit nie?

Willeman ·

Jaco, dis wat my hoop gee. Dis ten minste ‘n teken van vryheid en diversiteit binne die gemeenskap. Ek sou meer bekommerd gewees het as daar GEEN kerke was nie. En terloops, ‘kerke’ is tegnies ‘n wanbenaming; dis ‘denominasies’ – daar is net één Kerk – en dit plaas dinge in perspektief.

Henry ·

Jaco
Dit is een van die heel eerste eienaardighede wat ons opgeval het. Ons het Orania reeds talle kere besoek, daar oor gebly en gewonder hoe op aarde daar sulke groot verskille tussen ‘n skamele duisend siele kan wees om soveel verskillende denominasies te regverdig.
Orania is mynsinsiens ‘n uitstekende dorp/stad vir afgetredenes. Die vraag is egter of daar soveel senior burgers is wat hul so ver van hul kleinkinders en die res van die familie wil vestig. Dit is nie ‘n onoorkomelike probleem nie.
Om al die geriewe en infrastruktuur vir hierdie doel op te rig en instand te hou, kan ook ‘n goeie beginpunt wees om werk te skep vir jongeres en uiteindelike verdere groei moontlikhede te skep.

John ·

Hoe beter so ‘n plan werk hoe groter gaan die teenstand wees vanaf die swart SA- regering, aangevuur deur andere met eie agendas. Die Boere-republieke is destyds met alle mag beveg juis omdat die sukses daarvan verhoed moes word. Stel jou voor, ‘n pragtige stad, skoon, funksioneel, goeie skole en hospitale, mooi huise en blink motors, gelukkige vooruitstrewende mense, teenoor plakkerskampe, vervalle stede, misdadige bendes en hongersnood. Mure sal rondom so ‘n vrystad gebou moet word, want invalle soos in die Bybelse tydvak sal plaasvind en die SA-regering sal nooit die haat en jaloesie kan onderdruk wat in sy eie geledere opwel nie. Solank die’ stad deel van die Republiek is, sal die Afrikaner, sy taal, talente en ondernemingsgees onderdruk word, Kyk na Israel en die Palestyne. Die suksesvolle Israel is ‘n doring in die vlees van sy bure. As die Afrikaners ‘n wenresep kan vind, kan dit sowaar gepatenteer word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.